Titus

Kyk ook:

Die volgende is geneem uit Leer en Beleef, Vlak 1 – Leerboek vir katkisante van die Evangelies Gereformeerde kerk van Suid-Afrika.

*******

Die vestiging van doeltreffende, vrugbare gemeentes onder die leiding van ouderlinge met hoë geestelike standaarde, in teenstelling met die gevare verbonde aan valse leringe, is die opdrag aan Titus.

1 Inleiding

Titus was ‘n Griekse bekeerling van Paulus (Tit 1:3; Gal 2:3). Uit die Galásiër-brief kan ons aflei dat hy saam met Paulus en Barnabas vir die eerste sinodesitting na Jerusalem gegaan het (Hand 15). Ons lees ook dat Paulus hom na die gemeente in Korinthe gestuur het om hulle bydraes vir die werk van die Here te gaan haal (2 Kor 8:1-6). Hierdie opdrag het hy met groot ywer uitgevoer (2 Kor 8:16-17).

Uit die brief aan Titus leer ons dat hy in Kreta in die bediening gestaan het en in verskeie stede ouderlinge aangestel het (1:5). Paulus het die eiland aanvanklik saam met Titus besoek en die evangelie daar verkondig. Vermoedelik het Titus nie lank op die eiland gebly nie, want Paulus het hom gevra om na Nikópolis te gaan (3:12).

2 Doel en tema

Die bediening van die Here se Woord binne gemeenteverband word beklemtoon, asook die vereiste dat ouderlinge met hoë geestelike standaarde oor die gemeente aangestel moet word (1:5-9). Alle ander groepe binne die gemeente, van die jongstes af tot die oudstes, word ook tot ‘n heilige lewenswandel opgeroep (2:1-3:11). Die gemeente as geheel moet ten alle tye aktief by die werk van die Here betrokke wees, sodat hulle nie in geestelike onvrugbaarheid verval nie (3:14).

‘n Heilige en godvrugtige lewe in afwagting van die koms van Jesus Christus word in hoofstuk 2:11-15 deur Paulus bepleit. Die goeie nuus in die profesieë oor die eindtyd is dat Jesus ons kom haal (vgl. Joh 14:2-3). Die verskyning van Jesus vir sy gemeente is die wegraping, en vir die gemeente word dit as die salige hoop voorgehou om na uit te sien. In hierdie gedeelte word Jesus se Godheid ook bevestig. Hy is die grote God en ons Verlosser.

Nog ‘n tema van hierdie brief is die sterk afwysing van dwaalleraars (1:10-16). Die volgende aspekte van hulle gedrag word uitgewys:

Hulle is tugteloos en aanvaar nie gesag en dissipline nie, Hulle praat onsin en verlei die mense.

Ter wille van vuil gewin leer hulle onbetaamlike dinge en keer daardeur hele huisgesinne van hulle fondamente af om.

3 Indeling

Die hoofstukindeling van die brief is soos volg:

  • Hoofstuk 1 bevat Paulus se seëngroet, wat op Christene se hoop en blye vooruitsig op die ewige lewe gebaseer is. Daarna bespreek hy die geestelike standaarde waaraan ouderlinge moet voldoen, en waarsku ook teen die valse leraars.
  • Hoofstuk 2 word aan vermaninge aan verskeie groepe in die gemeente gewy, asook aan die opdrag tot heiligmaking en diensbaarheid met die oog op die wederkoms.
  • Hoofstuk 3 beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n regverdige lewenswandel, onderdanigheid aan gesag en ‘n volkome toewy- ding aan die werk van die Here op aarde.

Vrae

1. Wie was Titus en waar het hy gemeentelike werk gedoen?

2. Waar in die Nuwe Testament lees ons nog van Titus?

3. Paulus het Titus op ‘n keer gestuur om ‘n taak te gaan verrig. Wat was dit?

4. Aan watter norme moet die lewe van ‘n ouderling voldoen?

5. Wat het die valse leraars gedoen en verkondig?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui