Herrie oor verwysing na God as vroulik, ’n ‘prisma’

Vir agtergrond, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

*******

Herrie oor verwysing na God as vroulik, ’n ‘prisma’ | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

14 April 2021

Die verwysing na God in die vroulike vorm is een van vele metafore wat gebruik word om “Haar” te omskryf, sê teoloë van die NG Kerk.

’n Herrie het op sosiale media ontstaan nadat ds. Melanie Thirion, leraar van die NG kerk Kenridge in Kaapstad, onlangs op ’n legitimasiegeleentheid van NG Kerkstudente in Stellenbosch na God as “Haar” verwys het.

“Dat God drie-enig Haar verbond bevestig, of sy (verbond), hoe jy dit ook al sien,” het Thirion in haar preek gesê.

Op dieselfde geleentheid op 29 Maart in die NG kerk Stellenbosch-Wes het dr. Jana van den Munckhof, leraar van die Toringkerk in die Paarl, in haar gebed na God as ’n “heilige prisma” verwys.

Sy het ’n gedig deur Rosa Smit aangehaal.

Ds. Stefaan de Jager, voormalige leraar van die NG kerk Humansdorp-Oos, het op Facebook gesê Thirion is besig om ’n “gender-afgod te verkondig” en het Van den Munckhof daarvan beskuldig dat sy besig is om “nuwe leraars aan ’n prisma-God op te dra.

“Dit is te verstane dat haar ‘gebed’ nie in die Naam van Jesus afgesluit kon word nie, want dit sou so goed wees as om hemel en hel te probeer meng.

“Here, wees ons asseblief genadig en bewaar ons van die Bose.”

In dié plasing het hy ook Van den Munckhof se gebed met Hindoeïsme vergelyk.

De Jager het by navraag aan Netwerk24 gesê hy beskou die predikante se optrede as ’n oortreding van die tweede gebod.

“Dit stel dat ons die enigste ware God moet aanbid soos die Skrif sê Hy is, nie die beeld wat ons Hom uitmaak om te wees nie,” sê De Jager.

Hy meen dit word gedryf deur ’n feministiese beweging in die kerk.

“Hulle wil van ’n vrou maak wat God nie van haar gemaak het nie.”

De Jager het dit ook duidelik gemaak dat hy nie aan slegs ’n patriargale stelsel glo nie en dat hy nie skuldig is aan haatspraak nie.

“Almal sit en wonder hoe die dominees destyds tot apartheid kon instem. Dieselfde gebeur nou, waar almal tot die LGBTQ- en feministiese bewegings in die kerk instem.”

Talle ander teoloë het op De Jager se plasing gereageer en ook die predikante gekritiseer.

Thirion en Van den Munckhof het navrae na dr. Frederick Marais, skriba van die NG Kerk se kuratorium (wat studente se opleiding oorsien), verwys.

Marais sê Thirion het in haar verwysing die gehoor uitgenooi om oor die manlikheid of vroulikheid van God na te dink en self ’n keuse te maak.

“Dit is natuurlik die werk van predikers om mense uit te daag om voortdurend te vra of hul denke oor God nie verruim behoort te word nie en vandaar die vraag in haar preek.

“God se grootheid en andersheid soos wat ons dit in die Bybel leer ken, noop gelowiges om versigtig te wees om God nie binne ons eie raamwerke te definieer nie.

“Hoewel die meeste verwysings na God in die Bybel manlik is, is daar ook baie verwysings na die vroulikheid van God. So byvoorbeeld sal Christus met die intog in Jerusalem bid en vra dat God soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak,” sê Marais.

Oor Van den Munckhof se gebruik van die woorde “heilige prisma”, ’n aanhaling uit ’n gedig, sê Marais sy gebruik dit om te wys hoe God “ons lewens in ’n veelkleurige loflied verander.

“Ons kan nie oor God praat anders as om metafore te gebruik nie. So is dit ook in die Bybel, waar daar verskeie metafore is wat na God verwys.

“Die metafoor van ’n prisma is ’n poging om die transformerende krag van God in ons lewens te beskryf.

“Net soos die prisma ’n enkele ligstraal oopbreek in ’n reënboog van kleure, kan God ons oopbreek en openbaar as meer as wat ons op ons eie is en kan wees,” sê Marais.

Prof. Yolanda Dreyer van die fakulteit teologie en religie aan die Universiteit van Pretoria sê God is nie manlik of vroulik nie, “maar man en vrou is na die beeld van God geskape. Ons taal is deurtrek van manlike voornaamwoorde en dit word maklik om God ook in hierdie boksie te plaas. Ons kan na God in die vroulike vorm verwys omdat sowel man as vrou na die beeld van God geskape is.”

Sy sê die kritiek op Thirion en Van Den Munckhof is onnodig. “Ons kan God nie vasvang in ons taal nie. Mense is vinnig om die duiwel agter elke bos te gaan soek wanneer dit nie ooreenstem met hul raamwerk nie. Jy hoef nie met alles saam te stem nie, maar dit is ook onnodig om dit te kritiseer of te bash.”

Geen amptelike klag ingedien

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê die saak is nie amptelik aangemeld nie.

“Positiewe metafore is gebruik om God te beskryf. Ons praat stamelend oor God en daar is nie beskrywings in ons taal nie, daarom gebruik ons metafore en beelde,” sê Claassen.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode en die Wes-Kaapse sinode, bevestig sover hy weet, is geen amptelike klagte ingedien nie.

“Geloofstaal is metaforiese taal. Ek was self teenwoordig en dit was ’n besonderse mooi diens en geleentheid.

“Ek neem aanstoot oor die kommentaar op sosiale media en ek dink dit is heeltemal ongegrond,” sê Janse van Rensburg.

  • Die volledige geleentheid kan hier gekyk word:

1 thought on “Herrie oor verwysing na God as vroulik, ’n ‘prisma’”

  1. Daar was in die Bybelse tyd ook heelwat struwelinge in die eerste gemeentes. So Bv het hulle gestry of heidene wat hulle bekeer eers besny moes word voordat hulle in die kerk toegelaat word, of vleis wat aan afgode geoffer is geëet mag word ens.
    Selfs al het God geen geslag nie, word daar in 1 Kor 8:13 baie duidelik vir ons gesê dat indien dit wat ons doen of sê vir ons naaste ’n struikelblok is, sal dit vir ons as sonde gereken word.
    Sy het geweet hierdie woorde sal vir ’n klomp mense ’n balk in die oog wees, en daarom was dit verkeerd van haar om na God in die vroulike te verwys.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui