Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

********

Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023

“Gaan voor ons uit, Here”

Geagte broers en susters, vriende –

Die 18e Algemene Sinode van die NG Kerk in Suider-Afrika het op Vrydag, 20 Oktober 2023
met die Onse Vader-gebed, Lied 354 en die Aäronitiese seënbede afgesluit – gebede van
nederige afhanklikheid van God, en ‘n Adventslied wat lui:

“O Christus, ons verlange, U het ons heil gebring.
Sal ooit ons jubelsange, u lof na waarde sing?”

Daar wás rede tot dank en lof in ons byeenkoms by Birchwood, Boksburg.

Aan die begin van die sinodesitting, Sondagaand, 15 Oktober, het ons Eksodus 33:12-23
gelees; die bekende verhaal van ‘n diep persoonlike gesprek tussen Moses en God, net ná die tragiese gebeure rondom die goue kalf en die verskriklike impak daarvan op die uittogverhaal van Israel: God wat sê dat Hy nie verder met Israel kan meegaan, “Ek sal nie in jou midde optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is…” (Eks. 33:3). Moses wat pleit: “As U teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie” (Eks. 33:15). Elke oggend van die sinodesitting het ons hierdie gesprek wéér gelees, en ons verdiep in die verlange na en die beloftes van God se teenwoordigheid. Ons het opnuut besef dat vanweë ons gebroke menslikheid en sonde, ons nie op Sy teenwoordigheid aanspraak kan maak asof óns bepaal wanneer en hoe Hy by ons moet wees òf waarlangs die pad moet lei nie, maar dat ons ‘n toevlug vind onder God se ontfermende hand – Hý is “’n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid” (Eks. 34:6). Daarom het ons ook elke middag met verootmoediging begin en dié woorde uit die profesie van Miga 6 nágebid:

“Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan, my neerbuig voor die verhewe God?
Wat anders eis die Here van jou, mens,
as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”

As daar ‘n eerste blywende indruk van die afgelope Algemene Sinode was, dan is dit dít: Dat die NG Kerk in Suider-Afrika haarself nederig tot God wóu wend, soekend na ‘n weg vorentoe in ons lande en getrou aan die roeping wat ons van Hóm ontvang. Die belangrikste besluit in Birchwood was daarom dié een oor ons verbintenis aan die Woord van God:

“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem… Ons bely dat God Homself in die algemeen bekendmaak in die Skepping en onderhouding van alle dinge, en in die besonder in sy heilige en Goddelike Woord, die Bybel… So lees ons die geskrewe Woord van God in verbondenheid aan Christus, die Woord wat mens geword het en lewe; en deur die Heilige Gees wat in ons hart getuig dat hierdie Woord opnuut in al die gestaltes daarvan inderdaad van God is.”

In hierdie gees het die Algemene Sinode Sondagaand staande met die Geloofsbelydenis van Nicea begin en Vrydagmiddag met die Apostoliese Geloofsbelydenis afgesluit – dít is wie ons as NG Kerke is. Ons belydenis is nie net ‘n tradisie of oriënteringspunt nie, maar ‘n getuienis uit ons harte. Dít was die tweede belangrike besluit van die vergadering:

“In sake ons geloofsbelydenis aangaande God as Skepper, Christus as ons Verlosser en die Heilige Gees as ons Trooster, verstaan ons as Sinode dit in die gees en strekking van hoe die belydenisskrifte uit die tyd van die Reformasie dit uitlê en dit in ons gereformeerde tradisie vertolk en in ons eredienste verkondig word.”

Ons verbintenis aan die Skrif en belydenis, aan ‘n gereformeerde kerkbegrip en aan ons roeping en kontekste, het duidelik geword in besprekings en besluite oor drie groepe van sake: Oor aktuele kwessies soos ons publieke getuienis, geregtigheid in die samelewing, menslike seksualiteit en reproduktiewe gesondheid – en hierin het die Algemene Sinode gekies vir ‘n weg van ewewigtigheid en oorleg, terug na sinodes, ringe en gemeentes. Een voorbeeld hiervan was die besluit oor intergodsdienstige verhoudinge in ons lande:

Die Algemene Sinode (AS) spreek dank uit teenoor die Algemene Taakspan Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) vir hul vorderingsverslag asook kommentaar van die vloer van die AS hieroor. ATLAS word versoek om ‘n opgedateerde verslag aan die tien samestellende sinodes te bedien… (en) neem ons belydenis van die Drie-Enige God as vertrekpunt daarvoor en verwerp alle vorme van sinkretisme. Voortspruitend hieruit kan ‘n gespreksgids deur ATLAS en die Taakspan Evangelisasie ontwikkel word wat konkrete leiding aan Christene gee in hul omgang met mense van ander gelowe, ook in publieke ruimtes. Die AS versoek dat hierdie gespreksgids voorgelê word aan die AS in sitting in 2027. Die AS versoek ATLAS ook om ‘n werkgroep aan te wys om ondersoek te doen na die kenmerke, oortuigings en behoeftes van mense wat hulself nie met enige godsdiensgroepering assosieer nie, met verslagdoening aan die AS van 2027.”

‘n Ander voorbeeld is die besluit oor die verskriklike geweld wat net ‘n week vóór die Algemene Sinode, in Palestina losgebars het:

“Die Algemene Sinode bely dat alle mense na die beeld van God geskape is en dat die Woord van God ‘n bron van lewe is… (en) betreur die opvlamming van gewapende geweld in Palestina en Israel, roep gemeentes en lidmate op om deurgaans te bly bid vir vrede, geregtigheid en versoening in daardie wêrelddeel… (en) spreek sy steun uit vir oproepe dat internasionale menseregtewette konsekwent deur alle groepe in Palestina en Israel toegepas word.”

‘n Tweede groep sake waaroor goeie verslae ontvang en konstruktiewe besluite geneem
is, raak ons missionale roeping. Uit die verslae van verskillende taakspanne het die omvang van NG Kerke se betrokkenheid by noodleniging in ons samelewings geblyk en is
dit opnuut deur die Algemene Sinode as ‘n prioriteit gestel. Die versterking van ‘n goed gekoördineerde netwerk om op natuurlike- en mensgemaakte rampe te kan reageer geniet dringende aandag, maar ook voorkomende aksies om verskillende kwesbare groepe in ons lande te ondersteun: Voorskoolse kinders, vroue, bejaardes, arm mense, vreemdelinge. Daarmee saam het die Algemene Sinode klem gelê op inisiatiewe en projekte vir evangelisasie en waar nodig, die vestiging van nuwe geloofsgemeenskappe om na medemense uit te reik met die boodskap van die lig, liefde en hoop in Christus. Roetemerkers vir die begeleiding en geloofsvorming van ons kinders en jongmense is bespreek en hulp hiermee vir gemeentes gaan verder ontwikkel word. Teologiese opleiding en die voorsiening van geroepe en bekwame bedienaars van die Woord wat in ‘n verskeidenheid van kontekste sal kan werk, is ook hanteer.

‘n Derde groep sake en besluite, het gehandel oor ons kerkverband, fokusareas in ons roeping vorentoe, ekumeniese verhoudinge, die samestelling van die Algemene Sinode, die verteenwoordiging van alle sinodes in taakspanne van die Algemene Sinode, en al die nodige kerkordelike reëlings daarvoor. Tans word Kerkorde 2023 deur die Algemene Taakspan Regte (ATR) in die lig van hierdie besluite gefinaliseer en sal dit eersdaags amptelik beskikbaar wees. Die notule van die sinodesitting is deur die Algemene Sinode Moderamen (ASM) goedgekeur en alle besluite word op die amptelike webwerf van die NG Kerk gepubliseer. By die ASM se eerste vergadering eind-Februarie 2024 sal die uitvoering van besluite momentum kry.

Die bespreking rakende die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse (SGV) het baie tyd en aandag van die vergadering in beslag geneem. Die meer as twintig beskrywingspunte en gravamina wat daaroor ontvang is, is vooraf in die Agenda opgeneem en gepubliseer, en ook na verskeie taakspanne verwys om ons oor die hantering daarvan te adviseer. Drie sessies tydens die sinodesitting het aan afgevaardigdes geleentheid gegee om in tafelgesprekke en ‘n oop debat hul standpunte hieroor te lug en geduldig na mekaar te luister. Ons sou nog verder oor bepaalde beskrywingspunte kón praat, maar gegewe die tyd tot ons beskikking, was die uiteindelike besluit ‘n poging om alle insette wat ontvang is daarin op te neem en ‘n konsensus te bereik – só is dit ook deur die vergadering aanvaar. Die 2023-besluit bestaan uit vier dele:

  • Eerstens oor die proses wat gevolg is en dat kennisgeneem is van alle verslae, gravamina en beskrywingspunte oor selfdegeslagverbintenisse; dat ons jammer is oor verwarring, verwonding, vervreemding en verdeeldheid wat hieroor in ons kerkverband bestaan; en dat ons diep bewus is van ‘n versugting in ons kerkverband na groter eensgesindheid in ons meelewing, getuienis en roeping al is ons nie in hierdie saak eenstemmig nie.
  • Tweedens, in ons nadenke en voortgesette gesprekke oor menslike seksualiteit en selfdegeslagverbintenisse, is ons verbind aan die Skrif as Woord van God en die leiding van sy Gees daarin én het ons bevestig dat ons besluitneming binne die raamwerk van die huidige grondwetlike-, juridiese- en kerkordelike bestel in ons onderskeie lande plaasvind, waarin die beginsels van nie-diskriminasie, die waardigheid van alle mense en die vryheid van geloofsoortuiging en -assosiasie beskerm word.
  • Derdens, dat ons daarom volstaan met die 2019-besluit, deur te beklemtoon dat die huwelik vir ons die Godgegewe veilige ruimte vir ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is en wat berus op die waardes van liefdestrou en respek; dat ons aanvaar dat daar ‘n diversiteit van sieninge oor die status van selfdegeslagverbintenisse bestaan; dat ons alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit verwerp; en dat ons ruimte skep vir kerkvergaderinge en predikante om oor die bevestiging van selfdegeslag-verbintenisse eie besluite te kan neem.
  • En ten slotte – oor die hantering van die besluit – dat dit primêr ‘n aangeleentheid is wat pastoraal in die konteks van plaaslike gemeentes hanteer moet word, waar ons mekaar as medegelowiges liefhet, bemoedig en God saam wil dien; dat Kerkorde Artikel 32 so gewysig word dat gemeentes hul oor geografiese grense sou kon voeg by ‘n ander sinode by wie se standpunte hieroor hul meer tuisvoel; dat dit aan die ATR en ASM opgedra word om so spoedig moontlik en in oorleg met al die sinodes die prosedure vir hierdie kerkordelike weg uit te klaar en dit dan aan gemeentes te kommunikeer; en dat die ASM hieroor in konstruktiewe gesprek met samestellende sinodes en dié weer met ringe en gemeentes sal bly sodat ons ‘n welwillende, verantwoordelike en kerkordelik begaanbare weg met mekaar sal vind.

Is die bede van die Algemene Sinode 2023 dat die Here voor ons uit sal gaan en ons ‘n weg die toekoms in sal wys, gehoor? Die tyd sal leer, want dít was die Here se antwoord aan Moses: “…totdat Ek verby is. Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien” (Eks. 33:23). Ons het hierdie verhaal in die lig van Johannes 1:14 en 2 Korintiërs 3:17-18 gelees, en doen dit steeds so in geloofsvertroue. Ook die NG Kerk in haar breedste verband, behoort ten diepste aan God; Hý ken ons naam en laat ons guns vind in sy oë (Eks. 33:12) – dáárop hoop ons nederig, afhanklik en dankbaar. Laat ons mekaar dan ook hiermee bemoedig.

Ons wens u as lidmate van NG Kerke in Suider-Afrika, ‘n geseënde Advent- en Kerstyd toe, gedagtig daaraan dat die Christusnaam “Immanuel” is – God bý ons teenwoordig. Mag Hy sy genade en vrede ryklik skenk van die Kaap tot ver anderkant die Vaal en Limpopo, van Natal tot Namibië, in stad en op die platteland, in huis en haard, in gemeentes én gemeenskappe.

Ds. Jan Lubbe
Voorsitter: Moderamen van die Algemene Sinode 2023

Kommentaar

Daniel Louw

Paulus praat in Kolossense 2 van “danige nederigheid”.

Kol 2: (18)Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink,

Kol 2: (23)Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Dit is wat by my opkom as ek hierdie herderlike brief lees.

2 thoughts on “Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023”

  1. Leuenkerk. Net soos HAMAS, moet jy hul nie vertrou. Hul word beheer deur die Boosheid. Bly weg van NG en dié wat saam haar loop hel toe.

  2. “…ons missionale roeping…”

    Sou mens dus kon aflei, dat die ”missionale roeping” ook al hul sendingsvennoot-alliansies sou insluit? Na en/of ten behoewe van Rusland, CHINA, Israel, Afrika, Indië, Japan, Noord en Suid-Korea, Europa, Islam-beheerde sfere, Kanada?

    M.a.w. die NG en AGS en VEK wat ”Satan🧠=Christus Evangelie” verkondig wat ”selfde-geslag huwelike en leraars 👍” (já…my 👂👂 is wawyd oop van wat uit dominees, pastore en hul wederhelftes se VUIL MONDE uitkom, en selfs gedurende aanbiddingsgeleenthede…), en as ”👣 navolgingswaardig” aan dié Biljoene voorgehou?

    IDF behoort AL hul artillerie op dié te fokus…EN ook op Lakshmi Mittal, sy seun en hul leuenvennote in Londen en Luxembourg en Vanderbijlpark.

    GOD lieg nie. Jul wel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui