Die NG Kerk se standpunt oor die “Nuwe Hervorming”

In 2003 het die ASK (Algemene Sinodale Kommissie) van die NG Kerk standpunt ingeneem teen die Nuwe Hervorming (kyk die standpunt hier onder).

Volgens Ferdie Mulder, Julie 2011, Opgestaan, p 21 is hierdie verklaring in ongeveer Februarie 2003 uitgereik.

Kort daarna het James Kirkpatrick en Fanie Cronjé hierdie verklaring gekritiseer – kyk James Kirkpatrick en Fanie Cronjé ongelukkig dat NG Kerk die Nuwe Hervorming kritiseer.

********

Die “Nuwe Hervorming”

(Standpunt van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk oor die “Nuwe Hervorming”)

1. Die “Nuwe Hervorming” en onsekerheid by lidmate

Van vroeg in 2002 af het daar gereeld berigte en artikels in die Afrikaanse koerante verskyn oor die opvattings van ’n groep mense wat basiese aspekte van ons geloof bevraagteken. Hulle het te kenne gegee dat die gevestigde kerke se sienings oor fundamentele geloofsake verouderd is en van nuuts af aan geïnterpreteer moet word om dit vir hedendaagse “postmoderne” mense verstaanbaar en aanvaarbaar te maak.

Hierdie mense het aanvanklik los van mekaar gewerk, maar later informele gespreksgroepe gestig, met ’n webruimte begin en ’n boek die lig laat sien, Die Nuwe Hervorming. Hulle gee te kenne dat dit tyd is vir ’n totaal nuwe hervorming in die Christendom, en dat so ’n hervorming reeds aan die gang is.

Dit het daartoe gelei dat hulle in die pers bekend geword het as “nuwe hervormers” en hulle bedrywighede as die “Nuwe Hervorming.” Hulle meen self dat hulle optrede nie verwarring by gelowiges behoort te veroorsaak nie. Dit gebeur egter wel. Daar is lidmate van die Afrikaanse kerke wat onder meer deur die “nuwe hervormers” se uitlatings en geskrifte onseker geraak het oor belangrike aspekte van ons geloof.

2. Waarvandaan kom die “Nuwe Hervorming”?

Die “Nuwe Hervorming” se idees kom in ’n groot mate van die sogenaamde “Jesus Seminar” af. Die Jesus Seminaar het sinoniem geword met die Westar Institute van prof Robert Funk in Kalifornië, VSA. Hulle is ’n groep Nuwe Testamentici wat hulle besig hou met die ondersoek na die sogenaamde “historiese Jesus.” Die Jesus Seminaar onderskei tussen die historiese Jesus en die verkondigde Christus.

Hulle sê Jesus soos Hy op aarde was, is nie noodwendig dieselfde as die Christus waarvan die Evangelies ons vertel nie. Die vier Evangelies gaan uit van die standpunt dat Jesus uit die dood uit opgestaan het en beskou Jesus dus deur ’n bepaalde “bril.” Die Evangelies dig dan ook baie dinge aan Jesus toe wat Hy self nooit gesê of gedoen het nie, meen hulle.

Eintlik, sê die Jesus Seminar, teken die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes ’n vals beeld van Jesus. Wat hulle van Hom sê, is nie soos Hy regtig was nie. Die historiese Jesus wat destyds in Palestina geleef het, is nie die Jesus Christus waarvan Matteushulle ons vertel nie.

3. Die “radikale historiese metode”

Die Jesus Seminaar wil nou vasstel wat Jesus régtig destyds in Palestina gesê en gedoen het, wie en wat Hy régtig was. Om dit te doen, gebruik hulle onder meer die sg radikale historiese metode. Dié metode werk met wat beskou word as die vaste beginsel van analogie. Historiese gebeure sou dan almal analoog aan mekaar wees – dit wil sê, daar is ’n bepaalde voorbeeld en ooreenstemming tussen alles wat in die geskiedenis gebeur het en wat nog sal gebeur. Daarom kon iets wat nie vandag as ’n historiese gebeurtenis aanvaar kan word nie, ook nie in die tyd van die Bybel gebeur het nie. Die noodsaaklike voorbeeld / ooreenstemming – analogie – ontbreek.

Almal weet byvoorbeeld lyke kan nie weer lewendig word nie. Dit kan nie nou gebeur nie, daarom kon dit ook nie in Bybelse tye gebeur het nie. Jesus het daarom nie letterlik uit die dood uit opgestaan nie, bevind die radikale historiese metode. So ook met Jesus se geboorte uit ‘n maagd. ’n Meisie wat nog nooit gemeenskap met ’n man gehad het nie, kan nie ’n baba kry nie. Dit kon daarom ook nie in Jesus se tyd met Jesus gebeur het nie. En die wonders van Jesus kon ook nie plaasgevind het nie, want ons weet tog dat sulke dinge nie vandag kan gebeur nie.

Omdat die “Nuwe Hervorming” hier by ons in ’n groot mate in die spoor van die Jesus Seminaar loop, betwis hulle saam met die Jesus Seminaar sake wat deur die eeue as die hartaar van die Christelike geloof beskou is. Hulle het bedenkinge oor Jesus se geboorte uit ’n maagd – en dus oor ons geloof dat Hy die God-mens is, verwek deur die Heilige Gees, gebore uit ’n meisie sonder dat sy met ’n man gemeenskap gehad het. Hulle wek twyfel oor sy werklike, liggaamlike, historiese opstanding uit die dood – ’n lyk kan mos nie lewendig word nie! – en bring dus die kern van ons geloof in ’n opgestane Here in die gedrang. Paulus sê immers nie verniet nie dat, as Christus nie uit die dood uit opgewek is nie, “is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud” (1Kor 15:14).

Die probleem met die “vaste beginsel” van analogie, waarvan die Jesus Seminaar baie maak, is dat dit van God ’n slaaf van sy skepping en van die geskiedenis laat word. Dit gee eintlik te kenne dat God nie in staat is om iets nuuts te skep wat nog nooit voorheen daar was nie, of iets totaal anders te laat gebeur as wat al ooit in die geskiedenis plaasgevind het nie. Ons glo egter dat God, toe sy Seun ’n mens geword het, juis iets gedoen het waarvoor daar geen analogie of ooreenstemmende gebeurtenis in die geskiedenis is nie. Daarom glo en bely ons dat Hy, anders as enigiemand anders, uit ’n maagd gebore is. En dat Hy werklik op ’n dag in die geskiedenis (vroeg een Sondagoggend) uit die dood uit opgestaan het.

Die Bybel leer vir ons dat die volle werklikheid dié een is wat ons met ons oë kan sien, én dié een wat ons in die geloof moet aanvaar. En geloof, sê die skrywer van Hebreërs, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb 11:1).

4. Het die kerk dié nuus weggesteek?

Dit is so dat lidmate wat eerlik met hulle geloof geworstel het, in die verlede alte dikwels min begrip in en bystand van die kerk gekry het. Maar aan die ander kant is die sake wat die Jesus Seminaar en die “Nuwe Hervorming” nou op die tafel gesit het, nie nuus in kerklike kringe (soos soms voorgegee word) nie. In die teologiese opleiding van predikante, en in die kursus van Bybelkundestudente, word al dekades lank aandag gegee aan kwessies soos die Sinoptiese vraagstuk (die verskille tussen die Evangelies), die betekenis van die ontdekking van die Qumranen Nag Hammadi-geskrifte en die navorsing van die Jesus Seminaar. Dit geld ook ander ontwikkelinge in die Bybelwetenskap.

Koerantberigte en –artikels wat te kenne gee dat dié dinge deur die jare doelbewus van lidmate weg gehou is, maak ook ’n fout. Wat wel waar is, is dat dit nie die soort inligting is wat maklik deel kan wees van die normale prediking in die erediens nie. Dit het wel van tyd tot tyd by gespreksgeleenthede in gemeentes en in kerklike publikasies ter sprake gekom. Lidmate is dan gehelp om hierdie sake gelowig-krities te bespreek. Dit moet egter toegegee word dat dit waarskynlik nie dikwels genoeg in die NG Kerk gebeur het nie. En dit is ook waar dat die wyse waarop hierdie inligting nou onder die breë publiek se aandag gekom het – en die sensasionele beriggewing wat in sommige gevalle daarmee gepaard gegaan het – verwarring en onsekerheid by gelowiges veroorsaak het.

5. Die Bybel se menslike aard én goddelike karakter

Ons moet in die bespreking van hierdie sake opnuut beklemtoon dat die menslike aard van die Bybel nie ’n bedreiging is vir die goddelike karakter daarvan nie. Mense met hulle beperkinge het die Bybel geskryf, maar God het dit sy Woord laat word! In ons lees en verklaring van die Bybel moet ons beslis rekening hou met die menslike, feilbare skrywers en oorskrywers en vertalers daarvan, sowel as met die kulturele en ander omstandighede van die skrywers en die eerste lesers aan wie hulle geskrywe het. Maar dan óók met God wat sy boodskap vir alle tye via dié oeroue geskrifte bekend gemaak het. Die menslike aard van die Bybel is daar vir ons om met ons oë raak te sien en te ondersoek en te bestudeer. Die goddelike karakter daarvan is vir ons om in die geloof aan te neem. God gee dié geloof aan ons, maar ons moet dit dan ook van Hom aanvaar.

Die vier skrywers van die Evangelies gee elkeen hulle eie beklemtonings, maar op die ou end is dit één evangelie met één sentrale boodskap.

6. Het historiese navorsing oor die Bybel waarde?

Die historiese navorsing oor die Bybel en sy skrywers en hulle eerste lesers het beslis waarde. Die dinge waarvan die Bybel vertel, hét immers in die geskiedenis plaasgevind. Tog moet ons steeds onthou dat die Bybel –

  • nie bedoel is as ’n geskiedenisboek wat voldoen aan die eise van moderne geskiedenisskrywing nie
  • nie bedoel is as ’n wetenskaplike boek wat rekening hou met die resultate van moderne wetenskaplike navorsing op allerlei terreine nie
  • geskryf is in die omgangstaal van die eerste lesers met die “onjuisthede” wat eie is aan omgangstaal – soos as ons nog altyd sê dat die son “opkom” en “ondergaan” terwyl ons weet dat die aarde om die son draai en nie andersom nie
  • verkondig, getuig en oorreed en nie soseer bewys of die resultate van feitelike navorsing wil gee nie

In alle historiese navorsing oor die Bybel, moet die eie aard van die verskillende Bybelboeke – en juis ook dié van die vier Evangelies – in gedagte gehou word. ’n Historiese basis lê daarvan dit ten grondslag.

7. Die naam “Nuwe Hervorming” pas nie

Die benaming “Nuwe Hervorming” pas nie regtig by hierdie groep nie. Ten eerste omdat hulle gedagtes nie so danig nuut is nie. Die meeste daarvan word al vir meer as twee honderd jaar in die kringe van moderne teoloë gehoor en kan dus kwalik as “nuut” beskou word. Ten tweede omdat die term “hervorming” duidelik verwys na die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Tóé het dit egter gegaan om die hervorming van die kerk, nie die vervorming van die evangelie nie! Tóé is teruggekeer tot die Bybel, die Woord van God, as bedoel vir alle gelowiges en nie net vir kerklui en teoloë nie. Die “nuwe hervormers” se opvattings bring egter die evangelie self op belangrike punte in die gedrang, en maak eintlik ook van die Bybel ’n boek wat net deur ingeligtes ná baie navorsing verstaan kan word.

Die kerkhervormers van die sestiende eeu was goed bewus van bepaalde probleme in die teks van die Bybel. Hulle het egter ook verstaan dat dit nie afbreuk doen aan die sentrale boodskap van die Bybel nie. Die “nuwe hervormers” hanteer die probleme wat hulle in die Bybel teëkom, egter só dat die boodskap van die Bybel in die proses in sy hart aangetas word.

8. Hoe nou vorentoe?

Lidmate wat probleme het met die formulerings oor ons geloof soos dit byvoorbeeld in die belydenisskrifte voorkom, moet aangemoedig word om met hulle predikante en mede-gelowiges daaroor te praat. Gespreksgeleenthede behoort in gemeentes gereël te word om vrae in verband met ons geloof openhartig te bespreek en geskikte toerustingsmateriaal behoort daarvoor verskaf te word.

‘n Gesprek oor ons geloof, en eietydse formulerings daarvan, moet in die kerk sterk aangemoedig word. Die NG Kerk het in die laat jare tagtig heelwat aandag daaraan gegee en So glo ons … is toe gepubliseer. Die Kerkbode het in 1999 lidmate van ses gereformeerde kerke gevra om saam te werk aan ’n stuk oor ons geloof, en ná baie debat in Die Kerkbode is Geloofsverklaring 2000 voltooi. Hierdie dokumente behoort as aanknopingspunt gebruik te word vir verdere gesprekke – in gemeentes en ook in breër ekumeniese verband.

Dit sal ook goed wees indien verteenwoordigers van die NG Kerk en die “Nuwe Hervorming” met mekaar kan praat om werklike of vermeende misverstande uit die weg te ruim.

9. Besluite

Die Algemene Sinodale Kommissie –

9.1 bely opnuut dat die Bybel die Woord van God is

9.2 verklaar dat die belydenisskrifte van die kerk ons geloof suiwer weergee

9.3 glo dat die Jesus wat in die geskiedenis opgetree het en die Christus wat die Nuwe Testament en die kerk verkondig, dieselfde Here is

9.4 erken die waarde wat historiese navorsing vir die teologie kan hê, maar is daarvan oortuig dat ons belydenis van die maagdelike geboorte van Jesus, sy wonders, sy opstanding en hemelvaart nie afhanklik is van die soort historiese bewysvoering wat in die kringe van die Nuwe Hervorming en Jesus Seminaar gebruik word nie; ons bely die werklikheid van hierdie sake soos deur die Woord van God aan ons oorgedra

9.5 distansieer hulle van dié beskouings van die “Nuwe Hervorming” wat in stryd is met die kerk se belydenisskrifte

9.6 doen ’n beroep op lidmate wat vrae het oor die kerk se geloofsformulerings om daaroor met hulle predikante en medegelowiges in gesprek te tree

9.7 versoek Bybel-Media om via Bybelkor so gou as moontlik toegespitste toerustingsmateriaal aan die kerk te verskaf waarin ons geloof kernagtig bespreek en ou en nuwe dwalinge uitgewys word

9.8 bring So glo ons … en Geloofsverklaring 2000 as eietydse geloofsverantwoordings opnuut onder die kerk se aandag

9.9 oorweeg die moontlikheid dat daar binnekort ’n “Jaar oor ons Geloof” in die NG Kerk sal wees en dat daar dan met behulp van onder meer die stukke in 9.7 en 9.8 genoem, spesiale aandag in gemeentes aan verskillende fasette van ons geloof gegee sal word

9.10 besluit om gesprek te voer met verteenwoordigers van die “Nuwe Hervorming” om moontlike misverstande uit die weg te ruim.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui