Groot gemor voor die sinode

*********

Groot gemor voor die sinode | Netwerk24

Deur Jean Oosthuizen

6 November 2016

Beskuldigings van agterbaksheid maak dié saamtrek inderdaad buitengewoon, skryf Jean Oosthuizen.

’n Paleisrevolusie in die kleine oor homoseksualiteit het op die vooraand van die NG Kerk (NGK) se buitengewone algemene sinode, wat môre in Pretoria begin, losgebars. Dit kan tot ’n uitgerekte regsgeding lei.

Die NGK se vorige aktuarius, dr. Johann Ernst, beskuldig kollegas en sinodegangers by verlede jaar se sinode daarvan dat hulle oneerlik en “agterbaks” opgetree het om die besluit dat mense van dieselfde geslag mag trou, deurgevoer te kry. Hy sê verlede jaar se besluit was onwettig en behoort nietig verklaar te word.

Die kerk se appèlliggaam gee Ernst gelyk en het bevind daar was wesenlike onreëlmatighede in die prosedure by verlede jaar se algemene sinode.

Volgens die kerk se appèlliggaam sou verlede jaar se besluit nie moontlik gewees het as die korrekte prosedure volgens die kerkorde gevolg is nie.

Die sinode moet dié week hieroor uitsluitsel gee.

Ernst sê in sy beswaarskrif aan die appèlliggaam die algemene sinode het geen keuse as om die besluit in geheel nietig te verklaar nie, anders kan ’n burgerlike hof gevra word om dit op grond van nalatigheid of die nienakoming van eie reëls te doen.

Die moontlikheid dat die kerktwis in die hof gaan beland, word versterk deur ’n afsonderlike regsmening wat die afgelope week namens 11 lidmate van die NG Kerk deur adv. Jeremy Gauntlett en twee kollegas aan die kerk se leierskorps gestuur is.

Gauntlett meen dié week se sinode het nie die bevoegdheid om die besluite van 2015 se algemene sinode te wysig nie. Hy sê in ’n uitgebreide regsmening as die buitengewone algemene sinode voortgaan om appèlle, beswaarskrifte en gravamina oor die 2015-besluit te hanteer en die 11 lidmate die hooggeregshof om ’n hofbevel nader, sal hulle slaag.

Dié drag is verbode

Sinodegangers sal by dié week se buitengewone sinode van die NG Kerk hul “huisreëls” moet ken as hulle tot die vergadering toegelaat wil word.
Niemand met kleredrag of plakkate of “enigiets dergeliks” wat standpunte oor eengeslagverhoudings verteenwoordig of propageer, sal in die vergadering toegelaat word nie.
Besoekers word ook versoek om hieraan gehoor te gee.
Verskeie besoekers het by verlede jaar se sinode T-hemde gedra met die slagspreuk #LiefdeIsLiefde daarop.
Van die afgevaardigdes meen dit het gelei tot ’n onregmatige ­beïnvloeding van die vergadering deur mense wat nie deel was van die sinode nie. Talle stemgeregtigde lede het verlede jaar gesê hulle het gevoel daar was “emosionele afpersing”, “manipulasie”, die “opwek van skuldgevoelens” en “intimidasie”.
Die media sal ook nie dié week toegelaat word om soos in die verlede foto’s of stemopnames binne die sinode te neem nie. Geen ­foto’s, klank- of beeldopnames sal in die vergadering toegelaat word nie, selfs nie eens met selfone nie.
Die sinode se sakelys is ook nie soos vorige jare voor die tyd op die internet beskikbaar gestel nie.
Afgevaardigdes is glo voor die tyd gewaarsku die inhoud van die sakelys is streng vertroulik tot die begin van die sinode.

Ernst se beswaarskrif van 84 bladsye wemel van striemende aanvalle op kollegas en sinodegangers. Hy beskuldig hulle onder meer van troue­lose en agteraf optrede voor, met en ná die sinode.

Dr. Frits Gaum, wie se naam bykans 40 keer in die dokument voorkom, het reeds in ’n prokureursbrief aan dr. Gustav Claassen, die NGK se algemene sekretaris, ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator, en dr. Johan van der Merwe, aktuarius, ernstig beswaar gemaak teen die beweerde laster in die kerk se agenda.

In die inleiding tot die lywige dokument vra Ernst by voorbaat om verskoning aan enigiemand wat oordeel dat hy of sy deur die inhoud van sy beswaarskrif benadeel word. Hy sê regstellings sal gedoen word waar enigiemand oortuigend kan aantoon hy of sy is op enige wyse hierdeur skade aangedoen.

Volgens hom het die voorstel oor homoseksualiteit op ’n onwettige manier op die sinode se sakelys beland. Dit moet nietig verklaar word. Van diegene wat skerp deur Ernst gekritiseer word, is onder andere Van Rensburg, wat voorsitter was by verlede jaar se sinodevergadering.

Ernst beweer die vergadering het tegnies in kerklike wanorde beland. “Die regsgeldigheid van die besluitnemingsproses is sodanig gekontamineer dat ’n wettige en volhoubare besluit nie tot stand kon kom nie.”

Hy voer aan die kerkorde en die bepalinge soos deur die reglement van orde voorgeskryf word, was “reeds besmet en gekorrupteer” toe die sinode oor die saak besluit het.

Van Rensburg het volgens hom beheer oorgeneem tydens die stemproses sonder dat die vergadering self beheer daaroor gehad het.

Hy sê Van Rensburg het hom óf bewustelik laat misbruik, óf hy was self betrokke by ’n informele en ongemagtigde proses om gaandeweg ’n “derde saak” op die tafel te kry. Dit was volgens Ernst nie noodwendig kerkordelik korrek nie.

Hy beweer verder daar was onwettige en onregmatige “samespanning” teen die moderamen se aanbevelings wat voor die sinode moes dien.

“Subtiele manipulasie en selfs emosionele afpersing is gebruik om die ‘regte’ uitkoms te bewerk, al sou dit op onregmatige en onbehoorlike wyse moet geskied.”

Van Rensburg het volgens Ernst versuim om ’n verslag van die moderamen by die vergadering aan die orde te stel en slegs twee voorstelle voor die vergadering laat dien. “Hy moes sy reëlboek geken het en daar was moderatuurslede by hom wat soos hulpskeidsregters tot sy hulp kon kom.”

Verskeie ander kollegas en sinodegangers word ook skerp gekritiseer in Ernst se beswaarskrif.

“Wat die Dinsdagmiddag in die oop gesprek of gefasiliteerde gespreksgeleentheid gebeur het, kan beskryf word as ongepas, ongehoord, ongekend, ongelukkig, ongemaklik, ongenoeglik, ongeoorloof, ongerymd, ongevraagd en ongewettig.”

Gaum het dit glo met behulp van die samestellers van 2013 se sinode-sakelys reggekry om ’n saak op die sinode se tafel te plaas wat regtens nie moontlik was nie.

Ernst bevraagteken ook die integriteit of deelname aan verlede jaar se sinode van verskeie ander mense om verskillende redes in sy beswaarskrif. Onder hulle is die Universiteit Stellenbosch se dosenteraad, asook drr. Chris Jones, André Bartlett, Carin van Schalkwyk, Nadia Marais, Frederik Marais en Ben du Toit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui