Belydenis van Belhar: Historiese konteks en teologiese inhoud

Wat hier volg is’n paar beskeie redes waarom die belydenis van Belhar nooit kan kwalifiseer as belydenisskrif van die NG Kerk nie. Kortliks: dit is mooi woorde op ’n vreemde melodie.

1. Historiese konteks: Sy is ’n jong aantreklike vrou, nog maar vlak in haar vroeë dertiger jare. Om meer akkuraat te wees, sy is onverwags gebore in die laatnagte tussen die 4de en 6de Oktober 1982. Haar geboorte was nie vooraf aangekondig of op die amptelike agenda nie. Haar noemnaam is Belhar. Teologies was haar ma pragtig en suiwer gereformeerd, maar ongelukkig dra haar pa’n gevaarlike angel van die swart bevrydingsteologie. Sy het ’n baie bekoorlike stem, want sy sing van mooi Bybelse woorde soos eenheid, versoening en geregtigheid. Maar ongelukkig sing sy dit op ’n vreemde melodie… ’n melodie wat nie aanklank vind by haar ma se gereformeerde familie nie. Sedert geboorte het sy self baie min eenheid, vrede en versoening beleef, want haar spore van skeurings en verdeeldheid volg haar orals waar sy gaan. Dit is maklik om haar voetspore die afgelope 30 jaar te volg: Dit lê in die onenigheid by die ‘82 sinode, die kerkskeurings in die NGKA waar bykans 123 gemeentes weggeskeur en Belhar verwerp het[i] , die talle voortslepende hofsake tussen gemeentes van die VGKSA en NGKA, die jare van twis binne die NG Kerk, stigting van die APK en nou moontlike twis en skeurings wat nog kom as die NG Kerk Belhar sou aanvaar, asook ’n groeiende vertroebeling van die interkerklike verhoudings met ons ander susterskerke wat staan by die Drie Formuliere van Eenheid.

As ons hierdie voetspore sien, kan ons verstaan waarom sommige verkies om liewers te swyg oor die volle verhaal van haar geboorte. Dit is nie iets om op trots te wees nie. Die ’82-sinode waar sy gebore is, was sonder twyfel die mees verdeelde sinode in die geskiedenis van die ou NG Sendingkerk. Hiervan getuig die notules swart op wit[ii] . Die tekens van ander magte wat aan die werk is, het al in Aug ’82 by die WBGK se vergadering in Ottowa sigbaar geword. Dr. Allan Boesak, destyds die bekendste voorstander van die swart bevrydingsteologie in SA, was in die middelpunt van die woelinge. Sy proefskrif: Farewell To Innocence: A Social Ethical Study Of Black Theology And Black Power het groot opslae in die kerk gemaak. As afgevaardigde van die NGSK by die WBGK in Ottowa het hy hulle oorreed om ’n status confessionis teen apartheid in SA te verklaar. Weens die totale aanslag destyds teen SA, het kerk en wêreld vir Boesak met oop hande ontvang! Sy ongekende selfvertroue en militante houding het baie mense wêreldwyd bekoor. Dink maar aan sy optrede met die nagmaalboikot, die status confessionis, die veroordeling en skorsing van die NG Kerk, die publieke vernedering van ons vroom kerkleiers van destyds soos ds Kobus Potgieter en ander. Met sy triomfantlike terugkoms na SA, kort na sy verkiesing as president van die WBGK, het die media hom wêreldwyd as “die held van miljoene” gehuldig. As hy en sy drukgroepe nie minstens dieselfde besluite by die NGSK in SA kon bewerk nie, was sy geloofwaardigheid op die spel.

Die ‘82-sinode van die NGSK is enkele weke later in Belhar gehou. Sonder twyfel het baie invloede van Ottowa af net so na Belhar toe oorgewaai. Die vergadering was van die begin af gekenmerk deur ernstige verdeeldheid tussen die aanhangers van Boesak met sy Black Theology aan die een kant, en ondersteuners van die meer behoudende Izak Mentor aan die ander kant.[iii]

  • Voor konstituering probeer ’n drukgroep van die Boesak-ondersteuners al ter voorbereiding van hul planne, om met ’n ordemosie die blanke sendelinge wat toe nog lidmate van die NG Kerk was, van hul stemreg te ontneem[iv] . Hierdie mosie veroorsaak soveel chaos dat die vergadering voor konstituering al vir ’n hele dag moes verdaag sodat hulle eers regsadvies kon kry. Na die uitslag ten gunste daarvan dat die blanke sendelinge wel stemreg het, protesteer die Boesak-groep steeds. Hy en nog 7 van sy ondersteuners dring daarop aan dat hulle teenstemme genotuleer word.
  • Nog erger was die verdeeldheid by verkiesing van ’n moderator. Die vergadering moes stem tussen Boesak en Mentor. Toe ds. Mentor met ’n klein meerderheid verkies word, was daar weer chaos weens protes vanaf die Boesak-ondersteuners. Dr vd Merwe beskrywe dit so: “Sy (die skriba ds. Sinclair se) woorde: “Ons het so iets nog nooit beleef nie..”, eggo waarskynlik die gebeure op die vergadering die beste… die pasverkose moderator het verskeie kere onsuksesvol probeer om voort te gaan met die verkiesing van ’n assessor, maar die proteste het voortgegaan… Daar was duidelik tweespalt … tussen die meer gematigde groep afgevaardigdes en ’n meer radikale groep Boesak-ondersteuners” .[v]
  • By die verklaring van ’n status confessionis het die verdeeldheid nog verder gegaan… 44 laat hulle stem aanteken teen die status confessionis, en 85 verwerp die bewoording wat sê dat apartheid afgodsdiens is.[vi]
  • Pedro en PJ du P Strauss het dinge probeer red met ’n voorstel dat die sinode die woordjie afgodery moes weglaat. Hier was die stemme 185 vir die voorstel en 193 daarteen[vii] met 74 wat hul name skriftelik laat notuleer het dat hulle teen die woordjie “afgodery” gestem het.[viii]
  • Na prof. Bam se advies dat die sinode nou eintlik verplig was om ’n nuwe belydenis op te stel, word ’n klein ad-hoc kommissie deur die moderatuur saamgestel om ’n nuwe belydenis te skrywe. Dit was: Prof. JJF(Jaap) du Rand, Prof. DJ (Dirkie) Smith, dr. AA (Allan) Boesak, prof. G (Gustav) Bam en ds. IJ (Isak) Mentor. Hul opdrag was slegs dat dit ’n belydenis moes wees om die sekulêre evangelie van apartheid te verwerp.
  • Opsommend: Aan die einde van die vergadering het ds. JG Smith, ’n bejaarde kleurling predikant van Kimberly, opgestaan en ’n verklaring voorgelees waarin hy sy diepste skok en teleurstelling in die sinode uitspreek: “Ek het gekom by die aand van my lewe en byna by die einde van my bediening… Na 30 jaar in die bediening is dit met verontrusting in my gemoed dat ons die gebeure in hierdie Sinode vir die afgelope vier dae waargeneem het… die diep onderliggende tone van botsende standpunte lê nou onbedek op die oppervlakte… ek is met verslaenheid geslaan om in ’n vergadering van ’n Kerk soveel liefdeloosheid, venyn, bitterheid en onverdraagsaamheid te kon waarneem… die gees en gesindheid wat hier geopenbaar is, het die Kerk op ’n pad geplaas waarop ons die vrugte nog sal pluk… As hierdie gees en gesindhede voortduur, dan gaan ons mekaar op die pad vorentoe verteer, as ons voortbou op die ingeslane weg, sal ons voordat ons kerkeenheid bereik, in ons eie geledere disintegreer en verbrokkel…”[ix]
  • Selfs by die finale aanvaarding van Belhar in 1986, was daar nog steeds 71 afgevaardigdes wat geweier het om Belhar as nuwe belydenis te aanvaar.

2. Hermeneutiese sleutel: Mooi woorde op ’n vreemde melodie!

Belhar is ’n aantreklike vrou wat van mooi Bybelse woorde sing, net soos haar ma, maar ongelukkig sing sy baie daarvan op die melodie van haar pa. Die invloed van die bevrydingsteologie op Belhar was ook inhoudelik. Daarom kan ons haar nooit as ’n gereformeerde belydenis aanvaar nie.

Vanweë Boesak se betrokkenheid by die rewolusionêre politiek, die bevrydingsteologie, asook sy latere skuldigbeving aan bedrog en sy tronkstraf, is hy vandag nog ’n groot verleentheid vir Belhar sê onder-tekenaars. Toe dr. Fritz Gaum in 2004 betoog dat Belhar maar aanvaar kan word aangesien dit tog deur blankes opgestel is, het agt leraars van die VGKSA geprotesteer en Gaum as ’n rassis beskuldig omdat hy die groot rol van Boesak in Belhar Belydenis probeer ontken.

Vir sommige is die kombinasie tussen gereformeerde- en bevrydingsteologie egter nogal aantreklik. Dr Willem Nicol sê: “Therefore I would say that the Belhar Confession wich combines Reformed Theology with elements from Liberation Theology, is a legitimate Reformed development.[x] Die “Statement of the Institute for contextual Theology” dank God vir die profetiese stem “through documents like the Kairos Document, The Belhar Confession, The road to Damascus, …[xi]

Die feit dat verskeie Belhar ondertekenaars ook ondertekenaars van bogenoemde dokumente is, gee vir ons duidelikheid oor die horisontalistiese hermeneutiese sleutel waarmee hulle Belhar verstaan. Dink maar aan begrippe soos kerk; eenheid, geregtigheid, versoening, vrede, die owerheid. The Road to Damascus verklaar openlik: “God is on the side of the poor, the oppressed, the persecuted.” en “The true God is the God of the poor…”[xii]. Die Kairos Dokument sê reguit: “The god of the South African state is not merely an idol or false god, it is the devil disguised as Almighty God – the antichrist”… p7 en “God sides with the Oppressed”[xiii]

Allan Boesak gee vir ons ook sy eie hermeneutiese sleutel as hy sê: “Black theology believes that liberation is not only ‘part of the gospel or consistent with the Gospel, it is the content and framework of the gospel of Jesus Christ… The Gospel is the Gospel of the Poor.[xiv]

3. Teologiese wanbalans eie aan sektariese denke.Die gereformeerde belydenisse verwerp dwalinge na links en na regs. Belhar verwerp egter dwalinge slegs na een kant. Terwyl dit opgestel is in die tyd wat bevrydingsteologie floreer het, wys Belhar slegs dwalinge na regs af. Dwalinge na links word nie net geïgnoreer nie, maar selfs bevorder deur sy eie gevaarlike formulerings oor God, kerk, eenheid, ens. Hierteenoor verwerp ’n dokument soos Kerk en Samelewing 1990, nie net rassisme nie, maar ook Marxisme, kommunisme, totalitarisme, integrasionisme en alle ander onchristelike ideologieë.[xv] Belhar se teiken is egter baie eensydig die NG Kerk en apartheid. Boesak sê self: “Die Belydenis van Belhar het gegroei uit die die rou wonde wat apartheid geslaan het.”[xvi]

4. Onakkurate formulering: ’n Gereformeerde belydenis is ’n homologein.. dit is om in eie woorde dieselfde as die Skrif te sê. Ons noem dit ’n repetitio sacrae Scriptura.[xvii] Ons bely dit omdat (quia, nie quatenus nie) dit met die Skrif ooreenstem. Daarom moet dit ’n baie noukeurige en akkurate formulering wees. Vir Belhar se skrywers was akkurate formulerings glad nie belangrik nie. Minstens 73 sinodegangers het beswaar gemaak teen Belhar se formulering dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die armes en die verontregtes”[xviii] is, omdat dit die taal en teologie van die bevrydingsteologie is. Steeds het die kommissie geweier, en hulle weier vandag nog, om dit duideliker te formuleer. Prof. Gustav Bam se antwoord hierop was: “Ek wil dus vir u vra, moet nie u steun vir die Belydenis terug hou omdat hy moontlik misverstaan sou kon word nie. dit gaan in ’n belydenis nie om die klein woordjie hier en daar wat ’n ander sou sê nie, dit gaan om die saak.”[xix] Presies dieselfde vreemde melodie hoor ons uit die mond van prof. Dirkie Smith:Juis daarom is dit belangrik dat ’n mens die saak waarom dit in ’n belydenis gaan, van harte onderskrywe en nie spesifieke woorde of uitdrukkings nie.Oor woorde en uitdrukkings en oor die beste uitleg daarvan kan daar altyd ruimte vir meningsverskil, aksente en gesprekke bly bestaan.”[xx] Albei erken dat Belhar se bewoording vatbaar is vir misverstand, maar hulle weier om dit duideliker te stel. Natuurlik is die saak van eenheid, versoening en geregtigheid ’n belangrike deel van die Bybelse boodskap. Geen gelowige kan ooit daarteen wees nie. Die probleem lê egter nie by die saak nie, maar juis by die formulering van die saak. Wat maak ons dan anders met die filioque stryd in die belydenis van Nicea, en met die stryd teen die Arminiane by die Sinode van Dordt (1618-1619)? Moet ons nou maar die Arminiaanse belydenisse ook aanvaar terwille van die saak, al beteken hul formulerings iets radikaal anders? Kevin Young som die onakkurate taal van Belhar so op: In short, instead of clarifying, Belhar confuses. We are told it will apply to social justice issues, but how? It will speak to our need for unity, but in what way? It will urge reconciliation, but with whom? At this point in the life of the Reformed Church in America, Belhar looks to me like a wax nose, which is exactly what confessions ought not to be.[xxi]

5. Horisontalistiese Skrifgebruik. Die eerste reaksie van die NG Kerk se Breë Moderatuur op die inhoud van Belhar was dat dit gebaseer is op “’n onaanvaarbare horisontalistiese eksegese wat eie is aan die teologie van bevryding.”[xxii] Prof. RM Britz beaam dit as hy sê: “dit gaan hier nie slegs om ’n klemverskuiwing nie, maar om ’n ander uitgangspunt. Die BB maak ’n hele nuwe manier van teologisering, van omgang met die Skrif,… Dit verklaar waarom BB ’n ander taal praat as dit by sake soos die versoening en geregtigheid kom.”[xxiii]

Voorbeelde: Nie een van die Skrifgedeeltes waarna in Art 2 verwys word, kan die afleiding regverdig dat ons alle aparte kerkformasies moet verwerp of dat weiering om een sigbare na te jaag, sonde is nie. By artikel 3 word na dele soos 2 Kor. 5:17-21 verwys sonder om ’n woord te sê oor vertikale versoening waaroor dit eintlik gaan. Paulus sê van die versoening: “dit is alles die werk van God.” Belhar se idee van versoening is: “dit is alles ons eie werk.” Die gelykenis van die ryk man en Lasarus, wat by art 4 gebruik word om te bewys dat God die God van die armes en verdruktes is, kan slegs so gebruik word as ons dit doen volgens ’n “horisontalistiese eksegese wat eie is aan die teologie van bevryding”.[xxiv]

6. Kerkbergip en kerkeenheid. Een van Belhar se grootste probleme lê in sy kerkbegrip. Eerstens is dit deurspek met teenstrydighede en halwe waarhede. Belhar maak geen onderskeid tussen lidmaatskap van die plaaslike gemeente en die een, heilige, algemene, Christelike kerk nie. Die stelling dat geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk, is slegs waar as ons praat van die een, heilige, algemene christelike kerk, maar dit is nie waar as ons praat van die plaaslike gemeente nie. Lidmaatskap van ’n plaaslike gemeente word ook deur ander faktore mede bepaal soos bv.: doop, kategese, geloofsbelydenis, aanvaarding van die kerk se belydenisgrondslag, ligging, taal ens. Die ironie is dat die VGK self ’n ander voorwaarde vir lidmaatskap en vir kerkvereniging stel nl. Die aanvaarding van Belhar. Die standpunt dat een kerkformasie ’n Bybelse eis is, en dat alle aparte kerformasies sondig is, is ook in stryd met Skrif en Gereformeerde belydenis (NGB Art 27-29). Dit is meer Rooms as gereformeerd. Nêrens in die NT word vir plaaslike gemeentes een kerkformasie beveel of eers veronderstel nie. Die “Eenvoudige Uitleg” van Belhar sê: “dit is nooit ’n goeie ding dat daar verskil-lende kerke is nie.”[xxv] Dit is ’n vervalsing van die Evangelie. Die Bybelse eenheid tussen die verkillende selfstandige plaaslike kerke word sigbaar deur hulle een geloof, een doop, een God, een belydenis, onderlinge liefde, ondersteuning, hulpverlening ens., maar nie deur een groot georganiseerde kerklike struktuur nie. Belhar verwerp “enige leer” wat die sigbare eenheid van die kerk belemmer of verbreek, of tot aparte kerkformasie lei. Die ironie is dat Belhar Belydenis self die belydenis is wat die grootste hindernis tot kerkeenheid in die NG Kerk familie is. Sou dit beteken: Belhar verwerp haarself en roep lidmate en gemeentes om haar daarin te volg?

7. Verskeidenheid en verdeeldheid.

Belhar gee geen erkenning vir die bestaan van afsonderlike kerke wat nie weens hul verdeeldheid afsonderlik is nie, maar weens natuurlike Godgewilde faktore. As Belhar praat van “hierdie sigbare eenheid[xxvi], word dit slegs gebruik vir een groot sigbare kerkformasie. Van ’n eenheid wat ook kan bestaan temidde van ’n God-gewilde verskeidenheid (soos bv. moeilik assimileerbare tale) soos Duits en Japanees, is in Belhar geen sprake nie. Alle verskeidenheid word gebrandmerk as sondige onversoendheid. Belhar vergeet dat die sigbare eenheid, sowel as die sondige verdeeldheid, albei binne en buite een groot kerkformasie kan bestaan.

8. Belhar en Homoseksualisme. As u nog nie oortuig is dat Belhar ’n vreemde melodie sing nie, kan u teruggaan na die VGKSA se sinode van 2008. Belhar was weer in die kollig toe een van sy bekendste outeurs, dr. Allen Boesak op grond van Belhar en vanuit Belhar se teologie ‘n vurige pleidooi gelewer het vir die aanvaarding van homoseksualisme: “based on Belhar the church should fully accept gay members, should perform gay marriage ceremonies and allow ministers in gay relationsships to serve in the church.”[xxvii] Kevin De Young wys in ’n toespraak of artikel “Why not Belhar?”, wat elektronies gepubliseer is, dat daar wel meer direkte konneksies tussen Belhar en Gay-teologie is.

Sien http://www.rca.org/page.aspx?pid=6245. Geen verdere kommentaar is hierop nodig nie!

9. Godsbegrip.

Sekere ondertekenaars van Belhar bely saam met die Kairos dokument dat The god of the South African state is not merely an idol or false god, it is the devil disguised as Almighty God – the antichrist”[xxviii]. Dit is ’n skokkende uitspraak, want hier word verwys na die Drie-enige God wat ons voorouers aanbid het. Die rede waarom Kairos dit sê, is omdat hierdie God volgens hulle nie die God van die armes is nie, maar sê hulle: “The true God is the God of the poor…”

As Belhar nou ook sê dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg…”[xxix] en Boesak sê: “The Gospel is the Gospel of the Poor,…[xxx] dan beteken dit: As ons nou gevra word om Belhar te aanvaaar, word ons gevra om die God van ons voorouers te verwerp want Hy was nie die God van die verdruktes nie. . Ons word gevra om skriftelik te bely dat ons vroom verbondsouers wat vir ons die Evangelie geleer het, eintlik afskuwelike afgodsdienaars was!

Belhar en haar ondertekenaars vergeet egter dat die God van die Bybel, God is van armes (soos Lasarus) en rykes (soos Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Job). Hy is die God van vryes en slawe (Gal 3:28). Hulle vergeet ook dat daar baie armes en rykes, vryes en slawe is, wat die Satan en die Antichris aanbid. Openb. 19: 16-17Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra…”

Die argument wat ons dikwels hoor dat Kerk en Samelewing 1990 par 149, hier eintlik maar dieselfde as Belhar bely, is van alle waarheid ontbloot.

10. Taak van die kerk.

Volgens Belhar Belydenis is die taak van die kerk hoofsaaklik horisontalisties, nl. haar roeping om armes kos te gee, verdruktes, weduwees en weeskinders te versorg, gevangenes te bevry ens. Alles klink mooi en reg, maar op watter wysie sing ons hierdie mooi lied? Die kerk se roeping is tog veel meer as bystand van mense in nood? Paulus het self baie min van hierdie soort bevryding ondervind, want sy hele lewe was een groot onderdrukking waarvan hy nooit verlos is nie. Tronkstraf, wrede, onregverdige vervolging en lyding was sy lewenslot. Tog wou hy sy lewe lank niks anders preek nie, as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Paulus se Jesus was nie die Jesus van die bevrydingsteologie wat met ’n gebalde vuis veg vir politieke en maatskaplike bevryding nie, maar die Jesus wat met deurboorde en gevoude hande bid: “Vader vergeef hulle want hullle weet nie wat hulle doen nie”.

Voetnotas

[i] Danzfuss, T: Belhar-Bely of Bestry, Evaluering van die Belydenis van Belhar, Veritas Publikasies, 1998, p 54

[ii] Danzfuss, T: p 32-40.

[iii] Van der Merwe, JM: Ras, Volk en Nasie en Kerk en Samelewingas beleidstukke van die Ned. Geref. Kerk, ’n Kerk-Historiese Studie; Doktorale Proefskrif UP Sept. (1990), p 376.

[iv] Danzfuss, T: Belhar bely of Bestry, 1998, p 32-39

[v] Van der Merwe, JM: Ras, Volk en Nasie en Kerk en Samelewingas beleidstukke van die Ned. Geref. Kerk, ’n Kerk-Historiese Studie; Doktorale Proefskrif UP Sept. (1990), P. 368-369.

[vi] Danzfuss, T: p34-35

[vii] Danzfuss, Belhar: bely if bestry. 1989, p. 35

[viii] Van der Merwe, JM: Ras, Volk en Nasie en Kerk en Samelewingas beleidstukke van die Ned. Geref. Kerk, ’n Kerk-Historiese Studie; Doktorale Proefskrif UP Sept. (1990), p 376.

[ix] Danzfuss, T: p. 74

[x] Nicol, Willem, dr.: Boekbespreking van JW d Cruchy: aangehaal deur T Danzfuss: p 74.

[xi] Danzfuss, T: p 74

[xii] The road to Damascus, p 22

[xiii]The Kairos Document, Challenge to the Church, A Theological comment on political Crisis in SA. 1985, p 22

[xiv] Potgieter PC en Smit, JH: Vernuwing of Konfrontasie, Lux verbi 1988, p 51. (Boesak word aangehaal deur Smith, DJ)

[xv] Kerk en Samelewing, 1990: par 225

[xvi] Boesak, AA: die Ligdraer, 16/10 (1985) p 282.

[xvii] Danzfuss, T: p. 41.

[xviii] Belhar 1986: Artikel 4.

[xix] Danzfuss, T: p 84.

[xx] Danzfuss, T: p 85

[xxi] De Young, Kevin: Why not Belhar? Januarie 2010, http://www.rca.org/page.aspx?pid=6245.

[xxii] Breë Moderatuur NG Kerk; 1986.

[xxiii] Britz, RM, prof.: Ongepubliseerde Referaat. KOVSIES.

[xxiv] Breë Moderatuur NG Kerk; 1986.

[xxv] Sinodale Kommissie vir getuienisaksie: Eenvoudige verklaring; Belhar 1986, NGSK, 1988, p 7

[xxvi] Belhar, 1986: Paragraaf 2

[xxvii] De Young, Kevin: Why not Belhar? Januarie 2010, http://www.rca.org/page.aspx?pid=6245.

[xxviii]The Kairos Document, Challenge to the Church, A Theological comment on political Crisis in SA. 1985, p 22

[xxix] Belhar, 1986: Paragraaf 4.

[xxx] Potgieter PC en Smit, JH: Vernuwing of Konfrontasie, Lux verbi 1988, p 51. (Boesak word aangehaal deur Smith, DJ)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui