Aanbid ons almal maar dieselfde God? (Ben du Toit)

Kliek hier...Hierdie berig is reg langs die berig “Godsdiens het reuse-aandeel aan krisis in Midde-Ooste” van Leopold Scholtz geplaas (kliek op die prentjie heel bo vir ’n hoër definisie weergawe). ’n Mens kan nie help om te wonder of hierdie ’n strategiese skuif was van Kerkbode om die punt wat Ben du Toit maak in hierdie artikel, te beklemtoon nie.

***********

Aanbid ons almal maar dieselfde God? | Kerkbode

Deur Ben du Toit

25 Augustus 2006

Nee! Natuurlik nie! … sal sommige onmiddelik en beslis sê.

* Wel, dis moeilik om te sê. Hoe sal ons weet? sal ander weer versigtig opmerk.
* Wel, natuurlik: God is tog so groot, so onbeskryflik – so ver bokant ons begripsvermoe dat dit tog onmoontlik is vir een groep gelowiges om te meen dat hulle spesifieke verstaan van God alles oor Hom beskryf, mymer ’n volgende een, meer refleksief.

Ons lewe inderdaad in die laatmodeme (postmodeme) tyd. ’n Tyd waarin die vraag na die waarheid eintlik geword het: Wie se waarheid is waar? En, omdat die Waarheidsvraag binne godsdienstige konteks alles te doene het met die godheid wat aanbid word, volg die volgende vrae onmiddellik: Is Allah van die Moslems dieselfde as God van die Christene? Is die God van die Christene se Bybel dieselfde as die God van die Joodse Bybel? Die laaste een is nogal ’n moeiliker vraag om te beantwoord, of hoe?

Vir sommige Christene is dit ’n uitgemaakte saak: omdat die ware God alleen aanbid en verstaan kan word deur Jesus Christus, is die ander godsdienste se (G)god nie die ware een nie. Maar, beteken dit dan dat hulle nie bestaan nie, of is hulle wel daar, maar vals? Die groot probleem is natuurlik dat daar nie ’n objektiewe, empiriese maatstaf is waarmee ’n mens hierdie aanspraak kan meet nie.

Die vraag of ons almal dieselfde God aanbid, is dus nie so eenvoudig om te beantwoord nie.

Ek hoor ’n ander een sê: Ek wil tog maar net eenvoudig glo soos ’n kind. Ek wil nie al hierdie vrae vra nie – wil nie eens daaroor bespiegel nie. Ek glo die Bybel en as die Bybel se “Niemand kom na die Vader, behalwe deur my nie”, dan aanvaar ek dit so. Ek glo in Jesus en die God van die Bybel, finish en klaar!

So ’n reaksie, hoe prysenswaardig ook al, maak egter weer vir ander nie baie sin as die Jode en Moslems mekaar nou vir die hoeveelste maal in die geskiedenis tot niet skiet nie – elkeen in die naam van “hulle” (G)god. En as sommige Christene dan ook nog hulle goedkeurende gewig agter die Jode ingooi (op grond van ’n bepaalde profetiese lees van sekere Bybelgedeeltes, terwyl ander Christene weer in simpatie met die Moslem-gelowiges die staking van on-Christelike optrede deur die Weste teenoor die Moslem-wereld ondersteun, dan is daar spanning in Christengeledere!

In die kritiese gesprek tussen gelowiges (en somtyds, ongelowiges) word hierdie vraag druk bespreek. Gaan kyk gerus op Kletskerk, die internet-gespreksforum van Kerbode (www.kerkbode.co.za), na die honderde plasings hieroor.

Hier verklaar die mees siniese bydraers onomwonde “oorlog” teen godsdiens: hulle wys daarop dat godsdiens nog selde in die geskiedenis ’n verenigende faktor was: eerder ’n verdelende een. Godsdiens val te maklik ten prooi van die magsug van individue. En ten spyte daarvan dat daar gemeenskaplike faktore is, soos toewyding aan en aanbidding van ’n godheid, toegeneentheid teenoor mede en algemene soeke na vrede, kry die egosentriese geneigdheid van mense (dit lyk my, dis die default waarmee ons gebore word), hoe geraffineerd ook al, uiteindelik maar die oorhand. En godsdiens word (weer eens) deel van die politieke magspel.

Inderdaad ’n ongemaklik, komplekse vraag. As gereformeerde Christene kan ons natuurlik nooit iets anders sê nie, as dat Jesus vir ons die Woord van God, die openbaring (bekendmaking) van God op ’n menslik-verstaanbare manier is (Heb 1). Hoedat ons hierdie Evangelie vertaal vir ons dag en tyd, bly die groot uitdaging vir die kerk. Maar dit beteken ten minste dat ons God leer ken as ’n genadige, liefdevolle God – wat omgee vir sy skepping (en dus alle mense) en dan aan die kerk (gelowiges) hierdie opdrag van versoening gee (1 Kor 5). Die heiligheid van God (en sy geregtigheid) vereis hierdie roeping die kerk.

Maar, daar is ’n nog meer subtiele vraag wat hom geleidelik almeer aan ons opdring: Die Christendom as geheel vertoon toenemend ’n diverse beeld. Nie net aanbid ons op verskillende maniere in ons eredienste nie, maar die manier waarop ons God voorstel as ons byvoorbeeld bid, lyk heel dikwels nie dieselfde nie. Die toenemende aanwending van gebruike soos kettinggebede (gebedsmaraton), gepaardgaande met vas-gebruike en spesiale klede (dikwels teen die agtergrond van vermeende bindinge), laat die vraag ontstaan of ons hier nie te doene het met ’n subtiele invoering van bygelowigheid nie. Dit is tog vreemd aan ons gereformeerde verstaan van God en die genoegsaamheid van die verlossingswerk van Christus.

Om dit plat te stel: is God ’n hardhorende ou omie wat sonder behoorlike inligting êrens ver op ’n outydse koningstroon sit, by wie ons moet pleit om gehoor te word – vir wie ons ons nood moet uitspel, en hoe harder ons roep en hoe meer ons roep hoe meer sal Hy luister? Of is Hy die soewereine, onbeskryflik intelligente wese, wat alreeds alles weet, aan wie ons, ons dankbaar en gelowig toewy met respek en heilige eerbied?

Wêreldwyd is godsdienste besig om in getalle te groei. Ook die Christelike godsdiens. Die groei is hoofsaaklik nie in die hoofstroomkerke nie, maar in die Pinkster- en charismatiese groepering van die Christelike geloof. Dit gebeur hoofsaaklik in werelddele waar die direkte (en letterlike) inhoud van die pre-modeme Bybelse teks gemaklik inpas binne die bepaalde konteks (Aftika, Suid-Amerika, die Ooste), waar mense met ’n sterk bewussyn van ’n spirituele werklikheid om hulle leef – en hulle deurlopend in interaksie daarmee is: geeste van die voorvaders, ander bose geeste, onsigbare magte, vloeke en bindinge, ens. Voeg hierby ’n sterk invloed van welvaartsteologie uit sommige oorde in die VSA, en ’n mens het somtyds met ’n triomfantalistiese religie te doen wat vir baie van ons uiters problematies is om mee te vereenselwig.

Van “buite” gesien, is die integriteit van die Godsgeloof ongetwyfeld onder groot druk. En die skuld daarvoor lê nie noodwendig buite die kring van die gemeenskap van gelowiges nie.

Ons sal met mekaar hieroor moet praat …

Dr Ben du Toit is Direkteur Kommunikasie van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland.

2 thoughts on “Aanbid ons almal maar dieselfde God? (Ben du Toit)”

  1. Daar is baie gode deur die mensdom/geloof groeperings gemaak. Indien daar net een almagtige wese bestaan dan het hierdie geloof groeperings die aap aan die stert beet. Die ewige waarhede is immers nie die mensdom beskore nie. In wese dans die mensdom om ’n vuur en verbeel sitroene is vye. Die kerk besigheid is ook nie skaam om blatante publieke leuens kwyt te raak nie solank die boeke tog net klop om sy leefstijl te financier.

  2. Die kerk besigheid het geen raison d’etre nog ooit gehad nie. The primary verse your minister will use to dismiss the scripture above is found in Colossians 2. Let’s read: “Blotting out the handwriting of ordinances that was against us, which was contrary to us, and took it out of the way, nailing it to His cross” (vs. 14)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui