Postmodernisme en ’n nuwe manier van kerkwees

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Die Kerkblad, Julie 2014, verskyn.

*****************

Postmodernisme en ’n nuwe manier van kerkwees

Uit ons vorige gesprekke oor die invloed van die postmodernisme het dit reeds duidelik geblyk dat die filosofie/ideologie van die postmodernisme ook die kerk van Jesus
Christus nie onveranderd gelaat het nie. Die omvang van hierdie invloed begin nou eers duidelik word. Dit is nie net die evangelie en die aard van die sendingtaak wat daardeur
beïnvloed word nie, maar ook die manier van kerkwees. In die teologie verwys ons hierna as die ekklesiologie – die leer aangaande die kerk.

Dit is belangrik om te verstaan dat ons nie hier maar net van verandering ter wille van verandering praat nie, maar van ’n ideologiese fundering van verandering. Die postmoderne beginsels van relativisme het ’n paar ingrypende konsekwensies gehad.

Allereers het die sogenaamde poststrukturalisme daartoe gelei dat vaste strukture en vaste maniere van dink en doen verwerplik geword het, ook vir die kerk. Die wyse waarop gevestigde kerke wêreldwyd tot nou toe ingerig is en gefunksioneer het, word in ’n postmoderne era beskou as die vestiging van magstrukture wat in ewige en vaste vorms gegiet is.

Die struktuur van die kerk as instituut word vergelyk met ’n brug wat op ’n strategiese plek gebou is, maar toe die perfekte storm kom, is die loop van die rivier gewysig. Nou staan die brug hoog en droog en funksieloos op ’n plek wat irrelevant geword het. Volgens hierdie teorie het die kerk op so ’n irrelevante plek beland. Tensy daar radikale veranderinge kom, nie net in die boodskap nie, maar ook in die manier van kerkwees, sal die kerk kwyn en verdwyn. So word beweer.

Vooraanstaande teoloë in Amerika en in Suid-Afrika is daarom geweldig krities teenoor kerkgeboue, kerkrade, kerklike vergaderings en kommissies, finansiële begrotings en veral die pogings om ’n kerk of plaaslike gemeente in stand te hou. Instandhouding word as ’n selfdestruktiewe strategie beskou. Volgens hulle moet die oplossing eerder in uitbreiding gesoek word.

In hierdie konteks word die nuwe missionale benadering, waaroor ons die vorige keer geskryf het, op ’n byna obsessiewe wyse beklemtoon. Selfs die Bybelse gebruik om eredienste te hou, word as ’n metode van geestelike selfverryking gekritiseer. Die term “churchianity” het nou gewild geword om mense wat elke Sondag eredienste bywoon, van gemaksugtigheid en skynheiligheid te beskuldig. Met hulle kerkklere en stigtelik luister is hulle ver van die Jesus van die Bybel verwyder en is hulle ook vir Hom onaanvaarbaar. Om uit te gaan, na ander uit te reik en mense in nood te help, is elke ware Christen se taak, volgens hierdie standpunt.

Konferensies word met oorsese sprekers gehou wat reeds op hierdie manier van kerkwees ingekoop het, om ’n ander struktuur aan die kerk te gee. Die “gonswoord” en tema is
nou kerkplanting[1]. Kerke moet eerder uitgaan om nuwe kerke te stig as om hulle eie strukture in stand te hou of met eredienste te volhard. Dit klink natuurlik baie goed en ’n
mens sou in sekere opsigte dit selfs met die Nuwe-Testamentiese kerk kon vergelyk. Trouens, dit is juis waarvoor hierdie teoloë pleit – om na die eenvoudige en poststrukturele
manier van kerkwees in die Bybelse tyd terug te keer.

Daar is egter ’n radikale verskil. Die beginsel van verandering en die verwerping van vaste maniere van wees, dink en doen staan só voorop dat die klem op die suiwer evangelie
vervaag het. Nie die leer van die kerk nie, maar die vermoë om mense in nood te help en alle mense in die kerk welkom te maak, word beklemtoon. Daarom word heftige
kritiek teen denominasionele verskille uitgespreek. Kerke wat hulle denominasionele identiteit wil behou, verabsoluteer hulle eie leerstellings en verstaan van die Skrif. Dit is in ’n
postmoderne era nie langer aanvaarbaar of haalbaar nie.

In hierdie opsig is dit belangrik om die geweldige aanval op gereformeerde kerke en gereformeerde identiteit helder en duidelik te verstaan. Die verwerping van dogmas en die beklemtoning van relativisme impliseer noodwendig dat belydenisskrifte al hoe meer onder kritiek deurloop en as ’n onaanvaarbare deel van uitgediende maniere van kerkwees beskou word. Nuwe belydenisse, byvoorbeeld die Belydenis van Belhar, moet eerder op sosiale geregtigheid fokus as om die leer apologeties te verdedig.

Presies binne hierdie kader word daar nou ook kritiek teen oor die Reformasie en reformatore uitgespreek. Een bekende teoloog skryf dat die Reformasie in wese betekenisloos was, omdat dit “business as usual” was. Kerklike strukture en maniere is volgens hierdie teoloog maar net ná die Reformasie in stand gehou. Die reformatoriese klem op Christus alleen, die Skrif alleen, genade alleen en geloof alleen word as dogmatiese bemoeienis beskou, terwyl dit nie genoeg was om die kerk vir die wêreld relevant te maak nie.

Genoeg is geskryf om aan te dui hoe daar vir die kerk nuwe strukture en ’n totaal nuwe manier van kerkwees voor geskryf word. Wat hier kursories aangedui is, kan met volledige bewyse en aanhalings uitgebrei word, maar daarvoor sal veel meer as die ruimte vir ’n artikel in Die Kerkblad nodig wees. Die vraag bly egter hoe ons teologies hierop moet reageer.

Waarskyn sal die eerste reaksie wees om te wonder of dit alles regtig met postmodernisme te doen het. Ongetwyfeld. Wanneer prof. Nelus Niemandt hierdie nuwe manier van kerkwees as “nuwe drome vir nuwe werklikhede” aanprys, koppel hy dit alles direk aan die postmodernisme. Hy meen dat die modernisme eerder verwerp moet word as die postmodernisme. Die beklemtoning van leersuiwerheid word as ’n restant van die modernisme gesien. Hieruit vloei dan die stelling dat waarheid nie in leerstellings is nie, maar in verhoudings.

As ons tweedens onthou dat vaste strukture en denominasionele onderskeidinge in die gees van die postmoderne post strukturalisme aangeveg word, is dit glad nie verrassend
of verbasend nie dat daar veral in Amerika en nou ook in Suid-Afrika ooglopend na die Rooms-Katolieke Kerk geflikflooi word. In een van die onlangse uitgawes van Kerkbode, die amptelike koerant van die NG Kerk, is daar ’n hele paar artikels oor die Rooms-Katolieke Kerk, die pous en die stap van ’n doolhof met kerse en gebed stasies. In ’n opvolguitgawe van Kerkbode vra die moderator of dit nie tyd geword het om biskoppe in die NG Kerk te hê nie.

Denominasionele grense vervaag en die gereformeerde ekklesiologie word duidelik deur hierdie tendense aangeveg. Hiermee word ’n nuwe inhoud gegee aan die wyse waar op die kerk haar ekumeniese verbande uitleef. Denominasionele verskille word ter wille van nadere ekumeniese uitdrukking op die ys geplaas. As dit alles op groot skaal in kerklike maniere van wees en doen ingelaat word, sal die kerk radikaal anders daaruit sien as wat dit tans die geval is.

Myns insiens is dit nie moeilik nie om te verstaan dat hier die tendense met die ideologie van die Nuwe Erabeweging verband hou, wat alle godsdienste gelyk wil stel, grense tussen mense en nasies wil uitwis om uiteindelik ’n utopia van broederskap onder alle mense te vestig. Mathew Fox, die bekende Nuwe Era-guru, het reeds in Amerika ’n nagmaal gehou waarin alle gelowe verwelkom is. Hy het dit ’n “cosmic mass” genoem en ’n video-opname daarvan kan op internet besigtig word. Wees egter gewaarsku: dit is ontstellende kykmateriaal vir ’n gereformeerde hart. Hier te lande is daar in dieselfde trant ook reeds versoeke dat nagmaal aan alle mense bedien moet word om hulle wel kom te laat voel, ongeag of hulle in Christus glo. Die slagspreuk wat nou gewild geword het, is: “First belong, then believe.”

Daar kan natuurlik nog soveel gesê word. In ’n eerlike en objektiewe evaluering sal ons inderdaad nie net negatief moet reageer nie. In die nuwe uitdagings vir die kerk en die soms vreemde nuwe dinge wat op die kerk se agenda kom, sal ons die vermoë moet ontwikkel om teologies te analiseer. Ons sal geestelike dapperheid nodig hê om nie op populistiese wyse agter elke nuwe gier van vernuwing aan te gaan soos tans die geval is nie. Dit is selfs skokkend om agter te kom hoe gewild sommige van hierdie idees al binne die kerk geword het. Ons sal egter ook die geestelike dapperheid moet hê om te erken waar die kerk nie meer in haar taak slaag om Jesus Christus se kerk in hierdie postmoderne wêreld te vestig nie.

Dit is ironies dat die motivering wat vir hierdie strukturele revolusie aangevoer word, die behoud van die kerk is. As die kerk nie verander nie, word uitgeroep, sal die kerk nie die perfekte storm oorleef nie. Alles wat egter as deel van die veranderende vernuwing van die kerk aangebied word, vernietig dan juis elke beginsel van kerkwees soos ons dit in die Skrif terugvind! Dit is immers betekenisvol dat Rob Bell ná die publikasie van sy boek Love wins, waarin die kern van hierdie strukturele vernuwing uitgespel word, 3 000 lidmate van sy megakerk verloor het, omdat mense verkies het om eerder by die geopenbaarde Skrifwaarhede te bly!

As ons moet verander, moet dit met die Skrif as finale norm versoenbaar wees, sonder om die evangelie op enige manier te bedreig of te kompromiteer. Immers, kerkwees is in die laaste instansie God se sending na hierdie wêreld. Die kerk is die liggaam van Christus en nie een of ander sosiale organisasie nie.

Voetnotas

[1] Kyk Why Jesus never commanded us to plant churches.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui