2013 NGK besluit oor die duiwel

Nie minder nie as 10 beswaarskrifte is ingehandig teen die duiwelbesluit van 2011. Tydens die 2013-sinode is slegs die bewoording van punt 7 klein bietjie verander:

  • 2011: Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
  • 2013: Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

Hier volg die hele besluit (die geel gemerkte deel is die enigste verandering van die 2011-besluit).

Oorspronklik: www.kerkargief.co.za/acta

2013 NGK besluit oor die duiwel

1 Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld.

2 Die Algemene Sinode aanvaar dat hierdie oorwinning in baie gevalle nog nie ten volle sigbaar is nie, dat ons dikwels oorweldig is deur hierdie boosheid wat groter is as onsself, ook juis weens die swakheid van die mens, die verleiding van die sonde en die gebroke werklikheid.

3 Die Algemene Sinode aanvaar daarom dat ons as kinders van God nog steeds in ’n geestelike stryd gewikkel is teen die boosheid in al sy manifestasies in die wêreld, maar veral teen die kwaad wat in elke mens skuil.

4 Die Algemene Sinode bevestig weer eens dat dit van uiterste belang is dat die kerk sal leef vanuit die geloofsperspektief dat, hoewel die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig, die bose deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van God se Gees oorwin en aan bande gelê is.

5 Daarom meen die Algemene Sinode dat enige sogenaamde bediening van bevryding wat die geloofswaarheid oor die lewe en werk van Jesus en die Gees van God misken, geen bediening van die evangelie is nie en ook geen vryheid bring nie.

6 Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van Evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.

7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

8 Die Algemene Sinode oordeel dat die getuienis van leraars en lidmate van die NG Kerk dat hulle in hulle bediening wel mense teëgekom het van wie hulle oortuig was dat hulle deur bose magte of demone gedemoniseer was – en ook hulle getuienis dat ’n bediening van bevryding baie van hierdie mense van kwellings, vreesagtigheid, haat teenoor God en sy gebod bevry het – nie sonder meer afgewys moet word nie. Die Sinode aanvaar dat daar verskillende interpretasies is oor die werklikheid al dan nie van gedemoniseerdheid. Dit geld ook vir die interpretasie oor wie en wat agter bepaalde bevrydinge lê.

9 In die lig daarvan is dit die oordeel van die Algemene Sinode dat ’n bediening van bevryding as ’n buitengewone bedieningshandeling onder bepaalde voorwaardes toegelaat sou kon word eerder as om dit geheel en al te verbied. Die voorwaardes waaronder so ’n bediening toegelaat sou kon word, hou in dat:
9.1 die bediening van bevryding as ’n buitengewone bediening beoefen sal word en nie as deel van ’n roetine-pastoraat nie;
9.2 dit onder toesig van en met rapport aan die kerkraad en die ring gedoen word;
9.3 die persoon ook vir mediese evaluering verwys moet word. Daar rus ’n swaar verantwoordelikheid op persone wat so ’n bediening beoefen om mense nie skade te berokken deur siekte (onder meer psigiatriese versteurings) as besetenheid of gedemoniseerdheid te behandel nie;
9.4 daar met sorg gewaak word teen ’n animistiese verstaan van die skepping en teen die neiging om te dink daar skuil magiese kragte in sekere voorwerpe; teen lang konfronterende gesprekke met bose magte, asook teen die gepaardgaande triomfalisme wat straal uit sensasionele byeenkomste van bevryding;
9.5 daar verreken moet word dat die Gees van Christus in mense wat aan Christus behoort en sy Naam bely, leef. Bedieningspraktyke wat die algenoegsaamheid van die werk van Christus minag en daarmee die gereformeerde belydenis van die volkome verlossingswerk van die genadige God in Jesus op die spel plaas, word afgewys.

10 Die Algemene Sinode besef dat die verskillende kulture in ons land ons duidelik bewus gemaak het van die veel-fasettige aard van die siening oor die Bose; dat daar kontekste is waarin daar ’n werklike vrees vir eksterne bose magte is wat baie mense se lewens oorheers en dat hierdie lewenservaring ernstig opgeneem behoort te word. Die Algemene Sinode moedig daarom sy eie ampsdraers en lidmate aan, wat in sulke kontekste werk, om op verantwoorde wyse besondere aandag hieraan te gee met die doel om die radikale verlossingswerk van Christus met oorgawe te verkondig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui