Met vraagteken?

Kyk ook:

*******

Met vraagteken?

Die Bybel, God se Woord? — daarom

Beeld, 26 Maart 2001

Julian Müller

Ja, jy’t reg gelees. Daar staan ’n vraagteken agter die tweede opskrif en nie ’n uitroepteken nie. Waarom? Is daar dan twyfel daaroor dat die Bybel die Woord van God is? Of is dit die bedoeling van hierdie artikel om twyfel te saai?

Die waarheid is dat die twee sake, “Die Bybel” en “Die Woord van God”, nog altyd ’n problematiese samevoeging was. Afgesien van watter ingewikkelde uitsprake teoloë daaroor maak, vir die gewone denkende Bybelleser is dit van tyd tot tyd problematies. Vir niemand van ons is die Bybel altyd eweveel die Woord van God nie.

Maak nie saak wat die dogmatiese uitspraak is nie, ons ervaar soms dat ons deur die Bybel aangespreek word en ander kere weer nie. Ons het ’n paradoks in ons denke oor die Bybel. Ons sê enersyds dat dit die Woord van God is, maar andersyds veroorloof ons onsself die vryheid om dit krities te lees soos enige ander boek.

As dit nog altyd so was, waarom is die tema meteens weer in die brandpunt? Waarom word vanaand se Forum met Ruda in die Andrew Murray-gemeente aan hierdie tema afgestaan?

Die rede is waarskynlik dat ons tevore reeds die paradoks in ons denke oor die Bybel gehad het, maar dat die bespreking daarvan ’n taboe was.

Nou voel ons egter vry om ons nie net oor sekerhede nie, maar ook oor onsekerhede en twyfel uit te spreek.

Ek onthou hoedat op die kanselkleed in die die kerk waar ek grootgeword het, gestaan het SO SPREEK DIE HERE.

En wanneer iemand dit sou waag om die dominee wat van daardie kansel preek te veel te kritiseer, sou die vrome lidmate waarsku dat die “gesalfde van die Here” gerespekteer moet word.

Maar by ander geleenthede kon hulle almal saam lustig kritiseer aan “Ou Dominee” se preke. Die paradoks. Dit is die werksaamheid van die Here, maar dit werk ook nie meganies elke keer nie.

Hierdie paradoks kom ook voor in ons gevoel oor die Bybel as boek. Ons sê vir mékaar dat ons nie Bybelaanbidders is nie. Dit is maar ’n gewone boek wat uit papier en drukkersink bestaan. En tog kry ons swaar om dit as ’n gewone boek te hanteer. Ek het byvoorbeeld ’n kartondoos ou Bybels by die huis en ek sukkel om dit soos ander ou boeke doodgewoon weg te gooi.

Eenkeer het ’n dominee ’n demonstratiewe preek gelewer waarin hy bladsye uit ‘n ou Bybel uitgeskeur het. Hy wou die punt maak dat ons nie willekeurig net sekere dele van die Bybel moet aanvaar en ander ignoreer nie. Daar was ’n geskokte stilte in die gemeente toe die Bybelbladsye so skeur!

Twintig jaar, selfs tien jaar gelede sou ek dit waarskynlik nie oor my hart kon kry om’n vraagteken na die opskrif hierbo te plaas nie. Ek sou gevoel het dit moet ’n uitroepteken wees. Vandag leef ons egter in ’n tyd waarin baie van die taboes van die ou tyd verbreek is. Vandag praat ons met vrymoedigheid oor dinge wat tevore nie genoem is nie en waaroor jy skuldig gevoel het as jy net daaroor gedink het.

Waarom is dit goed dat ons vandag openlik en eerlik praat oor die verhouding tussen die Bybel en die Woord van God en krities daaroor dink? Dit is goed omdat as ons net met die uitroepteken sou Werk, ons die gevaar loop om die Bybel as ’n wapen te gebruik — iets wat al baie gebeur het.

As dit ’n klinkklare stelling is, “die Bybel is die Woord van God”, en nie ’n vraag waaroor ons dink en praat nie, word die Bybel ’n manipuleringsmiddel. Daarmee het ons dan . God se Woord tot ons beskikking en kan ons God aan ons kant van enige argument en gesprek laat praat.

Dan is dit maar een klein treetjie na die punt waar ek my verstaan van die Bybel kan verhef tot God se Woord. Dan gaan ek, indien nodig, op die oorlogspad met die Bybel in die hand en die kruis om die nek.

As dit net ’n uitroepteken is en nie ook ‘n vraagteken nie, dan word die Bybel ’n manipuleringsmiddel pleks van ‘n genademiddel. Dan gaan ons maklik met tekste rond en beoordeel en veroordeel daarmee. So word die Bybel dan ingetrek in ons magspeletjies.

Daarmee legitimeer ons dan oorheersing van een groep oor ’n ander; die onkritiese gehoorsaamheid van kinders aan ouers; die ondergeskikte posisie van die vrou onder die man; die absolute oppergesag van elke owerheid; en allerhande soorte onheilighede. As jy ’n boek in jou hand het wat die Woord van God is, kan geen teéspraak geduld word nie.

Daarom is daar al “in die naam van die Here” moorde gepleeg, kinders mishandel, vroue misbruik, volke onderwerp, slawe aangehou, Christene bo ander gelowe se mense bevoordeel en allerhande verskriklike dinge gedoen.

Nee, dit is goed dat ons die vraagteken agter die opskrif kan plaas. Daarmee erken ons nou openlik dat die verhouding tussen Bybel en Woord van God ook problematies is en dat ons nie mag toelaat dat God en sy Boek deur ons gekoöpteer word om ons eie doeleindes daarmee te bereik nie.

Julian Müller is professor in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria en kan bereik word by jcmuler@icon.co.za of www.julianmuller.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui