Die hervorming ‘verslaaf God’

*******

Die hervorming ‘verslaaf God’ | Beeld

Beeld, 22 Februarie 2003

Neels Jackson

NG Kerk neem standpunt in teen 2 groepe

Een van die probleme met die werkswyse van die Nuwe Hervorming in die kerk en die Jesus Seminaar is dat dit God ‘n slaaf van Sy skepping en van die geskiedenis laat word.

Só sê die algemene sinodale kommissie (ASK) van die NG Kerk in ‘n dokument van net meer as vyf bladsye waarin hy standpunt inneem oor die Nuwe Hervorming in die kerk.

Die dokument met die titel Ons geloof bedreig? sê baie van die Nuwe Hervorming se idees kom van die Jesus Seminaar af.

Dit is ‘n groep Nuwe Testamentici wat ‘n ondersoek doen na die historiese Jesus omdat hulle meen Hy is nie noodwendig dieselfde as die Jesus waarvan die evangelies vertel nie.

In hul soektog na die historiese Jesus gebruik hulle die radikale historiese metode wat werk met die vaste beginsel dat historiese gebeure almal op soortgelyke manier gebeur.

Almal weet byvoorbeeld dat lyke nie weer lewendig word nie. Omdat dit nie nou kan gebeur nie, kon dit ook nie in Bybelse tye gebeur nie en daarom kon Jesus nie letterlik uit die dood opgestaan het nie.

Dit beteken dat God volgens hulle nie iets totaal anders kan doen of laat gebeur as wat al ooit in die geskiedenis plaasgevind het nie. So word God ‘n slaaf van Sy skepping en die geskiedenis.

Die ASK het lidmate wat vrae het oor die manier waarop die kerk se geloof geformuleer word, versoek om dit met hul dominees en medegelowiges te bespreek. Gespreksgeleenthede moet gereël word waar lidmate se vrae openhartig bespreek word.

Die ASK sê die kerk het nie nuwe ontwikkelings in die Bybelwetenskap doelbewus van lidmate weggehou nie, maar hy erken dat die kerk lidmate nie genoeg gehelp het om die sake gelowig-krities te bespreek nie.

Hy het Bybel-Media versoek om toerustingmateriaal vir die kerk te verskaf waarin die geloofkernagtig bespreek word en nuwe dwalings uitgewys word.

Die ASK het hom ook gedistansieer van die beskouings van die Nuwe Hervorming wat in stryd is met die kerk se belydenisskrifte.

njackson@beeld.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui