Koos Kombuis: Om te doleer . . . of nie?

Word geplaas ter inligting.

*****

Koos Kombuis: Om te doleer . . . of nie? | Netwerk24

Deur Koos Kombuis

24 September 2021

Hy het besluit hy gaan Saterdag doleer as die Springbokke teen die All Blacks speel, skryf Koos Kombuis.

Ek het vir ’n hele paar jaar – so ongeveer tussen 2012 tot 2019 – byna nooit die Bybel gelees nie.

Om die waarheid te sê, ek dink nie ek het in hierdie tye eens ’n Bybel besit nie.

Dit het alles verander toe ek een aand, kort voor die pandemie ons getref het, ’n eksemplaar van die sogenaamde “Nuwe Lewende Vertaling” van 2017, uitgegee deur die Christelike Uitgewersmaatskappy, in ’n hotelkamer ontdek.

Of die Gideoniete die boek daar gelos het, of die ou wat voor my in die kamer gebly het, weet ek nie. Ewenwel. daar was regtig niks interessants op die TV nie en die Bybel was al wat ek gehad het.

So het ek begin lees.

En ek kon eenvoudig nie ophou nie.

Ek was regtig opgewonde, want dit was die lekkerste Afrikaanse vertaling van die antieke skrif wat ek nog ooit teëgekom het. Die taal was byderwets, informeel en spontaan.

Dit was die eerste keer dat ek ’n Afrikaanse Bybel lees wat nie klink soos ’n dominee wat preek nie.

So geesdriftig was ek dat ek die volgende dag boekwinkel toe gestap het om my eie eksemplaar van Die Nuwe Lewende Vertaling aan te skaf. Sommer by die naaste CNA.

Ek is nie ’n kerkganger nie en ek noem myself ook nie graag ’n Christen nie – maar kan ek dit nou maar erken? Ja! Ek het regdeur grendeltyd, elke keer wanneer ek beangs gevoel het, deur hierdie wonderlike boek geblaai en klokslag elke keer iets daarin gevind wat my getref het.

Soveel so, dat, toe ’n vriend van my verlede week vir my per WhatsApp laat weet dat die Covid-kiem sy huisgesin getref het en dat hy in isolasie is, ek hom aangeraai het om Psalm 38 te gaan lees.

“Ek het nie ’n Bybel nie,” het hy geantwoord. “Kan jy vir my ’n kort sinopsis gee?”

Ek gee dit sommer hier, vir sy onthalwe en vir almal se onthalwe wat dit dalk nodig het.

In Die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel lui die opskrif van Psalm 38: “My gesondheid is geknak.

Vers 8 lui: “My liggaam brand van koors; daar is geen deel wat gesond is nie.

Vers 12 is nog beter, want dit beskryf die situasie van ’n Covid-19-lyer perfek: “My familie en vriende bly weg en is bang vir my siekte. Selfs my bure bly op ’n afstand.

Die roerendste van alles is egter die sewende vers: “Ek is krom en heeltemal geboë. Ek loop die hele dag en treur.”

Die Bokke laat my doleer

Dit bring my nou eintlik by die punt van hierdie rubriek. Ons het almal die afgelope ruk berigte gesien in die pers van ’n hele swetterjoel gemeentes van die NG Kerk wat besluit het om te “doleer”.

Doleer? Toe ek die woord die eerste keer hoor, het ek gedink dit het iets met hondsdolheid te doen.

Maar toe nie.

’n Kort soektog – op Wikipedia, van alle plekke! – het my na die volgende definisie gelei:

“Doleansie (om te doleer) is om ’n sentiment of filosofie van teenkanting teen ’n heersende idee (bv. beleid van ’n regering) of ’n entiteit (bv. ’n politieke party wat so ‘n beleid ondersteun) uit te spreek.

“Die woord doleansie kom van doleo in Latyn. Dit beteken letterlik om pyn te ervaar. In geestelike sin beteken dit om te treur of te kla.”

Ewe skielik het ’n hele nuwe wêreld voor my oopgegaan.

Ek het besef: Dis oukei om soms hartseer te wees!

Om hartseer te wees, is nie noodwendig dieselfde as depressie nie. Dis ook nie noodwendig jou eie skuld nie. Partykeer is ’n mens eenvoudig hartseer oor die optrede van iemand anders.

En dan kan jy maar doleer so veel as wat jy wil. Dis jou reg.

Ek het besluit dat ek hierdie Saterdag, wanneer die Springbokke teen die All Blacks speel, liewer nie die game wil kyk nie. Ek wil eers ’n bietjie doleer voor ek weer die TV aanskakel om vir my span te cheer.

So, asof die noodlot my versugting gehoor het, bring my bestuurder dit juis toe onder my aandag dat ek geboek was om ’n konsert te hou op die presiese oomblik wanneer daai game uitgesaai gaan word.

“Moet ons die show probeer skuif?“ vra my bestuurder my. “Dis in elk geval op ’n baie vreemde tyd van die dag.”

“Nee, hou dit so!” sê ek toe. “Ek het besluit ek gaan Saterdag doleer.”

Blykbaar is daar ander mense wat ook so voel, want toe ek weer my oë uitvryf, hoor ek die kaartjies vir daai show verkoop heel goed. Met ander woorde, ek is klaarblyklik nie die enigste dolerende Springbok-ondersteuner nie.

In ’n storie op Netwerk24 skryf iemand: “Beplan maar gerus om liewer gras te sny wanneer die Bokke volgende naweek teen die All Blacks speel.”

Oukei, so daar is ’n hele klomp van ons! ’n Mens kan amper praat van ’n wolk van getuies!

Soos ek die idee van “doleer” verstaan, beteken dit nie dat jy jouself afskei van die persone of groep oor wie jy hartseer is nie. Die feit dat ek Saterdag gaan doleer, beteken nie dat ek nie meer ’n Springbok-ondersteuner is nie. Om eerlik te wees, as ek ná die tyd sou hoor dat die Bokke weer goed gespeel het, sal ek dadelik ophou met my doleerdery.

Maar vir so lank as wat hulle swak speel, is ek in ’n staat van doleansie.

Ander dinge waaroor ek doleer

Dis nie net die Springbokke oor wie ek doleer nie. Ek besef deesdae dat ek ook besig is om ’n dolerende Ramaphosa-ondersteuner te word. Vandat Zuma vrygelaat is op mediese parool, om die waarheid te sê.

Jammer, meneer Ramaphosa, ek glo jou nie meer wanneer jy sê jy wil korrupsie vasvat nie. Ek glo jou nie en ek glo jou party nog minder.

Ek doleer oor jou. Ek treur oor julle.

Daar is deesdae vreeslik baie mense wat doleer oor verskillende goed. En dis normaal, want in die jaar 2021 is daar sommer baie dinge om oor hartseer te wees.

Ek stem nie met alle dolerendes saam oor die redes hoekom hulle doleer nie.

Die dolerende NG gemeentes het nie rêrig my simpatie nie, want ek verstaan nie eintlik hul argumente nie. So ook nie die ouens wat doleer teen inentings nie.

Maar nou ja, to each his own. Dat enigiemand die reg het om oor enigiets waaroor hy wil te doleer, dit is weliswaar ’n feit soos ’n koei.

As jy my nie glo nie, gaan koop vir jou ’n Nuwe Lewende Vertaling en lees hierdie Saterdag die hele Psalm 38.

  • Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Kyk uit vir Koos Kombuis se nuwe boek, Help! My Dorp hou ’n kunstefees! (Naledi-uitgewers).

*********

Beswaardes in kerk mis uitdagings | Netwerk24

Deur Cules Hammann, Kilnerpark

1 Oktober 2021

Saam met Koos Kombuis (25.09) wil ek ook vandag doleer.

Ek is hartseer, nie net oor die Bokke en die president nie, maar ook oor ons kerk.

Toe ek die artikel “Kairos kyk rond vir NG opleiding” _(_ 29.09) lees, treur ek opnuut. Dit omdat hierdie beswaarde lidmate en dolerende gemeentes van die NG Kerk soveel tyd bestee aan randsake soos selfdegeslagverhoudings, die doop en nou ook beweerde ontoereikende teologiese opleiding. Soveel so dat hulle hul roeping as liggaam van Christus maklik kan mis.

Die tyd loop uit. Daar is soveel nood en ellende in hierdie ou wêreld. God het ons immers geroep om in die eerste plek sy getuies te wees, draers van hoop, wat die boodskap van versoening en verlossing in Christus verkondig en om ’n wesenlike verskil in die lewe van mense te maak.

Ons kan dit beswaarlik doen as ons so besig is met kritiese, negatiewe denke en ’n beswaarde gemoed dat dit die vreugde van Christenwees grotendeels bederf.

Daar is soveel uitdagings vir Christene in hierdie buitengewone tyd van vandag.

Ons moet eenvoudig elke geleentheid aangryp en die tyd uitkoop.

Liberales moet sê wat is randsake en wat nie

Cules Hammann skryf in Beswaardes in kerk mis uitdagings (01.10) dat hy ook doleer (treur) omdat die dolerendes in die NG Kerk soveel tyd aan “randsake” soos homoseksualiteit, die doop en teologiese opleiding spandeer en dat hulle eerder op belangriker dinge, soos die nood en ellende in die wêreld, moet fokus.

Eerstens: Die doop was nog nooit op die tafel nie.

Tweedens: Die homoseksuele kwessie was bloot die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het en hierdie is al baie gesê.

Derdens: Dit is tyd dat liberales in die NG Kerk eerlik raak oor wat hulle as kernsake sien en wat hulle as randsake sien en hoe daar opgetree moet word teen diegene wat afwyk van die kernsake, want soos dit op die oomblik lyk is daar geen kernsake in hierdie ruim huis nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui