Honderde in Bloem byeen vir sinode, Jan Lubbe as voorsitter verkies

Tydens die eerste dag van die Vrystaatse streeksinode op 8 Maart 2022 is Jan Lubbe verkies as voorsitter (in ander streeksinodes sou hy die moderator genoem word).

Soos in die geval met André Bartlett, wat in Oktober 2018 as moderator van die Hoëveld Sinode gekies is, wil ’n mens tot een van die volgende gevolgtrekkings kom:

  • Óf die leiers van die NG gemeentes in die Vrystaat is salig onbewus wat in die NG kerk aangaan in terme van liberale teologie,
  • óf die liberale teologie is nie vir hulle belangrik genoeg nie,
  • óf hulle is self liberaal in denke.

Onder behoudendes word geglo dat die meerderheid lidmate in die NG Kerk behoudend is. ’n Mens wonder egter daaroor as hierdie dinge keer op keer gebeur.

Ferdie Mulder reageer in die volgende video hieroor:

Vrystaat Sinode

**********

Honderde in Bloem byeen vir sinode, Jan Lubbe as voorsitter verkies | Kerkbode

8 Maart 2022

Sowat 301 afgevaardigdes het vroeg op Dinsdag 8 Maart op ’n koel en reënerige Bloemfontein-oggend by die Skougrond se Proteasaal aangemeld vir die eerste van drie dae se sinodesitting.

Van Bethlehem, Heilbron, Smithfield, Welkom en nog vele ringe het afgevaardigdes saamgetrek.

“Die omstandighede waarin die Sinode 2022 vergader is nie maklik nie,” skryf dr Pieter van Jaarsveld, uittredende voorsitter van die moderamen, in ’n voorwoord tot die 328 blad-agenda wat verslae insluit oor onderwerpe soos kerkverband, dolering, Skrifgesag en teologiese opleiding.

“Die vergaderdatum vir die sinodesitting moes reeds meer as een keer uitgestel word as gevolg van die beperkings op byeenkomste. Die Covidpandemie het die afgelope twee jaar groot druk op gemeentes geplaas,” skryf Van Jaarsveld. “Die interpretasie van sekere besluite van die Algemene Sinode het verdeeldheid gebring,” skryf hy.

“Gemeentes wat doleer; gemeentes en ampsdraers wat mekaar nie meer vertrou nie en soveel onderstrominge, het groot spanning gebring. Finansiële druk op gemeentes en die feit dat daar gemeentes is wat nie meer ’n voltydse leraarspos kan bekostig nie, bring groot onsekerheid oor die pad wat vir die kerk voorlê. Kortom, daar is soveel dinge wat kerkwees in ons dag moeilik maak.

“En tog is ons as gemeentes aan mekaar verbind deur ons geloof in ons Verlosser, Jesus Christus en bely ons juis in ons saamwees in 2022 by die skougronde in Bloemfontein die belydenis van die Heidelbergse Kategismus, Sondag 21:

‘Wat glo jy van ’n heilige, algemene, Christelike kerk?

Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe verkies is, deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly,” luidens die voorwoord.

’n Nuwe voorsitter is aan die begin van Dinsdag se sitting vir die duur van die vergadering verkies. Die res van die moderamen sal later dié week verkies word. Uit ’n lys van 20 nominasies (waaronder een vrou) het vyf mans die kortlys vir voorsitter gehaal, ondanks ’n beroep op die Sinode om ook vroulike afgevaardigdes te nomineer. Afgevaardigdes moes daarna kies uit drie leraars op ’n verkorte lys. Ten slotte was die besluit tussen ds Dawie Botes en ds Jan Lubbe.

Stemgeregtigdes is vanuit die stoel van die waarnemende voorsitter gevra om hulle nie te steur aan ’n vooraf-veldtog wat glo via Whatsapp gevoer is om steun te werf vir bepaalde “kandidate” nie. “U weet, dit is nie hoe ons die kerk se sake op kerklike manier hanteer nie,” het ds Nico Dicks gesê. Ds Lubbe is daarna as die nuwe voorsitter aangekondig. Dr Gustav Claassen het Lubbe as ’n “diep teoloog” beskryf in sy verwelkomingswoord namens die Algemene Sinode van die NG Kerk.

  • Ds Dawie Botes is Dinsdag omstreeks 16:30 as ondervoositter van die moderamen verkies.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui