Kruisverhoor: Elke gemeente bepaal sy kultuur (en salaris)

In die artikel hieronder voer Hanlie Retief ‘n onderhoud met die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg.

*******

Kruisverhoor: Elke gemeente bepaal sy kultuur (en salaris) | Netwerk24

Hanlie Retief

Sondag, 18 Desember 2022

Daar is welwillendheid tussen die NG Kerk en die VGK, sê Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk.

Hoe gaan dit met die NGK se finansies op gemeentevlak? Goed. Klein voorstedelike en plattelandse gemeentes wat voor Covid marginaal was, is nou meer so. Die dankoffer-inkomste het ná Covid gelukkig weer sterk begin styg. Tydens Covid is baie predikantsposte nie gevul nie, maar daar word nou weer heelwat beroepe uitgebring.

En jul lidmaatskapgetalle? Dit daal die afgelope jare weens emigrasie. Sekularisasie is waarskynlik die grootste faktor.

[Kommentaar: Emigrasie en sekularisasie is verseker twee redes. Daar is egter ook baie lidmate wat die kerk verlaat weens die teologiese stromige in die NG Kerk. Kyk ook Arnold Griesel: Is welwillende uitkoms moontlik met spanning tussen lidmate wat anders glo?.]

Hoeveel gemeentes word finansieel deur die streeksinodes ondersteun? ’n Klein persentasie gemeentes word só gehelp.

As die NGK en die VGK saamsmelt, sal daar pariteit wees tussen VGK- en NGK-dominees se salarisse? Predikante word nie uit ’n sentrale fonds vergoed nie, dit hang alles af van ’n gemeente se eie inkomste.

As ’n VGK-gemeente sukkel om sy leraar te betaal, gaan hy aanhou sukkel, ongeag samesmelting? Binne die NGK is daar ook gemeentes wat sukkel om hul leraars te betaal. Die NGK-sinodes help nie predikante nie, hulle help net gemeentes waar dit geregverdig kan word.

Dus indirek predikante, want salarisse is gemeentes se grootste uitgawe? Korrek.

Is NGK-dominees bang die VGK vat die NGK se eiendomsportefeulje oor? Glad nie. Gemeentes se eiendom behoort aan hulself.

Niemand kan dit vat nie. Gemeentes help dikwels mekaar, maar as ’n gemeente ’n yskoue hart teenoor sy buurgemeente het, gaan samesmelting hom glad nie finansieel affekteer nie.

[Kommentaar: Dit maak sin dat gemeentes se eiendom aan hulleself behoort, want alles bates is geregistreer onder die gemeente se naam, nie die NG Kerk se naam nie. Verder het die hof dit ook in effek so besluit tydens die hofsake tussen die Hervormde Kerk en die Geloofsbond van Hervormde gemeentes. Kyk ook Kerk verloor hofstryd oor geboue (13 Mrt 2022).]

Dr. Dawid Kuyler (oudskriba van die VGK) sê NG predikante se kommer oor hul salaris en pensioen is ’n struikelblok vir kerkeenheid. Dawid, ’n goeie vriend, is in dié opsig verkeerd. Die rede hoekom die NGK en die VGK nie verenig nie, lê nie net by die NGK nie. Ons sou in die Kaap ’n konvent met die VGK gehou het, maar dis uitgestel, want die VGK fokus nou eers op interne eenheid. In die VGK is daar ook ’n legitieme vrees dat die NGK hulle gaan oorheers, waarvoor ek begrip het. Die leierskap van die NGK en VGK is lankal verby die punt waar die pot die ketel oor eenheid verwyt.

[Kommentaar: Kyk ‘Dominees se geldvrees belemmer kerkeenheid’ (11 Des 2022).]

Is NG dominees nie bang hulle verloor hul poste aan VGK-dominees van groter gemeentes nie? Dis nie die probleem nie. NG bekommernisse gaan meer oor taal en kultuur, verkeerdelik, want gemeentes bepaal hul eie taal en kultuur.

Hoekom aanvaar soveel NG gemeentes nie die Belhar-belydenis nie? Toe die belydenis destyds aanvaar is, was daar ten regte baie woede in die samelewing teenoor die NG Kerk. Dit het oor jare verander. Maar daar is steeds by baie gemeentes die gevoel dat Belhar ’n rottang was.

Is die oorwegende rede nie rassisme nie? Ek sou dit nie graag so wou noem nie. Natuurlik is rassisme oral teenwoordig.

Maar die welwillendheid en omgee tussen lidmate van die twee kerke was opvallend tydens die Covid-pandemie.

Stap die leierskap van die VGK en NGK te ver voor gemeentes vooruit? Ons het ’n tussen-orde geskep wat dit vir plaaslike gemeentes en ringe moontlik maak om formeel saam te reis.

Kuyler vertel hoe hy as konsulent op klein dorpe verby mooi NG kerke ry om in die township by gemeentes sonder ’n predikant te preek. Die NG gemeentes reik nooit uit na dié sukkelende VGK-gemeentes nie. Dinamiese dinge gebeur tussen die NGK en die VGK op baie plekke. NG gemeentes moet uitreik na VGK-gemeentes om saam ’n verskil in die gemeenskap te kan maak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui