Dwaling om duiwel prominent te maak?

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer.

************

‘Dwaling om duiwel prominent te maak’

2012-10-31 22:18

Neels Jackson

Met die prominensie wat party kerkmense aan die duiwel gee, maak hulle hulself vandag skuldig aan ’n eeue oue dwaling waarteen die kerkhervormers al in die 1500’s gewaarsku het.

Dit is die siening van prof. Natie van Wyk van die Hervormde Kerk wat hy gister op die Kerkhistoriese Genootskap se kongres gedeel het.

Van Wyk het verduidelik hoe Philip Melanchton, ’n kollega van die kerkhervormer Martin Luther, die eerste van die tien gebooie verklaar het.

Dié gebod verbied dit dat ’n mens enige ander gode mag aanbid.

Een van die maniere waarop ’n mens dié gebod kan oortree, is deur die “dwaling van Mani”, het Melanchton in die sestiende eeu geskryf.

Van Wyk het verduidelik dat Mani ’n persoon was wat gesê het daar is twee goddelike beginsels, naamlik goed en kwaad, wat min of meer ewe sterk is en wat gedurig met mekaar in stryd is.

Hy meen dié siening leef vandag voort onder mense wat vandag baie prominensie aan die duiwel verleen. Dit kom dan daarop neer dat daar ’n goeie God en ’n slegte god is wat met mekaar meeding.

Hierteenoor staan die geloof dat daar net een almagtige God is wat hom onder meer in die opstanding van Christus geopenbaar het.

Oor die Bybelteks wat sê die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu wat soek wie hy kan verslind, het Van Wyk gesê daar is boosheid wat ’n mens nie kan ontken nie.

Hy het dit verduidelik aan die hand van ’n voorbeeld van ’n meisie wat aan dwelms verslaaf is. Wat beteken dit as so ’n kind se ma sê sy is van die duiwel besete?

Moet ’n mens verstaan dat daar iewers ’n klein “Hot Stuff” is wat in die kind skuil, of is dit ’n manier om te sê dat die kind in die greep is van iets wat sterker is as wat sy kan hanteer? Van Wyk het gesê uiteindelik is dit nie so belangrik of die boosheid ’n persoon is of nie. 

Die belangrike ding is dat so ’n bose mag nie op dieselfde vlak as God geplaas kan word nie.

Kommentaar

Dit is waar dat God ons fokus moet wees en nie die duiwel nie, en binne konteks is dit seker waar wat prof Natie van Wyk hier sê, maar die neiging onder liberale teoloë is om die duiwel heeltemal te onderskat of selfs te glo dat die duiwel nie bestaan nie. Ek sou graag wou weet wie die mense is wat prof van Wyk in gedagte gehad het toe hy hierdie gesê het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui