Aktuarius verduidelik hantering van doopgesprek

Kyk ook:

Gekopieer vanaf Kerkbode.

***********

Aktuarius verduidelik hantering van doopgesprek

Die aktuarius van die vorige Algemene Sinode, dr Johann Ernst, verduidelik wat behels die beskrywingspunte oor die doop wat in Oktober voor die Algemene Sinode sal dien.

Twee afsonderlike beskrywingspunte oor die doop sal voor die Algemene Sinode dien. Vanuit die Oostelike Sinode word gevra dat gemeentes toegelaat word om ’n bekeringsdoop te bedien. Hierdie doop is nie ’n herhaling of vervanging van die verbondsdoop nie, maar maak deel uit van die getuienis van lidmate se geloofsverbintenis met Jesus Christus. Die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland versoek nadenke, studie en leiding oor die verbondsdoop en die belydenisdoop.

Opsies word voorgelê om vir lidmate wat ’n ander doopoortuiging as die verbondsdoop huldig, in die kerk ruimte te gee. Die doopkwessie word van twee kante af beredeneer.

Enersyds word daar ’n eerlike en opregte poging aangewend om lidmate met diverse behoeftes in die NG Kerk te akkommodeer deur nie die verbondsdoop teen die bekeringsdoop af te speel nie. In die verbondsdoop gaan dit om die getuienis van God se ingryping in ons lewe, terwyl dit by die bekeringsdoop gaan om my getuienis oor die ingrypende verandering wat God in my lewe bewerk. Doopviering bevredig nie. ’n Tweede of ander doop word as die antwoord gesien. Alhoewel dit dalk nie is wat sommige lidmate in die Oostelike Sinode uiteindelik wil hê nie, lyk dit of hierdie beskrywingspunt op ’n behendige wyse wil wegebeweeg van ’n wysiging van die kerk se belydenis oor die doop.

Andersyds word daar ’n bedekte en subtiele poging aangewend om die kinderdoop te veroordeel en die belydenisdoop as die enigste doop te sien. Daar is dus nie iets soos ’n verbondsdoop nie. Die bekeringsdoop is die enigste doop. Jy bely jou sonde en as deel van jou belydenis laat jy jou doop. Die doop het nie soseer met Jesus se dood en opstanding te doen nie. Dit gaan meer oor my eie sterwe en opstanding tot ’n nuwe lewe. Hier weeg my antwoord teen God se woord op. Die beskrywingspunt van die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland probeer om aan “die getuienisse van gelowiges met ander oortuiginge oor die doop as ons eie” uitdrukking te gee. Dié Sinode het as Opsie 1 aanvaar dat mense verskillende standpunte oor die doop kan huldig. As Opsie 2 is aanvaar dat niemand verplig sal word om hulle kinders te laat doop nie. As Opsie 3 is aanvaar dat die kerk nie tugstappe sal neem teen lidmate wat oortuig is dat hulle, as gevolg van ’n ander siening van die doop, nie hulle kinders ten doop moet bring nie. Die Moderatuur van die Algemene Sinode het reeds die suggestie deurgegee dat die Sinode oorweeg om eerder ’n gravamen oor die saak in te dien, aangesien die belydenis in terme van Artikel 34 van die NGB moontlik op die spel is. Die Moderatuur van Wes- en Suid-Kaapland het intussen geantwoord dat dit nie die Sinode se eerste oogmerk was om die belydenis te verander nie, maar dat die kwessie met erns en sensitiwiteit hanteer moet word.

Kommentaar:

Een doop
2011/08/16

Ef. 4:4-6 : Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.

Is dit reg om ’n mensbedinkte tweede doop te oorweeg?

Sou dit ook as ’n sakrament gereken word? – Dirk Kasselman

Die doop
2011/08/17

Kyk hoe beskryf die Bybel die doktriene van Jesus en fondament van ons geloof: (Heb 6:1-2): “Therefore leaving the principles of the doctrine of Christ, let us go on unto perfection; not laying again the foundation of repentance from dead works, and of faith toward God, Of the doctrine of baptisms, and of laying on of hands, and of resurrection of the dead, and of eternal judgment.”

Daar is meer as een doop. Daar is doop met water en doop met die Heilige Gees en vuur. Ons doen fisies net een doop – die doop met water, en Jesus doop ons met die Heilige Gees en vuur (Luk 3:16, Matt. 3:11) En die een doop in Ef:4-6 verwys na die doop wat Jesus doen (Die wedergeboorte). Ons is veronderstel om net een keer te doop met water, wanneer jy tot geloof kom in Jesus. As jy nie persoonlik in Jesus glo ten tye van jou doop nie, gaan jy sekerlik ’n tweede keer doop soos die dissipels in Efese (Hand 19:2-6). Die bybel sê jy moet eers glo voor jy jouself laat doop Hand 8:36-37…Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. …” Jesus sê in Markus 16:16 “ Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word…”

Die bybel defineer die doop: in Rom 6:3- 6:6 en Ananías het vir Paulus gesê in Handelinge 22:16 “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” Die kwessie is nie groot doop of kinders / baba’s doop nie. Dit is eerder ‘geloofsdoop’. Dit is jou persoonlike geloof wat jou deel maak van die verbond. (Rom 5:2, Gal 3:14)

Mense sal nie ’n behoefte hê vir ’n ‘tweede doop’ as dit van die begin af gedoen was soos die bybel dit beskryf nie. As jy die geloofsdoop net afmaak as ’n bekeringsdoop, gaan jy jouself elke keer weer wil laat doop as jy bekeer?

Die Gereformeerde Leer praat van ’n ‘wortelbekering’. Dit is as ’n ongelowige gelowig word. En dit is die ‘bekeer en laat jou doop’ waarna verwys word. Die Heilsorde sê dat mense wat gelowige ouers gehad het, nie ’n wortel bekering hoef te doen nie – want hulle het in ’n gelowige huis groot geword en is verbondskinders. So hul doen net daaglikse bekering (Gees teen vlees).

Maar die bybel sê dat almal in dieselfde bootjie sit (Rom 3:10). Ons het net ’n VOORDEEL gehad dat ons groot geword het met die Woord (Rom 3:2) Almal sal op een of ander tydstip as die Here Hom aan jou openbaar deur Sy Heilige Gees, en jy die evangelie hoor en verstaan, ’n keuse maak om dit aan te neem of te verwerp, dus wortelbekering / hartsbesnydenis. Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God (Rom 10:17) Lees ook Heb. 4:2 en 1Joh. 5:10 Elke persoon het ’n persoonlike verhouding met God en elke persoon – maak nie saak waar en hoe jy groot geword het nie – maak ’n persoonlike keuse.

Nadat jy glo, ontvang jy die Heilige Gees (Ef.1:13). In Handelinge was daar mense wat die Heilige Gees ontvang het voor hul waterdoop en ander na dit. Want wedergeboorte gaan gepaard met geloof – nie doop nie. Die doop red nie. Moenie jou hoop in die waterdoop sit nie. Staan op vir waar die evangelie verdraai word. Anders doen die kerk mos ook net ’n werk wat hul glo sal red soos in Galsiers. (Kyk Gal 3:2).

Reeds in Paulus se tyd het die Jode ’n teken gesoek. (1Kor 1:21-23). Die NG kerk en ander kerke sê dat die doop die teken van die nuwe verbond is. Maar Paulus sê om te GLO is die teken en die Heilige Gees is die seël. Die besnydenis van die ou verbond is die hartsbesnydenis in die nuwe verbond. Die doop vloei uit dit uit, as iets wat dit simboliseer (en beveel is deur Jesus) in die gelowige se lewe. Sien ook Kol 2:11-12 (red deur die Geloof).

Baba’s gaan hemel toe al is hul nie gedoop nie. Jesus sê “aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele” (Mat 19:14) en dat “kinders se engele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is”(Mat 18:10). Ook het God nie die Isrealite wat ongelowig was en hul verbond met God gebreek het, se kinders gestraf nie. Die ouers wat gesondig het, is in die woestyn oorlede en het nooit die beloofde land ingegaan nie. Maar die kinders het, omdat God sê, hul NOG NIE die verskil ken tussen goed en kwaad nie – sien Deut 1:39.

Die nuwe vertaling praat van huisgesinne wat gedoop is. Die 1933 oorspronklike vertaling sê hy en sy huis. In engels: ‘household’. Dit is eintlik – die huiseienaar en sy gesin, sy diensknegte, slawe almal. Kinders, beteken ook nie noodwendig klein kinders nie, dit kan volwasse kinders wees. In Heb. 11:7 word verwys na Noag se huisgesin wat almal volwassenes was toe hul op die ark geklim het. Mens moet besluit watse aannaming gaan jy maak, gaan jy aanneem dat as die bybel praat van huisgesinne wat gedoop is, dat dit almal was wat verstaan het en geglo het (kan jong kinders insluit) en dat daar nie babas betrokke was nie, of dat as daar babas was, hulle hul nie gedoop het nie. Dit is dan in lyn met al die ander verse in die Bybel wat sê jy moet glo en bekeer voor jy doop (en die apostels het die evangelie in geheel so oorgedra). Of gaan jy aanneem daar was defnitief babas in die huishouding wat ook gedoop is? Alhoewel dit nie spesifiek iewers gesê word nie – en dan is dit in teenstelling met al die ander verse in die bybel wat sê jy moet eers glo en bekeer?

Ek dink die sinode moet ernstig besin oor hul doop doktriene en Gereformeerde tradisies.

– Inneke

Opgewonde.
2011/08/17

Ek is baie opgewonde oor die moontlikke veranderinge oor die doop.

Baie van my familie het die gereformeerde kerke verlaat oor die doop, en vervolging as jy nie ’n baba doop nie. Geloof is wat red, nie die doop nie. Baie lidmate glo hul redding is die doop, wat die doop dan’n werk maak.

Vir my is die doop in lyn met die Bybel as dit na geloof gebeur saam met belydenis van geloof en hartsbesnydenis.

Die doop sal dan ook in lyn wees met Handelinge 8:36/7, wat antwoord dat dit slegs geoorloof is om te doop as jy Glo..

“Hnd 8:36 .. en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?

Hnd 8:37 Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.”

Die baba doop is immers ’n aanname, geen direkte skrif gee opdrag dat ’n baba gedoop moet word nie. Die kinderbesnydenis en babadoop parallel waarop die verbondsdoop gebou is, is immers ook ’n afleiding met geen direkte skrif nie.

Ek hoop van harte dat die sinode verby tradisie sal kyk, dit bring net onnodige verdeling in die kerk van Jesus.

Die NG Kerk was die baanbrekers om die foute in Apartheid te erken, ek hoop dieselfde kan gebeur om die doop.

– Jaco

Verbondsdoop word verdring
2011/08/17

“Dissipel van Jesus Christus” beteken per se “ingelyf in die Nuwe Verbond” – dieselfde verbond as wat God met Abraham en sy nageslag (Gal.3:7,29) gesluit het. As teken van hierdie vebondsverhouding het Jesus die doop “in die Naam van…” ingestel – dus die verbondsdoop. Net soos God die besnydenis as teken van die Ou Verbond ingestel het en niks anders gevra het nie as dat hulle reg sal doen, liefde sal betrag en ootmoedig met hulle God sal wandel (Mig.6:8), net so vra Hy steeds dat ons dieselfde sal doen. Nêrens het God enige “teken” van Sy verbondelinge gevra / geëis nie, want die mens is ’n natuurlike verbondsverbreker en ons almal struikel dikwels (Jak.3:2).

Daarom sê Ef.4:5 dat daar net één doop is. Daarom waarsku die NGB in Art.34 dat daar “slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal”, en in Art.32 dat ons “tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie… daarom verwerp ons alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing.”

Daarom word die sakramente telken in die openbare gemeente bedien as teken, beseëling en herinnering aan God se verbondsliefde en –trou. Daarom vra God van ons geen ander reaksie as om Hom te gehoorsaam, lief te hê en te dien volgens Sy Woord nie.

Daarom is dit tragies dat so baie leraars, kerkleiers en selfs sinodes blykbaar nie die doop verstaan nie – nie kan onderskei dat bekeringsdoop obsoleet en afgehandel is, en niks te doen het met die Christelike doop nie; nie eens verstaan presies waarom Jesus Christus deur Johannes die doper gedoop is nie. Dáárom word allerhande “menslike uitdinksels” voorgestel om buite-Bybesle praktyke te akkommodeer en selfs in te voer en te beoefen. Hierdie praktyke is ’n waarborg om die verbondsdoop wat Jesus ingestel het, te verduister, te ondermyn en op die agtergrond te skuif – soos dit alreeds gedoen het en nog sal doen. Enige alternatiewe doop is per se ’n verwerping en ontkenning van die eerste doop – “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.

Die vraag dring homself op: “Waarom word lidmate se buite-Bybelse behoeftes nie met deernis beluister en ’n eg-Bybelse antwoord / verduideliking gegee nie, en waarom word lidmate nie “opgelei” in die verstaan van die verbondsdoop nie?” My antwoord is eenvoudig: Enersyds omdat so baie leraars, teoloë en kerkleiers nie die doop in al sy fassette verstaan nie en, andersyds, ’n moontlike laksheid om hulleself daarvan te vergewis. Daarom word nie moeite gedoen om lidmate die regte leiding te gee nie, maar eerder te akkommodeer. Blykbaar word regte leiding en die nie-akkommodasie gesien as onsensiftief.

Laastens: Die doopkwessie mag nie afgemaak word as sommer net ’n randsaak nie. Dit is uiters belangrik. Dit is (een van) God se maniere om Sy verbond en alles wat dit behels, altyd vir gelowiges soos ’n helder ster/son te laat blink. Hy is baie jaloers daarop en uiters grimmig oor enigiets wat afbreuk daaraan doen. Daarom is Hy streng op die herninneringstekens daarvan. Hy wou selfs vir Moses doodmaak omdat hy dit nagelaat het (Ex.4:24-26). Dieselfde geld vir die verbondsdoop.

Kerkleiding en Sinodes het ’n dure verantwoordelikheid: Om aan God gehoorsaam te wees in die leiding wat hulle gee, liewer as om misverstande te akkommodeer.

– Ds. Gideon Aggenbag

Stap in die regte rigting.
2011/08/18

Ek is baie bly oor die verwikkelinge, en soos julle kan aflei uit die geskrywe(bo) hoop baie leraars op die implementering van die Geloofs beleidenis doop.

Ek bid dat die sinode dit die nodige aandag sal gee. – Jakes Venter

kat uit die mou gelaat
2011/08/18

Die sinnetjies “Die doop het nie soseer met Jesus se dood en opstanding te doen nie. Dit gaan meer oor my eie sterwe en opstanding tot ’n nuwe lewe” laat die aap uit die mou. Hier is die knoop en verwoord die grondverskuiwing binne die NG Kerk wég van die fokus op die Kruisredding ná die méns se belewing. Daarmee is die enigste troos ook daarmee heen. Dis onmoontlik om die doop as sakrament te handhaaf indien dit nie meer die heil op Golgota sertifiseer nie maar iets in die mens wil uitbeeld. Daarmee word die hart van die evangelie – na my mening – aangetas. – Chris Saayman

DOOP
2011/08/18

Hi Dirk

Jou stelling oor die “mensbedinkte tweede doop” verwys. Die VERBONDSDOOP is die mensbedinkte doop – die BEKERINGSDOOP is die opdrag van die Here. – Johan

doop
2011/08/20

Efesiers 4 vers 5 oor een doop. dit pas by die bekeringsdoop en nie by babadoop nie. Die babadoop is roomse gebruik en is eers 4de eeu begin. die rede is die roomse was bang die babas gaan hel toe as hulle nie as babas gedoop word nie. die katolieke glo vandag nog die ongedoopte babas wat sterf gaan hel toe.

ek is kleingedoop in die ng kerk maar ek voel dit is insening. daar staan nerens in die bybel geskrywe van babas wat gedoop was nie.

Ja kinders kan ook gedoop word as hulle tot bekering kom en verstaan waaroor die doop gaan. doop red natuurlik niemand nie. – Bernard kuhn

Geloofsdoop
2011/08/22

Ds. Aggenbag,

Ek sien u verwys na Jesus se afvaardiging in Mat 28:19 as Jesus se ‘verbondsdoop’. Twee dinge staan vir my uit as ek die vers lees:

1) Dat persone dissipels gemaak word, en dan gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
2) Dat Jesus nie na dit verwys as ’n verbondsdoop nie. Die klem is eerder op disselskap, en dat om te doop en om die persoon te leer om alles te onderhou wat Hy beveel het, deel is van wat dit beteken om Jesus te volg.

U verwys self na Galasiers 3:7 “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” En vers 29, maar kyk net ’n paar verse vroër: in vers 24 dat ons geregverdig kan word uit die GELOOF, vers 26 dat ons deur die GELOOF in Christus Jesus, kinders word van God en Rom 4:16 “Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal”

GELOOF is wat ons deel maak van die verbond. Daarom is dit meer korrek om van ’n geloofsdoop as ’n verbondsdoop te praat. Wanneer ons onsself laat doop, simboliseer en getuig ons van ons geloof in Jesus en dat ons in Hom is.

Soos u self sê die doop op sigself red nie. Waarom dit dan doen voor ’n persoon kan glo?

Die feit dat selfs leraars volgens u sukkel om die ‘verbondsdoop’ te verstaan en oor te dra? Miskien is dit juis omdat daar nie veel skrif is wat getuig van persone wat gedoop is alvorens hul geglo het in Jesus nie. Behalwe vir die dissipels in Handelinge 19, wat nadat hul tot geloof in Jesus gekom het, weer gedoop is.

Daar is egter vele getuienisse in die Bybel van persone wat gedoop is nadat hul tot geloof in Jesus gekom het. Doop soos wat die eerste Christene dit gedoen het, en die apostels dit oorgedra het aan die mense, is nogsteeds van toepassing op ons vandag, 2000 jaar later.

– Inneke

Die doop van gelowiges
2011/08/22

DIE DOOP VAN GELOWIGES – ’n KURSORIESE BYBELSE EN KERKHISTORIESE ONDERSOEK MET DIE OOG OP BIDDENDE NADENKE HIEROOR

Vra jy vir enige gelowige lidmaat in die NG-Kerk, wat hulle laat doop het as gelowige, waarom hulle dit gedoen het, dan antwoord die meeste van hulle bloot: “Die Here self het my daarvan oortuig. Geen mens kon dit doen nie. Ek het dit nie gedoen uit rebellie nie, maar uit gehoorsaamheid.”

Die volgende Bybelse gegewens is van belang in die verband:

1. Jesus se opdrag as gekruisigde, opgestane, verheerlikte, Verlosser, Here, Doper met die Gees, en Hoof van Sy Liggaam in Mat. 28:18 tot 20: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Let daarop dat die NAV vers 19 ongelukkig interpreterend vertaal het in die lig van die tipiese Suid-Afrikaanse Gereformeerde teologiese beskouing van die doop. Daarom die dubbelpunt na die “… maak die mense my dissipels”.

2. Petrus se antwoord op Pinksterdag aan die Jode wat hom gevra het: “Wat moet ons doen, broers?” Sy antwoord en hulle reaksie daarop is van belang.

Let ook daarop dat ons hier te make het met Jode wat oortuig was hulle is in ’n verbondsverhouding met God.

Hand. 2:38 tot 41 lui soos volg: “Toe antwoord Petrus hulle: ‘Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.’ Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: ‘Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.’ Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.”

3. Dit is baie duidelik dat dit die normale praktyk was onder die vroeë Christene om nuwe gelowige volgelinge van Jesus, indien moontlik, op die dag van hulle bekering en tot- geloof-kom gedoop het. Die volgende Skrifgedeeltes bevestig hierdie praktyk:

Markus 16:16: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.”

(Hierdie vers kom wel nie in die oudste grondteks-manuskripte voor nie, maar as ’n byvoeging uit die vroeg-tweede eeu, wat ten minste die dooppraktyk onder die vroeë Christengelowiges bevestig).

Hand. 8:12: “Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop.”

Hand. 8:35-38: “Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig. Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: ‘Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?’ Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop.”

Hand. 10:44-48: “Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: ‘Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?’ Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word.”

Handelinge 19:3,4: “En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.”

Handelinge 22:16: “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”

Rom. 6:3-11: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.”

Kol. 2:8-15: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”

Hierdie is natuurlik die gedeelte wat in die Suid-Afrikaanse Gereformeerde wêreld baie keer gebruik word om aan te voer dat die Ou Testamentiese gebruik om babas te besny, vervang is deur die Nuwe Testamentiese doop.

So is die Nuwe Testamentiese opdrag om te doop verbind aan die verbond en God se verbondverhouding met gelowiges en hulle kinders.

Wie egter die konteks van en teks van Kolossense 2 behoorlik eksegeties ondersoek, sal ontdek dat die “besnydenis” waarna hier verwys word glad nie die teken van die fisiese besnydenis is nie, maar eerder dui op ’n “geestelike besnydenis” wat die nuutmakingswerk van God se Gees in die gees van die mens is (vgl. Eseg. 36:24-27; Joh. 3:3-16 ens.)

Die teologiese verbintenis en fundering van die gebruik om babas van gelowige ouers te doop met die Nuwe Testamentiese teken van die doop is duidelik nie Skrifgefundeerd nie, en het gelei tot allerlei foutiewe teologiese aannames in die Suid-Afrikaanse Gereformeerde doopspraktyke en –uitsprake rondom die doop.

(Vergelyk die Bylaag hieronder oor die Doopsformulier wat gebruik word by die doop van babas wat in die NG Kerk gebruik word, en my opmerkings daarby).

1 Petrus 3:21: “… waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus …”

(Die NIV vertaal hierdie vers soos volg: ““and this water symbolises baptism that now saves you also— not the removal of dirt from the body but the pledge of a good conscience towards God. It saves you by the resurrection of Jesus Christ,”)

Bestudeer ’n mens die nuutste navorsing oor die doop in die vroeg-Christelike Kerk, is van die mees resente navorsing hieroor gedoen deur Prof Hennie Stander en Prof Jannie Louw, Departement Antieke Tale van die UP, in hulle navorsingsdokument, BAPTISM IN THE EARLY CHURCH (Uitgegee in 1988, en in 1994 as ’n hersiene weergawe, deur Didaskalia Uitgewers, Garsfontein, ISBN 0-86979-955-X).

Na ’n ondersoek van al die beskikbare Griekse, Latynse en Siriese bronne oor die praktyk van die doop in die eerste vier eeue, kom hulle tot die konklusie dat tot in die vroeg-derde eeu is net gelowige volgelinge van Jesus gedoop in die vroeg-Christelike gemeentes. Dit was eers na 250 nC, en ook net eers in Noord-Afrika, en later elders, wat ons skrywes vind oor die doop van kinders van gelowige ouers (vgl. bl. 117-121).

Stander en Louw konstateer die volgende oor die betekenis van die doop in die harte van die gelowiges in die vroeg-Christelike gemeentes, en ek haal aan: “Going down into the baptismal water symbolized participatation in the death of Christ on the cross and performed, at the same time, a washing away of sins, so that the person emerging from the water is performatively cleansed and regenerated symbolically, by sharing in the death and resurrection of Christ. The theology underlying these conceptions was linked to Paul’s statement in Romans 6 that baptism entails being baptized into the death of Christ.” (bl. 117).

4. Die nuutste navorsing rondom die gebeure tydens en na die Reformasie (1517) plaas allerlei nuwe gegewens op die tafel wat ons aandag verdien in ons nadenke hieroor.

Vergelyk in die verband die navorsing van Leonard Verduin, wat onder leiding van die Calvynse Instituut in Grand Rapids, Michigan, gepubliseer is met die titel, THE REFORMERS AND THEIR STEPCHILDREN (Herdruk 2000, The Christian Hymnary Publishers, Sarasota, Florida, ISBN 0-8010-9284-1).

Aangesien ons ons gereformeerde teologiese wortels terugvind in die belydenisse van die leierfigure tydens die Reformasie, is die bevindinge van Verduin vir ons van kardinale belang in die verband.

Hy toon aan dat voordat die reformasie 10 jaar oud was, dit gou duidelik geword het dat onder die leiers tydens die Reformasie oor sekere kardinaal belangrike sake nie totale eenstemmigheid was nie. Ja, dat die verskille so erg was dat Zwingli op 28 Mei 1525 in ’n brief aan Vadius skryf dat die stryd teen die Rooms-Katolieke party “but child’s play” was in vergelyking met die radikale denke in die ander front van die reformasie-geledere. (bl.11)

En wat nog van groter belang is, is dat as gevolg van hierdie radikale standpunte van sommige in die reformasie-geledere, het van die Reformasie-leierfigure teruggegaan op hulle woord, en op sekere kardinaal belangrike belydenisuitsprake in reaksie omgedraai, selfs van standpunt verander, en het hulle later selfs aggressief teen van hulle vroeëre “vriende” in die begin van die Reformasie opgetree.

Van belang vir hierdie gesprek en nadenke van ons, is die belydenisuitsprake en denke oor die ekklesiologie en oor die doop onder die leierfigure tydens die Reformasie.

Uiteindelik sou die stryd in die geledere van die Reformasie gaan oor die vraag of die Kerk werklik “Corpus Christi”, die Liggaam van Christus, is, óf “Corpus Christianum”, ’n “body of a ‘christened “ society”, soos Verduin dit vertaal en verwoord (bl. 17).

Luther self, maar ook van die ander leierfigure in die Reformasie, was aan die begin vasgevang in die dilemma dat hy nie werklik wou kies tussen hierdie twee dinge nie. Verduin verwoord hierdie dilemma soos volg: “… the dilemma of wanting both a confessional Church based on personal faith and a regional Church including all in a given locality.” (bl. 17)

Dit was soos olie op die vuur van die radikale tweede front in die reformasie-geledere! Want vir hulle was daar nie kompromie moontlik nie. Vir hulle was die kerk van Jesus in sy fondasie en identiteit belydende kerk gebaseer op persoonlike geloof.

En dit het dan ook ’n uittog uit die geledere van die aanvanklike “leiers en vriende van die Reformasie” meegebring, wat veroorsaak het dat ons werklik uit die een wortel van die Reformasie van 1517 ten minste twee stamme histories in die kerk van die Here Jesus sien ontwikkel het hierna, as gevolg van die teologiese en belydenisverskille wat hier was.

Verduin verwoord hierdie dilemma waarin van die leiers in die Reformasie van 1517 vasgevang was op bl. 19 van sy boek soos volg: “The dilemma resulted from the fact that the Reformers were torn between two loyalties. On the one hand was a loyalty to the New Testament Scriptures, which know no Church other than the believers’ Church, a Church based on personal faith. On the other hand was a loyalty to what the Dutch call “het historisch gewordene” (that which come about with the passing of time), in which the Church was construed so as to include all in a given locality. Only by repudiating history, twelve whole centuries of it, could one escape from the dilemma – unless he was prepared to repudiate the New Testament. This latter escape neither the Reformers nor the Stepchildren were willing to use. So there was the other escape, the repudiation of het historisch gewordene. To reject it was a radical step, too radical except for the radicals, who took this way out and so came to stand alone, as Stepchildren.”

Ek wil nie op die detail hiervan ingaan nie, maar slegs aantoon hoe dit die hele aangeleentheid van die doop geraak het.

Verduin toon aan dat hierdie groep radikales, as gevolg van hulle siening oor die doop , en spesifiek dan die doop wat aan suigelinge bedien word, “her-dopers” of “anabaptiste” genoem is.

Maar in werklikheid was die skelnaam juis ’n aanduiding dat selfs in die geledere van die Reformasie die saak waaroor dit eintlik vir hierdie groep gegaan het, nie raakgesien en herken is nie.

Hulle was juis nie “her-dopers” nie. Hulle was eerder oortuig dat die doop wat bedien is aan suigelinge nie ’n Bybelse Nuwe Testamentiese doop was nie.

Na hulle oordeel was dit maar net ’n kerklike tradisionele gebruik wat sy wortels in Konstantianisme terugvind. Dit was bloot ’n “christening”, of soos Verduin dit defineer, “… a ritual whereby every child … was taken and ‘made a Christian of’ – before he had any voice in the matter. Since every child so ‘christened’ was considered to be a ‘Christian’ ever after, this was a highly useful institution …” (bl. 190).

Die doop wat hulle geglo het die werklike Bybelse Nuwe Testamentiese doop was, was in die woorde van Pierre de Bruys (wat alreeds in die 12de eeu geleef het): “We wait until the proper time has come, after a man is ready to know his God and believe in Him; we do not, as they accuse us, rebaptize him whom may be said never to have been baptized before.” (bl.194).

Dit is verder baie interessant om te lees hoe Verduin aantoon dat die doop van ekslusief-net-gelowiges in die geledere van die radikales ten tye van die reformasie, nie in die eerste plek gedoen is as “anti-pedobaptism”, maar eerder net doodgewoon “anti-Constantianianism” was. (bl. 197) “The outright rejection of infant baptism came when it became apparent that the Reformation was heading in a neo-Constantinian direction. Not until the Reformers began to embrace the old institution of “christening” did the Anabaptists by way of reaction make a clean sweep of the board. Prior to that point there had been considerable give and take on both sides.” (bl. 197).

Solank as wat daar nog duidelik tekens was dat die Hervormers steeds vasgehou het aan die begeerte en geloofskeuse dat die kerk of gemeente van Jesus in die eerste plek mense is wat ’n geloofskeuse gemaak het en nou in ’n persoonlike geloofsverhouding met Jesus Christus gewandel het, was die sogenaamde radikale groep in die begin van die reformasie bereid om saam te stap.

So lees ons bv. hoe in die Gereformeerde gemeente in Nordlingen, in 1525, aan die ouers oorgelaat is om te kies of hulle wil hê dat hulle babas met die teken van die doop bedien moet word, of eerder wil wag totdat daardie kinders, nadat hulle bedien is met die evangelie, self ’n geloofskeuse maak vir Jesus Christus as Verlosser en Here. (kyk voetnota, bl.198).

Verduin gaan voort om aan te toon dat die eksklusiewe doop net van gelowiges in die geledere van Reformasie, in die hart van Zwingli, een van die leiers in die Reformasie, gebore is.

Reeds van die staanspoor af was hy maar bra lou-warm teenoor die doop van suigelinge. Hy erken self: “”Nothing grieves me more than that at the present I have to baptize children, for I know it ought not to be done.” (soos aangehaal op bl. 198)

Vra ’n mens jouself af waarom Zwingli, as deel van die leierskap ten tye van die Reformasie, nie meer uitdruklik hierdie siening van hom sterker gepropageer het nie, verstaan ’n mens dit in die lig van die wyse waarop enige afwyking van die bestaande praktyk om suigelinge te doop in die bestaande kerke vervolg en selfs aggressief met geweld onderdruk is.

Verder het Zwingli self ook gesê: “But on account of the possibility of offence I omit preaching this: it is better not to preach it until the world is ready to take it.” (soos aangehaal op bl. 199)

Zwingli sou egter ’n totale omkeer maak wat hierdie saak betref, en in die latere jare van sy bediening “bely” dat die feit dat babas “nog nie glo nie”, hom laat fouteer het in sy denke oor die doop van suigelinge.

Soos Luther op sy kenmerkende skerp manier dit sou formuleer: “How can baptism be more grievously reviled and disgraced than when we say that baptism given to a unbelieving man is not good and genuine baptism! … What, baptism rendered ineffective because I do not believe? …. That would be to think as a fool thinks not only, but to blaspheme and disgrace God moreover.” (soos aangehaal op bl. 201)

Hierdie hele geloofsdilemma veroorsaak uiteindelik dat daar aggressief vanuit die geledere van die Reformasie teen diegene onder die radikales opgetree word a g v hulle siening oor die doop.

In 1529 word daar in Speier geproklameer dat: “Every Anabaptist or rebaptized person, of either sex, is to be put to death, by fire, or by the sword, or by some other means.” (soos aangehaal op bl. 202).

Speier se stadsraad was wel onder Rooms-Katolieke beheer, maar dit sou uit die geledere van Reformasie gevolg word deur soortgelyke hardhandige en selfs geweldadige optredes teenoor diegene wat nie hulle kinders ten doop bring nie, of hulle “laat herdoop” het. Soos in 1534 in die Protestantse stad, Strasbourg, besluit sou word (bl. 202, in voetnota).

Dit was egter nie net Zwingli, in die geledere van die leiers tydens die reformasie, wat bedenkinge oor die bediening van die doop aan suigelinge gehad het nie. Bucer sê op 24 Desember 1524 dat hy praat namens die broederkring van al die leraars in Strasbourgh: “If someone wishes to wait with baptism … we would not for that reason separate from him nor condemn him; let everyone figure it out for himself. The Kingdom of God does not consist in eating or drinking, and therefore not in water baptism, but in the righteousness and peace and joy in the Holy Ghost.” (soos aangehaal op bl. 203)

Verduin gaan voort: “Luther was likewise embarrassed with ‘christening’. But he was too well aware of the radicalness of a clean break with it to abandon the sacralism-feeding institution. Wrote he: There is not sufficient evidence from Scripture that one might justify the introduction of infant baptism at the time of the early Christians after the apostilic period … But so much is evident, that no one may venture with a good conscience to reject or abandon infant baptism, which has for a long a time been practiced.” (soos aangehaal op bl. 204)

Verduin konstateer dan dat dit eintlik in werklikheid ’n teenstrydigheid in die denke van Luther self verteenwoordig, in die lig van sy eie sola Scriptura-belydenis. Dit was in werklikheid niks anders as ’n “capitulation to het historisch gewordene; this takes us dangerously close to the Catholic position of ‘Scripture plus tradition’”. (bl. 204)

In die hart van die radikales in die geledere van die Reformasie was dit duidelik dat met die doop van suigelinge, en dit wat later daaroor gesê is deur die meeste van die leiers van die Reformasie, niks anders was as dat, soos Verduin dit verwoord: “A new Volk Gottes was envisioned, and a new badge was needed to mark the member of this new Volk Gottes, one that did not have the objectionable tribal overtones. Ths new badge was baptism.” (bl. 212)

Hy gaan voort: “When ‘Christendom’ was launched, things were forced back into the pre-Christian mold. Baptism became a new circumcision, now known as ‘christening’. “ (bl. 212)

Tot sover Verduin se navorsing.

My eie oordeel is dat daar genoeg redes is waarom die Ned Geref Kerk so gou moontlik, as gereformeerdes wat immers “heeltyd wil terug neig na net dit wat die Skrif vir ons sê”, hierdie hele aangeleentheid rondom die doop aan die voete van Jesus Christus, ons Verlosser, Here, en Hoof van Sy Liggaam, biddend moet gaan ondersoek aan die hand van Sy Woord, die Bybel, as ons enigste riglyn en toets vir die waarheid.

Daarom wil ek afsluit met my brief in die verband aan die Moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk, gedateer 25 Maart 2005.

Mag my voorlegging in die verband werklik ’n bydrae maak in julle opregte soeke na God se wil in die verband in die geledere van God se mense binne die Ned Geref Kerk.

Julle broer in Christus,

Christo Nel

BA, B Th, M Div, D Phil, D Juris Prudence (Theol)

My brief aan die Moderatuur, gedateer, 25 Maart 2005

VIR WIE DIT MAG AANGAAN

In sake: Bestuur doelbewus die verskille oor die doop binne die Ned Geref Kerk

Hoe meer ek my ingrawe in ’n Bybelse ekklesiogie, hoe meer is ek van oortuiging dat eenheid binne die Kerk van die Here Jesus vir die God van die Bybel ’n ononderhandelbare saak is.

As ek kyk na die wyse waarop die Sinode van die Wes-Kaap tot dusver die konflik in die gemeente Welgemoed, gehanteer het, sien ek bewyse dat dit ook vir u erns is.

En dit gee my vrymoedigheid om in nederigheid, maar in groot erns, die volgende aan u voor te lê as my oortuiging van wat God se hart is rondom die verskille wat daar tans onder God se mense binne die Ned Geref Kerk rondom die doop is:

MY VOORSTEL:

1. Bestuur proaktief die verskille wat daar onder God se mense binne die Ned Geref Kerk oor die doop is, deur vir ’n interim-periode van vier jaar doelbewus ruimte te maak vir die twee doopbeskouings wat tans onder gelowiges binne die Ned Geref Kerk teenwoordig is.

2. In hierdie interim-tydperk word gelowiges en predikante geleentheid gebied om rondom die bediening van die doop volgens hulle eie gewete te handel, sonder die vrees vir druk of vervolging van enige aard.

3. Waar predikante oortuig is dat die Bybelse doop net aan gelowiges bedien mag word, is dit hulle verantwoordelikheid om reëlings betyds te tref as daar in die gemeente gelowige ouers is wat graag hulle suigelinge ten doop wil bring.

MY BEREDENERING

Die meeste gelowiges binne die Ned Geref Kerk is van oortuiging dat die Bybelse doop aan gelowiges en hulle kinders, en dus ook die suigeling-kinders van gelowige ouers, bedien mag word. En dit op grond van hulle oortuiging dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.

Tog is daar ’n al-groterwordende groep gelowiges (in die besondere ampte en algemene amp van gelowiges) wat van oortuiging is dat die Nuwe Testament leer dat net gelowiges, sy dit volwassenes of kinders is, bedien mag word met die Nuwe Testamentiese doop.

Deur hierdie reëling van ’n interim-periode van vier jaar, maak die Ned Geref Kerk doelbewus ruimte vir God se Gees om self gelowiges binne die Ned Geref Kerk onbevange te oortuig van wat Sy hart rondom die doop is.

So ’n besluit skep ook die nodige ruimte waarbinne die verskillende sieninge rondom die Bybelse doop sonder vrees, in dampkring van akkommoderende liefde, weer biddend bedink en bespreek kan word.

AGTERGROND

Soos u weet was ek tot in Oktober 1993 vir 14 jaar predikant in die Ned Geref Kerk, waarna die Here my die laaste 16 jaar wyer as net binne die Ned Geref kerk gebruik het om Bybelse vernuwing, en in die laaste twee jaar ook eenheid, binne die hele Liggaam van Jesus te fasiliteer. En dan veral onder Afrikaanssprekende gelowiges.

Hierdie groep gelowiges kan in die algemeen beskryf word as gelowiges wat ’n dringende behoefte het aan fundamentele vernuwing waarvoor daar, onder andere in die Ned Geref Kerk (en ander gereformeerde kerke) in haar breë, nog nie werklik oral ruimte blyk te wees nie.

Soos ek reeds in ’n vroeëre skrywe aan u aangedui het, is die realiteite binne die Ned Geref Kerk dat …

  • tientalle leraars – net in die Wes Kaap se sinodale gebied – hulle reeds uit geloofsoortuiging laat doop het as gelowiges
  • honderde kerkrade sit met die realiteit dat groot getalle kerkraadslede reeds gedoop is as gelowiges
  • duisende lojale, gelowige lidmate van die Ned Geref Kerk reeds gedoop is as gelowiges ten spyte van die besluite van die Ned Geref Kerk in die verband. En boonop is hulle steeds geduldig deel van die Ned Geref Kerk, as die deel van die Liggaam van Jesus waarin hulle opgegroei het, in die hoop dat daar tog meer ruimte sal kom vir diepgaande, fundamentele reformasie.

In die lig hiervan dus my voorstel.

Na my oordeel kan dit ’n oplossing wees vir die Ned Geref Kerk om ook hierdie groep gelowiges – wat tot dusver vir die meeste gemeentes en leraars ’n tameletjie was – effektief te bedien. Maar dan op so ’n wyse dat hulle siening en verskil van mening met groter erns as in die verlede hanteer word.

Oor die jare het die Ned Geref Kerk by uitnemendheid getoon dat sy die vermoë en soepelheid het om rondom bepaalde leerverskille ruimte te maak vir verskillende sieninge.

Een baie goeie voorbeeld hiervan is die hantering van Millenialisme binne die Ned Geref Kerk oor die jare. In die besondere geval het die Ned Geref Kerk haar selfs amptelik onthou van enige besliste kant-kies in hierdie saak ter wille van die eenheid onder gelowiges.

MEER OOR DIE VERSKILLE RONDOM DIE DOOP

Dit is van kardinale belang om die volgende op te merk oor die verskille wat tans oor die bediening van die Bybelse doop binne die Ned Geref Kerk onder gelowiges bestaan:

  • Die redes waarom sommige gelowiges hulle laat doop as gelowiges verskil geheel en al van die tipiese siening wat ons tradisioneel onder gelowiges in die sogenaamde Pinksterkerke kry.
  • Die gelowiges binne die Ned Geref Kerk waaroor dit hier gaan, het hulle laat doop omdat hulle tot die oortuiging gekom het dat die Nuwe Testamentiese doop net aan gelowiges bedien mag word, sy dit as volwassene of as kind.
  • Wanneer hulle hulle dan laat doop as gelowiges was dit uit gehoorsaamheid aan hulle Verlosser en Here, op grond van hulle opregte Bybelse oortuiging dat dit is wat Hyself van hulle vra. Hulle doen dit dus nie uit opstandigheid of rebellie teenoor die Ned Geref Kerk en haar sieninge nie.
  • Dit gaan dus ook nie vir hierdie gelowiges oor ’n “viering van hulle doop as baba” nie.
  • Daar is na hulle oordeel ook nie sprake van ’n weer-doop nie, omdat hulle oortuig is dat die besprenkeling wat hulle ontvang het as suigeling in ’n verbondshuis, nie die Nuwe Testamentiese doop is nie.
  • Dit is ook belangrik om te verstaan dat hierdie gelowiges ten volle oortuig is van die tipiese gereformeerde siening rondom die verbond en die rykdom Bybelse beloftes in die verband. Al waar hulle wel verskil van die tipiese Gereformeerde siening in die verband is dat hulle tot oortuiging gekom het dat die doop nie die Nuwe Testamentiese teken is wat in die plek van die fisiese teken van die besnydenis gekom het nie.
  • Dit is verder belangrik om op te merk dat hierdie gelowiges glad nie verskil van die basiese Bybelse genadeleer wat binne die Ned Geref Kerk geglo word nie. Hulle is dus ten volle oortuig van die Bybelse waarhede oor God wat in Sy genade self die inisiatief neem in ons lewe, lank voor ons ooit dit self bedink of gewil het.

DIE VOLGENDE OOR DIE REËLING VIR ’n INTERIM-PERIODE

Oor die neem van ’n doelbewuste besluit om hierdie verskille oor die doop effektief te bestuur deur ’n reëling van ’n interim-periode die volgende:

  • Na my wete het beide die Christelike Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, asook die Presbiteriaanse Kerk, vir hulleself op die wyse ruimte geskep om verskille oor die doop rustig en biddend vanuit die Woord, onder die begeleiding van God se Gees opnuut te ondersoek.
  • ’n Reëling van vier jaar pas dan ook die huidige praktyk vir wanneer die Algemene Sinode vergader en bied voldoende tyd om rustig weer hieroor landswyd te besin.

Hiermee wil ek volstaan.

Ek sou met groot graagte u of enige ander persone in die verband te woord wou staan indien nodig.

Die uwe

Ds Christo Nel

BYLAAG

DIE DOOPSFORMULIER VAN DIE NG KERK WAT GEBRUIK WORD BY DIE DOOP VAN BABAS VAN GELOWIGE OUERS

Plus: My persoonlike opmerkings en vrae aan die hand van die formulier vir die bediening van die doop aan die kinders van gelowiges (van die Ned Geref Kerk)

Geliefdes in die Here Jesus Christus, vir die bediening van die doop moet ons die volgende weet en met ons hele hart daarop vertrou:

Waarom ons doop

Ons word gedoop omdat die Here God ’n verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Reeds vir Abraham die vader van alle gelowiges (Gal 3:29; Rom 4:11,16), het die Here gesê: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen 17:7).

In die Ou Testament het die Here die besnydenis en pasga as tekens gegee dat die verbond geldig is. Daarna het Christus gekom en hierdie verbond in sy persoon en deur sy verlossingswerk op ’n nuwe en finale wyse bevestig. As teken en waarborg hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee.

Die Here Jesus Christus het voor sy hemelvaart aan sy dissipels die opdrag gegee om die doop te bedien. Hy het gesê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19,20a). So het die Here Hom verbind deur hierdie verbond om ons God te wees en ons te seën. Van ons vereis Hy dat ons Hom in dankbaarheid en gehoorsaamheid sal dien.

Wat is die doop?

Die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, beteken en verkondig:

  • dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God kan kom as ons opnuut gebore word ;
  • dat die Here daardeur bevestig dat Hy ons in sy verbond insluit, ons tot sy kinders aanneem en ons deel laat hê aan al die voorregte van die verbond;
  • dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het;
  • dat ons ou, sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat “ons vir die sonde dood is en vir God lewe” (Rom 6:11);
  • dat die doop ’n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef;
  • dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele wese moet liefhê, vertrou en dien, en
  • dat die Here ons deur hierdie sakrament verséker dat Hy deur sy Gees in ons wil woon en ons lewens daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.

Verbondskinders moet gedoop word

Kinders van gelowiges moet gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in sy verbond met die gelowige ouers . Daarom is hele gesinne in die Nuwe Testament gedoop waar die ouer(s) tot geloof gekom het.

Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.

Waartoe verplig dit ons?

Die doop bevestig aan ons alles wat God ons skenk deur die genadeverbond en maak ons telkens bewus van hierdie vaste grond waarop ons geloof berus.

Daarom verbind die doop die ouers om hulle kinders soos hulle opgroei oor die betekenis en eise van die genadeverbond in te lig, ’n voorbeeld vir hulle te wees in die uitlewing daarvan en hulle op te roep tot die toe-eiening van God se beloftes.

(Die doopouers word opgeroep en die dopelinge word ingebring.)

Gebed

(Opsioneel)

Doopgelofte

Geliefdes in die Here Jesus Christus

U* het gehoor dat die doop ’n Goddelike instelling is waardeur die Here sy verbond van genade aan ons en ons kinders waarborg en aan ons al die gawes van Christus skenk. Om te bevestig dat u die doop vir hierdie doel gebruik en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie, moet u opreg op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste: Bely u dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wéreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

Ten tweede: Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat ook in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is ?

Ten derde: Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder (of voog) is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig ?

Antwoord (hardop): Ja.

*”u” kan met “jy” of “julle” vervang word.

Bediening

Die liturg wat die doop bedien, sê: “NN (volle naam en van), ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Dankgebed

Almagtige, ewige God en Vader, ons dank U vir u genadeverbond waarin U ons en ons kinders laat deel. Ons dank U dat U ons deur die bloed van Jesus Christus van al ons sondes gereinig het, dat U ons deur u Heilige Gees tot lidmate van sy gemeente ingelyf het en ons tot u kinders aangeneem het . Baie dankie dat U hierdie waarheid deur die doop aan ons en ons kinders waarborg en bekragtig.

Regeer hierdie kind(ers) so deur u Woord en Gees dat hy/sy/hulle U uit dankbaarheid en met vreugde voortdurend sal dien, dat hy/sy/hulle met volharding teen die duiwel en sy mag sal stry en oorwin, sodat hy/sy/hulle eenmaal voor u troon sal kan staan met vrymoedigheid.

Hemelse Vader, ons bring aan U die lof, dank, aanbidding, eer en heerlikheid tot in alle ewigheid, in die Naam van ons Here, Jesus Christus. Amen.

Verdere kritiese opmerkings oor die leer van die Ned Geref Kerk rondom die bediening van die doop aan suigelinge (veral o g v die bewoording daarvan in die KLASSIEKE FORMULIER VAN DIE BEDIENING VAN DIE DOOP AAN DIE KINDERS VAN GELOWIGES):

  • Dit is baie duidelik dat die leer van die doop in die Ned Geref Kerk direk gekoppel word aan die leer rondom die verbond op grond van die oortuiging dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Maar na my oordeel is daar geen teks in die Nuwe Testament wat hierdie oortuiging staaf nie.
  • Dit is verder baie belangrik om op te merk dat daar glad nie in die formulier vir die bediening van die doop aan kinders van gelowiges verwys word na die belangrike lering van Rom 6:1 tot 12 oor die betekenis en gebeure wat by die doop van gelowiges plaasvind nie.
  • Ook in hierdie formulier word daar geleer dat suigelinge deur die bediening van die teken van die doop kinders en erfgename van God word.
  • Ja, dat die suigeling wat gedoop word van al hulle sondes verlos word, ingelyf word by die dood en opstanding van Christus en voor God regverdig gereken word!
  • Maar ook dat die Heilige Gees in elkeen van hierdie babas kom woon en hulle daagliks meer en meer vernuwe o g v hulle doop.
  • Daar word verder aanvaar dat soos die besnydenis die seël was van die Ou Verbond, so is die doop die seël van die Nuwe Verbond.
  • Daar word ook verklaar dat die doop van suigelingkinders van gelowiges ’n instelling van God is. Die vraag is net: waar vind ons dit in die Skrif?

Artikels in die Belydenisskrifte wat hiermee verband hou is die volgende:

  • Art 34 in die NGB – In hierdie artikel het ons ’n goeie verduideliking van die betekenis van die doop. Maar ’n mens mis die leer van Rom 6 in hierdie verduideliking. Daar is egter maar weer die dwaling in vervat om die verbond by te trek by die doop. En dan word alles verder skeef getrek deur te leer dat suigelinge ook met die teken van die doop bedien moet word, en spesifiek deur hulle te besprenkel.

– Christo Nel

Waarom word kindertjies gedoop
2011/08/23

Ek glo dit is nodig om ’n paar opmerkings te maak oor Jaco en Inneke se stellings. Ek wil ook by hulle pleit dat hulle sonder vooroordeel die volgende gaan lees waar ek net die Woord van God wil laat spreek. Ek is bereid om verkeerd bewys te word, maar dan op grond van die Heilige Skrif.

Beide is natuurlik reg dat daar eers geloof moet wees voor daar gedoop word. Hulle is ook reg dat doop nie red nie, maar geloof in Jesus Christus. Inneke sê by voorbeeld: “Die doop red nie. Moenie jou hoop in die waterdoop sit nie. Staan op vir waar die evangelie verdraai word. Hiermee stem ek hartlik saam: Ons moet opstaan teen die verdraaing van die evangelie. Maar ek wil graag vir Inneke daaraan herinner dat daar geen so ’n leerstelling in die gereformeerde leer is wat sê dat die doop red nie. Indien enige individu sulke uitsprake maak, kan die geformeerde belydenis nie daarvoor pa staan nie.

Inneke sê ook dat ons almal “in dieselfde bootjie sit” en verwys na Rom.3:10, wat lees: “Daar is niemand wat regverdig is nie, selfs nie een nie”. Dit is waar – dit staan daar in die Bybel. Maar ons moet altyd onthou dat “Skrif verklaar Skrif”. Dit beteken dat ons nie oorhaastig ons eie uitlegging of verstaan aan ’n Skrif koppel nie. In 2Pet.1:20 lees ons “terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie”. Hoe dan nou gedaan? Ons moet eers vra hoe ons dit moet verstaan in die lig van die res van die Skrif. As ons nou in Hand.13:39 lees “dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word”, en in 1Kor.6:11: “… maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”, dan verklaar die Skrif self vir ons dat geen mens (op sy eie) regverdig is nie, maar slegs deur God – dan eers is hy regverdig. Ons het dus die Skrif toegelaat om Homself te verklaar.

Dit bring ons dan by die verstaan van die doop. Dit is waar dat daar geen enkele teksvers in die Bybel is wat direk sê dat klein kindertjies gedoop moet word nie. En dit is waar dat die Bybel oral praat (van volwassenes) wat eers moet glo vóórdat hulle gedoop word. Maar laat ons dan na die res van die Skrif gaan kyk: Ons weet dat ons as gelowiges nageslag van Abraham is en onder dieselfde verbond ingesluit is as dié wat God met Abraham gemaak het, en dat ons erfgename is van al die beloftes van God (Gal.3:7,29). En nou weet ons mos óók dat God onveranderlik is en bly (Job 23:13; Heb.13:8) en Sy woord staan vir ewig vas (Ps.119:89). Toe God dan hierdie verbond met Abraham gemaak het, het Hy bepaal dat die kindertjies, op grond van hulle ouers se geloof (beginnende by Abraham), by hierdie verbond ingesluit is, en dat hulle die verbondsteken net soos hulle ouers moes ontvang. Hierdie bevel van God het nog nooit verander nie, en nêrens het Hy besluit dat die kindertjies moet uitgesluit word omdat hulle nie kan glo nie. Ook in 1Kor.7:14 lees ons dat, as maar net één van die ouers glo, die kindertjies dan ook “heilig” (= God se eiendom) is – en dit op grond van die ouer se geloof.

Nou weet ons ook dat ons deur geloof in Jesus Christus Sy dissipels/volgelinge is en dus by hierdie verbond ingesluit is – saam met ons kinders. As teken van dissipelskap (d.w.s. ingesluit in die verbond) het Jesus die doop as teken gegee. Nou kom die vraag: Op grond van watter Skrif moet ons nou sê dat die kindertjies uitgesluit is? Dít kry ons nêrens nie. Inteendeel, God het bepaal dat die kindertjies, op grond van hulle ouer(s) se geloof, dieselfde verbondsteken moet kry. Ons kan nêrens Skrif kry dat God hierin van plan verander het nie.

Dit alles beteken dat, wanneer iemand tot bekering kom, is hy/sy onder die verbond – hy/sy en sy/haar hele huis. Daarom hoef ons nie te wroeg oor of Lidia die purperverkoopster, die tronkbewaarder in Filippi (Hand.16) of enige van die ander huisgesinne wat gedoop is, klein kindertjies in hulle huise gehad het of nie. Dit sou die heel natuurlike ding gewees het, en net so natuurlik dat hulle ook in die verbond ingesluit is en dat hulle ook die verbondsteken moet ontvang. Ons sou ook nie regverdiging vir die uitsluiting van kindertjies kon kry deur te probeer bewys dat kindertjies NIE in die vroeë kerk gedoop is nie. Die Skrif verklaar dat dit so moes gewees het, en ons kan niks daarin tot die teendeel kry nie.

Dáárom doop kerke van die gereformeerde belydenis klein kindertjies, en nie omdat dit gewoonte of tradisie is nie. Toegegee dat baie mense ’n blote tradisie of gewoonte daarvan maak, maar dít doen nog nie afbreuk aan wat God se Woord ons leer nie.

– Ds. Gideon Aggenbag

Pamflet aan gemeente gegee
2011/08/23

SWART OP WIT

Waarom word die doop saam met die prediking bedien? Omdat die doop – of dit kinderdoop of belydenisdoop met begieting of onderdompeling is – ’n sakrament is. En ’n sakrament sertifiseer die Woord (Gen 17:11). Dit voeg nie iets ekstra by die Woord nie, maar dit onderstreep/bekragtig die Woord. In die Woord práát die Here met elkeen wat kan luister. Wat sê Hy? Hy sê vir jou dat Hý alreeds self álles reggemaak het tussen jou en Hom (Rom 5:10). Hy sê Hý het jou met Homself versoen en dat jy dit onmiddelik mag glo en jou tot Hom bekeer (2 Kor 5:20). Die kernboodskap van die Bybel is dat God ons die ewige lewe gegee hét en dat dié lewe in Sy Seun is (1 Joh 5:11). Die doop sertifiseer hierdie kernboodskap. Maar nou weet Hy hoe swak ons is. Hy weet ons sal sê: “Dis te goed om waar te wees.” Hy weet hoe sukkel ons om Hom te vertrou. Hy weet hoe ons redeneer dat ons tog nie só maklik gered kan word nie. Dit moet tog sekerlik moeiliker wees. Daarom gee Hy nog Sy handtekening onder die Woord (vgl Gen 15). Daarom laat Hy Sy dienskneg van die kansel afklim en die dopeling op die naam noem en laat Hy Sy Naam aan die dopeling se naam verbind. Nou kan niemand meer twyfel met wie Hy praat nie. Nou kan niemand meer twyfel vir wie God met Homself op die kruis versoen het nie. Dis ék! Want mý naam is dan met Syne verbind. God het dit swart op wit gesertifiseer met Sy handtekening. God het by my doop by Homself gesweer (Hebr 6:13) dat Hy mý met Homself versoen het op Golgota. God het Sy hand op papier gesit – vir mý! Hy wou dubbel en dwars seker maak dat ek op Sy Woorde sal vertrou. Ek moenie dink dis vir iemand anders bedoel nie. Dis soos ’n man wat vir ’n werksonderhoud gaan. Die man verseker die werkgewer dat hy matriek het, maar die werkgewer wil die sertifikaat sien. Die sertifikaat neem alle twyfel weg. Dit is hoe die doop werk. Dit sertifiseer Gód se belofte (nie die doopouers s’n nie!) dat Hy beslis op Golgota dinge tussen my en Hom reggemaak het – presies soos die besnydenis gedoen het (Rom 4:11). Sodoende maak Hy dit vir my makliker om dit te glo. Hy ondersteun my glo. Die sigbare handtekening neem die twyfel weg dat God régtig Sy Groot Belofte aan mý naam vasgeknoop het. So asof ek by Sy testament ingesluit is en Sy erfgenaam is. Ons sluit tog ons kindertjies by ons aardse testamente in sonder om hulle toestemming te vra. Dit is pure genade. Die Here werk op dieselfde manier met ons (Hand 2:38). En wat is die Groot Belofte wat Hy met Sy handtekening aan my naam vasknoop? God die VADER sertifiseer dat Hy my as Vader sal versorg en dat Hy sélf sake tussen my en Hom reggemaak het. God die SEUN sertifiseer dat Hy my sondeskuld volkome betaal het met Sy eie bloed. God die HEILIGE GEES sertifiseer dat Hy in my lewe sal werk.

Ja, dit klink regtig te goed om waar te wees, maar dit is werklik op mý naam gekrediteer. Mý naam is immers aan Sý Naam gekoppel by die doop. Nou hoef ek nie meer te wonder nie. Ek is bevoorreg om om te draai en weg te draai (bekeer) van ’n selfgesentreerde en sondige lewe en hierdie Belofte gelowig aan te gryp. My sonde en onkunde en verlorenheid het immers nie God se Belofte tot niet gemaak nie (Rom 3: 3). Dit is steeds geldig (Rom 11:29). Dit is rotsvas gegrond in Hóm. Ek hoef nie vir jare lank rond te swerf op soek na God nie. Ek mag onmiddelik begin lewe vanuit die verbintenis wat Hy met my aangegaan het deur die dood en opstanding van Jesus Christus – en dit aan my gesertifiseer het deur Sy sigbare handtekening – die doop. Dit is belangrik om raak te sien dat dit nie die dóóp is wat red nie. Dit is die bloed van Christus wat red. Maar die doop verseker ons juis dáárvan. Jy gaan dus nie hemel toe omdat jy gedoop is nie, maar jy word gedoop omdat God aan jou persoonlik op jou naam swart op wit sertifiseer dat Jesus se kruisdood en opstanding regtig jou redding ís. Dít moet jy – soos ’n geskenk – in die geloof aanneem, na Hom toe omdraai en in verwondering daaruit lewe. Wie dit in ongeloof verwerp, sal ewig verlore gaan. Nie omdat God Sy belofte verbreek nie, maar omdat die mens Hom tot leuenaar maak. Só moet ons ons gedoopte kinders grootmaak – ons moet hulle leer wat dit beteken om uit hulle doop te leef. Ons moet hulle leer om God te glo en hulle te bekeer. Ons moet hulle leer wat dit beteken om nederig van genade te lewe omdat hulle sonder enige teenprestasie die hemel persent gekry het. God het dit swart op wit gesertifiseer. En Hy bly aan Sy Woord getrou. Juis dit mag ons glo!

– Tafelberg Gemeente

Geloof red nie
2011/08/23

Nee, die doop red nie. Maar geloof red ook nie! Slegs die bloed van Christus het ons op die kruis volledig gered. Juis dít glo ons! Dalk is dit omdat die kern van die evangelie nie verstaan word nie, wat die sakramente ook nie verstaan word nie. Want die sakrament sertifiseer die sekerheid van die afgehandelde kruisredding. Solank ons egter die kruis verkondig as slegs ’n moontlikheid om gered te word, mits “koning mens” die sneller trek, sal die doop altyd verstaan word as ’n teken wat die mens se bekering onderstreep. Die blye boodskap is egter juis dat dat God ons op die kruis waaragtig met Homself versoen hét terwyl ons nog ongelowig en onbekeerd was! (Rom 5:10). Dít sertifiseer die doop – om sekerheid te gee, om hartstogtelik gegló te word. Die “volgorde” is dus éérs redding, dan geloof en dan bekering uit dankbaarheid. Die doop knoop die redding aan ons persoonlik vas. Die doop verseker die dopeling dat die bloed van Jesus hom/haar werklik op die kruis gered het. Geloof volg mosterd na die maal. Verstaan ons nie die essensie van die Evangelieboodskap nie, is ’n gesprek oor die doop sinneloos. – Dr Chris Saayman

Ds. Christo Nel: Geloofsdoop
2011/08/23

Geagte ds. Nel,

Ek was verlig om by die einde van u skrywe te sien dat u enige persoon met groot graagte te woord sal staan. Ek self het ook hierbo geskryf: “Ek is bereid om verkeerd bewys te word, maar dan op grond van die Heilige Skrif.” Daarom wil ek u uitnooi om die sake wat ek hierbo stap-vir-stap, met Skrifbegronding probeer uiteensit het, (vernaamlik my skrywe van 23/8/2011 “Waarom word kindertjies gedoop?”) onder die loep te neem en aan te toon waar u dink ek die Woord verkeerd verstaan, en waarom. Ek sal dit waardeer as ons by die Skrif kan bly, aangesien navorsing oor die geskiedenis van die reformasie, die ontstaan van verskillende groepe en hulle sienings ens., na my mening niks kan verander aan Bybelse beginsels en uitsprake nie. Ek sal dit óók waardeer indien u elke beginsel wat ek genoem het, sal aanspreek, en ek sal aanvaar dat u saamstem met dít wat u nie aanspreek nie.

Ek sou graag heelwat opmerkings wou maak oor u goedkeurende aanhalings uit verskillende bronne, maar ek dink dit sou wys wees om dit (vireers) daar te laat en net eers die basiese beginsels probeer duidelik kry.

Ek sien uit na u antwoord.

– Ds. Gideon Aggenbag

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui