Kritiese kommentaar op die AS se taakspan oor SGV

Kyk ook:

KRITIESE KOMMENTAAR OP DIE TAAKSPAN (TS) GETAAK DEUR ALGEMENE SINODE 2013 (AS2013) MET ONDERSOEK RAKENDE SELFDEGESLAG VERHOUDINGE

  1. Hierdie dokument het ten doel om die TS se verslag aan die AS2015 krities te beoordeel, ten einde te bepaal of die TS en die AS2015 se daaropvolgende besluite, inderdaad objektief en Skrifgebonde geneem was.
  2. Die dokument het geensins ten doel om enige persoon te veroordeel nie, maar wel om die KR instaat te stel om die verslag en daaropvolgende besluite behoorlik te beoordeel.
  3. Ek handel nie pertinent met die tekste wat selfdegeslag verhoudinge veroordeel en verbied nie, ek aanvaar dat almal daarvan kennis dra. Hierdie dokument is wel vanuit die perspektief benader dat die tekse duidelike verbod op selfdegeslag verhoudings plaas.
  4. Ek is van mening dat die grootste krisis wat tans in die NG Kerk bestaan nie so seer oor selfdegeslag verhoudinge bestaan nie, maar wel oor Skrifuitleg en Skrifgesag.
  5. Alhoewel ek van mening is dat die Skrif in geen onsekere terme selfdegeslag verhoudinge veroordeel en verbied nie, is my persoonlike opinie dat homoseksuele (selfdegeslag verhoudinge) wel met ope arms in die liggaam van Christus ontvang moet word, soos al ons ander sondaars, maar onder Bybelse aanwysings en riglyne.

INLEIDING

  1. As grondslag gaan die verslag aan die hand van die volgende definisies beoordeel word:
    1. HUMANISME: ’n Rasionele uitkyk of sisteem van denke wat die primêre klem plaas op menslike aangeleenthede en nie hoër geestelike wese of bo-natuurlike aangeleenthede nie.
    2. SELFDEGESLAG VERHOUDINGS: Romantiese en/of seksuele verhoudings tussen persone van die selfde geslag, ongeag die duur daarvan.
    3. HOMOSEKSUALISME: Romantiese aangetrokkendheid, seksuele aangetrokkendheid of seksuele gedrag tussen mense van dieselfde geslag
    4. HUWELIK: Mat 19:4-6
    5. SONDEVAL: Gen 3:1-6
    6. GELOOF: Heb 11:1-3
    7. AS2007 BESLUIT:
      1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
      2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
      3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
      4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.
      5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
      6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
      7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ʼn selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
      8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Die Sinode het besluit dat hierdie 8 punte as ʼn eenheid gelees en verstaan moet word.

    1. AS2013 BESLUIT:

      3.1 bevestig dat die besluite van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na deeglike eksegetiese en teologiese studie,

      3.2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie,

      3.3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie,

      3.4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid

TS SE MANDAAT EN VERWYSINGS RAAMWERK VIR ONDERSOEK

  1. Die Algemene Sinode Moderatuur verkry hul mandaat en verwysings raamwerk vir verdere ondersoek na die status van selfdegeslag verhoudinge vanuit punt 3.2 van die AS2013 besluit.
  2. Die belangrikste aspekte van punt 3.2 is dat die status van selfde geslag verhoudinge ondersoek moet word in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
  3. Myns insiens was die mandaat nooit dat die Skrifuitleg verander moet word of dat nuwe Gereformeerde tradisies voorgestel moet word nie.
  4. Die AS2007 het bevestig dat die besluit van AS2007 wel geneem is opgrond van deeglike eksegetiese en teologiese studie.
  5. Dat die AS2007 besluit geneem was op sterkte van deeglike eksegetiese en teologiese studie is bevestig deur die AS2013.
  6. Logika dikteer dat daar reeds deeglike oorweging en volledige studie gedoen was, welke deur twee AS bevestig was, en dat verdere studie, veral in die lig van die Skrif onnodig is of was, behalwe natuurlik as die eksegetiese en teologiese studies bevraagteken word of as jy mense wil oortuig dat ’n swembad ’n “firepool” is.
  7. Indien dit wel bevraagteken word, waarom het die besware en of verskille nie voor AS2013 gedien nie? Hoekom sou die AS2013 dan tog wel bevestig dat deeglike en voldoende eksegetiese en teologiese studie gedoen was? Het die AS2007 en As2013 dan gedwaal?
  8. Die TS is aangewys deur die ASM om uitvoering te gee aan punt 3.2 van die AS2013 besluit.
  9. Dit blyk dat die TS tot die besef gekom het dat hul opdrag, soos uiteengesit in punt 3.2 nie meer duidelik is nie[1] .
  10. Die TS swyg egter oor die tydstip wanneer hulle opdrag onduidelik geraak het, was dit voor die aanhoor van die openbare gesprekke met onder andere terapeute en medici? Of was dit dalk daarna?
  11. Kan dit dalk wees dat die duidelike opdrag in punt 3.2 onduidelik geword het toe die TS afgewyk het van die opdrag deur hulle nie te bepaal by die status in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisies nie?
  12. Die TS het dit egter goedgedink om hul mandaat vir hulself as volg te definieer[2]:
    1. Daar is eerstens onderskei tussen juridiese en etiese status van selfdegeslag verhoudinge;
    2. Die juridiese aspek is beperk tot burgerlike wetgewing (sekulêre sfeer) en glad nie mee gehandel nie;
    3. Die TS het uitsluitlik gefokus op die etiese status van selfdegeslag verhoudinge, welke aan die hand van volgende twee kriteria beantwoord is:
      1. Hoe homoseksuele lidmate kerkordelik hanteer word; en
      2. Vraag na “moontlikheidsvoorwaardes” (sic) uit ’n Skriftuurlike en Gereformeerde perspektief van eties aanvaarde en gelukkige verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.
  13. Vanuit voormelde is daar ’n duidelike afwyking van die oorspronklike mandaat, soos vervat in 3.2 van AS2013. Dit dien vermeld te word dat die woord eties nêrens in 3.2 voorkom nie. Daar is ook geen vermelding of verwysing na die burgerlike wetgewing of status nie.
  14. Die fokus het nou verskuif van status na etiese status.
  15. Wat is die etiese status en waaraan word dit gemeet?
  16. Hierdie soeke na die etiese status was nie objektief gedoen aan die hand van Skrifgesag en Gereformeerde tradisies nie, maar subjektief en emosioneel met een doel voor oë om “moontlikheidsvoorwaardes” (nou is die bedoeling van die woord vir eerste keer duidelik) te bepaal hoe die AS sy beleid ten aansien van selfdegeslag verhoudinge kan verander.
  17. Dit herhinner my aan ’n baie ou, maar waar aanhaling van George Orwell: In a time of universal deceit – telling the truth becomes a revolutionary act”
  18. Die vraag wat nou ontstaan is, het die TS, soos hul opdrag bepaal, hierdie nuwe etiese status in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisies – God se standaard – gemeet of slegs dit wat hulle gehoor het subjektief aan menslike standaarde gemeet, waarvan die belangrikste blyk gelukkigheid te wees?
  19. Die etiese status was reeds aan die hand van deeglike eksegetiese en teologiese studie bepaal en opgeteken in die AS2007 besluit. Die AS2007 en AS2013 besluite het egter vir die TS ongemaklik en verward gelaat tot so mate dat die Skrifuitleg en interpritasie oor selfdegeslag verhoudinge, wat in wese vir langer as 2000 konsekwent deur ortodokse christene geïnterpreteer was, verander moet word aan die hand van Leerstellige en Aktuele Sake se nuutste verslae (gedateer 2015), ons Christelike Geloof en die wetenskap[3] .
  20. Ek mag dalk net hier vermelt dat Eva ook oortuig was dat om ongehoorsaam te wees aan God se direkte opdrag, nie sonde was nie. Ons almal weet wat die uitkoms hiervan was, die sondeval. Natuurlik is hierdie ook al reeds verwater met vorige besluite van die AS om die werklike bestaan van die duiwel te bevraagteken. Nou sal daar doodeenvoudig geargumenteer word dat vanuit die “ruimte” van die nie-bestaan van Satan hierdie teks ook verwerp kan word, miskien het Eva dalk net vreemde sampioen geeet en as gevolg daarvan gehalisineer.
  21. Die TS het die hammer op die spyker geslaan met hul vermaning dat die mens se belange, begeertes en behoeftes manupilerende krag het om ons geloofsoortuigings, Bybelse gegewens en etiese waardes te oorskadu [4].
  22. Het die TS inderdaad voormelde vermaning toegepas op die bepaling van die etiese status van selfdegeslag verhoudings, veral waar daar inderdaad ’n positiewe en duidelike verbod daarteen is en natuurlik geen positiewe gesag ten gunste daarvoor is nie. ’n Belangrike kritiese vraag wat die TS en ons almal gerieflikheidshalwe ignoreer is die volgende:
    1. Hoe onderskei ons as Christene ons van Humaniste?
  23. Die antwoord hierin is in wese baie eenvoudig:
    1. Ons as Christene se primêre taak is om uitsluitlik tot verheerliking van God te leef, en is die Woord van God en leiding van die Heilige Gees ons enigste verwysing of anders gestel as ons, ons belange, begeertes en behoeftes meet teen die Woord;
    2. Die Humaniste se primêre oortuiging is dat die mens en uitsluitlik die mens verheerlik moet word, hul verwysing kan verkry word uit enige boek, dokument, wetenskaplike studie of die Bybel, met die voorbehoud dat die interpritasie daarvan die gevolg het dat die mens verheerlik word en sentraal staan.
  24. Die vraag is ongelukkig nie of daar elemente van Christenskap teenwoordig is nie, maar is Christus teenwoordig en word Hy verheerlik. Die wêreld is deurspek met mense wat God verwerp, maar ontsaglike liefde vir hul medemens het en te alle koste hul medemens gelukkig, welvarend en vry van onderdrukking wil sien. Die onderskeie sekulêre humanitêre hulporganisasies is bevestiging hiervan.
  25. Dit is egter die bedoeling daaragter en die verwysing waaronder dit gedoen word wat deurslaggewend is vir die kritiese onderskeid, want onthou alhoewel ons in hierdie wêreld is, is ons nie van hierdie wêreld nie.
  26. Het die TS hul ondersoek vanuit bogenoemde Christelike onderskeid benader of het hulle dalk net die Bybel anders probeer interpriteer ten einde ’n Humanistiese eindresultaat te bereik?
  27. Die TS het as invalshoek dat die selfdegeslag verhoudinge vandag verskil van wat in die onderskeie tekste vermeld word, kwansuis omdat in die Bybelse tyd die mense nie die gelukkige en lojale selfdegeslag verhoudings van vandag geken het nie.
  28. Voormelde argument sal natuurlik ook geldig wees vir die volgende:
    1. Kinderpornografie verkrygbaar oor die internet is vandag aanvaarbaar, omrede dit nie bestaan het in Bybelse tyd nie;
    2. ‘n Wonderlike lewensgemeenskap[5] met my Franse poedel is nie verkeerd nie, omdat Franse poedels nie in Bybelse tyd bestaan het nie.
    3. Hierdie argumente en die TS se invalshoek is om die minste te sê lagwekkend en absurd.
  29. Wat die TS egter nie meld nie, en dit mag dalk wees dat die teoloë[6] waarna die TS verwys of hulself, dalk net nie genoeg navorsing gedoen het oor die aspek nie, want wonder bo wonder was selfdegeslag verhoudings – soos ons dit vandag ken – alreeds sedert die eerste eeu NC ’n morele kwessie en bestaan daar verskeie rekords daarvan, deur onder andere Plato. Hier volg ’n paar soos opgesom deur Prof Hubbard:
    “The coincidence of such severity on the part of moralistic writers with the flagrant and open display of every form of homosexual behavior by Nero and other practitioners indicates a culture in which attitude about this issue increasingly defined one’s ideological and moral position. In other words, homosexuality in this era may have ceased to be merely another practice of personal pleasure and began to be viewed as an essential and central category of personal identity, exclusive of and antithetical to heterosexual orientation.”[7]
    “It is very possible that Paul knew of views which claimed some people had what we would call a homosexual orientation, though we cannot know for sure and certainly should not read our modern theories back into his world. If he did, it is more likely that, like other Jews, he would have rejected them out of hand, as does Philo after reporting Aristophanes’ bizarre aetiology [i.e., the study of causation] of human sexuality. “[8]
    ” Some interpreters, seeking to mitigate Paul’s harshness, have read the passage [in Romans 1] as condemning not homosexuals generally but only heterosexual men and women who experimented with homosexuality. According to this interpretation, Paul’s words were not directed at “bona fide” homosexuals in committed relationships. But such a reading, however well-intentioned, seems strained and unhistorical. Nowhere does Paul or any other Jewish writer of this period imply the least acceptance of same-sex relations under any circumstances. The idea that homosexuals might be redeemed by mutual devotion would have been wholly foreign to Paul or any Jew or early Christian.”[9]
  30. Net ter opheldering en ter verdediging van die gewraakte tekste wil ek julle na die gerespekteerde Hollandse gay skrywer, Pim Pronk, se gevolgtrekking oor of selfdegeslag verhoudinge volgens die Skrif regverdigbaar is al dan nie:
    “wherever homosexual intercourse is mentioned in Scripture, it is condemned. With reference to it the New Testament adds no new arguments to those of the Old. Rejection is a foregone conclusion; the assessment of it nowhere constitutes a problem.
  31. Daar is natuurlik ook geen verwysing na bekeerde gays nie, met ander woorde gays wat hul rug op selfdegeslag verhoudinge gedraai het in die TS se verslag nie. Is hierdie getuienis nie kardinaal nie? Is dit doodeenvoudig verwerp en nie belangrik genoeg geag nie?
  32. Die TS kom dan tot die volgende konklusie van wat die etiese status van selfdegeslag verhoudings is. Ek haal aan:
    ” TS-kommentaar: Te midde van ʼn openhartigheid en eerlikheid oor selfdegeslagverhoudinge het ons eerstehands onder die oorgrote meerderheid Christen-gaypaartjies wat ons ontmoet het, ervaar dat hulle lewensvervullende, gelukkige en getroue verhoudings gebou het wat so sterk is dat dit vol humor is. Hulle voel so veilig bymekaar dat hulle graag met hulleself en hulle onbenydenswaardige posisie gekskeer. Dikwels is dit lag met trane. Die verwerping deur betekenisvolle persone bly ʼn seer wat met hulle saamloop al sou hulle ʼn lewensmaat gevind het. Ten einde die etiese status van (gelowige) homo-verhoudinge te ‘peil’, blyk die aangewese weg te wees om oor die etiek van tussenmenslike verhoudinge in die algemeen te praat en dan te vra of die feit dat die twee persone van dieselfde geslag is ʼn hindernis is op die weg na die realisering van ʼn etiese en gelukmakende verbintenis.
    Rondom die vraag na dit wat mense se verhoudingslewe (Christelik) eties navolgenswaardig maak, was daar grootliks ooreenstemming. ʼn Aantal “koördinate” in die verband kan kortliks gelys word: ʼn verhouding is eties gelukkend wanneer daar sprake is van wedersydse respekvolle, selfskenkende liefde en trou, wat binne die raamwerk van permanensie en eksklusiwiteit, volwasse en verantwoordelik gerig is op die welsyn en lewensontplooiing van die ander ten einde vierend, sorgend en vreugdevol saam in lewensgemeenskap ʼn lewensweg te deel.”[10]
  33. Hierbo openbaar die TS hul ware kleure. Die TS kom tot die volgende gevolgtrekking naamlik, dat die volgende koördinate of anders gestel kenmerke van ’n selfdegeslag verhouding “Christelik” eties en gelukmakend is, indien:
    1. Daar sprake is, let wel sprake is, van wedersydse respekvolle, selfskenkende liefde en trou;
    2. Dat voormelde binne die raamwerk van permanensie en ekslusiwiteit val;
    3. Volwasse en verantwoordelik gerig is op die welsyn en lewensontplooiing van die ander;
    4. Ten einde vierend, sorgend en vreugdevol saam in lewensgemeenskap ‘ lewensweg te deel.
  34. Derhalwe en gemeet aan die riglyne hierbo word voormelde vrae irrelevant, want dit pas eenvoudig nie in die humanistiese benadering nie.
  35. Is voormelde definisie dalk die nuwe definisie van ’n huwelik wat moontlik by die volgende AS aanvaar sal word met bietjie indoktrinasie, in alle waarskynlikheid ja.
  36. Vanuit humanistiese perspektief kan die definisie nie beter nie.
  37. Wat is fout met bogenoemde benadering? Is dit nie dalk dat God ontbreek nie? Of dat Jesus sentraal moet staan in die verhouding nie? Of dalk dat menslike verhoudinge primêr bo ons verhouding met Jesus rangeer? Of dat die verhouding tot verheerliking van God is? Ens. Ens.
  38. Ek gaan nie die vraag antwoord nie en gaan ek dit aan elke leser laat om tot sy eie slotsom te kom.
  39. Die TS het nou einde ten laaste bepaal wat is eties en riglyne gegee waaraan dit gemeet moet word en einde ten laaste word die vraag in paragraaf 21 hierbo geantwoord.
  40. Wat nou gemaak die TS weet nou wat eties is, maar pas dit binne die opdrag, punt 3.2 nie?
  41. Ai, hier kom die verwarring, ons weet nou dat die TS van mening is dat die AS2007 besluit nie deeglik eksegeties en teologies korrek is nie en hersien moet word. Tog kom die TS tot die bevinding dat die besluit van AS2007 wel herbevestig word. Verward? Ja dit is ongelukkig wat hul bevinding is.[11]
  42. Nou blyk dit dat die verwarring die oorhand gekry het oor die TS, maar onthou die waarheid sal te radikaal wees, derhalwe moet die TS die roete van sagmaak volg, deur nog ’n bousteentjie te verwyder uit die Evangelie en dit te vervang met ’n “ruimte”, sodat die wat die steen wil terugplaas toegelaat word (ons kry hulle op volgende (AS) en die wat ’n venster wil insit toegelaat word of die wat niks wil doen nie toegelaat word om niks te doen nie. Ek noem dit sommer “die evangelie van ruimtes”.
  43. Ja hier kom die mees absurdste bevinding en aanbeveling, wat uiteindelik as besluit aanvaar was. Die AS2015 moet besluit neem inlyn met die onderskeie teologiese fakulteite se aanbeveling en selfdegeslag verhoudings ’n Christelik etiese status te gee, ek neem aan dis net per abuis uitgelaat, in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
  44. Maar wag bietjie, daar is dan baie meer mense wat hierteen gekant gaan wees as wat dit gaan goedkeur. Toemaar ons het reeds aan ’n oplossing gedink. Kom ons maak dit die NG Kerk se algemene beleid, maar troos die onderskeie gemeentes dat hulle self kan besluit. Ons sal hulle in iedergeval met verloop van tyd anders beïnvloed deur die opleiding van nuwe leraars, verskeie sinodale kursusse oor aanvaarding, menseverhoudinge en dan kan ons ook die liefde kaart ingooi. Ja ons kry net die brandweer om die gepeupel te oortuig dat dit ’n “firepool” is en nie ’n swembad nie.
  45. Het die leierskap so arrogant geraak dat hulle werklik glo dat ons as lidmate hierdie optrede net gelate gaan aanvaar.
  46. Die besluit van die AS is nie net onbybels nie, ja ek stel dit so sterk, want die besluit is of Bybels of nie, daar is nie ’n gemaklike midde weg nie, maar veroorsaak ernstige verdeeldheid en verwarring in die liggaam van Jesus. Mens kan natuurlik eindelose praktiese probleme met die besluit noem, maar gaan ek nie op hierdie staduim in daai rigting gaan nie.
  47. Ek wil julle laat met die volgende gedagtes rakende die lot van Christene in die verlede, sover my kennis strek en ek mag verkeerd wees het al die Apostels hul lewens verloor op die mees gruwelike manier. Van hulle is onthoof, gekruisig, onderste bo gekruisig en in olie gekook. Christene word al vir langer as 2000 jaar vervolg en gemoor as gevolg van hul geloof. Vandag nog gebeur dit wêreld wyd.
  48. Hoe durf ons dink dat ons so spesiaal is dat ons nie hoef op te staan en die Evangelie te verdedig nie. Hoe durf ons. Miskien moet ons dalk weer nederig die woorde van Lukas 9:23-27 oordink.
  49. Ons is meer bekommerd om polities korrek te wees en om tog net nie mense te afronteer nie. As gevolg hiervan het ons in ’n gemaksone verval tot so mate dat ons, ons self nie meer wil ophou met die skandalige boodskap, die Wonderlike Evangelie, nie en bygevolg raak die Evangelie daagliks meer en meer verwater.
  50. Ons is daagliks deel van ’n geestelike oorlog of ons nou wil wees of nie. Ons is egter bevoorreg dat alhoewel ons in die wêreld is, is ons nie van die wêreld nie. Daarom moet ons die geestelike wapenuitrusting aantrek en die wonderlike Evangelie van Jesus ons Redder verdedig met die swaard (die woord).

PAD VORENTOE

  1. My voorstel is tans dat ons as KR so gou moontlik ’n kort reaksie die lig laat sien, sodat ons gemeente ten minste sekerheid het van waar ons staan.
  2. Dat ons dan rustig maar nugter en biddend ons opsies in terme van die kerkorde, omringende gemeentes, ander gemeentes in die land en ook ons ring oorweeg oor wat die aangewese pad vorentoe is.
  3. My gebed is dat die Heilige Gees ons sal lei in die pad vorentoe.

Groete in Christus

Dawie Badenhorst

Voetnotas

[1] “Die TS het besef dat die opdrag oor die status van selfdegeslagverhoudinge in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie nie sonder meer duidelik is nie. Dit het wel uit die bewoording van die AS se bogenoemde besluit in 2013 geblyk dat ʼn omvattende eksegeties-teologiese studie nie verlang word nie aangesien daar (1) geoordeel is dat die besluite van 2007 “na deeglike eksegetiese en teologiese studie” geneem is (punt 3.1) en (2) dat die studie oor die status van selfdegeslagverhoudinge “in voortsetting” van 2007 se verslag gedoen moet word (punt 3.2).” Paragraaf 2, p82, Aanvullende Agenda

[2] Paragraaf 2, p82, Aanvullende Agenda

[3] Paragraaf 3.2, p85, Aanvullende Agenda

[4] Paragraaf 3.3, p89, Aanvullende Agenda

[5] “Lewensgemeenskap sluit hier alles in, ook seksuele/liggaamlike intimiteit.” Voetnota 27, p94 Aanvullende Agenda

[6] Voetnota 17, p89, Aanvullende Agenda

[7]Homosexuality in Greece and Rome: A Sourcebook of Basic Documents (Berkeley: University of California Press, 2003), 7-8.

[8] William Loader, The New Testament on Sexuality (Grand Rapids, Eerdmans: 2012), 84.

[9] Louis Crompton,Homosexuality and Civilization (Cambridge, MA: Belknap Press, 2003), 114 .

[10] Paragraaf 3.6, p94 Aanvullende Agenda

[11] Paragraaf 3.7, p95 Aanvullende Agenda

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui