As ek swak is, is ek sterk

Die volgende nuusbrief is in November 2002 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek het ’n bewonderaar geword van James Herriot. Hy was ’n veearts in Engeland wat in sy later jare begin skryf het en vertel het van sy wedervaringe as ’n veearts. Sy naam was eintlik Alf Wight, maar hy het geskryf onder die skuilnaam James Herriot. Ek het geweldig baie by James Herriot geleer oor sy benadering tot mense en diere en die lewe in die algemeen.

Ek vertel een van die stories soos ek dit onthou: James is uitgeroep na ’n huis om te kom kyk na die mense se hond. (In daardie dae het die veeartse nog na mense se huise toe uitgekom om na die diere om te sien.) By die mense aangekom was alles in verwaarlosing. Die man het in sy onderhemp daar rondgelê en hy het hom nie verwerdig om op te staan vir die gas wat hulle kom besoek het nie. Die kinders was vuil en onversorg. Drank het duidelik ’n groot rol in die huis gespeel. Die man het ongeërg gewys in die rigting waar die hond in ’n hoek gelê het. Die hond was brandsiek in ’n erge graad. Om die velprobleem op te klaar, moes die hond elke dag met ’n spesiale middel gebad word.

James het vir die huismense ’n botteltjie van die medisyne gegee waarmee die hond gebad moes word en is toe daar weg. Na ’n paar dae was James nuuskierig om te sien wat van die hond geword het. Hy het weer by die huis aangegaan. Tot sy ontnugtering het hy ontdek dat niemand nog die moeite gedoen het om die hond te help nie. Hy het toe self ’n bad gevra en die hond begin was. So het hy elke dag daarna by die huis ’n draai gemaak om die hond te was. Die huismense het hom skaamteloos toegelaat om die werk te doen, sonder om hulle verantwoordelikheld teenoor hulle hond op te neem. Na ’n tyd het die bure gesien wat gebeur en hulle het aangebied om na die hond om te sien. Dit was vir James ’n groot vreugde om na die tyd weer daar te kom en te sien hoe gelukkig en gesond die hond van die behandeling geword het.

Ek het by myself gedink hoe ek sou opgetree het in so ’n situasie. Ons is geneig om vir mekeer te vertel hoe sleg mense kan wees. Ons sal fokus op mense se vuilheid en dronkenskap en onverantwoordelikheid. James het egter by die mense se slegtheid verbygekyk en die hond raakgesien. Hy wat ’n geleerde en ’n besige man was het as’t ware die hond se voete gewas. Eintlik moes hy die mense se koppe gewas het, maar hy het dit nie gedoen nie. Waarskynlik sou hy in elk geval niks daarmee bereik het nie. Hy het liewer vir hulle ’n voorbeeld gestel.

So is James Herriot se boeke vol kosbare, leersame en humoristiese verhale. Soek sy boeke en lees dit! Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

In 1997 het daar ’n artikel oor James Herriot in ’n tydskrif verskyn wat nuwe feite oor James bekend gemaak het. Na James se dood het sy seun, wat ook ’n veearts geword het, agtergrond oor sy pa bekend gemaak wat James se verhale in ’n nuwe lig geplaas het. Die artikel sê dat James sy lewe lank ’n depressielyer was as gevolg van ’n infeksie wat hy opgedoen het deur ’n siek koei wat hy behandel het. Op 41 jarige ouderdom het James ’n totale senuwee ineenstorting gehad en hy moes skokbehandeling daarvoor kry. James het verder voortdurend finansiële probleme gehad. Dit was omdat hy nooit die moed gehad het om vir mense geld te vra vir sy dienste nie. Met sy silwerbruilof het hy nie eers geld gehad om sy vrou uit te nooi vir ete nie. Dit is dinge wat in sy verhale deurskemer, maar die omvang daarvan het eers na sy dood bekend geword.

‘n Ou veeartsvriend van James het op ’n dag vir James kom besoek en was geskok oor sy toestand. Hy het vir James aanbeveel om as terapie ’n paar humoristiese vertellings uit sy lewe as veearts neer te skryf. Op aandrang van sy vrou het hy dit vir ’n uitgewer gegee en so het James Herriot se stories wêreldberoemd geword.

Dit het my laat dink aan die apostel Paulus wat ook ’n doring in die vlees gehad het. God het hom dit gegee sodat hy nie hoogmoedig sou word nie. Uiteindelik sê hy in 2 Kor 12:10: “Daarom is ek bly oor swakhede …, want as ek swak is is ek sterk.” Ek dink God het vir elkeen van ons ’n swakheid gegee, sodat die beste in ons kan uitkom. Sonder James se swakheid, sy stryd, sou hy nie so ’n deernis vir die mense en die diere om hom gehad het nie. Ten spyte van sy swakheid het hy sy lewe lank op sy pos gebly. Hy het dapper geveg teen sy depressie en sy minderwaardigheidsgevoelens. Hy het heel anderkant uitgekom en sy insigte wat hy in sy stryd bekom het, word vandag deur miljoene mense bewonder.

Wat is jou stryd in die lewe? Het jy dalk ook ’n kruis waarvan die mense weet nie? Miskien wil die Here juis jou swakheid gebruik om dinge vir jou te leer wat jy nie andersins sou kon leer nie. Moenie mismoedig word nie. Bly nederig, bly op jou pos. Die Here sien jou raak. Hy laat alles vir jou ten goede meewerk, ook jou swakheid en mislukkings en skandes.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui