Pieter Verster: Herlewing kom só vanuit Afrika

*******

Pieter Verster: Herlewing kom só vanuit Afrika | Netwerk24

Pieter Verster

21 Junie 2022

Daar was oumas, sommige met krukke, en jong kindertjies. Talle jeugdiges. Langs die kerk is ’n klein verhogie opgerig. Die orkes speel gospelmusiek vir die mense wat om die kerk vergader. Dit vind groot aanklank.

’n Groepie gerehabiliteerde verslaafdes vaar die strate in om ander te nooi.

Ja, die gemeente in die township hou ’n evangelisasie-uitreik.

Die predikers preek later met vuur en oortuiging oor die verlossing in Jesus. Een van hulle getuig hoe hy dwelms gesmokkel het, maar kragdadig tot bekering gekom het en nou verslaafdes help. Diepe geloof spruit uit sy getuienis. Ander getuig dat Jesus leef.

Die gehoor dans saam met die orkes, selfs die ouma met die krukke.

Ek dink aan die lied “Daar is krag in die bloed van die Lam”. Vir my is dit ’n vreemde ondervinding, maar die diepe geloof waarvan hulle getuig, besiel my ook. Geloof in God die lewende. Hy lééf. Hy is daar onder die omstandighede van armoede en nood. Daar waar die dwelmverslaafdes hulp gekry het. Daar waar ’n dansende ouma met krukke dit laat weergalm: Die Here is goed!

Die kort opvoering tydens die uitreik beeld uit hoedat ’n man wat eers Bybel gelees het al meer afwyk van die geloof en veral ook deur vriende mislei word om geweld te pleeg. Telkemale storm die Satan met ’n swart toga en kopbeen-masker uit om hom te teister. Die kindertjies jil en gil.

Hier is Satan ’n werklikheid. Die man word deur sy slegte vriende en Satan vernietigend aangeval, maar hy roep tot Jesus. ’n Akteur wat Jesus verteenwoordig verskyn met ’n plakkaat “Verlossing” in sy hand en red hom. Die gehoor jubel van vreugde.

Die groot diepgaande herlewing in geloof gaan juis uit Afrika kom en nie uit die Weste met al hul gewaande wysheid en kennis nie.

Teksgedeeltes in die Bybel is duidelik. Matteus 11:25-30 lui: “Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak. Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.

En in 1 Korintiërs 1:22-23 waar Paulus sê: “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

Die punt is juis dat God wíl help en red. God wil niemand verstoot nie. Hy roep almal in sy liefde. Laat ons ons hoogmoed en gewaande wysheid aflê. Laat ons ware wysheid vind.

Ja, die leraar van die township-gemeente het ’n meestersgraad in teologie, maar ook sy wysheid is die wysheid van nederige geloof. Waarom verhef ons onsself so? Ons is so klein voor God. Hy is so wonderbaar.

Nog ’n relevante teks is: “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timoteus 2:3-4)

Kom, twyfelaars en verslaafdes, armes en behoeftiges, rykes en wyses en eenvoudiges. Kom na Hom toe. So het ek dit ook in die township beleef.

Prof. Verster is emeritus hoogleraar in sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit teologie en religie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui