Die Apostolicum – geskenk aan kerkfamilie

Die volgende artikel is in die Kerkbode geplaas. Dit is interessant dat die Sinode so positief oor die dokument reageer.

Kyk ook:

**************

Die Apostolicum – geskenk aan kerkfamilie

17/10/2013 | Geliasieer onder: Nuus, Suid-Afrika | Geskryf deur:

PORT ELIZABETH. – Sommige sou dit as ’n bepalende oomblik vir die NG Kerkfamilie wil beskryf toe die Algemene Sinode hierdie week die dokument “Die Apostoliese Geloofsbelydenis – ’n eietydse uitleg” ontvang het.

Dié dokument “wil eerlik kyk na al die baie vrae wat oor ons geloof gevra word, maar ook kontoere gee waarbinne na antwoorde in die lig van die Skrif gesoek moet word,” lui die besluit wat aanvaar is.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2007 drie persone aangewys om ’n “eietydse interpretasie van die Twaalf Artikels” aan die kerk te lewer. Hulle was dr Danie Malan (sameroeper), dr Ben du Toit (skriba) en prof Robert Vosloo. Hierdie “Apostolicum-taakspan” is kort ná die eerste vergadering op 30 September 2009 met ’n span kundiges vanuit die NG Kerkfamilie uitgebrei.

Tydens die bespreking was daar groot waardering vir die dokument. Daar was ook kritiese vrae oor verskeie aspekte daarvan, soos die lengte (té lank), taalgebruik wat te moeilik is en dat die dokument té veel vrae vra sonder goeie antwoorde. Tog was daar uiteindelik groot eenstemmigheid met die finale aanbevelings.

Dit het ook behels dat die Algemene Sinode die teoloë uit die NG Kerkfamilie wat die dokument opgestel het, bedank vir die groot werk wat hulle gedoen het. As gespreksdokument beskou die sinode dit as “eietydse uitleg” wat eerlik wil kyk na al die baie vrae wat in vandag se konteks oor die Christelike geloof gevra word. Daarvoor wil hierdie dokument “kontoere gee waarbinne na antwoorde in die lig van die Skrif gesoek moet word.”

Dr Andries Kritzinger van Orkney het die dokument bestempel as die belangrikste dokument wat die afgelope 40 jaar op die NG Kerk se tafel beland het.

Intussen het Bybel-Media ’n sewe-weke gespreksgids, Geloof van eeue, oor die Apostolicum-dokument ontwikkel en bekendgestel. Dit is spesifiek gerig op lidmate en maak ook juis van die teks van die Apostolicum-dokument gebruik.

Daar is ook besluit om die dokument na die verskillende sinodes te neem vir bespreking en terug­voer. Op hierdie wyse hoop die Algemene Sinode dat aan die hand hiervan wyd oor ons Christelike geloof gesprek gevoer sal word.

– Sinoderedaksie

Kommentaar

Wynand Louw, 2013-10-17

Prof Johan Janse van Rensburg het die volgende brief na aanleiding van hierdie dokument geskryf. Ek plak dit hier in.

Liewe Broer / Suster

“Die Apostoliese Geloofsbelydenis ’n Eietydse Uitleg” is ’n dokument wat vir goedkeuring op die agenda van die Algemene Sinode van 2013 verskyn. Hierby aangeheg is ’n kritiese evaluering van die inleidende opmerkings van die dokument, waarin die benadering van die opstellers verduidelik word.

Ek sal dit waardeer indien u nie net my evaluering daarvan sal lees nie maar die dokument self ook sal lees, sodat u ’n ingeligde besluit kan neem.

Die dokument se skryfstyl is ingewikkeld; die vertrekpunte is verstrengeld; die gegewens en beredenering dikwels spekulatief, met ’n oop einde in tipies post-moderne styl. Daarbenewens is die dokument baie lank. Dit is hoogs onwaarskynlik dat lidmate dit sal lees. Dit is selfs te betwyfel of die bedrywige gemeente-predikant dit sal deurwerk en bestudeer.

Vir wie is die dokument dus bedoel? Waarskynlik vir ’n Algemene Sinode wat dit moet goedkeur, waarskynlik om daarmee die volgende doelwitte te bereik:

Om ’n radikaal nuwe beskouing oor die status van ’n belydenisskrif te gee. As hierdie dokument deur die Algemene Sinode aanvaar word, sal die manier waarop ons belydenisskrifte verstaan en hanteer, vir altyd verander en sal ons waarskynlik met die res van die gereformeerde wêreld uit pas wees. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het reeds geweier om op grond van leerstellige verskille met die N.G. Kerk ’n dokument van ooreenkoms te teken.
Om nuwe en wyer interpretasies van bestaande geloofswaarhede moontlik te maak en te sanksioneer.
Om die bindende karakter van ’n belydenisskrif te onttroon. Daarmee is die quia-aanvaarding van die belydenis van die baan en word die weg voorberei om die Belydenis van Belhar ’n opsionele belydenis te maak. Uiteiendelik sal alle belydenisskrifte opsioneel word met ’n eie(tydse) interpretasie.
Om aan die gereformeerde belydenis en identiteit ’n wyer inklusiwiteit te gee sodat die beginsel van diversiteit tot die uiterste deurgevoer kan word.
Ek het in hierdie reaksie op die dokument slegs op die inleidende opmerkings gekonsentreer omdat die benadering van die opstellers hieruit baie duidelik blyk.
Die sake wat genoem is (en ek vermoed dat daar ook ander probleme uitgewys kan word), maak dit baie duidelik dat hierdie ’n dokument is met soveel angels dat dit onnoembare skade, verwarring en verdeeldheid in die kerk gaan veroorsaak.

In Christus
Prof. Johan Janse van Rensburg

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui