NG Kerk staan by sy siening van die huwelik

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Rapport verskyn (skakel). Dit het ook in Beeld verskyn.

****************

NG Kerk staan by sy siening van die huwelik

2006-10-14

MARLENE MALAN

Vir die NG Kerk is die Christelike huwelik steeds “die verbintenis tussen een man en een vrou”.

Dié kerk beskou homself ook steeds as beskermer van die Christelike huwelik en sal hom uitspreek teen enigiets wat dié instelling bedreig.

Christene moet egter onthou “die Bybel is nie bo die Grondwet verhewe nie”, hoewel die Woord van God vir hulle die hoogste gesag is.

“Dis jammer sommige Christelike groepe eis die morele hoë grond op deur hulle op ’n Bybelse standpunt te beroep in hul uitlatings hieroor en oor ander burgerlike verbintenisse,” het die NG Kerk-leiers drr. Ben du Toit en Kobus Gerber die afgelope week in hul voorlegging aan die parlementêre komitee oor die Huwelikswet en Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse gesê.

Du Toit is parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk en Gerber sekretaris.

Du Toit het aan Rapport gesê hy neem kennis van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se distansiëring van die voorlegging weens die NG Kerk se standpunt oor gay-verbintenisse, “maar daar moet onthou word dat ’n voorlegging aan ’n parlementêre komitee inhoudelik verskil van ’n sinode-aanbeveling. Op ’n kerkvergadering is die Bybel en ons belydenis-tradisie die maatstawwe waarop ons standpunte grond. In ’n parlementêre voorlegging is ons basisdokument die Grondwet.”

Volgens Du Toit moet die kerk dié wetsontwerp kragtens die Grondwet beoordeel en die parlement probeer oorreed om die Huwelikswet só te hersien “dat één wet alle mense se regte te midde van verskeie beskouinge gelyk hanteer”. “Dit moet die Christelike huwelik erken, maar ook verbintenisse soos tussen Jode, Hindoes, Moslems, mense in Afrika-godsdienste en mense van dieselfde geslag.

“Vir ons moet die begrip ‘Christelike huwelik’ nie verander nie.”

Volgens Du Toit en Gerber beskou die Marriage Alliance (MA) die voorgestelde wetgewing – wat homoseksuele verbintenisse op dieselfde vlak as heteroseksuele huwelike stel – as ’n bedreiging vir die huwelik. “Dié vrees is ongegrond, want dit verander niks rakende die bepalinge van die Christelike huwelik nie. Die NG Kerk aanvaar net dat homoseksuele verbintenisse in elk geval uitgeleef word – of die kerk dit erken of nie.”

Anders as sommige partye in die MA staan die NG Kerk ’n monogame verbintenis voor. “Vir baie in die MA kan ’n Christelike huwelik dié tussen een man en meer vroue wees.”

Dis egter moeilik om te besluit wié se morele vertrekpunte in die wetgewing neerslag behoort te vind, sê Du Toit en Gerber in hul verslag.

“Die Huwelikswet definieer tans die huwelik as ’n monogame, heteroseksuele verbintenis tussen een man en een vrou.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui