NG Kerk sê nee vir dié vergadering oor gays

Die volgende artikel in Rapport sê basies dieselfde as die artikel vroeër die week in Kerkbode.

Dit is baie opvallend dat Nelis baie akkommoderend wil wees. Hy wil baie sterk voorgee dat hy die Kairos Netwerk (KN) tegemoed wil kom:

“Ek kan elke gemeente wat deel is van die Kairos Netwerk verseker dat ons hul besware ernstig opneem. Ons gaan dit ordentlik en konstruktief hanteer en ruimte op ’n kerkordelike wyse identifiseer waarbinne ons almal kan funksioneer.”

Maar dan sê hy ook:

Janse van Rensburg sê daar moet ook ruimte bestaan vir lidmate en gemeentes wat baie gelukkig oor die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings is omdat dit vir hulle ruimte geskep het om volgens hul oortuigings op te tree.

Dit is egter ’n totale onmoontlikheid. Jy kan nie beide partye gelukkig hou nie. Die een party wil ruimte hê en die ander party wil nie ruimte daarvoor maak nie. Daar is geen manier van versoening nie.

Maar dit lyk tog of die KN daarvoor val. Daar word soos volg berig:

Behoudende gemeentes beskou dit as ’n deurbraak. [Dat die kerkorde moontlik aangepas sal word.]

Hulle vertrou dat beleidsbesluite soos die een oor selfdegeslagverhoudings uiteindelik nie bindend vir almal sal wees nie.

“Ons is tevrede dat al ons verskille oor teologiese opleiding, Skrifbeskouing en –interpretasie en kerkordelike prosesse deur die ASM hanteer is en daar erns is om oplossings te vind om verdere onenigheid en kerkskeuring te keer.

“Ons is veral positief dat die ASM die huidige samestelling en strukture van die kerk wil ondersoek sodat daar wegbeweeg kan word van die ou hiërargie na ’n stelsel van ander soort netwerke.”

Dit is baie vreemd dat Pieter Breytenbach sê dat hy vertrou dat beleidsbesluite soos die een oor selfdegeslagverhoudings uiteindelik nie bindend vir almal sal wees nie. Dit feit is dat dit nog altyd baie duidelik was dat die 2019-besluit NIE bindend is nie.

*********

NG Kerk sê nee vir dié vergadering oor gays | Netwerk24

Deur Johan Eybers

07 Maart 2021

Die NG Kerk se leiers het eenparig ’n versoek van behoudende gemeentes van die hand gewys om ’n buitengewone vergadering van die algemene sinode te belê om weer te besin oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM), wat uit kerkleiers van al die streeksinodes bestaan, het Woensdag tydens ’n aanlyn vergadering teen ’n versoek daarvoor van die Kairos Netwerk (KN)-drukgroep gestem.

Dit volg op ’n vergadering twee weke gelede tussen die sentrale werkgroep van die Kairos Netwerk en ’n afvaardiging van die ASM om dolerende gemeentes se “diepgaande verskille” met die AS te bespreek.

Die Kairos Netwerk verteenwoordig die meeste van die 71 gemeentes wat sedert 2019 gedoleer het om te “treur oor die kerk wat afdwaal”.

Die Maclear-gemeente in die Oos-Kaap is die jongste gemeente wat (verlede Dinsdag) gedoleer het.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die kerk, sê die algemene gevoel was dat ’n buitengewone vergadering uiters verdelend kan wees en daarom nie die regte ding is om te doen nie. Die ASM het wel sy ooreenkoms met die Kairos Netwerk bekragtig om aanpassings van die kerkorde te ondersoek sodat gemeentes nuwe netwerke kan stig wat oor bepaalde sake eendersdenkend is.

Behoudende gemeentes beskou dit as ’n deurbraak.

Hulle vertrou dat beleidsbesluite soos die een oor selfdegeslagverhoudings uiteindelik nie bindend vir almal sal wees nie.

Janse van Rensburg sê die klem is om ’n missionale, kerkordelike vernuwing te bewerkstellig wat aanpasbaarder is sodat meer gelowiges by die NG Kerk kan inskakel. Hy sê daar is ’n swart gemeente in Khayelitsha wat by die NG Kerk wil inskakel, maar hulle weet nie wat die gemeentelede se kerklike agtergrond is en wie gedoop is nie.

Daar is ook gemeentes wat nie ’n kerkgebou gebruik nie.

“Ons wil ruimte skep vir meer gestaltes in die kerk. Daarom is die gesprek oopgemaak om die kerkorde aan te pas sodat dit soepeler is.”

Janse van Rensburg sê die ASM se verwerping van die voorstel vir ’n buitengewone vergadering moet nie verkeerd geïnterpreteer word nie.

Ek kan elke gemeente wat deel is van die Kairos Netwerk verseker dat ons hul besware ernstig opneem. Ons gaan dit ordentlik en konstruktief hanteer en ruimte op ’n kerkordelike wyse identifiseer waarbinne ons almal kan funksioneer. Eenheid hang nie daarvan af of ons saamstem nie. Niemand hoef die kerk te verlaat nie.”

Janse van Rensburg sê daar moet ook ruimte bestaan vir lidmate en gemeentes wat baie gelukkig oor die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings is omdat dit vir hulle ruimte geskep het om volgens hul oortuigings op te tree.

’n Taakspan het verlede jaar ’n meningspeiling onder predikante gedoen waarin twee derdes van die respondente die beginsel van die 2019-besluit ondersteun het. Sowat 17% het nie daarmee saamgestem nie.

Die Kerkbode het Donderdag berig dat daar tydens die ASM se vergadering kritiek uitgespreek is oor ’n verslag wat oor die vergadering met die Kairos Netwerk opgestel is. Die verslag bevat onder meer ’n stelling dat “duisende lidmate die kerk sal verlaat” indien ’n buitengewone sinodevergadering nie plaasvind nie.

Prof. Nadia Marais van die Universiteit Stellenbosch het gesê haar frustrasie is die manier waarop die verslag bewoord is en dat daar van die kerk verwag word om verantwoording aan die Kairos Netwerk te doen.

“Ek kan nie dink in die laaste tien jaar wat ek by die dogmatologiese werkgemeenskap betrokke is dat ek enige van hierdie persone wat besware opper en verwoord daar gesien het nie.

“Dit is ’n frustrasie, dink ek, wanneer ons hierdie gesprekke op hierdie manier voer en dit voel half dit is ’n drukgroep wat die kerk in ’n bepaalde rigting wil druk, maar dit is nie regtig ’n ruimte waar ons krities teologies mekaar kan ondersoek nie. Dit is so half eenrigtingverkeer,” het Marais gesê.

Pieter Breytenbach, bedryfshoof van die Moreletapark-gemeente en hoof van die Kairos Netwerk, sê hy het nog geen amptelike terugvoering van die ASM oor sy vergadering ontvang nie en die besluit is nog nie deur die Kairos Netwerk se lede bespreek nie.

Hy sê hy verstaan wel uit die kerk se leiers se perspektief dat dit moeilik sou wees om ’n buitengewone vergadering uit te roep.

“Ons is tevrede dat al ons verskille oor teologiese opleiding, Skrifbeskouing en –interpretasie en kerkordelike prosesse deur die ASM hanteer is en daar erns is om oplossings te vind om verdere onenigheid en kerkskeuring te keer.

“Ons is veral positief dat die ASM die huidige samestelling en strukture van die kerk wil ondersoek sodat daar wegbeweeg kan word van die ou hiërargie na ’n stelsel van ander soort netwerke.”

1 thought on “NG Kerk sê nee vir dié vergadering oor gays”

  1. “…drukgroep wat die kerk in ’n bepaalde rigting wil druk…Dit is so half eenrigtingverkeer,” het Marais gesê.” Regtig?! Ek moes net weer lees om seker te maak die Prof nie eintlik verwys na die laaste algemene sinode vergadering…of laas paar jaar in die kerk nie, maar nee, sy’t verwys na die KN. Dis nogal humoristies.

    Op ’n meer ernstige noot, ek weet die KN se (huidige 2de) doelwit is om “alle besluite van die NG-kerk se Algemene Sinode wat in stryd is met die Bybel nietig maak” …maar ek verstaan nie hoe die kerkorde aan te pas of verander regtig dit te weeg gaan bring nie. Miskien is ek kortsigtig of te haastig?

    bron: https://moreletakairos.net/waarmee-is-ons-besig/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui