Anton van Niekerk: Is dit die Groot Trek in trurat?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton van Niekerk: Is dit die Groot Trek in trurat? | Netwerk24

Anton van Niekerk

24 Oktober 2023

Hoe kry ons al hierdie ellendes in die land – van slaggate en beurtkrag tot korrupsie en misdaad – in bedwang?

Die geheim, volgens al hoe meer van ons Afrikaner-broers en -susters in die noorde, lê in ’n nuwe “volksbeweging”.

Hulle noem dit “semigrasie”.

“Semigrasie” klink vir my na die proses waarin ’n mens ankers gooi en die ossewaens waarmee jy gewoond was om noord te trek, in reverse gooi ten einde terug te trek Kaap toe. Die doel daarvan? Om die Wes-Kaap te “herkoloniseer” tot ’n ruimte waarin wit, bruin en Indiër tuis en gemaklik voel en swart mense dit wat noord van die Oranje oorgebly het, vir hulself kan hou.

Verskoon as ek moedswillig klink, maar ek het lanklaas van so ’n lawwe idee gehoor. Kyk, van Afrikaners kan ons baie dinge sê – goed en sleg, ondernemend en hardgebak, vryheidsbewus en sportmal. Een kenmerk wat my telkens opval en wat na my beskeie oordeel die nuwe semigrasie-hartstog inspireer, is hul beskikbaarheid om “af te stig”.

Die Groot Trek was ’n allemagtige afstig-oefening; “stig af van die Engelse en die Boesmans en die swart mense sodat ons tog net op ons eie kan wees”.

Selfs onder mekaar kon Afrikaners die afstigdrang nie weerstaan nie. En afstig het hulle bly afstig – van die skare kerke, gestig deur nuwe apostels, tot die indrukwekkende torings wat oor die platteland heen verrys het.

Waar kom dié afstig-nuk vandaan?

Iemand beweer dat die agtergrond daarvan by ons Europese wortels lê.

Wat is die verskil tussen ’n Noord- en ’n Suid-Europeër?” (Afrikaners kom van die noordelike hartlande soos Duitsland en Nederland). ’n Suid-Europeër sal jou binne nooi as jy vir hom vreemd is.

Die Duitsers en Nederlanders is anders; hulle bou mure (forte, kastele, skanse) om hulle om die vreemdes buite te hou. Nie verniet dat ’n bekende baken naby die Voortrekkermonument die naam Schanskop dra nie.

Terug na die Wes-Kaap: Wil ons onsself werklik weer gaan skuilhou agter mure om “weg te kom” van hulle wat anders is? Ek praat nie eens van al die praktiese probleme soos grensbeheer en die onverdedigbare kuslyn van so ’n “nuwe, onafhanklike land” nie.

Die beginselprobleme met so ’n idee pla my meer as die praktiese probleme. Hoekom wil mense “semigreer”?

Dit is sekerlik ’n vry land waar elkeen kan woon waar hy of sy wil.

Maar ’n omgekeerde Groot Trek saai één boodskap ondubbelsinnig uit: “Ons wil so ver moontlik van julle wegkom; ons is daarvan oortuig dat 1994 ’n kolossale fout was; ons is keelvol daarvoor om die land te probeer deel met onbevoegdes wat slegs daarin belang stel om te steel en te moor en te bedrieg.”

Kan ons eerlik aanvoer dat dié versugtings nie die leitmotiv van die semigrasie-su is nie?

Was ons lang skoolgaanjare in hierdie “wye en droewe land” nie juis ons voorbereiding vir ’n alternatief van sáámwerk, sáám speel, sáám sukkel, sáám demokratiseer, sáám oorwin nie?

Ja, ons kan met ons voete stem. Maar óns, die verbygaande geslag (gebore tussen 1940 en 1960), was dikwels in ons jeug ontgogel en beangs. Tog het ons in 1994 ’n wonderwerk gesien. Daarmee het ons geleer dat elke geslag sy eie wanhoop en vreugde beleef, en hoop, soos die Engelse spreekwoord lui, “springs eternal in the human breast”.

Kom kuier asseblief in die Wes-Kaap.

’n Nuwe Groot Trek is tog onnodig.

Ons is saam in hierdie land, sáám in Afrika. Dis ons lot, maar ook ons vreugde. Kom ons help liewer mekaar.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en ontvanger van die Stalsprys vir filosofie.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is onbegryplik dat Anton van Niekerk, ‘n professor in filosofie, nie die minste begrip het vir die situasie in Suid-Afrika nie. Hy wil die indruk skep dat blankes (Afrikaners) maar net bang is vir mense wat anders is.

Verder, is dit nou nie ironies dat Niekerk, hierdie oordele fel uit Stellenbosch, waar die DA regeerders baie duidelik beter is as die ANC regeerders in die res van Suid-Afrika.

Dit herinner aan sterk aan Marie Antoinette se woorde “Qu’ils mangent de la brioche” – “Laat hulle koek eet (as hulle nie brood het nie)”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui