1 Timoteus

Kyk ook:

Die volgende is geneem uit Leer en Beleef, Vlak 1 – Leerboek vir katkisante van die Evangelies Gereformeerde kerk van Suid-Afrika.

*******

Riglyne oor hoe om goeie orde in die gemeente te skep en in stand te hou en ten alle tye hoë geestelike standaarde te verseker, word aan die jong evangelis, Timótheüs, gegee.

1 Inleiding

Paulus se twee briewe aan Timótheüs en die een aan Titus word sy pastorale briewe genoem. In hierdie briewe gee hy voorskrifte oor die gedrag en pligte van gemeentelede. Hy lê ook belangrike beginsels vir die organisasie en beheer van die gemeente neer. Timótheüs het die gemeente in Efese bedien, en Titus die een op Kreta (1 Tim 1:3; Tit 1:5).

2 Persoonlike geskiedenis van Timótheüs

Timótheüs se naam word die eerste keer in Handelinge 16:1 genoem. Sy moeder se naam was Eunice (2 Tim 1:5). Sy was ‘n Jodin, maar sy vader was ‘n Griek (Hand 16:1,3).

Paulus noem Timótheüs “my ware kind in die geloof” (1 Tim 1:2). Hieruit kan ons aflei dat hy onder die bediening van Paulus tot bekering gekom het. Sy ma en ouma, Lois, was albei Christene (2 Tim 1:5). Die jong Timótheüs het ‘n groot indruk op die ouer lidmate in Listre en Ikónium gemaak. Ter wille van die Jode het Paulus vir Timótheüs laat besny en hom toe saam met hom as hulp op sy sendingreise geneem (Hand 16:1-3).

3 Doel en tema van die brief

Die brief is geskryf as persoonlike kommunikasie deur Paulus aan Timótheüs rakende die die gemeente as die huis van God. Paulus formuleer die doel van sy skrywe só: “Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou toe te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid” (3:14-15).

Die brief bevat dus belangrike praktiese instruksies in verband met die goeie orde in die gemeente. Die handhawing van die suiwer leer, die versekering van ‘n suiwer vorm van aanbidding, en ‘n bediening wat op ‘n suiwer geloof gegrond is, is die hooftemas van hierdie pastorale brief. Die waarskuwing word telkens uitgespreek dat as jy van die suiwer geloof wegbeweeg, dit tot mislukking sal lei.

4 Indeling

Die hoofstukindeling van die brief is soos volg:

  • Valse leerstellings en die gevare wat daaraan verbonde is, word sterk in hoofstuk 1 aangespreek. Hierteenoor word die suiwer leer gestel, waarsonder geen heiligheid moontlik is nie. Paulus getuig van hierdie leer in hoofstuk 1:11-12.
  • Gebed vir alle mense is die eerste tema van hoofstuk 2. Hierdie opdrag word basies met die oog op die redding van mense gegee, insluitende die regeerders van ‘n land. Die tweede terna is die posisie van die vrou in die gemeente (1:9-15).
  • Hoofstuk 3 handel oor die funksionering van die gemeente as die huis van God. Riglyne oor die lewens en pligte van amps- draers word gegee.
  • Hoofstukke 4 tot 6 handel oor ‘n verskeidenheid vermaninge en opdragte aan ouer mense, jong mense, weduwees en ouderlinge, asook ‘n paar persoonlike instruksies aan Timótheüs, In hoofstuk 4 is daar ook ‘n profetiese waarskuwing oor geestelike verval en betrokkenheid by duiwelse leerstellings in die laaste dae.

Vrae

  1. As wat staan die briewe aan Timotheüs en Titus bekend?
    Pastorale briewe
  2. Wat was die nasionaliteite van Timótheüs se ouers?
    Pa = Griek, Ma = Jood
  3. In watter gemeentes het Timótheüs as ‘n jong seun sy merk gemaak?
    Listre Ikonium
  4. Wat is die hierdie brief?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui