Die ‘Nuwe Hervorming’

*******

Die ‘Nuwe Hervorming’ | Beeld

Beeld, 30 Desember 2002

Barry van der Merwe

Standpunte in belangrike debat word goed in publikasie uiteengesit

Daar’s ’n wind wat waai, soos hy nou daar waai…

Hierdie boek is ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse teologiese literatuur wat deel uitmaak van die wind wat al sedert die 1960’s in die kerk oor die wêreld waai. In 1963 het biskop John A.T. Robinson van die Church of England se boek Honest to God in Brittanje verskyn. Hierin is gesoek na nuwe maniere om oor God te dink. Dit was een van die mees bespreekte teologiese publikasies van die 20ste eeu en meer as ‘n miljoen kopieë daarvan is verkoop.

Dit was duidelik dat daar by baie mense die behoefte was om nuut te dink oor God, nie omdat hulle onverskillig was nie, maar omdat hulle wou hê geloof in God moet sin maak in die wêreld waarin hulle geleef het.

In 1968 het H.M. Kuitert se Verstaat gij wat gij leest? in Nederland verskyn. Dit het gehandel oor die verstaan van die Bybel in vandag se wêreld. Hen van Kuitert se bekendste uitsprake oor die openbaring is: “Alles wat ons van God sê, kom van onder af, ook wanneer ons sê dit kom van bo af.” Vier jaar later het die boek al ’n 14de druk beleef!

Hierdie wind het ons gewone lidmate eers regtig in Afrikaans voel waai met die boeke Die vreemde God en sy mense deur Willem de Klerk en God — Geloof in ’n postmoderne tyd deur Ben du Toit. Daar was natuurlik ook artikels deur Sakkie Spangenberg en andere in teologiese en ander tydskrifte. Die Nuwe Hervorming waai uit dieselfde rigting en is ’n goeie beek om insae te kry in wat die argumente is van die mense wat praat van ’n nuwe hervorming en dié wat deel is van die Jesus-seminaar. Al sou ’n mens dalk probleme hê met die gebruik van die term nuwe hervorming om hierdie wind mee aan te dui, kan jy die wind nie ignoreer nie. Elkeen van die bydraes is die moeite werd om te lees.

Piet Muller wys deur middel van voorbeelde en aanhalings hoe lidmate ’n geloofwaardigheidskrisis in die kerk ervaar.

Hansie Wolmarans, Pieter Craffert, Sakkie Spangenberg en Pieter Botha doen moeite om te wys hoe die studie van die tyd en omstandighede waarin die Nuwe Testament ontstaan het, die verstaan daarvan beïnvloed. Die werk van die Jesus-seminaar word verduidelik en sommige van die resultate word aangestip.

Jacques en Carol Kriel vertel van hul persoonlike Emmaus-tog om onder meer deur middel van die lees van boeke van die Jesus-seminaar die Jesus-gebeure te interpreteer. Maretha Jacobs wys wat die betekenis van hierdie debat vir die posisie van die vrou in die kerk is. Daar word selfs in die bydraes kritiek gelewer op die term nuwe hervorming p.59, en die uitgangspunt van die Jesus-seminaar p.171.

Wilhelm Jordaan se bydrae, wat vanjaar as lesing op die Klein Karoo-kunstefees gelewer is, eindig met agt stellings wat byna almal te doen het met verwondering, want, sê Jordaan: “… die histories-gegewe teologie van ontwyfelbare, en haas onkorrigeerbare sekerheid word aangevul/vervang met ’n teologie van verwondering en ontvouende misterie” (p.49).

Sommige lidmate is bang dat hierdie wind teen God in waai, maar eintlik waai dit in die rigting van ’n groter sensitiwiteit vir die misterie van God. Wanneer die wind waai in die rigtig van verwondering en misterie, kan dit die reën van die mistiek bring.

Dit word vertel dat daar by geleentheid aan die groot 20ste-eeuse teoloog Karl Rahner gevra is hoe hy die toekoms van die Christendom sien en dat sy antwoord was: Óf die mistiek, óf niks. John A.T. Robinson het in sy latere boek Exploration into God in die rigting van die mistiek beweeg. Geen wonder nie dat die Evangelie van Thomas gewild is by diesulkes, want sommige van die uitsprake hierin pas goed in die wêreld van die mistiek.

Behalwe dat daar ’n paar keer in Die Nuwe Hervorming aangehaal word uit die Evangelie van Thomas, handel Piet Muller se heel Jaaste bydrae in die boek oor dié Evangelie en ’n nuwe spiritualiteit.

Die Evangelie van Thomas is in 1945 by Nag Hammadi in Egipte ontdek. Dit bevat net uitsprake van Jesus. Sommige teoloë heg nie veel waarde daaraan nie, terwyl ander van mening is dat dit ’n belangrike bron oor Jesus is. Een van die gewilde uitsprake is vers 70: “Jesus het gesê: As julle voortbring wat in julle is, sal dit wat julle voortbring julle red; as julle nie voortbring wat in julle is nie, sal dit wat julle nie voortbring nie julle vernietig.”

Daar’s ’n wind wat waai… Elkeen wat belang stel in die teekoms van die kerk behoort Die Nuwe Hervorming te lees, want die wind gaan al sterker waai. Indien jy nie saamstem met die skrywers nie, hou in gedagte hulle staan nie teenoor jou nie, maar langs jou voor God. Wilhelm Jordaan haal ’n betekenisvolle uitspraak van die Rooms-Katolieke teoloog Hans King aan: “The totality of faith consists in the integrity of commitment, not in entirely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time.” (p.58/59).

barryffc@mweb.co.za

@ Barry van der Merwe is predikant in die NG Kerk Lynnwood, Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui