Gemeentes bemoedig glo gay proponent

Kyk ook:

Die volgende artikel is oorspronklik in Kerkbode gepubliseer.

***********

Gemeentes bemoedig gay proponent

5 September 2012

Filed under: Nuus,Suid-Afrika Geskryf deur: Jean

KRAAIFONTEIN. – Wit en bruin lidmate van drie gemeentes in die NG Kerkfamilie het ’n gay proponent van die NG Kerk bemoedig met die openhartige manier waarop hulle oor homoseksualiteit praat.

Drie gemeentes in die NG Kerkfamilie wat in ’n tradisioneel konserwatiewe deel van Kaapstad geleë is, het hulle vooroordele opsy geskuif en ’n uitnodiging aan Laurie Gaum gerig om met hulle te kom praat oor die praktiese implikasies wat die Belydenis van Belhar ook op gay-regte het.

Lidmate van die NG Gemeentes Kraaifontein, Kraaifontein-Noord en die VGK-gemeente Kraaifontein het in die VGK se kerkgebou na prop Gaum gaan luister.

Die drie gemeentes hou elke Sondagaand ’n gesamentlike byeenkoms waarheen hulle dikwels sprekers nooi om oor aktuele sake te gesels.

Ds Barend Nel van die NG Gemeente Kraaifontein het aan Kerkbode gesê die gesprek het baie goed verloop. Hy was aangenaam verras deur die rustige manier waarop die groepie lidmate oor so ’n sensitiewe saak met mekaar gesels het. “Dit maak die wêreld se verskil wanneer daar nie net ‘teoreties’ oor mense gepraat word nie, maar wanneer daar van aangesig tot aangesig met mekaar in gesprek getree word oor onderwerpe soos dié,” het ds Nel gesê. Daarom het hy prop Gaum, wat openlik gay is, genooi om self met die gemeentes te gesels. Die res van die kwartaal sal verskeie persone tydens hierdie gesprekke optree en bepaalde aspekte in die Belydenis van Belhar toelig.

Prop Gaum sê hy is bemoedig deur só ’n gesamentlike uitnodiging, en oor die positiewe reaksie. “Mense was gretig om te leer. En bloot die openheid om oor sensitiewe sake te praat, maak my opgewonde oor die toekoms.”
Hy het sy praatjie begin deur die situasie van haatmisdaad teen lesbiese vroue, gay mans en transgender-persone die afgelope drie maande in Suid-Afrika te skets en gesê iets is beslis verkeerd in ’n samelewing wat só reageer op die verskeidenheid in God se skepping.

Volgens hom hang mense se optrede dikwels af van hoe hulle van kleins af geleer is om spesifieke Bybelse gedeeltes te verstaan en te interpreteer. “Maar nou het ons ook al oor ánder dinge geleer dat die manier waarop ons grootgeword het, nie noodwendig die regte manier was nie. Wanneer ons die vernietigende gevolge sien van die wyse waarop ons Bybelse gedeeltes lees, besef ons daar is dringende aanpassings nodig wat die gelykheid van alle mense bevestig. Dit is wat betref die geregtigheidsaspek van die Belydenis van Belhar – en so kan die ander waardes van Belhar ook op gay-regte van toepassing gemaak word.”

Een van die VGK-lidmate het tydens die bespreking sy misnoeë uitgespreek omdat ’n gay teologiestudent van die VGK vyf jaar nadat sy studies suksesvol voltooi is, steeds nie gelegitimeer kan word nie weens daardie kerk se amptelike standpunt oor homoseksualiteit.

Ds Andrew Esterhuizen van die VGK het die hoop uitgespreek dat die verslag oor hierdie sake wat by hulle eerskomende Algemene Sinode dien, die kerk sal help op die weg van liefde en geregtigheid.– jean@tydskrifte.co.za

Kommentare

A Cruywagen
05/09/2012 at 14:23

Wonderlik! Wonderlik! Wonderlik! So rukkie terug by Laurie gekuier. Wonderlike gesprekke gehad en baie baie lekker gekuier.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui