Spangenberg nie in stryd met gereformeerde leer — kerkraad

*******

Spangenberg nie in stryd met gereformeerde leer — kerkraad | Beeld

Beeld, 23 Maart 2001

Neels Jackson

Die geloofstandpunte van prof. Sakkie Spangenberg, Ou-Testamentikus van Unisa, bevat wel enkele problematiese aspekte, maar sy wesenlike posisie is nie in stryd met die gereformeerde leer en die NG Kerk se belydenisse nie.

Dit is die gevolgtrekking waartoe die NG gemeente Pierre van Ryneveld gekom het in sy ondersoek na ‘n klag van leerdwaling teen Spangenberg. Volgens die kerkraad is daar geen gronde om die klag verder te voer nie en is die saak afgehandel.

Spangenberg, ’n proponent in die NG Kerk en lidmaat in Pierre van Ryneveld, het verlede jaar ’n beroering in kerklike kringe veroorsaak toe hy aan Die Kerkbode gesê het hy het probleme met die tradisionele sendingbenadering wat sê mense is verlore as hulle nie jou geloof deel nie.

Hy het destyds onder meer gevra: “Moet ons nie liewer daarmee volstaan dat daar altyd ’n variasie van godsdienste sal wees nie? Is dit nie deel van God se veelkleurige genade nie?” ’n Klag van leerdwaling is hierop deur die gemeente Meyertonpark teén hom ingedien.

Die kerkraad van Pierre van Ryneveld sê in ’n verklaring sy ad hoc-kommissie het sedert September verskeie indringende gesprekke met Spangenberg gevoer. Hulle het onder meer bevind sy uitsprake oor ander godsdienste is nie geloofstandpunte nie, maar ’n wetenskaplike soeke na antwoorde binne die multireligieuse konteks van vandag.

Spangenberg is gevra om die gevolge deeglik te oorweeg voordat hy uitsprake in die media doen. Ds. Sampie Niemand van die gemeente het gesê hulle wil niks meer sê as wat in hul verklaring staan nie, maar bygevoeg dat Spangenberg se Christenskap nie onder verdenking is nie.

Spangenberg het gister gesê hy is tevrede met die uitspraak. “As ’n mens nie ’n bietjie vryheid van spraak het nie, maak jy die teologie dood en dan kan jy die teologiefakulteite maar sluit.”

Ds. J.S. Erasmus van Meyertonpark het gesê hul kerkraad bespreek die saak eers Maandag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui