Anton van Niekerk: Konteks bly aan tekste verweef

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton van Niekerk: Konteks bly aan tekste verweef | Netwerk24

Anton van Niekerk

05 Desember 2023

Hoe lees ons die Bybel? Namate die debat in die NG Kerk oor verskeie kwessies al hoe meer aandag trek, is dit toenemend duidelik dat dié vraag die sentrale een is wat die geeste besig behoort te hou.

Dit gaan, soos voorheen aangedui, oor ’n toereikende hermeneutiek – ’n afdoende teorie van interpretasie. Dit het te make met die vraagstuk: “Wat beteken dit om te beteken?” wat nie slegs in die teologie belangrik is nie, maar in alle kontekste waarin (enige) tekste gelees en alle kulturele uitdrukkings tot stand kom.

My vroeëre punt was dat ’n sentrale verskil tussen Islam en Christendom die feit is dat die Koran vir Moslems absolute gesag dra wat voorspruit uit ’n absoluut letterlike interpretasie van die teks. Dit is nie, en was ook nog nooit, die posisie in die Christendom nie.

Christene het wel tussentydse ooreenkomste (soos die Heidelbergse Kategismus) wat veel gesag dra in die kerk. Maar hul gesag is nie absoluut nie; wat via hierdie akkoorde van die Bybel verstaan word, kan verander.

Kyk byvoorbeeld na die verskuiwinge in die laaste dekades oor die posisie van die vrou in die amp.

’n Sentrale insig van die hedendaagse hermeneutiek is die besef dat ’n mens ’n teks, veral as dit oorspronklik geskryf is in ’n (vir ons) vreemde kultuurkonteks, nie na behore kan verstaan as jy die beduidenis van daardie teks nie op jouself en/of die gemeenskap waarin jy leef, kan toepas nie.

Waarom, byvoorbeeld, kom die belydenis dat “die regverdige slegs deur die geloof lewe en nie deur die werke van die wet nie” drie keer in die Bybel voor en tog word die beduidenis daarvan eers na behore besef in die 16de eeu via die Lutheraanse hervorming? Die antwoord? Omdat Luther se eietydse omstandighede (aflaatstelsel!) sy oë as ’t ware vir die eerste keer vir die beduidenis van daardie teks “oopgemaak” het.

Ons moet daarom versigtig wees om te gou te vol selfvertroue te wees oor “wat (regtig!) in die Bybel staan”. Só wys die Engelse denker Maurice Wiles op ’n gans ander moontlike interpretasie van Mattheus 25:35-40. Ons ken die teks: in die Laaste Oordeel, sê Jesus “Ek was honger, en julle het my gevoed . . .”. Die dissipels vra stomverbaas: “Wanneer het ons u gevoed?” Jesus antwoord: “Vir soverre julle dit gedoen het aan die geringstes van hierdie broers van my, het julle dit aan my gedoen.

Dié teks is tradisioneel geïnterpreteer as ’n waarskuwing aan die Kerk oor die (noodlydende) wêreld; “wees goed vir die geringstes . . .”

“Verkeerd!” sê Wiles. Die teks is eerder ’n waarskuwing aan die wêreld teenoor die kerk! Luister wat Jesus sê: “Vir soverre julle dit gedoen het aan die geringstes van my broers . . .” Wie is “Jesus se broers”? Niemand minder nie as sy dissipels wat sit en luister. Jesus vra hier nie vir die dissipels om goed te wees vir die wêreld nie (hoe lydend ook al).

Hy sê vir die (ook lydende) wêreld om goed te wees vir die dissipels, die Kerk – “hierdie broers van my”!

Die Bybel, soos ek reeds voorheen uitgewys het, “spreek nie vanself” nie. Daarom is daar nie slegs een onbetwyfelbare interpretasie wat almal kritiekloos hoef te aanvaar nie. Die Bybel kan wel die gesaghebbende getuienisse oor die “groot dade van God” bevat soos die Nederlandse teoloog Herman Bavinck daarna verwys het. Dit moet egter steeds geïnterpreteer word.

Ook die twee gesaghebbendste figure in die Bybel, Jesus en Paulus, interpreteer die Skrifte voortdurend. Jesus laat mense die sabbat anders verstaan. Paulus herinterpreteer die besnydenis. Dit maak wat hulle skryf, nie minder “Bybel” nie.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Om te praat van ‘n absolute letterlike interpretasie is uiters misleidend. Geen regdenkende mens neem byvoorbeeld Jesus se gelykenisse letterlik op en glo dat dit verhale is wat werklik gebeur het nie.

En die rede hoekom sekere Moslems so geweldadig optree, is nie omdat hulle foutiewelik die Koran letterlik lees nie. Die Koran is duidelik dat daar geweldadig teen nie-Moslems opgetree moet word. Kyk:

Die reël is eenvoudig: respekteer elke genre in die Bybel: Lees poësie as poësie, metafore as metafore, geskiedenis as geskiedenis en morele wette as morele wette.

As dinge in die Bybel bevraagteken word wat duidelik letterlik verstaan moet word, dan is die gesag van die Skrif ‘n bol klei om gevorm te word deur die veranderende kultuur.

1 thought on “Anton van Niekerk: Konteks bly aan tekste verweef”

  1. “Woord van God”=”👑👁👁🥼🧠❤🦴👣👂👂🦶🦶💪💪🦵🦵✋✋🕊🔥”=Jesus Christus, Seun van GOD, vanuit die boesem van God, aan Wie alle dinge gegee is, en aan Wie alle dinge onderwerp is, en die Seël en Krag en Heerlikheid en Outoriteit en Mag dra, wat GOD aan Hom gegee het, en voor Wie se Aangesig, die ganse skepping tot niet sal gaan, en ‘n nuwe aarde en hemel sal verskyn.

    Soveel speel met woorde heeldag, instede dié Een te wil leer ken, in Wie se Koninkryk, ‘woorde’ buig voor Sy Krag, want die Koninkryk bestaan nie uit woorde nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui