Kairos Netwerk Nuusbrief – 8 Mrt 2021

Vir die volledige agtergrond, kyk die volgende:

******

Beste vriend(in)

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse!
Terugvoer van die ASM

Soos u reeds bewus is het die Kairos Netwerk met ‘n afvaardiging van die Algemene Sinode Moderamen [ASM] vergader. Die ASM verteenwoordigers het daarna sekere voorstelle aan die volledige ASM voorgelê vir besluitneming. Hieronder volg die terugvoer vanaf die ASM:

Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het op 3 Maart 2021 vergader. Tydens hierdie vergadering het die afgevaardigdes van die ASM na die gesprek met Kairos Netwerk op 22 & 23 Februarie 2021 verslag gedoen oor die gesprek met Kairos Netwerk. In die verslag is vermeld dat Kairos Netwerk versoek het dat ‘n buitengewone algemene sinode gehou word met die oog op die herroeping van die algemene sinode van 2019 se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Die ASM het die versoek oorweeg en besluit om nie die versoek toe te staan nie.

Die volgende besluit is egter voortvloeiend uit die gesprek van 22, 23 Februarie met Kairos Netwerk geneem:

  1. dat die ASM die ATR (algemene taakspan regte) versoek om dringend verdere aandag te gee aan die voorstelle oor missionale kerkordelike vernuwing;
  2. dat die ATR versoek word om ook ondersoek te doen na die moontlikheid van nuwe netwerke van gedeelde oortuigings binne die raamwerk van die kerk se belydenis en orde;
  3. dat die ATR versoek word om onder meer die sinodes, die Kairos Netwerk, asook kundiges te betrek by verdere gesprekke 1. en 2.;
  4. dat die ATR versoek word om bg proses as dringend en spoedeisend te hanteer;
  5. dat die Algemene Kuratorium versoek word om enige belangstellende belangegroep, insluitende die Kairos Netwerk, te betrek by die verdere besinning oor teologiese opleiding en gesprekke oor prosesse om die beste opleidingsuitkomste te behaal;
  6. dat die ASM ‘n mandaat gee aan sy afvaardiging om verdere gesprekke te voer met verteenwoordigers van die Kairos Netwerk indien dit nodig blyk te wees.

Lede van die ASM het positief op hierdie voorstelle reageer en die besluit is met welwillendheid aanvaar. Die ASM sien daarna uit om met u en ander belanghebbendes gesprek te voer en die moontlikhede te verken wat uit bostaande besluite kan voortvloei.

Die ATR en Algemene Kuratorium sal verder met u skakel met die oog op u voortgesette deelname aan ons gesprekke en dus die uitvoering van die besluite van die ASM.

Die KN werkgroep het wel die terugvoer ontvang maar beplan om te vergader 10 Maart 2021 (datum en tyd moet gefinaliseer word) om die terugvoer en moontlike aksies rakende die terugvoer te bespreek. Ons wou egter vir u as netwerklede inlig wat die besluit is sodat u nie afhanklik is van wat die media publiseer nie. Hierdie bly ‘n belangrike saak en word ‘n beroep op u gedoen om dit asseblief met die nodige sensitiwiteit en oorleg te hanteer. Vanaf die KN werkgroep versoek ons asb. die volgende van u as leser:

  1. respekteer asb die amptelike media kommunikasiekanale wat deur die KN geskep is; en
  2. dat ons u nooi sodat elkeen wat wil, sy/haar kommentaar verkieslik voor Woensdag 10 Maart 2021 om 12h00 kortliks skriftelik – (nie meer as 1 A4 bladsy nie) per epos (info@moreletakairos.net) aan ons sal stuur. Ons wil graag julle insette kry wat ons vorentoe kan help fokus. Laat insette tot Vrydag 12h00 sal ook oorweeg word.

Soos in die verlede gee ons weer terugvoer na die vergadering. Ons doen dus ‘n dringende beroep op u as lede om te bid vir die vergadering sowel as die pad vorentoe.

Seëngroete,

KN Redaksie
KN sentrale werkgroep

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui