Sinode Wes- en Suid-Kaap stem ja vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende artikel het op Netwerk24 verskyn.

Alhoewel die sinode van Wes- en Suid-Kaap die wysiging van Artikel 1 aanvaar het, het ander sinodes reeds nee gestem, dus kan die NGK nie meer Artikel 1 aanvaar nie.

************

Belhar: NG Kerk hiér sê ja om Kerkorde te verander

Nielen de Klerk, Woensdag 06 Mei 2015 19:53

Met ’n tweederdemeerderheid het die sinode van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap Woensdagaand die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde aanvaar.

Altesame 73,3% (401 stemme) het ten gunste van die wysiging gestem, met 144 afgevaardigdes (26,3%) wat nie die wysiging ondersteun het nie. Twee stembriefies (0,4%) was bedorwe.

Die sinode het die besluit Woensdagmiddag twee en ’n half uur lank gedebatteer, waarna die dominees en kerkraadslede van 229 gemeentes oor die wysiging gestem het.

“Ons vermoedens is bevestig. Dit is baie duidelik die sinode het ’n diep verbintenis tot die Belydenis van Belhar,” het ds. Nelis Janse van Rensburg, die nuwe moderator van die sinode, gesê.

Die wysiging van Artikel 1 sou die Belydenis van Belhar as ’n opsionele belydenisskrif by die belydenisgrondslag van die NG Kerk voeg. Dit is egter nie meer moontlik om die Artikel in Oktober op die algemene sinode te wysig nie omdat die sinodes van die Vrystaat, Noord-Kaap en Namibië nie ’n tweederdemeerderheid ten gunste van die wysiging kon verkry nie. Die kerkregtelike proses vereis dat al tien sinodes van die NG Kerk die wysiging met ’n tweederdemeerderheid aanvaar.

Op die sinode van die Wes- en Suid-Kaap het die afgevaardigdes ook die volgende mosie met ’n oorgrootte meerderheid aanvaar: “Die sinode handhaaf die oortuiging dat die Belydenis van Belhar in ooreenstemming is met die Woord van God en as belydenisskrif in die belydenisgrondslag van die NG Kerk opgeneem moet word, ingevolge die 2011-besluit van hierdie sinode en die 2011-besluit van die algemene sinode.”

Die kruks van die sinode se stem lê juis in dié mosie, meen dr. Braam Hanekom, voormalige moderator van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap.

“Die feit dat bykans die hele sinode vir hierdie punt gestem het, wys vir ons hoe sterk ons oor die Belydenis voel. Ek is van mening dat heelwat van die mense wat op die ou einde teen die wysiging vir Artikel 1 gestem het, dit gedoen het uit ’n diep oortuiging dat die Belydenis van Belhar nie as ’n opsionele belydenisskrif aanvaar moet word nie.”

Janse van Rensburg het gesê dit is nie ’n verleentheid as dominees of teoloë met mekaar verskil nie.

“Meningsverskil in die kerk is nie ’n klad op die naam van die kerk nie. Dit is juis deel van die getuienis van die kerk, dat ons verbondenheid aan Christus, ons Hoof, sterker is as ons verskille,” het Janse van Rensburg gesê.

Verdere voorstelle oor hoe om ruimte te skep vir mense wat wel die Belydenis van Belhar wil aanvaar, sal Donderdag bespreek word.

Een van dié voorstelle aan die algemene sinode is dat elke sinode self kan besluit oor die belydenisskrifte wat hulle deel van hul belydenisgrondslag wil maak.

*********

‘Elke sinode van NGK moet self sê’

‘Dis ’n pynlike geboorteproses’

(Netwerk24)

Deur Nielen de Klerk, Vrydag 08 Mei 2015 03:30

Die Algemene Sinode loop vandag ten einde. Foto: DEON RAATH

Elke sinode moet self besluit oor die belydenisskrifte wat hy deel van sy belydenisgrondslag wil maak.

Dít is een van die versoeke wat die sinode van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap in Oktober aan die algemene sinode gaan rig.

Die sinode, wat die afgelope week by die Goudini Spa in Rawsonville sit, het gister bespreek hoe om ruimte te skep vir predikante, lidmate en kerkvergaderings wat die Belydenis van Belhar as belydenisskrif wil aanvaar.

Die sinode het Woensdagaand die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde met ’n tweederdemeerderheid aanvaar.

Dit is egter nie meer moontlik om dié wysiging by die algemene sinode in Oktober te bekragtig nie omdat al tien sinodes dit eers met ’n tweederdemeerderheid moet aanvaar.

Die Wes-Transvaalse sinode kon gister, soos dié van die Noord-Kaap, Vrystaat en Namibië, nie die tweederdemeerderheid behaal nie.

Dr. Quintus Heine, aktuarius van die moderamen, het gesê die sinode van NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap stel hiermee aan die algemene sinode ’n proses voor “dat ons met mekaar in gesprek kan bly”.

Dit was nog nooit maklik om ’n belydenisskrif te aanvaar nie, het ds. Nelis Janse van Rensburg, die nuwe moderator van die sinode, aan die afgevaardigdes gesê. “Die aanvaarding was nog altyd ’n pynlike geboorteproses.”

Hy het gesê die pyn wat daarmee gepaardgaan, is ook ’n aanduiding van “die egtheid” waarmee die NG Kerk dit benader.

Hy het kerkleiers gemaan om hul lidmate se besluite te verstaan en verdraagsaamheid uit te straal.

“Daar is baie van ons lidmate wat die inhoud van hierdie belydenis glo, maar om ’n verskeidenheid van redes nie glo dat dit ’n belydenis moet wees nie. Ons moet nie die lidmate wat sê dat hulle dit nie aanvaar nie, hanteer asof hulle summier daarteen is nie.”

Lees ook:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui