Wes-Transvaal stem nee vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Netwerk24 verskyn.

*********

‘Kerk moet ook doen, nie net praat nie’

Deur Claudi Mailovich, Vrydag 08 Mei 2015 03:40

“Dit moet regtig vanuit geloofsoortuiging wees dat ek stem wat ek stem.”

-ds. Norma Rossouw, moderator van die sinode van Wes-Transvaal

“Ons ly aan teologiese vetsug. Jy word van die dag van jou geboorte af oorpreek.”

Die NG Kerk moet begin dóén en nie net mooi verklarings uitreik nie, het ds. Kenneth McKenzie van die NG gemeente Muldersdrift Donderdag gesê ná die gespreksessie wat gevolg het op die buitengewone sitting van die Wes-Transvaal-sinode.

Die sinode het op die sitting met 155 stemme teenoor 116 stemme teen die wysiging van kerkorde-artikel 1 gestem.

Kragtens die wysiging sou die Belydenis van Belhar as opsionele belydenisskrif deur kerke opgeneem kon word.

Ander sinodes het reeds vroeër nee gestem en die nodige tweederdemeerderheid om die wysiging deur te voer, sal nie behaal word nie. [Kyk NGK Belhar stemresultate 2015.]

Die sinode is ná die stemming gevra watter soort kerk hulle benodig.

Van die ander afgevaardigdes het ook gemeen die kerk moet op voetsoolvlak bedrywig wees; dat daar minder gepraat moet word en God se liefde prakties uitgeleef moet word. ’n Ander antwoord was dat ’n kerk nie lomp moet wees nie, maar vinnig moet dink en vinnig moet doen.

Ds. Jannie Pelser van die gemeente Rant en Dal het in sy spreekbeurt gesê dié gesprek moes voor die stemming gehou gewees het.

“Ons gaan niemand boelie oor hoe om te stem nie. Dit moet regtig vanuit geloofsoortuiging wees dat ek stem wat ek stem,” het ds. Norma Rossouw, moderator van die sinode van Wes-Transvaal gesê. Sy glo die afgevaardigdes het wel vanuit daardie geloofsoortuiging gestem, maar dat die gesprek nie gaan ophou nie.

“Belydenisgesprekke kan nooit ophou nie. Dit is mos nou hoekom die kerk daar is.

“Ek dink nie die gesprekke sal nou ewe skielik stop nie, maar dit gee ruimte vir ouens om te kan voortgaan met ’n gesprek.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui