Die waarheid het ’n manier om seer te maak

Die volgende artikel hieronder het ook in Volksblad verskyn met die titel Hokaai met die ewige soeke na ortodoksie.

Vir repliek op hierdie artikel, kyk:

*******

Die waarheid het ’n manier om seer te maak | Die Burger

Anton van Niekerk, Stellenbosch

Die Burger, 23 November 2023

Dit spyt my dat die “klip in die bos” wat ek in my rubriek (07.11) gelanseer het, blykbaar vir prof. Johan Janse van Rensburg (“Eina, ’n klip het my getref!”, 18.11) “seergemaak” het.

Terwyl ons dan nou idiomaties probeer praat, kan ek slegs antwoord dat die waarheid wel ’n manier het om seer te maak.

Een manier om daardie seerkry te verlig, is om dit te vermy om gespreksgenote woorde in die mond te lê. Ek het in geen stadium naastenby beweer dat ek dit bepleit – of selfs net voorstel – dat elke individu die Bybel kan interpreteer soos hy/sy wil nie. (Die beskuldiging dat ek ’n “postmodernis” is, is daarby doodgewoon lagwekkend).

Natuurlik het elke betekenisvolle teks (soos die Bybel) ’n tradisieproses waarmee verstandige Bybel-lesers deeglik rekening moet hou. Dit leer goeie hermeneutiek ons.

Die teenvraag aan Janse van Rensburg is: Bepleit u jou werklik in hierdie dag en datum die idee dat die “ware” Christelike kerk één onfeilbare lesing van die Bybel het en dat kerkvergaderings veral geroepe is om daardie één interpretasie ten alle koste te beskerm en op lidmate af te dwing?

My punt was bloot dat, as ons eerlik na die geskiedenis van Bybel-interpretasie kyk, dan sien ons ’n magdom van interpretasietradisies wat nie minder nie maar eerder meer word.

Hoe meer verbete ons soek na ortodoksie – dit is dogma-ooreenstemming – hoe meer kerke en interpretasies spring soos paddastoele voor ons op.

Natuurlik bepleit ek nie die einde van die geïnstitueerde kerk wat vergader om ’n minimum belydenis nie. My punt was bloot dat daardie minimum konsensus al hoe kleiner word.

Dekades gelede reeds was die enigste konsensusformulering waaroor lidkerke van die Wêreldraad van Kerke kon ooreenstem, die eenvoudige belydenis: “Jesus is die Here” – niks meer nie!

My pleidooi is dat ons onsself minder sorge moet maak met die ewige soeke na ortodoksie en die verskeurdheid van die kerk wat daarmee saamgroei. My voorstel is eenvoudig: Kom ons soek eerder na ortopraksie.

Daarmee bedoel ek die strewe om saam te stem oor en te arbei in die uitvoering van die liefde; om te vra wat kan ons as Christene saam doen om die wêreld ’n beter plek te maak eerder as ’n (waarskynlik vrugtelose) benepenheid met dit waaroor ons intellektueel moet saamstem.

Wanneer ortodoksie op dié wyse al hoe meer vervang word deur ortopraksie, dien ons die eenheid van die kerk veel beter as wanneer nog ’n groepie lidmate wat “die waarheid gesien” het, hul heil nog eens op hul eie gaan soek, soos soveel keer in die verlede – en soos wat tans opnuut dreig in die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui