NG Kerk-Goudland: ‘Wat word van dominees wat nié wil skeur nie?’

*******

NG Kerk-Goudland: ‘Wat word van dominees wat nié wil skeur nie?’ | Netwerk24

Jana Marx

11 November 2019

Meningsverskille het aan die lig gekom oor die besluit van die NG Kerk se sinode Goudland – die ou Wes-Transvaal – om binnekort op ’n buitengewone sinode te stem oor of daar uit die kerk weggebreek moet word oor die gay-kwessie.

“Dis asof jy ingeboelie word,” sê ds. Eon Coetzee van die NG gemeente Vanderbijlpark-Suid, een van die predikante wat nié saam met sy streeksinode uit die NG Kerk se algemene sinode (AS) wil tree nie.

Die sinode Goudland is nie geneë tot die AS se besluit oor homoseksualiteit wat in Oktober geneem is nie.

Dié streeksinode, wat uit 148 gemeentes in Noordwes en Gauteng bestaan, oorweeg dit nou om weg te skeur.

“Die AS se besluit is nou juis nie ’n bindende of dwingende besluit nie. Dit skep regtig ruimte vir almal. Sê nou Goudland breek weg en daar is net 40% of 30% van dominees wat nie saamstem nie, wat maak hulle nou met ons? Jy sit met dominees wat sielsongelukkig is, omdat hulle nie ’n eie standpunt kon inneem nie. Tug jy hulle nou?”

Voorheen is berig die AS se sogenaamde gay-besluit maak voorsiening vir ’n verskeidenheid menings oor homoseksualiteit. Daarvolgens kan kerkrade self besluit of hulle gay predikante wil beroep en selfdegeslagverbintenisse wil bevestig.

Maar die sinode Goudland het na dié besluit “meer as 40 briewe en besware” van sy gemeentes oor die saak gekry, sê ds. Johan Brink, voorsitter. Daar was volgens hom selfs volledige ringe wat nie saamstem nie.

Dit het gelei tot die sinode Goudland se buitengewone sinodesitting verlede week in Randfontein, waar ’n voorstel vir uittrede ingevolge art. 37 van die Kerkorde gedien het.

Art. 37 maak voorsiening vir ’n streeksinode om volledig uit die AS te tree en sy regte, voorregte en besittings te behou. Maar of dit prakties en geregtelik uitvoerbaar is, is nog ’n ope vraag en party predikante is bekommerd oor dinge soos bevoegdheid, toekomstige beroepbaarheid en ook werknemervoordele soos pensioen.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die AS, het bevestig die AS se moderamen vergader Dinsdag met ’n afvaardiging van die sinode Goudland.

Die streeksinode se buitengewone sinodesitting sal dan op 20 November hervat om oor die saak te stem.

“Baie predikante sê nou: ‘Ag man, dis nie so erg nie. Dit gaan die NG Kerk bly.’ Maar ek stem glad nie saam nie. Gee dit ’n paar jaar, dan is ons ’n hele nuwe kerk,” sê Coetzee.

Ds. Anje Zeeman van die NG kerk Driehoek sê die moontlikheid van ’n skeuring beteken vir haar nie net dat die sinode Goudland nie vir gay predikante en lidmate ruimte maak nie, maar “hulle maak ook nie ruimte vir my (wat nie wil uittree) nie”.

“Wat beteken dit? Tree ons uit met bates, amp en bevoegdheid? Is ek dan nog beroepbaar na ander poste binne die AS?” vra sy.

Ds. Fanus Hansen van die NG kerk Potchefstroom-Oos sê almal in die NG Kerk stem nie oor alles saam nie.

“Maar hoe is dit dat ons mekaar dogmaties (op leerstellige vlak) vind, maar nie eties nie? Ek is baie bekommerd oor die eenheid van die kerk en die getuienis na buite. Ek is ook bekommerd oor jong dominees wat nog 30 jaar in die kerk oor het.”

Brink het by navraag gesê die dagbestuur van die streeksinode gaan nie kommentaar lewer terwyl die gesprek nog onderweg is nie.

Die Kerkregkenners praat

Voormalige aktuarii, waaronder di. Gert Duursema en Johann (Tokkie) Ernst het per brief op ’n vorige berig gereageer en gesê die enigste manier waarop enige predikant van bevoegdheid ontneem kan word, ’n skuldigbevinding by ’n tugverhoor is, of indien die predikant self bedank.

Oor of die sinode Goudland ’n dominee van binne die NG Kerk-verband sal kan beroep as hy uittree, is dié aktuarii positief, aangesien “alle dominees binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie en selfs ook dominees uit ander gereformeerde kerkgenootskappe (met inagneming van spesifieke vereistes wat ’n kerk kan stel) byvoorbeeld die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, ensovoorts, beroepbaar is na enige Nederduitse Gereformeerde gemeente”.

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk, sê egter: “Jy breek nie net weg nie. Jy breek weg met baie goeie redes wat op die Bybel gegrond is.

“Die besluit het ontsaglike regsgevolge en gevolge vir predikante én lidmate. Wat hulle eintlik sê is: ‘Julle, die AS, dwaal. Ons is reg en julle verkeerd, soveel só dat ons nie met julle kan huis hou nie.’ ”

Benewens die moontlikheid dat predikante dalk bevoegdheid kan verloor, is lidmate se lidmaatskap ook in gedrang, sê hy.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui