Anton van Niekerk: Dís die religie se ware goeie nuus

*******

Anton van Niekerk: Dís die religie se ware goeie nuus | Netwerk24

Anton van Niekerk

21 Junie 2022

Johan Retief se boek oor die “slegte nuus van die evangelie” maak tans opslae. Die lig, sê hy, het vir hom opgegaan. Die evangelie, soos verkondig deur die kerk, is ’n bedrogspul. God bestaan nie.

Retief het diep skuldgevoelens omdat hy as predikant sy lidmate mislei het. Uiteindelik het vryheid vir hom aangebreek. Daar is geen sin behalwe die lewe wat hy hier en nou elke dag lei nie.

Hy vertel van sy belewenis in Rapport: “Vir my bly daar vryheid oor. Ruimte om te dink, te voel, te leef. Te sê wat ek dink. Suurstof na die stikstof van religie.”

Of ’n mens nou met Retief saamstem of nie, dis aangrypende taal wat hy gebruik. Dit herinner my aan die worstelinge van seker die bekendste “martelaar vir Christus” van die 20ste eeu, die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer, wat uiteindelik deur dieselfde Nazi’s, op wie hy fel kritiek uitgespreek het, opgehang is.

Ook Bonhoeffer het hom in sy laaste lewensjare verset teen die religie. Met “religie” het hy wel iets anders bedoel as “geloof”. Religie was vir Bonhoeffer die ideologie van God as die “Lückenbüsser” (die gaping-toestopper), die “deus ex machina” op wie religieuse mense hul beroep sodra hulle gestuit word deur probleme wat hulle nie self kan oplos nie.

Die tyd van dié soort oortuiging en dié soort God, sê Bonhoeffer, is verby. Dit is wel iets anders as wat Retief aanvoer.

Wat pla, is dat Retief die Bybel, in sy afwysing daarvan, skynbaar net so letterlik interpreteer soos talle fundamentaliste wat, byvoorbeeld, glo Adam en Eva was historiese figure en Jona is regtig deur ’n groot vis ingesluk.

[Kommentaar: Kyk Evolusie en Bybel onversoenbaar.]

Retief het klaargespeel met geloof en met God. Ek respekteer sy oortuiging en veral sy reg om dit rugbaar te maak. Maar ek verkies ’n ander uitweg.

Retief kyk na die wêreld van ons alledaagse ervaring en dring, soos talle nihiliste (Feuerbach, Nietzsche, Sartre), daarop aan dat daar dit is wat ons sien en verder is daar niks.

Ek kon daardie punt nog nooit bereik nie. Die rede daarvoor is dat ek, soos die meeste mense wat die tradisie van die Christelike geloof bly ernstig opneem, eenvoudig nie daarvan oortuig kan word dat daar niks meer te sê is oor die wêreld nie.

Ek hou van ’n formulering van die Duitse teoloog Eberhard Jüngel: “God is die geheimenis van die wêreld”. By al die waarde in die wêreld, is God die meerwaarde. Of, om ’n beeld van Paul van Buren te gebruik, God is die laaste moontlikheid van die taal.

As ons, sê Van Buren, oor ons uitsprake oor die wêreld dink as ’n enorme platform waarop ons rondloop en wat uitgestrek lê oor ’n diep afgrond en ons het die moed om nie slegs in die middel van die platform te bly nie, maar dit ook waag om die rante of ente (edges) van die taal op te soek, dan is al wat ons kan sê oor wat ons sien as ons die verste rand van die taal bereik het: “Abba, Vader” – d.i. “God”.

Bonhoeffer spreek my die meeste aan. Hy wil religie laat vaar, maar nie geloof nie.

Wat is geloof?

Dit is die vryheid om self te leer sorg vir die wêreld, om nie meer afhanklik te wees van die Lückenbüsser nie. Wat meer is: God verwyder Homself uit ons wêreld sodat ons kan leer om sonder Hom klaar te kom.

Die gebeure by die kruis is die verhaal van dié God wat Homself uit die wêreld verwyder ten einde die wêreld te bevry.

In Bonhoeffer se ontroerende woorde: “In Christus leer ons om sonder God met God in die wêreld te leef.”

Dis goeie nuus, nie sleg nie!

Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.

1 thought on “Anton van Niekerk: Dís die religie se ware goeie nuus”

  1. 13: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.
    3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.
    4Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.
    5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
    7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ‘n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.
    8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.
    11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ‘n man wat nie meer ‘n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.
    13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

    “Sy [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.”—Romeine 1:20.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui