Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober – Kerkbode

15 Augustus 2023

Die stemme van vroue, die kuns van luister, Suid-Afrika se unieke konteks en die sensitiwiteit van die saak self.

Dit is vier “kontoere” vir gesprek oor aborsie wat in Oktober in Johannesburg by die sitting van die Algemene Sinode voorgelê sal word wanneer afgevaardigdes van die NG Kerk se tien samestellende streeksinodes vir die eerste keer sedert 2019 byeenkom.

Lede van die taakspan wat besig is om ’n “Bundel vir gesprekvoering oor Aborsie” te ontwikkel, het op Dinsdag 15 Augustus tydens ’n sitting van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) terugvoer gegee oor hoe hierdie en ’n rits ander verslae oor etiese kwessies vorder.

’n Mens kry uit die breër verslag ’n prent van kerkleiers wat soek na “helderheid en wysheid” oor onder meer:

  • Intergodsdienstige verhoudings: Die vinnigste groei binne die Christendom is nie meer hoofstroomkerke nie, maar pinkster- en charismatiese kerke. En die tweede grootste “godsdiensgroep” in die land, volgens sensusdata in die verslag, is mense wat hulleself (om verskillende redes) nie met enige godsdiensgroep assosieer nie.
  • Die rol van belydenisskrifte binne die NG Kerk: 80% van NG predikante meen die Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) is belangrik vir die opleiding van predikante, wys peilingdata deur die Taakspan Navorsing. Hiermee saam word twee pole onder die kerk se sowat 1 100 dominees sigbaar in die vorm van 10% wat meen dié formuliere is “nie meer relevant nie”, teenoor 10% wat meen dit kan “as finale denksisteme beskou word”.
  • Seksualiteit: Die einste taakspan sal na die afgelope vier jaar van hoogspanning met betrekking tot uiteenlopende beskouings oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk kan getuig. “Terwyl ons behoorlik kennis neem van en in gesprek tree met navorsing wat in ander velde, soos die biologie, neurowetenskappe, psigologie, antropologie, kultuurstudies en regsgeleerdheid gedoen word, wil ons onthou dat ons in die eerste plek teologiese en kerklike gespreksgenote is,” luidens die taakspanverslag. Met betrekking tot die 2019-opdrag aan die taakspan om ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse te ontwikkel vir persone van dieselfde geslag, sal die taakspan in Oktober verdere terugvoer gee oor hoekom daar volstaan word met ’n aanbod van “liturgiese grondlyne” vir so ’n formulier.

Versigtige gesprek oor aborsie

Die mees onlangse navorsing wat in verslagvorm by die AS oor aborsie gedien het, was in 1982. “Die saak van aborsie is geweldig kompleks, omstrede en sensitief,” lui die vorderingsverslag van die Algemene Taakspan vir Leer- en Akuele Sake (ATLAS), wat onder leiding van ds Heerden van Niekerk opdragte van die Algemene Sinode uitvoer in die vier-jaar-tydperk tussen Algemene Sinodesittings.

“Teologiese nadenke en gesprekke hieroor vind plaas binne die geleefde werklikhede van vroue, huweliksmaats, families en vriende, wat op verskillende maniere hierdeur geraak word. Terugvoer vanuit verskeie kerklike kringe beklemtoon voortdurend die behoefte aan pastorale hulpmiddels vir ondersteuning en begeleiding in hierdie verband, soos ook met ander reproduktiewe gesondheidskwessies …”

Gesprek en onderskeiding

In pas met die NG Kerk se toenemend “gespreksmatige” benadering tot etiese kwessies, sal ook hierdie gesprek klaarblyklik weggestuur word van wat deur teoloë binne die taakspan as die “besluitnemingsdrukgang” bestempel word. Daar is sprake van “pastorale gerigtheid”.

“Predikante kies vir ‘deelnemende onderskeidingsprosesse’ en versoek ’n benadering in die kerk wat ‘wegstuur van polarisasie en ’n verwytende styl’,” voer ds Van Niekerk en medewerkers aan op grond van die NG Kerk se interne navorsingsdata.

Hoewel die beplande bundel die eerste “vars” navorsing van dié soort in byna vier dekades sal wees, sal dit nie in ’n japtrap by gemeentes wees nie. Die sowat 360 afgevaardigdes wat 15-20 Oktober as Algemene Sinode vergader, sal versoek word om te stem dat die samestellingsproses van die bundel kan voortgaan tot dit by die Algemene Sinode van 2027 vir sinodes in die hand gegee kan word.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, het tydens die eerste dag van die vergadering, ná ATLAS se voorlegging, gesê die kerk is nie ’n plek “waar mense getimmer word tot eenduidigheid nie”. Hy het gesê die proses van luister na mekaar is dinamies en uiters gesond. “Ons aanvoeling is dat daar indringende gesprek (by die Algemene Sinode) moet wees oor (aktuele sake).”

“Ons gaan saam (oor aborsie) dink … Ons is in ’n proses van onderskeiding. En daardie onderskeidingsproses skryf ons nie ’n datum op nie en sê ons wil dán klaar wees nie … die standpunt moet groei binne die kerk.”

Kommentaar

xxx

1 thought on “Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober”

  1. Met verwysing na “helderheid en wysheid oor onder meer:…”

    Waarom is Suid-Afrika en die 🌏🌎🌍 op die plek waar hul is? So baie Suid-Afrikaners wys vinger na Nkandla en Staatskaping en korrupsie en gierigheid en immoraliteit, maar bespeur nie die eie hand en eie 🧠 se aandadigheid daaraan nie. Politici word aangepor om dinge te verander, maar die kieser EN nie-kieser (die draadsitters) by die huis en werk en op straat, doen dan presies dieselfde. Wie het die grootste invloed in die land?
    TV en Media. En haar gees leer en manipuleer en gesels met die mense heeldag en nag, en nooi hul na haar kamer. En 99.999% slaap by haar.

    Watter leiers het ten minsste 52 geleenthede ‘n jaar op ‘n Sondag om mense se 🧠 te verander? Leraars. Kon 104 gekeenrhede wees, maar lidmate te lui en gemaksugtig en vér meer 👁👁 vir 📺📲 op Sondagaande – wat die “PRIME TIME” TV tydgleuf is. En Sondagoggende is maks 1 uur. Soms 1.5 uur. Om van GOD se dinge te leer, is maar net eenvoudig “boring” vir meesste. Moet ook sê – baie preke îs “boring”, want Christus is maar mìn daarin. Baie, baie selde is dit Skrif wat praat met Skrif en Skrif woorde en sinne in gesprek met mekaar, want die leraar is té lui. Te lou. Te koud. Te veel van die 🌍🌎🌏 en te min van die Woord in die ❤, en dan is die Gees ook netso min daar.

    Watter helderheid soek AS? Is Christus dan nie die ware Lig? Aborsie is mos ‘n maklike saak: Christus was tog reeds as MENS beskou toe aan Maria verduidelik is, die Gees sal in haar ‘n Kind verwek, en het nie MENS geword na 30 dae of 60 dae of 9p dae of 120 dae of eers met geboorte nie, maar onmiddellik met verwekking. Die Psalms praat juis van God wat hom kunstig verweef het in die moederskoot., en dit beteken ook alreeds ” gees”, want GOD se 🧠 dink dan “volwaardig mens”. En Christus was ‘n man. Geen identiteitsverwisselinge was ter sprake by Hom nie. En SLEGS deur Hom, is daar verlossing.

    Die AS maak van Christus, asof Hy soos “as” is….hul kruisig Hom oor en oor en oor, en lidmate keur ál hul besluite goed, veral hul “passiewe goedkeuring” – hul doen niks aan hul leuen leiers nie. Die “hof” is AS se tugmeester, waarheen hul hardloop en nie die WET in die Bybel nie, want hul wáre “self” soreek eintlik : ” My 🧠 dínk béter as GOD “.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui