Moderamen se skynbare onderdrukkende beheer van facebook/kerkbode

Alle vorige eie plasings en die vermoë om nuwes te plaas, is nou van Facebook/kerkbode verwyder.

Facebookers kan wel nog kommentare lewer op plasings deur Kerkbode self, maar toe hierdie verwydering daar bespreek en vrae oor gevra is, is dit ook verwyder.

Henrietta het onderstaande toe op Recommendations daar gaan plaas, wat sekerlik ook binnekort afgehaal sal word.  (Dit is toe in effek later gedoen — lees hieronder.)

 

Henrietta Klaasing -> Facebook/kerkbode/recommendations

“Gewone” mense en NGK-lidmate kon plasings op Kerkbode se Facebook doen – skielik nie meer nie? Die snoer-beheer is erger as in die “ou Suid-Afrika” ;)))

 

Coert Welman

PW Oosthuizen (jammer, dis dalk ’n belediging vir oom PW) en sy sensuurraad moet waak oor die trojaanse perd invloed van die behoudendes wat graag God se Woord verkondig wil sien en hoor in die NGK.

 

Henrietta Klaasing

Gelukkig is die eter (dus ook die elektroniese media) so wyd soos die Heer se genade Coert!

 

Evert Meyer

Ek voorspel ’n redelike duik in hierdie FB blad se page impressions.

 

Hennie Mouton

Ek het onlangs sterk aanduiding gekry dat dit nie Kerkbode se redaksie as sulks is wat eie plasings verwyder en die funksie gestop het nie, maar dat dit besluit is op moderamenvlak. Die skynbare rede is omdat na hul mening die eie plasings en gevolglike kommentare sleg vir die NG Kerk se beeld is, want dit lyk of NG-lidmate “net met mekaar baklei”. Die belangrikheid van teologiese kwessies op grond van die Bybel en met logiese beredenering uit te praat, het hulle blykbaar nie raakgesien nie. Die kans is goed dat Kerkbode se plasings hier dus nou beter van bo bestuur of ten minste beïnvloed gaan word om die moderamen se meer matige maar tog liberale standpunte te bevorder.

 

Hennie Mouton

Omdat ek, soos vele ander, deur Jean Oosthuizen lankal al geblok is om sy bydraes direk te kan lees, plaas ek sy bydrae op Facebook/kerkbode/recommendations nou weer hier:

Jean Oosthuizen skryf: “Ek het niks met die besluit te doen gehad dat daar nie meer gesprek gevoer kan word op KB se FB formum nie. Moet my asseblief nie daarvoor blameer nie.”

Dit bevestig my afleiding wat ek gemaak het oor die moderamen se beheer van die saak.

 

Philip du Toit

Ek is nou deurmekaar. Ek is heeltyd onder die indruk gewone mense kan nie meer plasings maak nie. Hoekom kan ek dan?

 

Henrietta Klaasing

Philip, daar was altyd ’n “muur” (wall) waar ons plasings kon maak, dié is nou weg. Ons misbruik nou eintlik hierdie ruimte wat net vir “voorstelle” (recommendations) bedoel is ;)))

 

Hennie Mouton

Philip, ons kan net nog hier onder Recommendations plasings maak, en dan natuurlik as kommentare op plasings van Kerkbode self.

 

Philip du Toit

O, ek verstaan.

 

Hennie Mouton

Jy sal sien dat selfs die ou eie plasings met kommentare en al verwyder is. Al waar jy nou nog sommige van hulle kan lees is op www.glodiebybel.co.za

 

Henrietta Klaasing

Ek het pas ’n skakel na ’n brief in BEELD geplaas, en dit werk. Daar is egter ander funksies wat nie meer werk nie.

 

Daar is op ’n ander plasing van Kerkbode ook kommentaar gelewer op die dooddrukaksie.  Danie Mouton het vir die moderamen probeer opkom. Kyk:

http://www.facebook.com/kerkbode#!/kerkbode/posts/267273773391355

Die kommentaar hieronder in grys is toe ook verwyder.  Dat Danie Mouton die septer swaai is waar want op www.ngkerk.org.za onder Algemene Sinode onder Leierskap staan:

Voorsitter van die direksies van die Bybel-Media Groep: Ds DW (Danie) Mouton, Posbus 34842, Newtonpark 6055, tel 041 365 3159, faks 041 365 3156/086 692 5208, e-pos danie@ngkok.co.za.

 

Hennie Mouton

Dit lyk of die moderamen se idee van vrede vir julle was om alle eie plasings hier te verwyder.

 

Danie Mouton

Hennie Mouton, die moderamen het werklik niks met Kerkbode se facebookblad en die bestuur daarvan te doen nie. Die bestuur van die blad word in ooreenstemming met die beleid van Tydskriftemaatskappy se direksie gedoen.

 

Hennie Mouton

Danie, ek sal dit glo as mens sodanige eerlike verklaring van die Tydskriftemaatskappydireksie kan kry, maar ek weet tenminste sommige in die moderamen het die eie plasings as ’n slegte beeld vir die NG Kerk gesien, en dit is gesê net voor die eie plasings hier verwyder is. Bloot toevallig?

 

Danie Mouton

Hennie, hier volg eerlike kommentaar: die tydskriftemaatskappydireksie bestuur Kerkbode. Die besluit om Kerkbode se facebookblad anders in te rig, is die direksie se besluit. Die direksie verteenwoordig Kerkbode se beste belange. Van die direksielede is professionele mediapraktisyns. Daar was of is geen formele of informele druk van die moderamen nie – ook nie oor die eie plasings nie. Kerkbode is bekend vir ’n krities-lojale verhouding met die NG Kerk, iets wat steeds deur die direksie hoog geag en deur die moderamen gerespekteer word. Kerkbode is niemand se beeldpoetser nie.

Kerkbode laat steeds eie plasings onder aan skakels na berigte toe, waaraan jy self hier meedoen. Moontlik is jy daarvan bewus dat groot koerante in SA selfs hierdie funksionaliteit op hulle webtuistes gekanselleer het.

 

Hennie Mouton

Kerkbode laat nie nou meer toe wat ek eie plasings genoem het nie — hulle laat net kommentare op hul plasings toe. Met ander woorde, lesers kan geen nuwe plasings begin nie. Al waar sommige dit nou nog probeer is onder Recommendations. Ek neem aan die betrokke direksie het dit nog nie agtergekom nie.

 

Danie Mouton

‘n Paar gebruikers het die “Recommendations”-blokkie aanvanklik gebruik om terugvoer oor die afskakel van eie plasings te gee. Daarvoor is daar waardering. Ander gebruik dit – soos jy sê – om nuwe plasings te begin. Hierdie soort plasings word egter afgeskerm, wat beteken slegs die fb-vriende van daardie persoon kan die plasing (of dan “recommendation”) sien. In effek kon die gebruiker dit bloot maar op sy of haar eie muur geplaas het. Die trefwydte is dieselfde.

 

Hennie Mouton

Goed Danie, nou weet almal.

 

Hennie Mouton

Danie, ek neem aan Kerkbode-redaksie (en dan die Tydskriftemaatskappy-redaksie) kan wel nog die Recommendations lees, so die trefkrag is wel wyer as net die “aanbeveler” se facebook-vriende. Dit bly dus ’n manier om met die redaksies te praat.

 

Danie Mouton

Natuurlik is alle terugvoer waardevol, maar die “Recommendations” is bedoel vir persone wat Kerkbode aanbeveel. Stuur liewer ’n e-boodskap aan Kerkbode se redaksie, bv. op facebook, as om via “Recommendations” te probeer kommunikeer.

 

Hennie Mouton

1. Daar sal omtrent niks op Recommendations oorbly as julle alles afhaal wat nie aanbevelings van Kerkbode is nie.

2. ’n E-boodskap aan Kerkbode se redaksie via facebook, maar nie via facebook/kerkbode nie?? Met ander woorde niemand anders moet dit asseblief sien nie? Danie jy dink tog nie die geskiedenis tussen baie lesers hier en Kerkbode is sodanig dat daar enige hoop op die effektiwiteit van sodanige private korrespondensie sal wees nie?

 

Danie Mouton

Hennie, dis mos moontlik om publieke fb-kommentaar op Kerkbode-berigte te plaas. Indien dit nie sigbaar moet wees nie (bv. Recommendations of direkte boodskappe), is daar geleentheid daarvoor, soos hierbo gesê. Moenie dit doen as jy dink dit gaan nie werk nie. Jy is egter welkom om doodgewoon die publieke roete te kies en direk op berigte kommentaar te lewer. Almal kan dit dan sien.

 

Hennie Mouton [verwyder deur Kerkbode]

Mag jy en jou direksies jul dag verder geniet Danie.

 

Hennie Mouton

Baie oulik Danie, ek kan nou, van enkele ure gelede af, net die boonste reël van my en my facebook-vriende se “Recommendations” sien. Maar die redaksielede se eie “Recommendations” kan ek nog ten volle sien. Dieselfde geld vir een van my facebook-vriende. Die dooddrukaksie raak dus al effektiewer. Slegs saamstem-aanbevelings is klaarblyklik eintlik aanvaarbaar. En jy as “voorsitter van die direksies van die Bybel-Media Groep” (volgens www.ngkerk.org.za) is dan die hoofaanspreeklike vir hierdie aksies, want jy het self beweer dat die Tydskrifmaatskappydireksie, wat onder Bybel-Media val, geensins deur die moderamen beïnvloed is ten opsigte van hul plasingsbeleid nie.

 

Danie Mouton

Hennie, die Recommendations-blokkie is seker die mees temperamentele deel van facebook. Sy nukke en grille is nie deel van enige strategie nie. Kyk môre weer wat gebeur. Bygesê, is die doel van die Recommendations-blokkie natuurlik nie dat gebruikers allerlei skakels daar kan plaas nie.

Verder is “dooddrukaksie” nie die regte term nie. Kerkbode gebruik nou sy fb-blad om die enkele dele van gedrukte inhoud van die papierweergawe bekend te stel. Lesers kan vryelik hierop kommentaar lewer. Dit het niks met dooddruk te doen nie.

Wat gebruikers nie (langer) kan doen nie, is om Kerkbode se facebookblad vir hul eie kommunikasiedoelwitte te gebruik nie.

Ek konstateer weer eens dat die Tydskriftemaatskappydireksie op eie inisiatief die plasingsbeleid verander het. Dit volg na monitering en insette deur onder andere professionele mediapraktisyns. Die bedoeling is om Kerkbode se belange ten beste te dien.

Die saak is nou al stofgetrap, en ek hoop ons kan daarvan afstap.

 

Hennie Mouton

Danie, ek het al vantevore probeer afstap van die saak deur aan jou en jou direksies ‘n genotvolle dag toe te wens. Maar die kommentaar is toe verwyder. So nou groet ek jou maar net op hierdie saak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui