‘n Dak oor my kop

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in September 2006 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************


Ek klim die ander dag op die pastorie se dak om dit te inspekteer vir die reënseisoen wat voorlê. Ek was al ’n hele paar keer op die dak, maar dit tref my toe opnuut weer hoe groot die dak is. Ek kyk na die meters en meters teëls, die nokke en valleie wat die een agter die ander wegraak. Dit is ’n indrukwekkende gesig.

Toe dink ek by myself: Dit is die dak wat die Here nou al vir amper ’n kwarteeu oor my kop gegee het. In al hierdie jare het hierdie dak my en my huis beskerm teen die dou van die somernagte en die ryp van die wintermôres. Dit het ons beskerm teen gietende reën en versengende hitte. Elke keer nog as die hael Secunda flenters geslaan het, het die teëls gehou. Die winde van die Hoëveld, het aan die teëls geruk en deur hierdie valleie geloei, maar die dak het bly staan. Na elke storm kon ons weer by die deure uitgaan en na die skade rondom ons kyk, maar ons het behoue gebly onder hierdie dak.

Die dak het vir my die simbool geword van my hele wêreldjie waarin ek vir baie jare geleef het. Onder hierdie dak het ons, ons kinders grootgemaak. Hier kon ons gesond word in tye van siekte. Hier was warm water, warm beddens, lig in die donker, diefwering teen skelms in die nag. Daar was altyd kos in die kaste en voedsel aan tafel. Hier kon ons, ons vriende en familie met vertroue ontvang. Na tye van afwesigheid, het ons nog altyd die voordeur met dankbaarheid oopgesluit en dit was lekker om weer tuis te kon wees.

As mens so aan jou eie wêreldjie dink, dan word jy herinner aan die wêreld en die kontinent waarop ons woon. Ons woon in ’n omgewing, waar die meeste mense nie sulke groot en sterk dakke oor hulle koppe het nie. Vir baie ander, is storms en hitte en koue ’n baie groter bedreiging as vir my. So ook is siekte en rowers in die nag ’n groter bekommernis as vir my.

Die dak het my ook laat dink aan ons Here Jesus wat op ’n stadium gesê het: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” (Mat 8:20) Toe Hy sy ouerhuis verlaat het, het hy in die woestyn gaan bly. Hy het in die veld, op sy dissipels se bote en by goedgesinde mense oornag. Dit is die opoffering wat hy gemaak het vir ons, want Hy wou vir ons plek maak in die wonderlike huis van sy Vader. Dit is ’n huis met ’n baie groot dak. Daar is woonplek vir baie mense. (Joh 14:2) In daardie huis kry ons al die dinge wat ons nie altyd in ons eie huise ervaar nie nl: liefde, blydskap, versoening, vrede, wysheid aanvaarding en moed.

Ek is dankbaar dat die Here Jesus al die jare saam met ons onder hierdie dak gebly het. Ons het Hom nie altyd raakgesien en gerespekteer nie, maar Hy het ons nooit verlaat nie. Hy het ons gehelp om die storms wat soms binne in die huis gewoed te het kon oorleef en daaroor te kon triomfeer.

Klim weer ’n slag op jou huis se dak. Dit doen ’n mens goed om te sien hoe lyk die dak oor jou kop wat die Here in hierdie lewe vir jou gegee het.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui