Kuratorium vra kerke verskoning na studente-klag

*******

Kuratorium vra kerke verskoning na studente-klag | Kerkbode

Kerkbode, 13 Oktober 2006

DIE opleiding aan die Universiteit van Pretoria is steeds Skrifgetrou en Gereformeerd in ooreenstemming met die aanvaarde Gereformeerde beskouings oor die Skrif, die belydenisskrifte en, in soverre dit die studente van die NG Kerk raak, met die besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode.

Só sê die dagbestuur van die Kuratorium van die NG Kerk van Transvaal in ’n verklaring wat in Pretoria uitgereik is. Die voorsitter van die Kuratorium, dr Kobus Gerber, en die predikant vir Teologiese Opleiding, dr Flip du Toit, sê die Kuratorium is dankbaar dat die drie dosente aan die Universiteit van Pretoria wat van leerdwalings aangekla is, vrygespreek is. Die betrokke dosente se sake is hanteer deur die Ring van Pretoria-Oos, in die geval van proff Jurie le Roux en Julian Müller, en die Ring van Pretoria Faerie-Glen, in die geval van prof Dirk Human. Die Kuratorium sê hulle is dankbaar dat hierdie uitsprake die vertroue wat die Kuratorium nog altyd in al die dosente gehad het, herbevestig het.

Die Kuratorium het ook die Hervormde Kerk en die studente van die Presbiteriaanse Kerk wat by die saak betrek is, om verskoning gevra. Die teologiestudent wat die klag teen die dosente ingedien het, Ferdie Mulder, is in ’n dissiplinêre saak skuldig bevind aan oneerlikheid op verskeie klagtes, maar het nie om verskoning gevra nie.

In die verklaring sê die Kuratorium hulle verklaar graag met oortuiging dat teologiese opleiding so goed moontlik moet geskied op so ’n wyse dat dit predikante voorberei om gemeentes en die wye verskeidenheid lidmate effektief te bedien.

Die Kuratorium sê hoewel elkeen die reg het om vrae te vra oor die regsinnigheid van die teologiese dosente aan die Universiteit van Pretoria, is dit jammer dat die saak nie in ’n gees van broederlike gesprek kon plaasvind nie.

-jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui