Sinode Goudland 2022

Sinode Goudland het van 21-22 Junie 2022 ’n spesiale sinodesitting gehad met slegs die volgende drie punte op die agenda:

1. ’n Groepering het revisie aangevra op 20 November 2019 se besluit om Artikel 37 wat afgekeur is, te hersien, om weer Artikel 37 te kan toepas. Hierdie groepering het gesê die geskil bestaan nog steeds en is so groot dat die enigste oplossing Artikel 37 is, onderworpe aan sekere onderhandelinge.

2. ’n Tweede groepering is van mening om die bestaande besluit van 2015 en bekragtiging daarvan in 2019, asook die verklaarde geskil in 2019, met revisie van die hand te wys.

3. ’n Derde groepering is gemaklik met die status quo (eie beleid soos in 2015 goedgekeur en bevestig deur die ATR (Algemene Taakspan Regte) met skrywe van 3 November 2021 aan Goudland Sinode, met ‘n opdrag om ‘n kerkordelike werkswyse te vind om ’n eie beleid te handhaaf) en om gevolglik nie verdere besluite te neem nie en net om kerk te wees in huidige konteks en uitdagings.

Die uiteinde is dat Goudland Sinode in effek besluit het om die derde voorstel goed te keur en die bestaande besluit van 2015 te herbevestig, naamlik:

  • Die huwelik is ’n heilige eenheid tussen een man en een vrou vir ‘n lewenslange verbintenis.
  • Alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, kan nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie.

Hulle het die volgende persverklaring daaroor uitgereik:

PERSVERKLARING

Die Buitengewone Sinodesitting van Sinode Goudland het op 22 Junie 2022 plaasgevind in opdrag van die Sinodesitting van 11 November 2021. Nagenoeg 260 afgevaardigdes het by Feather Hill net buite Potchefstroom vergader.

Die uitkoms van dié Sinodesitting was die bevestiging van die Sinode Goudland se 2015 beleid.

BESLUIT 1: 2015 INSAKE BELEID:

Die sinode van Goudland besluit soos volg:

  1. Die Sinode aanvaar die Woord van God as gesaghebbend en leidinggewend vir die leer en lewe vir alle gelowiges (2 Timoteus 3 vers 16).
  2. Die Sinode aanvaar die menswaardigheid en gelykwaardigheid van alle mense en verbind haarself om met liefde en respek teenoor mense te leef.
  3. Die Sinode van Goudland herbevestig dat die Bybel verklaar dat die huwelik ‘n heilige eenheid tussen een man en een vrou vir ‘n lewenslange verbintenis is.
  4. Die Sinode van Goudland verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie. (Sinode Goudland Kerkorde 2021, bl. 238)

Wat sê ’n mens hiervan?

Goudland het basies dieselfde besluit as die Oostelike Sinode in 2021 – in effek is hulle teen homoseksualiteit, maar hulle voel steeds veilig om binne die NG Kerk te bly. Oostelike Sinode het wel besluit dat gemeentes wat op grond van hulle oortuiging nie langer tuis voel om deel van die Algemene Sinode te wees nie, met leiding bedien sal word oor wyses waarop hulle wel uit verband met die Algemene Sinode kan tree. Tyd sal egter leer of daar iets sinvols hiervan sal kom.

Nietemin, terug na Goudland se besluit:

Sommige behoudendes glo dat hierdie besluit ’n goeie besluit is omdat dit ten minste ’n behoudende besluit is in ’n tyd waar liberalisme oorheers.

Reeds sedert 2015, nadat die NGK vir die eerste keer ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings, het baie verklarings die lig gesien (kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit en NG gemeentes se verklarings ná 2019 besluit oor SGV). Om te dink dat nog ’n behoudende standpunt binne die NGK gaan help is soos om jou kop in die sand te druk en te ontken wat rondom jou gebeur. Goudland se behoudende standpunt het geen langtermyn waarde nie. Hulle probeer vir hulleself ’n eie werklikheid skep waarin hulle gemaklik kan leef.

Sommiges redeneer ook dat predikante in Goudland Sinode wat nou selfdegeslagverhoudings bevestig en/of goedkeur, getug sal moet word.

Dit is egter totaal onprakties. Sommige predikante gaan hulle beroep op die Goudlandbesluit, ander gaan hulle beroep op die besluit van die algemene sinode en dan is daar nog die beginsel dat die plaaslike gemeente volledig kerk is en eintlik nie voorgeskryf kan word deur die algemene sinode of die streeksinode nie.

Goudland is deel van die NG Kerk denominasie. Die woord “denominasie” is afgelei van die Engelse woord “denominator” wat verwys na dinge wat iets in gemeen het. Dit sal onsinnig wees om binne dieselfde denominasie ruimte te laat vir ’n saak en terselfdertyd getug te word vir presies dieselfde saak.

Goudland se besluit help hoegenaamd nie om ’n oplossing te bring in die NG Kerk nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui