Kerk moet ’n geloofskeuse maak oor aborsie

*******

Kerk moet ’n geloofskeuse maak oor aborsie | Netwerk24

Ds. Pieter de Jager, Reddersburg

23 Augustus 2023

Die meer as 80% Bybelgerigte gelowiges in Suid-Afrika verlang van hul onderskeie kerke en denominasies duidelike leiding en sekerheid ten opsigte van etiese kwessies.

Een van die belangrikste ondersoeke wat tans wêreldwyd uitkring, is die vraag na die waarde, behoud en voortgang van lewe.

Die vraag of aborsie hieraan reg laat geskied, was ’n besprekingspunt by die Algemene Sinodale (AS) Moderamen van die NG Kerk se vergadering wat onlangs gehou is.

In stede daarvan om ’n besluit hieroor voor te lê vir die AS later vanjaar, verwag die AS se Moderamen ’n voortgaande gesprek om meer inligting te ontvang van buitebybelse bronne soos die sielkunde, neurologie, biologie en dies meer.

Die voorsitter van die AS se Moderamen stel dit onomwonde: “Ons gaan saam (oor aborsie) dink . . . ons is in ’n proses van onderskeiding.

“En aan daardie onderskeidingsproses skryf ons nie ’n datum op nie en sê ons wil dán klaar wees nie . . . Die standpunt moet groei binne die kerk.”

Dit is presies hier waar die tragiese werklikheid van die etiek wat betref die voortgang van lewe die ongeborene raak.

Aborsie sny lewe af.

Hoeveel lewens kon nie al gered gewees het nie as die kerk vroegtydig hierdie vreeslike vergrype aan die sesde gebod, dat ons nie mag doodmaak nie, uitgewys het?

Maar die AS se Moderamen wil nog draal terwyl Rome brand!

Geruime tyd al handhaaf die NG Kerk “ ’n seisoen van luister”.

Enige seisoen kom tog tot ’n einde om ’n nuwe lewensontwikkelende fase in te gaan.

Om op die draad te sit, waar daar nie tot ’n punt gekom kan word nie en ’n saak van lewe en dood raak, openbaar die gevolg van die woorde in Openbaring 3:16: “Omdat jy louwarm is, nóg warm nóg koud, gaan Ek jou uit my mond spoeg.”

Met baie ander sake, soos met ’n huiwering om werklik standpunt in te neem teen selfde­geslagverhoudings, verloor die kerk al hoe meer binding aan die aard van haar roeping en word sy later heeltemal aan haarself oorgelaat.

Die NG Kerk staan voor ’n onwrikbare geloofskeuse.

Die kerk moet kies: lewe of dood.

1 thought on “Kerk moet ’n geloofskeuse maak oor aborsie”

  1. Hi Pieter as dit maar so maklik vir die Kerk was. Wat my betref is die antwoord nee vir aborsie MAAR-
    Dis maklik om te sê ons weet aborsie is verkeerd en die kerk sal dit nooit goedpraat nie MAAR is ongelukkig ‘n werklikheid in ons bestaan vandag. Jy praat van kies tussen dood en lewe. As ‘n ongewensde baba erens in ‘n kissie gelaat word vir ander om versorg te word, ‘n kind wat groot word sonder ouer liefde en vir die res van sy lewe moet stry teen elende en armoede in die land van ons, is die wat jy bedoel met lewe? Ek is nie so seker dis wat met lewe bedoel word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui