Byeenkoms te Somerset-Wes

Kyk ook:

Op 24 November 2011 is ’n baie geslaagde byeenkoms op Somerset-Wes gehou, waar belangstellendes na Prof Johan Janse van Rensburg se indrukke oor die afgelope Algemene Sinode (AS) kon luister. Hy het sy lesing in twee sessies aangebied.

1. EERSTE SESSIE. DIE ALGEMENE SINODE 2011

Prof Van Rensburg het begin deur te verwys na sy eie worsteling met die pad wat die Ned Geref. Kerk tans bewandel. Vir hom is dit duidelik dat daar ’n duidelike tendens is in die sterk negatiewe strominge in die Kerk, naamlik ’n afname in teologiese insig met ’n gepaardgaande gebrek om die konsekwensies in te sien.

1.1 ’n NUWE SPIRITUALITEIT

As voorbeeld noem hy die wyse waarop die Algemene Sinode funksioneer. Voorheen het Teologiese beredenering die leidende rol gespeel terwyl dit nou ’n meer gemoedelike, emosionele vergadering is waar welwillendheid hoogty vier. Dié afmosfeer was so sterk, en afgevaardigdes so gekondisioneer, dat dit vir hulle haas onmoontlik was om teen voorstelle te stem. Hy het dié verandering toegeskryf aan ’n wegbeweeg van die linkerbrein na die regterbrein. Daar was groot welwillendheid en liefde, baie klem op sang, gebed en Skrifgesprekke. Emosie het ’n groot rol gespeel en na die Sinode is daarna as die ‘Huilende sinode’ verwys. Die uitwerking van die meer emosionele was veral te sien in die groot verskil tussen die aand se debatte en die daaropvolgende dag se bespreking en stemmery. Waar die aanddebatte gekenmerk was deur gesonde bespreking en verskille standpunte oor die betrokke mosie was daar met die stemmery die volgende dag weinige teëstemme en is die mosies met geweldige groot meerderhede goedgekeur.

’n Ander faktor wat bygedra het tot die aanvaarding van die mosies was die wyse waarop die Toeligtingsspanne vooraf bepaalde aksente gelê het. Dit was veral waar van die mosie oor Belhar. Daar is ook genoem dat daar groot euforie was na die uitslag van die mosie oor Belhar en dat die besluit toegejuig is as die werk en leiding van die Heilige Gees. Hieroor het Prof Van Rensburg gemaan dat alle sinodale besluite nie te vinnig aan die leiding van die Heilige Gees toegeskryf moet word nie. Hy noem voorbeelde van besluite van vorige sinodes wat geneem is en later verander of geskraap moes word.

1.2 DIE DUIWEL OF DIE BOSE

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Sedert 1986, toe ’n studiestuk goedgekeur is oor die bestaaan van die duiwel en ’n bediening van bevryding, het die Algemene Sinode al meer akkommoderend geword – eers in 2007 en nou met die kompromieë van 2011. Argumente wat gebruik is gaan uit van die veronderstelling dat Jesus in die pre-moderne tyd geleef het toe, wat ons nou as sieketetoestande kan bewys, nog gesien was as van duiwelse oorsprong. Daarom moet die vraag gevra word of Jesus Hom dan misgis het toe Hy na Satan verwys het as ‘die vader van die leuens’ en toe Hy sy dissipels uitgestuur het om duiwels uit te dryf?’

Dié besluit van die sinode impliseer ook die ontkenning van die bestaan van engele; trouens, die voorsitter van ATLAS het al bevestig dat hy nie aan engele glo nie. Die eintlike probleem is ’n ‘nuwe’ Skrifbeskouing. Wat Judas in sy brief oor engele skryf word nou ‘anders verstaan’. So ook die spesifieke verwysings in die NGB Artikel 12. Dit begin al duideliker word dat ons kerk nie meer die Quia-standpunt huldig nie en dat ons al verder wegbeweeg van die gereformeerde wêreld. Met reg kan die vraag gevra word: ’Is ons nog gereformeerd?’

1.3 SAAMWOON

4 Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.

Die implikasies van hierdie besluit is dat die AS huwelike wat nie bevestig is nie erken. Daar is ook ’n duidelike teenstrydigheid want in punt 6 van die verslag word die volgende goedgekeur:

“Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

Verder is dit ook teenstrydig met, en ’n weerspreking van, die besluit wat in 2007 oor homoseksualiteit geneem is.

Wat die AS nie verreken nie is dat die besluit oor saamwoon ernstige regs- en sosiologiese implikasies het, b.v. dat ’n vrou dan geen regsaanspreeklikheid het as die man haar los nie.

1.4 WEDERDOOP

Die volgende punte in die Besluiteregister het betrekking:

  1. Die Algemene Sinode gee dankbaar erkenning aan lidmate wat ten spyte van hulle ander verstaan van die doop steeds lojaal bly aan die kerkverband en wil hulle verseker dat hulle ’n geestelike tuiste in die NG Kerk het.
  2. Die algemene Sinode vra opreg verskoning vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, en nooi hulle uit tot onderlinge gesprek waar daar op pastorale wyse saam oor die saak gesels en gebid kan word.
  3. Die Algemene Sinode verseker lidmate wat die NG Kerk vanweë hulle doopverstaan verlaat het, dat die NG Kerk ’n geestelik tuiste wil wees vir alle kinders van die Here en nooi hulle hartlik uit om hulle regmatige plek in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam te werk aan die koms van God se koninkryk.

Vertrekpunte van Gesprek

  1. Die Algemene Sinode bevestig dat die doopherinnering/viering nie as ’n her/weerdoop interpreteer mag word nie maar direk met die verbonds/christelike doop saamhang.
  2. Die Sinode besluit dat gemeentes aangemoedig word om geleenthede te skep waar doopherinnering of herdenking deel word van lidmate en gemeentes se verhaal.
  3. Die Sinode beveel aan dat sakramentsviering ’n groter rol binne liturgie, kategese en die erediens sal speel.
  4. Dit staan Kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding saam met Christus.

Ten spyte van groot druk van die sinode van Wes Kaap om die wederdoop goed te keur word die voorstel nie deur die AS aanvaar nie. Volgens Artikel 34 van die NGB is die wederdoop ’n dwaling. Dat die AS wel begrip toon vir ander doopstandpunte sowel as die reg wat aan lidmate gegee word om na die wederdoop terug te keer na die kerk dui egter reeds op ’n gereedheid om weg te beweeg van Art. 34 van die NGB.

1.5. BELHAR

Voor die AS was daar geweldige propaganda dat Behar een van ons Belydenisskrifte moet word. Prof Piet Naude se boek (Good News to Confess), asook ’n artikel in Kerkbode, wat kort voor die AS verskyn het, was in die geheel sterk pleidooie vir die aanvaarding van Belhar.

In die sinode self was daar stemme wat gevra het dat Belhar sondermeer aanvaar word as Belydenisskrif ongeag die Kerkorderlike prosedure (K.O. Art 44)

Die sake wat in Belhar behandel word, b.v. eenheid, geregtigheid en versoening, is in orde maar volgens prof. van Rensburg kwalifiseer Belhar nie as Belydenisskrif nie, o.a. omdat dit verdelend van aard is terwyl NGB Art 1 bepaal dat ’n Belydenis moet verenig en nie verdeel nie.

Die argumente wat Belhar met ‘Kerk en Samelewing’ en met die Barmen verklaring (waarin beswaar gemaak is teen die Nazi-bewind tydens die Tweede Wêreldoorlog) gelykstel, is nie oortuigend nie aangesien albei genoemde verklarings nie belydenisskrifte was nie maar eerder eietydse getuienisse. Belhar is niks meer as ’n eietydse getuienis nie.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat uit die talle gereformeerde kerke wêreldwyd slegs ’n handjievol Belhar as Belydenisskrif aanvaar het. In die verband is ook verwys na ’n opmerking deur Ds Jerry Pillay, die president van die World Communion of Reformed Churches, wat met sy groeteboodskap daarop gewys het dat Belhar amper soos ’n sjibbolet van toewyding geword het. Tog het die wêreldbond dit nie as belydenisskrif aanvaar nie omdat die beginsels daarvan reeds in ander besluite opgeneem is.

1.6 SLOTGEDAGTES

Ons kerleiers verklaar dat hulle lidmate wil saamneem op die pad vorentoe maar die vraag word gevra of hulle dit werklik wil doen en, indien wel, waarheen? Daarop het prof Van Rensburg gevra of die Ned Geref Kerk nie reeds die Rubicon oorgesteek nie?

Kan die kerk nog terugkeer?

———————————–

2. TWEEDE SESSIE. TEOLOGIESE TENDENSE IN DIE NG KERK

Ter inleiding noem prof. Van Rensburg dat hy in die 40 jaar wat hy in die bediening is baie blootstelling aan teologiese denke gehad het en gesien het hoe die NG Kerk verander het.

2.1. DAM OF STROOMVERSNELLING

Dr. James Kirkpatrick het by geleentheid verduidelik dat die kerk nie soos ’n dam moet wees wat stagneer nie maar soos ’n rivier met stroomversnellings, ’n kerk wat kan aanpas.

Hierdie metafoor is egter ’n gevaarlike een aangesien stroomversnellings handuit kan ruk en onbeheers kan raak. As kerk moet die vraag altyd gevra word of die stroomversnellings nog gereformeerd is. Is ons nog by die bron? Reformasie beteken allermins dat ons altyd moet verander maar wel dat ons altyd moet terugkeer na die Skrif.

2.2. STROOMVERSNELLINGS DIE AFGELOPE TYD

Prof Van Rensburg maak melding van ’n hele aantal afwykings van die Skrif en Belydenisskrifte.

  • Verwerping van die Goddelike natuur van Christus. Hierdie waarheid lê aan die hart van die evangelie en tog is daar al deur ’n teoloog gesê dat Postmodernisme hom bevry het van die twee nature van Christus.
  • Verwerping van die maagdelike geboorte
  • Verwerping van die gesag van die Skrif. By geleentheid is Ron Martoia (een van die nuwe denkers wat homself sien as ’n ‘Transformational Architect’) deur die stigter van E-Kerk (Stephan Joubert) as spreker genooi om by die Mosaiek gemeente in Johannesburg op te tree. Hy het beweer dat die Bybel ’n klassieke boek is en dat ons dit soos bladmusiek moet lees, d.w.s. om dit altyd nuut te kan interpreteer
  • Verwerping van die Organiese Inspirasieleer
  • Verwerping van die bestaan van duiwels en engele
  • Verwerping van die liggaamlike opstanding van Jesus Christus
  • Verwerping van die verwysings na Christus en die Heilige Gees in die OT.
  • Verwerping van Teïsme. ’n Bekende teoloog noem homself ’n post-teïs.
  • Verwerping van die leer van die Drie-eenheid van God
  • Verwerping van Handelinge 8 se toepassing van Jesaja 53
  • Verwerping van die wederkoms van Jesus Christus
  • Verwerping van Jesus as enigste Verlosser
  • Die geringskatting van die Kerk. Die kerk Is in ’n Kerkbode artikel as niks belangriker as ’n piekniek met jou gesin bestempel nie.
  • Daar het ’n verskuiwing plaasgevind van ortodoksie na ortopraksie

2.3. DIVERSITEIT DEFINIEER DIE STROOMVERSNELLING

Diversiteit is op die oomblik die vlag waaronder die NG Kerk vaar. Die metafoor wat gebruik word is dat die kerk ’n huis met baie kamers is en dit sou dan beteken dat ons ’n kerk sonder grense geword het, ’n kerk waar feitlik alles onder die vaandel van diversiteit akkommodeer kan word.

Die staande besluit van die sinode dat die gereformeerde leer nie in gedrang gebring mag word nie, word deur baie nie ernstig opgeneem nie. Baie eien hulle die reg toe om waarhede, en daarmee ook die Skrif, ‘anders’ te verstaan. Die houding is: Ek reserveer my gedagtes om te verstaan soos ek wil” (Resevatio Mentalis).

Met hierdie uitgangspunt kom die Legitimasieverklaring en Bevestigingsformuliere in gedrang en word leertug onmoontlik.

2.4. FILISOFIESE STROMINGE

Die pre-moderne, moderne en post-moderne tydperke is nie so duidelik onderskeibaar soos wat dikwels deur teoloë beweer word nie. Daar is ’n groot mate van oorvleuling.

Waar daar voorheen (moderne wêreldbeeld) niks aanvaar is wat nie bewys kon word nie, is daar nou in die post-modernisme ’n sg. ‘collapse of unity’ en ’n veelheid van narratiewe. Daar is nie meer net een waarheid nie, elkeen kan sy eie standpunt hê.

Elke poging wat aangewend word om standpunte uit die Woord te probeer staaf word so maklik as fundamentalisties bestempel.

In ons tyd is die beweging na die ‘Inter-Faith Movement’ baie sterk en word die beklemtoning van die Evangelie en Jesus Christus as enigste Weg tot saligheid teëgestaan. Die ‘Emerging Church’ speel in die nuwe filosofie ’n leidende rol. As voorbeeld van die teenkanting wat bestaan verwys prof Van Rensburg op die terugtrekking van Franklin Graham se uitnodiging as spreker by die Presidensiele Ontbyt in die VSA nadat hy in ’n toespraak van Jesus gepraat het as die ‘enigste weg’.

Daar word ook melding gemaak van die nuwe godsdiens nl. Chrislam, waar pogings aangewend word om Muslims en Christene saam te laat aanbid

2.5. SLOT

  • Status Confessionis nou! In die NGB Art. 29 word die kenmerke van ’n ware kerk duidelik uitgespel. Moet ons nie nou getuig dat ons nie meer verder kan nie? M.a.w. is dit nie tyd vir ’n staat van belydenis nie?
  • Wat ons te doen staan is om op kerkorderlike wyse beswaarskrifte, klagtes en Beskrywingspunte via Kerkrade en Ringe in te dien. Aangesien die volgende AS reeds in 2013 gehou word, moet ons goed voorbereid wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui