Dit is ’n gesprek tussen dowes

Kyk ook:

Die volgende artikel het in kerkbode.christians.co.za verskyn. Henk Gous neem ’n uiters verdraagsame houding in. Hy pleit onder andere: “Dalk gaan dit help as jy jou standpunt versag om die ander se vrees te versag. Dalk gaan die volle Bybel wen as jou harde standpunt nie wen nie. My versoek is dus dat albei groepe “sagter” argumenteer.”

Die vraag is, wat sou Jesus van hierdie pleidooi gedink het? Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade om te sien hoe uiters ferm en selfs liefdeloos Jesus by tye opgetree het.

*************

Dit is ’n gesprek tussen dowes | Kerkbode

5 Februarie 2018

Henk Gous

Die gesprek in die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings het ’n gesprek tussen dowes geword, meen dr Henk Gous. In hierdie bydrae soek hy na ’n uitweg.

——————-

Ek begin met drie stellings:

  1. Die Gaygesprek is tans asof tussen dowes.
  2. Angs maak mense doof.
  3. As elkeen besef wat in my argumente maak die ander groep angstig en dan doof, kan elkeen dalk anders praat, op só ’n manier dat hy/sy gehoor word.

Die selfdegeslagverhoudingsgesprek (SGV) is tans in ’n kan-nie-wen-nie-skaakmat. Die 2015-besluite van die Algemene Sinode (wat ruimte laat vir uitleef van selfdegeslagverhoudings) het die een groep laat wen. Die 2016-besluite (wat slegs vir heterogeslagsverhoudings ruimte laat) het daarna weer die ander groep laat wen.

Telkens veg die groep wat verloor het, om weer te wen. Tans is daar regsprosesse aan die gang om die 2016-besluit om te swaai, nes die regsprosesse teen die 2015-besluit. Die vorige en huidige regsprosesse om elke verloorstandpunt weer te laat wen, maak die kerk seer. Dit maak medegelowiges opponente.

Geen groep kry dit egter reg om regtig deur die ander gehoor te word nie. Wat is die rede?

Die rede is dalk iets in my eie argument. Iets in elkeen se argumente maak die ander party so beangs dat hulle doof word. Iets in wat die ander groep sê, is so ontstellend en raak sulke heilige dinge aan, dat elkeen fanaties daarteen baklei.

Wat maak die ander groep so beangs? Ek hoor twee argumente:

  1. As die Bybel vertrap word, en verdraai word, om die teenoorgestelde te sê as wat daar staan.
  2. As gaymense se menswees nogmaals vertrap word.

Ten opsigte van 1: As die 2015-groep die Bybeltekste oor selfdegeslagseksgedrag só uitlê dat dit nie negatief is oor gaygedrag nie, dan word die 2016-groep beangs. Dan is hulle bang dat enige Bybelteks nou omgeswaai en weggeredeneer kan word. Hulle vrees dat enige teks dan nou gedraai kan word om die teenoorgestelde te sê. Dan voel hulle hulle moet veg om die Bybel te beskerm.

Hoe word hierdie angs van die 2016-groep uit die pad geneem?

Dalk moet die 2015-groep toegee dat die Bybel wel oor alle gaygedrag negatief is en gaygedrag sonder onderskeiding in hierdie tekste saamgroepeer as sondige wilskeuses.

Wat dan nou? Sou dit beteken dat die 2015-groep moet toegee gay gedrag is sonde? Ek glo nie so nie. Ek glo goeie Bybeluitleg gebruik konsekwent ook menswetenskaplike onderskeiding. Wanneer kern-LGBTI wel ruimte kry, is dit nie op grond van die sogenaamde Bybelverdraaiing nie, maar op grond van menswetenskappe. [Let wel dat LGBTI, “biseksualiteit” insluit wat meer as een seksmaat impliseer…]

Ek gebruik hier ’n ander saak as voorbeeld: Menswetenskappe wys ons byvoorbeeld dat sekere “liefdelose” gedrag die gevolg van outisme kan wees en nie van sondige wilskeuses nie. Dan is, in die geval van outisme, die tekste oor liefdelose gedrag nie op outiste se liefdelose gedrag van toepassing nie.

Net so wys menswetenskappe dat die SGV-gedrag van sommige voortvloei uit hul wesenlike identiteit en nie uit sondige wilskeuses soos die Bybeltekse in daardie konteks veronderstel nie. [Hier word geïmpliseer dat jy gay gebore word. Dit is nie waar nie. Kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit en Getuienisse van voorheen gay mense.]

Ten opsigte van 2: As die 2016-groep ontken dat kern-LGBTI mense se gedrag ’n uitleef van ’n wesenlike, vasgelegde identiteit is, dan ontstaan die angs by die 2015-groep dat hulle sulke mense se menswees vertrap. Dan veg die 2015-groep fanaties met argumente soos: “Julle is homofobies, die liefdesgebod moet oorheers, mense word weereens verwerp.”

Hoe word hierdie angs van die 2015-groep weggeneem? Deurdat die 2016-groep die menswetenskaplike feit van wesensvasgelegde geslagsidentiteite erken.

Ons almal het verskillende onvermoëns as deel van die aardse gebrokenheid. Ons moet alle mense help om hul gebrokenheid ten goede te hanteer. Kern-LGBTI mense het ’n onvermoë om heteroverhoudings uit te leef. [Nie waar nie. Kyk Gay mans gelukkig getroud met vrouens?!?!.]

Hoe kan hierdie onvermoë ten goede hanteer word? Om te vra dat dit slegs deur selibaatskap hanteer kan word, is nie billik nie. Ons vra byvoorbeeld nie van geskeides om lewenslank selibaat in eensaamheid te leef nie. Hulle mag weer trou ten spyte van Matteus 19:9 se eksplisiete verbod op hertrou. Net so is ’n verhouding soos ’n burgerlike verbintenis vir gay persone ’n beter opsie as lewenslange eensaamheid. [Dit is oneerlik om egskeiding as so ’n eenvoudige kwessie af te maak soos wat Henk hier doen. As ons egter nie van homoseksueles kan verwag om selibaat te bly nie, dan kan mens seker ook nie van pedofiele (mense seksueel aangetrokke tot diere) en soöfiele (mense seksueel aangetrokke tot diere) verwag om selibaat te bly nie, of hoe?]

Weereens moet die 2015-groep nie met “te harde” argumente veg nie, want dit maak die ander groep doof. [In Matteus 11:15 sê Jesus: “Wie ore het, moet luister.” Niemand kan bekostig om homself doof te hou nie.] Byvoorbeeld om gaywees as ’n gawe van God te beskryf in ’n poging om gay mense se selfwaarde te bou nie. Kern-LGBTI is ’n onvermoë wat slegs uit genade volgens Romeine 8:28 ten goede kan meewerk.

Dus: dalk gaan jou standpunt juis gehoor word as jy minder fanaties veg. Dalk gaan dit help as jy jou standpunt versag om die ander se vrees te versag. Dalk gaan die volle Bybel wen as jou harde standpunt nie wen nie.

My versoek is dus dat albei groepe “sagter” argumenteer.

Naskrif: Ek verkies neutrale terme soos “2015- en 2016-groep” eerder as terme wat “pro” of “anti” bevat.

– Dr Henk Gous is ’n emeritus-predikant Hy was vroeër moderator van Goudland Sinode wat toe nog die Wes-Transvaalse sinode was.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui