Die Twaalf Wonders van Bloedrivier

Die Twaalf Wonders van Bloedrivier

Deur Boeta Erasmus

1. Die eerste wonder – die regte plek

Die Natalse weer in Desember-maand is, om die minste te sê, op sy beste erg bedompig en klam, op sy slegste mistig en reënerig. Die hele week wat die Wenkommando dieper die Natalse binneland indring, bly die weer maar baie nat. Die riviere is geswolle en moeilik om oor te steek.

Toe die verkenners vroeer die dag Zoeloe-impi in aantog bemerk, het kommandant Andries Pretorius bevel gegee dat daar laer getrek word – en net daar naby, terug oor die rivier waar hulle pas deurgetrek het, was ‘n terrein wat hom uitstekend leen daartoe. Soos Sarel Cilliers later sê: “Die Here het dit self aangewys.”
Aan die suidekant die sterkvloeiende rivier met sy diep seekoeigat, aan die westekant die diep donga, ook gevul met modderige water – met die Zoeloe-impi in aantog vanuit die noorde, kan dit nie beter nie.
Hulle swaai terug oor die rivier, en bring alles gereed. So geoefend is hulle al , dat dit hulle net ‘n uur neem. Op die grond naaste aan die rivier, maar ook waar dit droog genoeg is vir die waens. Die pappery langs die rivier is eens te erg. Dit beteken dat die laer sowat 400m weg van die rivierwal af te staan kom.
Die veghekke word bevestig, en al die voorbereidsels getref. Teen die tyd dat die laaste strale van die skemerson vervaag, is die wagte uitgestel en die aangesang klink op.

2. Die tweede wonder – wit wagte om die laer

Deurnag sit die impi en wag vir die eerste lig.
Hulle het stilletjies vroegnag die laer genader en in hul oormoed reguit op die waens afgesluip. Maar daar word hul die spookagtige liggies van die Boerelanterntjies gewaar, wat geheimsinnig in die sagte luggie roer. Uit vrees vir ‘n aanval in die nag is deur die kommandant bevel gegee dat dit aan die punte van die slap sweepstokke bevestig moet word.
Oorbluf sak die impi op hulle hurke terug. Hulle besluit om liewer te wag en te kyk. Hier was iets wat hulle nie verstaan nie. Baie jare later vertel een van die ou ringkoppe aan die Voortrekkers dat daar manne was met wit klere, wat oor die laer wag gehou het…

3. Die derde wonder – droë kruit

Vir ‘n hele week het daar elke nag ‘n digte mis neergesak oor die laer, en dan moes die wagte sukkel om te hoor of te sien. Die nag van die 15de is dit weer so…
Heelnag hoor die Trekkers geheimsinnige geluide opklink uit die mistige nag – sagte geritsel, die sagte klink van metaal op klip, ‘n vae gesis asof daar gefluister word… maar niks kon hulle uitmaak nie, en niks het gebeur nie. Genadiglik.
Stadig breek die dag van 16 Desember aan… dan, meteens, lig die digte mis, asof ‘n onsigbare hand ‘n gordyn optel.
Hier, reg rondom die walaer, sit die jong rooi skilde én die ouer swart skilde, magtige impi van Dingaan, maklik 15 000 van hulle — binne trefafstand!
Die Zoeloegeneraal huiwer. Hy lig sy seinhoring na die lippe. Maar in die oomblik voordat hy blaas gee die Voortrekker-kommandant bevel: Skiet! Gewere lankreeds gerig en gereed, val die eerste skote donderend gelyk en doof die hortende klank van Dambuza se vhuvuzela.
En wat ‘n wonder — die kruit vat vlam, skoot vir skoot!

4. Die vierde wonder – die ou beproefde taktiek misluk

Toe die eerste skote klap, spring die Zoeloe-krygers in een beweging op en storm! Met mening. Hulle vergeet heeltemal wat hulle gewoond was sedert Tsjaka – dat die voorstes aanval , en terugtrek sodat die volgende linie kan aanval.
Die lopers saai verwoesting. Die kommandant het juis daarom lopers (stukkies metaal en koeels, toegenaai in katoensakkies) laat maak, want as die aanval dig en vinnig, oor ‘n kort afstand plaasvind, is die trefkrag van so ‘n loper geweldig.
Die impi val in massas, die vernietigende golf wankel en swig – keer in grootste wanorde om en vlug halsoorkop bo-oor hulle sterwende makkers! Die grootste deel van die regterhoring bly agter op die slagveld…
Maar die regterhoring verstaan nog nie wat aangaan nie. Hulle is te besig om die laer te probeer bereik van die regterkant af – soos die gewoonte is. Maar hier wil dit nie werk nie. Die terrein is ‘n riller.

5. Die vyfde wonder – Water soos bloed

Om die laer linksom te bereik moet eers deur die rivier, wat hier 40m breed is en vir 1km lank een lang seekoeigat. Dan is daar boonop die ‘n diep donga langs die laer verby. Die sloot het nie veel water in niemaar is so diep dat hulle opmekaar se skouers moet klim om bo die wal te kan uitsien.
Die Trekkers gewaar onmiddelik die nuwe bedreiging. Die wa wat dien as hek word oopgeskuif, en deur die opening bars die perdekommando op volle galop. Hulle jaag reg op die rivier en dongawal af en trek met mening los. Weer saai die lopers saai verwoesting onder die krygers. So erg dat die Ncomo-rivier rooi soos bloed word… dit is eens te erg, en hulle val so gou moontlik terug.
Maar hulle is nog nie van plan om op te gee nie. Vinnig word daar word ‘n ander roete ingeslaan – dié van die regterhoring! So hardloop hulle hul vas teen die vlugtendes in dolle vaart. Die hele gedrang kom tot bedaring, en gaan sak eenkant op hul hurke om hul wonde te lek — buite bereik van die gewere.

6. Die Sesde wonder – die diere binne die laer

Ondertussen trap die trek-osse en perde onrustig deurmekaar in die middel van die laer. Dit was onvermydelik dat assegaaie die laer binnedring, en diere is getref. Die skade is egter gering, en die diere is merkwaardig rustig ten spyte van die geweldige lawaai van skote en krygsgeskreeu.
Die kommandant het nie juis kans gehad om aan die diere aandag te gee nie, maar ‘n vinnige kyk oor sy skouer stel hom gerus. Gewis, die Here hou Sy hand oor die laer. Hy kyk terug na waar die vyand in onheilspellende stilte sit en wag.

7. Die Sewende wonder – snelvuur en oorverhitting

Alles dui daarop: die volgende stormloop gaan ordelik geskiet, in falankse. Dit is juis waarvoor hy op sy verrsigtigste is. Lopers kan nie so ‘n groot impak hê op lang uitgerekte, ordelike lyne nie. Die volgende halfuur blyk dan ook die mees kritieke tydsgreep in die hele Slag te wees.

Toe die indoennas bevel gee, staan hulle op en kóm — golf op golf! Dit is asof dit net nooit einde kry nie. Dis net laai en skiet, laai en skiet. Sommige laai en ander skiet. Die ou Voorlaaiers raak so warm dat dit kwalik vasgehou word. Pretorius weet dat ‘n Sanna in so ‘n geval alte maklik kan ontplof en ‘n man se hande en gesig is juis daar teenaan…
Maar dit gebeur nie. Geen enkele geweer ontplof nie, al hou hulle vir ‘n volle halfuur nie een oomblik op met vuur nie. Wat wel gebeur is dat ‘n digte kruitrook oor die gevegstoneel uitblom. Dit raak so erg dat Andries Pretorius bevel gee dat almal geweervuur moet staak. Dit is ‘n mors van ammunisie as mens nie kan sien waar om te skiet nie.
Die gedonder vaag weg, en ‘n amper onaardse stilte sak neer. Met gespanne aandag tuur die Trekkers die rook in, probeer sien waar die vyand is… Gaan die Zoeloes hulle dalk nou onverhoeds oorval omdat hulle onder dekking van die rook te naby kan kom?
Die dampe trek stadig weg… en tot hul uiterste verbasing merk die manne dat die krygers sowaar teruggeval en eenkant gaan sit het. Hulle moes die aanval gestaak het ‘n oomblik voor die kommandant sy bevel gegee het!

8. Die agste wonder – Grietjie se enkele skoot

Oor die grusame vlakte, gesaai met lyke, al grommende, sit die krygers en gluur die laer aan. Eenkant teen die koppie sit die groot indoena’s, en die veterane — die witskilde — veilig buite bereik van die gewere. Hulle oorweeg die volgende stap. Die kommandant verstaan dat hy hierdie ruspose in sy guns moet gebruik, en gou. Geen tyd mag aan die vyand gegun word om planne te maak, en nuwe momentum te kry nie.
Die perde-kommando word uitgestuur om hulle te tart. In Zoeloe word die impi toegeroep: “Komaan julle oumanne, die jonges het lankal bloed getrek — hulle is dapper, maar julle sit! Is julle bang!” Hulle brom maar laat hulle nog nie beweeg nie. Hulle weet, as hulle die aanval lank genoeg uitrek, sal die donker die Slag in hulle guns help beslis.
Die Kommandant besluit om sy troefkaart te gebruik.
Op sy bevel word Grietjie, die ou drieponder-kanonnetjie, omgeswaai dat haar loop koppie toe wys. As hulle haar goed kruit gee, tot op haar maksimum, behoort sy net-net die mense op die koppie te kan tref. Dit is drie kilometer ver…
Akkuraat skiet op so ‘n afstand is nie sommer so nie, en toe die skoot afgaan, slaan ou Grietjie reg agteroor – vir die res van die Slag buite aksie. Maar die Here rig die koeel. Dit trek deur die lug, suiwer en reguit, en tref Dingaan se troonopvolger!

9. Die negende wonder – weer ‘n harwar

Oombliklik is hulle woedend — die witskilde, wat normaalweg meer met die verstand veg, as met emosie. Soos ‘n magtige dier brul dit asof uit een keel. Hulle kom! En hulle kom wanordelik, in ‘n massa. Weer is dit die lopers wat vernietiging saai.
Hierdie is ‘n beslissende oomblik – en in wese is die slag gewonne.
Die aanvallers wankel, strompel nog ‘n paar treë, draai om en vlug halsoorkop! Die wahek swaai oop, die perdekommando storm vir die derde keer uit en val die die vlugtende impi van agter aan. Groot verwoesting volg…

11. Die elfde wonder – ‘n magtige volk vlug

Die geveg nader vinnig sy einde, en die Zoeloe-generaals moet vinnig tot besluit kom. Agterbly en met die dood betaal, of rug wys. Hulle kies, en vlug – vir al wat hul weet vlug hul hul dood tegemoet, want Dingaan verdra nie ‘n lafaard nie.
Maar toe die berigte van die nederlaag Dingaan bereik slaan hy self op die vlug en laat ‘n brandende Umgungundhlovo agter. Teen die 17de Desember is die hele nasie aan die vlug – hul moed so te se heeltemal gebreek.

Die twaalfde wonder – drie gewondes, net maar drie

Op ‘n stappie ry Andries Pretorius die gevegsterrein deur. Tel hy lyke? Dit lyk of hy na iets soek. Hy stop, klim van sy perd af en stap nader. Het hy ‘n kryger sien roer? Die volgende oomblik spring ‘n man met rasende vaart op, en probeer hom met die kort assegaai deursteek. ‘n Wilde worsteling volg, om lewe en dood — die kommandant se regterhand word deurpriem.
‘n Paar Trekkers snel hom te hulp – die benoude oomblik is verby. So word die kommandant een van die drie man wat ligte wonde opgedoen het by die Slag van Bloedrivier. Geen swaar gewondes, geen lewensverlies.

Die eerste Dankdiens

Na die slag was daar baie wat gedoen moes word. Daardie middag, toe die uitgeputte manne terugkeer van die agtervolging, moes die diere versorg word, die gewere skoongemaak en geolie word, nog koeëls gegiet word, geëet word… alles midde-in die weersinswekkende atmosfeer van ‘n eens rasend, bloeddorstige maar nou lewelose grusame, massa…
Maar binne die laer skaar die Trekkers saam om die man met die Lamp – hy slaan die StatenBybel oop. En dan weerklink, deur die soel middaglug, die eerste dankpsalm van die eerste Geloftediens…
Dit is 12:00, 16 Desember 1838.

Die laaste wonder

Op die koppie Hlomo Amabutha lê die verbleikte beendere van Piet Retief en sy manne nou al vir 10 maande in wind en weer. En daarlanges, die erg verweerde leertas met daarbinne die ondertekende traktaat – ongeskonde. Die Boervolk se kaart en transport – bewys van hoe eerbare voornemens beloon is met verraderlike haat.

Die Wonder van Bloedrivier

In terugskouing kan die gelowige nageslag net bely – niks het op die dag van 16 Desember 1838 volgens menslike berekenings en vooruitskattings verloop nie.
Alles – ALLES – is deur die Almagtige God en Vader alleen — vooruitbeskik.

(Boeta Erasmus)

3 thoughts on “Die Twaalf Wonders van Bloedrivier”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui