Fokus op Lewe op aarde

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Netwerk24 gekopieer. Dit wys uit hoe die NHN (Nuwe Hervorming), waarby Sakkie Spangenberg hom vereenselwig, die waarheid van God vir die leuen verruil het en vereer en dien nou vir Gaia (aarde/mens/natuur), in plaas van die Skepper wat alles geskape het om Hom te loof en te prys, dus ook die skepping/natuur/aarde. Kyk ook Slabbert le Cornu se kommentaar op hierdie artikel by Nuwe Hervorming dogma: omhelsing van die Gaia god (Moeder aarde/natuur).

**********

Fokus op lewe op aarde | Netwerk24

26 Augustus 2014

Die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN), wat ná ’n hewige debat tussen Christene ontstaan het, is vanjaar tien jaar oud. Sakkie Spangenberg skryf die netwerk se fokus het na die lewe hier-en-nou verskuif.

Wilhelm Jordaan se onlangse erkenning in Beeld dat hy nie meer dink en glo soos hy jare gelede gedink en geglo het nie, en lesers se reaksie daarop, het my herinner aan die eerste jare van die nuwe millennium. ’n Handvol Bybelwetenskaplikes het lesers bekend gestel aan nuwere navorsing oor Jesus van Nasaret en die vroeë Christendom.

Piet Muller, wat deel van die aanvanklike gespreksgroep was, het die moontlikheid geopper dat ’n nuwe hervorming hom binne die Christelike tradisie kan voltrek.

’n Hewige debat het ontstaan en kort voor lank was daar twee kampe: (1) die “nuwe hervormers” en (2) die “ortodokse Christene”.

Sommige predikante en teoloë was totaal verbaas dat Beeld die artikels en briewe toegelaat het en daar is soms smalend onderling gevra: “Het julle vanoggend die jongste teologie in Beeld gelees?”

Die strydgesprekke het mettertyd bedaar, maar heelwat lesers het laat weet dat dit vir hulle bevrydend was. Hulle was bly om te lees dat daar ander mense is wat ook met vrae in hul gemoed rondloop.

Die “nuwe hervormers” (soos die Bybelwetenskaplikes en ander ondersteuners gedoop is) het in reaksie op mense se versoeke eventueel die

“Nuwe Hervorming Netwerk” in 2004 gestig en die netwerk vier vanjaar sy eerste dekade van bestaan.

Sommige predikante het destyds gemeen dat die NHN ’n spoedige dood sal sterf, maar in 2006 is tweeweeklikse byeenkomste in Midrand begin met die uitsluitlike doel om ’n oop gesprek oor kerklike leerstelling te bevorder. ’n Webwerf is gestig en die Midrand-lesings is daarop gepubliseer. Deesdae is van die lesings ook op DVD beskikbaar en daar is selfs ’n Facebook-groep waar inligting versprei word en gesprekke plaasvind.

Die lesings en gesprekke wat gevoer word, fokus egter nie meer uitsluitlik op die Bybel en die Christelike tradisie nie.

Daar het binne hierdie netwerk ook groei plaasgevind. Waar daar vroeër oor die gesag en verstaan van die Bybel, die Christelike leerstellings, die vroeë Christendom en oor verskillende godsbeelde gepraat is, praat die

lede en belangstellendes deesdae ook oor die oerknal en die evolusieleer, oor politieke en ekonomiese sake, oor ons bestaan in ’n veranderende Suid-Afrika, oor geweld en oorlewing, oor armoede, aanranding en lyding, oor die ekologiese krisis en wat ons kan doen om ’n gesonde omgewing vir ons kinders en kleinkinders na te laat. Die netwerk se fokus het dus verskuif na ons lewe hier-en-nou.

Verder gaan dit nie net oor die mensdom nie, maar om alle lewende (en selfs nie-lewende) dinge op aarde. Die NHN-bestuur is oortuig daarvan dat die netwerk waarskynlik die enigste organisasie in Suid-Afrika is wat so uitsluitlik op lewefokus en die oerknal- en evolusieleer van harte aanvaar.

Die lede het die fokusverskuiwing van sondeval-verlossing-eindoordeel (die kernboodskap van die tradisionele kerke) na Lewe op aarde uiters bevrydend beleef.

Dit was vir hulle ook verrassend om te verneem dat daar teoloë is wat hulle daarin voor was. Een so ’n teoloog is Albert Schweitzer (1875-1965). Sy geboorte- en sterfdatum sal definitief volgende jaar ’n vonk bied om weer na sy lewe, teologie en filosofie te kyk. Hy het in 1952 die Nobelprys vir vrede vir sy werk by sy hospitaal in Lambaréné (Gaboen) ontvang, asook vir sy filosofie van “eerbied vir Lewe”.

Prof. Pieter Botha, huidige NHN-voorsitter, het reeds vanjaar ’n lesing in Midrand oor sy filosofie gelewer. Schweitzer het met sy filosofie van “eerbied vir Lewe” ’n weg aangedui wat vir baie mense binne en buite die bestaande kerke van die allergrootste belang geword het.

Ons kan nie maar net voortleef soos ons jongste voorouers geleef het nie. Die mensdom is besig om die aarde en alles daarop te vernietig. Oorbevolking, lug-, grond- en waterbesoedeling en die oorbenutting van hulpbronne is besig om Lewe op aarde te ondergrawe.

Daar is geleerdes wat selfs van mening is dat die Christelike godsdiens grootliks bygedra het tot die krisis waarin ons tans verkeer. Hulle reken dat die opdrag in Genesis 1:28: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip”, aan die wortel van die kwaad lê.

Veral die woorde “onderwerp” en “heers” word negatief beoordeel.

Twee ander teoloë van wie die NHN ook kennis geneem het, is

Anne Primavesi en Lloyd Geering. Dié teoloë vind albei aanklank by die sienings van James Lovelock en die Gaia-hipotese. Lovelock was een van die eerste wetenskaplikes wat die hipotese voorgedra het dat die aarde ’n lewende stelsel is en dat die substelsels, soos die atmosfeer, die hidrosfeer, die biosfeer en die geosfeer, in interaksie met mekaar verkeer om

Lewe op aarde moontlik te maak. Word die atmosfeer egter versteur, het dit ’n invloed op die hidro-, die bio- en die geosfeer. Die mensdom se aanwas, hul uitroeiing van woude en hul besoedeling van die atmosfeer veroorsaak ’n wanbalans wat ernstige gevolge vir Lewe op aarde inhou. Sowel Primavesi as Geering het daarvan kennis geneem en met ’n nuwe teologie na vore gekom. In dié teologie val die fokus nie meer op ’n sogenaamde sondeval aan die begin van die skepping, Jesus se kruisdood wat die sondeval omkeer en uiteindelik ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waarborg nie.

Die fokus val nou op die aarde se unieke plek in die groot uitdyende heelal en hoe Lewe op aarde ontstaan, ontplooi het en kan voortduur.

Primavesi se sienings is treffend verwoord in haar boek Sacred Gaia: Holistic Theology and Earth System Science (2000) en Geering s’n in sy boek Coming Back to Earth: From gods, to God, to Gaia (2009).

Die verrassende is dat daar Afrikaanssprekende skrywers en sangers is wat bewustelik en onbewustelik die nuwe sienings en die nuwe teologie verwoord. So sluit Lina Spies se gedig “Geloofsbelydenis van ’n afvallige” met hierdie mooi woorde:

Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.

Dis ’n belydenis wat heelwat “nuwe hervormers” omarm. En dan is daar Coenie de Villiers se lied “Katedraal”, waarin hy oor die natuur as die nuwe katedraal sing. Die eerste strofe en refrein lees soos volg:

In my kerk is daar geen dak nie
geen reliëf of skildery
geen kandelaar wat hoog moet hang nie
almal kan hier toegang kry
want my koepel is die hemel
hoog genoeg vir al die sterre
breed genoeg vir die planete
hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry.

Die NHN maak hierdie gedigte en liedere hul eie en neem Hennie Aucamp se wyse woorde ernstig op: “Wie eksperimenteer, moet met vreugde aanvaar dat hy foute gaan maak. Versigtigheid en kreatiwiteit was nog nooit bedgenote nie.”

Baie predikante en teoloë het dié wysheid nog nie hul eie gemaak nie, vandaar die onverdraagsaamheid teenoor diegene wat nuut dink en nuut verwoord.

● Prof. Spangenberg is van Unisa se departement Bybelse en antieke studie.

Wat om van die NHN te verwag

Deesdae beleef al hoe meer mense ongemak met die tradisionele kerklike leerstellings. Omdat Afrikaanssprekendes in die algemeen kultureel ingebed is in die Christelike tradisie, vind dié wat twyfel en gesprekke wil voer dit moeilik om tradisionele standpunte te bespreek, te evalueer en uitsprake te maak. Hulle beleef dikwels dat hulle randfigure word. Wanneer sulke mense blootgestel word aan die inligting wat die NHN voorsien, is dit dikwels bevrydend.

Die NHN voorsien inligting rondom die invloed van wetenskap op godsdiens, wetenskaplike insigte rondom die natuur en menswees, en hoe hierdie inligting ons lewenswyses vandag kan beïnvloed. Eerstens word tweeweekliks openbare lesings deur vakkundiges en kenners op alle terreine van die lewe in Midrand aangebied. Hierdie lesings word dan beskikbaar gestel op die NHN se webwerf, www.nuwe-hervorming.co.za, die NHN se Facebook-blad, https://www.facebook.com/groups/NuweHervormingNetwerk, en DVD’s wat by die byeenkomste gekoop of via die webwerf of Facebook-bladsy bestel kan word. Vir navrae kontak Johan Talma by talma@mweb.co.za of by 083 556 8711.

Nog ’n gewilde gespreksgeleentheid is die NHN se jaarlikse seminaar. Vanjaar se seminaar is Saterdag. Die tema is die NHN as vernuwer in die Afrikaanse samelewing. Proff. Sakkie Spangenberg sal praat oor perspektiewe op religie en wetenskap, Pieter Botha oor perspektiewe op ons geskiedenis en ons samelewing en Anthoni van Nieuwkerk oor perspektiewe op ons toekoms en hoop. Dit vind by die Zambesi Lodge in Montana, Pretoria, plaas. Kontak corliareitmann@telkomsa.net vir navrae en besprekings.

Die NHN se Facebook-blad, met byna 600 lede, bied ook ’n ruimte vir interaktiewe gesprek. Die onderwerpe trek van progressiewe denkers, kundiges op die verskillende wetenskaplike terreine tot dié wat die ou tradisies beskerm. – Johan Talma, NHN-woordvoerder

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui