Hennie Mouton antwoord Sakkie Spangenberg

Kyk ook:

Onderstaande is my antwoorde [in vierkantige hakies] op prof. Sakkie Spangenberg se skrywe “Darwin, die Bybel en die sondeval” in Beeld se By van 2009/02/13.

Prof. Sakkie Spangenberg het Vrydag 13 Februarie 2009 nie net sy eie ongeloof in ’n artikel in Beeld se By uitgespel nie, maar hy probeer die Christendom ook met hom saamsleep.

Ek het onderstaande aan die Beeld, Volksblad, Burger en Kerkbode gestuur, met die aanbod om dit te verkort na ’n artikellengte — nie ’n brieflengte nie, sou hulle belangstel, maar het geen reaksie gekry nie.

—————————

Spangenberg :

Ek verwys na die artikel “Evolusie se elegante nederigheid” in By van 7 Februarie en die 200ste herdenking eergister van Charles Darwin se geboortedag. Darwin word soms die Nikolas Kopernikus van die biologiese wetenskappe genoem. Die rede? Die omwenteling wat Darwin (1809-1882) in die biologiese wetenskappe teweeggebring het, is vergelykbaar met die omwenteling wat Kopernikus (1473-1543) in die sterrekunde teweeggebring het. Beide hierdie geleerdes het Westerlinge se sienings van hulself en hul wêreld radikaal verander.

Hul teorieë het egter ook die verstaan van die Bybel en die meesterverhaal van die Christelike geloof uitgedaag. Terwyl die Christelike kerke Kopernikus se teorie dat die aarde om die son draai, al aanvaar het, sukkel hulle nog om Darwin se teorie te aanvaar.

[Mouton: Dis ’n oordrywing om te beweer dat die verandering in die siening van die sterrekunde of die biologie die meesterverhaal van die Christelike geloof uitgedaag het. Prof. Sakkie Spangenberg se bewering dat die mensdom nie ’n Verlosser nodig het nie (kyk ondertoe), is egter meer as net ’n uitdaging van die meesterverhaal — dis ’n totale ontkenning van die wesentlike aard van die Bybel en die Christelike geloof.

Die sterrekunde en biologie kan egter nie op dieselfde vlak onderling vergelyk word betreffende Bybelse inligting nie. Omdat beskrywings in die Bybel dikwels relatief tot ’n aardse waarnemer is, is sterrekundige ontdekkings soos dat die aarde om sy eie as draai, die aarde om die son wentel, die son en sy planete om die Melkwegsterrestelsel se middelpunt beweeg en die heelal geweldig groot is, nie teenstrydig met wat in die Bybel staan nie. Evolusionistiese biologie is egter ’n ander saak. Die Bybel laat dit duidelik blyk dat evolusie hoegenaamd nie God se manier van skep was nie, en daarom behoort die Bybelgelowige Christelike kerk evolusie nooit te aanvaar nie.]

Spangenberg :

Die rede waarom teoloë en gelowiges weerstand bied, hang saam daarmee dat die Christelike meesterverhaal verweef is met die antieke drieverdieping-heelal, die antieke siening van hoe plant- en dierespesies geskep is en die plek wat die mens in die skepping inneem.

[Mouton: Dit is heeltemal logies dat die aarde en hemel in die Bybel beskryf sou word in terme van die aardoppervlak, die ruimte waarin die atmosfeer is en die ruimte buite die atmosfeer. Dit is vandag nog steeds ’n geldige beskrywing in baie opsigte en bedoel geensins om die volledige struktuur van die heelal weer te gee nie. Dat antieke ongelowiges ook die aarde en heelal in so ’n drieverdiepingmodel sou beskryf is geensins vreemd nie. Dit impliseer nie dat die Bybel sy beeld aan die ongelowiges se denke ontleen het nie, maar bloot dat die Bybel relatiewe beskrywings geldig vir aardse waarnemers gee. Daarom praat ons vandag nog steeds van die sonsopkoms en -ondergang wat heeltemal korrek is indien besef word dat daarmee nie noodwendig bedoel word dat die aarde nie roteer nie. Dit is ’n korrekte relatiewe beskrywing.]

Spangenberg:

Tydens Darwin se leeftyd het die gemiddelde Westerling geglo die aarde is in 4004 v.C. geskep. Voorts dat al die plant- en dierespesies waarvan hulle geweet het, oorspronklik só deur God geskep is.

Die idee dat die aarde in 4004 v.C. geskep is, het hulle van die Ierse biskop James Ussher (1581-1656) gekry.

Hy het die geslagsregisters in die Bybel noukeurig bestudeer en allerlei wiskundige berekenings gedoen voordat hy hierdie siening van hom bekend gemaak het.

Dit het so waar en betroubaar gelyk dat hierdie datum sedert 1701 in die Authorized version (ook bekend as die King James version) van die Bybel opgeneem is.

[Mouton: Prof. Spangenberg is reg oor hierdie punt. Die Bybelse gegewens dui beslis op ’n ouderdom van ongeveer 4000 jaar vir die aarde tot by Christus se eerste koms. Ongelukkig is Spangenberg se doel met hierdie punt om die Bybel te diskrediteer want hy glo die wetenskap het miljarde jare bewys, en hy wil graag sy eie nuwe humanistiese teologie, waarskynlik so onafhanklik as moontlik van die Bybel, daarstel.]

Spangenberg:

Die siening dat alle bestaande plant- en dierespesies oorspronklik só deur God geskep is, het mense as’t ware met moedersmelk ingekry.

Anne Primavesi vat dit mooi saam wanneer sy skryf: “In the era after Aristotle and before Darwin, the fixity of species was a core belief.”

[Mouton: Dit is al vir dekades lank die verklaarde siening van skeppingsleerders dat soorte in die begin deur God geskep is, en nie alle spesies nie. Spesie-ontwikkeling het daarná plaasgevind en gebeur steeds. Dit is nie evolusie nie, want evolusie vereis natuurlike verandering oor die grense van soorte heen, met ander woorde een soort het in ander soorte verander. Daar bestaan geen bewese voorbeeld van sodanige soortverandering nie. Om ou ongeldige argumente teen ’n opponerende standpunt te gebruik, soos Spangenberg hier doen, wys maar net onkundigheid of doelbewuste wanvoorstelling aan sy kant.]

Spangenberg:

Afgesien van hierdie idees was daar ook die idee dat daar ’n vaste orde en rangorde in die skepping bestaan. Mense het gepraat van “the great chain of being”. Hierdie idee kan deur middel van ’n leer voorgestel word.

Net soos daar verskillende sporte op ’n leer is, so is daar verskillende “sporte” ingebou in die plant- en dierelewe en die mens beklee die hoogste sport. Die idee van perfeksie hou ook hiermee verband.

Visse het vinne en kiewe, want hulle is perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet leef en oorleef. Voëls is met vere geskep sodat hulle kan vlieg. Hulle is op hul beurt perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet oorleef.

Dit geld dan elke ander plant- en dierespesie op aarde asook die mens.

[Mouton: “The Great Chain of Being” is ’n antieke heidense Griekse idee. Dit beweer dat alle dinge (nie-lewend tot lewend tot gode) in ’n aaneenlopende ketting van relatief klein veranderinkies voorkom. Eintlik klink dit eerder of evolusie se konsep daarmee rym as die Bybelse inligting wat verklaar dat byvoorbeeld lewende organismes in onderskeibare soorte van die begin af geskep is. Carolus Linnaeus, wat in skepping geglo het, en die vader van biologiese klassifikasie is, het die idee van die aaneenlopende ketting teëgestaan, want sy klassifikasies het gewys dat organismes in onderskeibare groepe geklassifiseer kan word, omdat oorgangsvorms nie bestaan het nie. Met hierdie punt lyk dit dus of prof. Spangenberg op sy eie toon trap sonder om dit agter te kom.

Dis darem verblydend om te sien dat Spangenberg nie die plat-aarde-teorie ook hier as kritiek op die Bybel probeer insleep nie. Hopelik doen hy dit nie omdat hy besef dat dit maklik aangetoon kan word dat die Bybel nie die konsep van ’n fisiese plat aarde voorstel nie, en dat geen Christelike kerk, of selfs die Rooms Katolieke kerk, al ooit so ’n amptelike standpunt gehad het nie. Slegs enkelinge in die geskiedenis het dit voorgestaan en die “Flat Earth Society” byvoorbeeld, het nooit uit meer as ’n paar eksentriekes bestaan nie.]

Spangenberg:

Hierdie idee van orde en rangorde en ewige onveranderlikheid is selfs in geestelike liedere uitgedruk.

Vergelyk byvoorbeeld die bekende lied “All things bright and beautiful” wat deur C.F. Alexander geskryf is en waarvan ’n gedeelte soos volg lui:

The rich man in his castle,

The poor man at his gate,

God made them high and lowly,

And ordered their estate.

Hiervolgens is daar nie toevallig ryk en arm mense in ’n samelewing nie. Nee, God wys aan elke mens ’n vaste plek in die samelewing toe: As jy as ’n slaaf gebore is, moet jy vir lief neem daarmee. As jy tot die adelstand behoort en ryk is, is dit aan God te danke.

[Mouton: Dink prof. Spangenberg regtig dat gelowiges ooit gedink het dat alle rykes altyd ryk bly en alle armes altyd arm? Hoeveel Israelietiese konings het arm begin, ryk en magtig geword, en selfs in gevangenskap gesterf?]

Spangenberg:

Hierdie idee het mense uit die Bybel afgelees. Hulle het hul onder meer op die eerste skeppingsverhaal in Genesis beroep: God het alles in ses dae geskep en dis duidelik dat daar ’n rangorde in die skepping bestaan.

[Mouton: Die evolusieleer verkondig dat alle lewende organismes uit een eerste lewende sel ontwikkel het, al komplekser en komplekser geword het, totdat die moderne mens vandag bestaan. Duidelik bestaan daar ’n rangorde in hulle geloof.]

Spangenberg:

Die skeppingsverhaal begin immers eers met die skep van die aarde voordat die plante geskep word. Ná die plante kom visse en ander waterdiere aan die beurt. Dit word opgevolg met die skep van landdiere voordat die mens aan die beurt kom.

Net van die mens word gesê dat hy/sy die beelddraer van God is (Gen. 1:27). Voorts word die mens beskryf as die kroon van die skepping – hy is “weinig minder as ’n goddelike wese” (Ps. 8:6). Die mens ontvang ook die taak om oor alles in die skepping te heers (Gen. 1:26).

[Mouton: ‘n Definitiewe rangorde wat in die Bybel gegee word is dat die mens die kroon van die skepping is, asook God se beelddraer. Spangenberg is dus hier wel reg betreffende die mens se hoogste posisie op aarde in God se skepping. Betreffende die oorblywende lewende organismes is evolusie baie meer afhanklik van ’n rangorde as die skeppingsleer.]

Spangenberg:

Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie het hierdie sienings uitgedaag.

Eerstens het hy die standpunt van die geoloog Charles Lyell (1797-1875) aanvaar dat die aarde baie oud is.

Tweedens het hy afskeid geneem van die idee dat plant- en dierespesies ewig en onveranderlik is.

Derdens het hy die idee van lineêre en progressiewe evolusie verwerp. Sy siening kan as vertakkende evolusie (“branching evolution”) voorgehou word.

Vierdens het hy die idee dat die mens die eindpunt van lineêre en progressiewe evolusie is, nek omgedraai.

En laastens het hy afskeid geneem van die idee van ontwerp (“design”).

[Mouton: Die vraag is nie wat Darwin aanvaar het nie. Die vraag is of hy enigsins goeie getuienis vir sy bogenoemde “aanvaardings en afskeide” gekry het, en verder of die moderne wetenskaplike ontdekkings sy ongelowige sienings in werklikheid ondersteun of dalk eintlik verkeerd bewys het. In hierdie opsig moet daar besef word dat wetenskaplike data en vertolking daarvan nie dieselfde is nie, en dat hemelsbreë verskillende vertolkings moontlik is.]

Spangenberg:

Dit is dus te verstane dat biskop Samuel Wilberforce (1805-1873) hom verplig gevoel het om Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie teen te staan.

Sedertdien het verskeie ander teoloë en gelowiges hulle by Wilberforce aangesluit en teruggegryp na die sienings van die teoloog William Paley (1743-1805).

Paley het in sy boek Natural theology die siening voorgestaan dat die natuur na regte ’n Skeppergod veronderstel. Alles is so mooi en perfek geskep dat dit onmoontlik is om te ontken dat daar ’n Skeppergod is.

Darwin moes hierdie boek tydens sy studiejare as teologiestudent aan die Universiteit van Cambridge (1827-1831) bestudeer en was aanvanklik baie beïndruk met Paley se argumente, maar hy het later daarvan afskeid geneem.

[Mouton: Siende prof. Spangenberg se waarskynlike onkunde rakende die laaste dekades se skeppingsleersienings, is hy moontlik ook onbewus daarvan dat natuurlike seleksie lankal deur skeppingsleerders aanvaar word, en in werklikheid deur ’n paar ander mense, onder andere die skeppingsleerder Edward Blyth, lank vóór Darwin voorgestel is. Hoofstroomskeppingsleerders staan dus evolusie teë —maar nie die begrip van natuurlike seleksie nie.

Spangenberg se verduideliking van Paley se argument is ’n halwe waarheid oftewel ’n halwe verdraaiing. Dit het meer gegaan oor die kompleksiteit van dinge wat in die natuur te siene is, as die mooie en perfekte daarvan. Daarom het Paley ’n horlosie as voorbeeld gebruik. Enigeen wat so iets optel sal besef iemand moes dit ontwerp het. In die natuur is daar dinge wat ordes ingewikkelder as horlosies is — Iemand moes hulle dus ontwerp het want ingewikkelde meganismes ontwikkel nie maar net toevallig nie. ’n Ingenieur gooi nooit ’n hoop klip, sement, sand en staal op ’n hoop en verwag dan dat daar eendag ’n brug te voorskyn gaan kom sonder enige verdere intelligente insette en aksies nie.]

Spangenberg:

Die evolusieteorie soos Darwin dit bedink en in sy boeke The origin of species by means of natural selection (1859) en The descent of man (1871) beskryf het, het hom oor die afgelope 150 jaar as betroubaar bewys.

[Mouton: Hierdie sogenaamde betroubaarheid van evolusie is ’n geloofstelling van Spangenberg en sy mede-evolusioniste. Elkeen van die tien gewildste sogenaamde bewyse vir evolusie soos te vinde is in voorgraadse biologieteksboeke oor die wêreld, se gebrekkige aard kan redelik maklik aangetoon word. So byvoorbeeld erken sommige evolusioniste dat hulle nog geen behoorlike verduideliking het hoe die eerste lewende sel uit dooie materie op ’n natuurlike wyse ontstaan het nie. Prof. Richard Dawkins, bekende evolusionistiese bioloog en ateïs, erken dit self in die uitstekende dokumentêre DVD “Expelled — no intelligence allowed” (verkrygbaar by www.creation.com). Die beroemde Miller-Urey-eksperiment, wat ’n poging was om dit reg te kry, het slegs aminosure en ’n paar ander stukkies dooie materie te voorskyn gebring. Tog word dit steeds as die beste bewys vir die ontstaan van lewe uit dooie materie voorgehou. Dis waarskynlik waar dat dit die beste bewys is, maar as die beste bewys so swak en ontoereikend is, wat dryf evolusioniste om vas te klou aan hul evolusieleer anders as hul eie blinde geloof?]

Spangenberg:

Baie Christene sukkel steeds om daarmee vrede te maak. Hulle sal soms ’n hoër ouderdom vir die aarde aanvaar, maar die implikasies wat hierdie teorie vir die Augustiniaanse paradigma van sondeval-verlossing-eindoordeel inhou, ignoreer of systap.

Neem die volgende as voorbeelde:

Die tradisionele Christelike geloof aanvaar dat slegs die mens na God se beeld geskep en dus die kroon van die skepping is.

(Hoe kan slegs húlle beelddraers wees as hulle uit ander lewensvorme geëvolueer het? Hoe kan hulle die kroon wees as daar nie lineêre en progressiewe evolusie bestaan nie, maar slegs vertakkende evolusie?)

Dit aanvaar ook dat daar êrens in die verre verlede ’n Adam en Eva bestaan het wie se dade tot ’n sondeval en dood gelei het.

(Dood hang nie saam met ’n sondeval nie, want alle vroeëre spesies het gesterf – selfs nog voordat daar mense op aarde was.

Dood is noodsaaklik vir die instandhouding van lewe op hierdie planeet. Sonder dood sou hierdie planeet homself al doodgewurg het.)

[Mouton: Presies — as Christene die leuen van evolusie aanvaar, dan sit hulle met hierdie en nog talle ander probleme. Die antwoord is eenvoudig — evolusie was nog nooit waar nie — nie volgens die Bybel of behoorlike wetenskap nie. Die aarde is slegs ’n paar duisend jaar oud, Adam en Eva is in die eerste week (die Skeppingsweek) geskep, en daarom was daar geen dood voor hul sondeval nie, soos die Bybel uitdruklik verklaar. As ’n Christen dit nie aanvaar nie, sit hy met botsende konsepte in sy teologie.]

Spangenberg:

Die mens het ’n Verlosser nodig wat onaangetas deur die erfsonde is. Slegs só ’n Verlosser kan die bose kringloop van die sondeval omkeer.

(Daar bestaan nie so ’n kringloop nie. Dis ’n teologiese konstruksie van Augustinus (354-430) wat met sy eie seksualiteit nie vrede kon maak nie. Buitendien, sou Jesus as ewige Seun van God werklik mens geword het, dan besit die Drie-eenheid tans iets wat Hy nie vroeër gehad het nie. Nie slegs die genetiese materiaal van homo sapiens nie, maar van alle vroeëre lewensvorme.)

[Mouton:

Prof. Spangenberg spel nie hier net sy eie ongeloof in God, soos geopenbaar in die Bybel, uit nie, hy impliseer ook met bogenoemde dat hy nie dink die Bybel self maak dit duidelik dat die mens ’n Verlosser nodig het nie. Augustinus het nie die begrip van ’n Verlosser en die sondeval uitgedink nie — dit staan duidelik in die Bybel vir enige mens om te lees.

Kyk byvoorbeeld na Galasiërs 1:3-12 :

Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader, aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen.

Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!

Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!

Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie.

Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.

Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.

As dit vir die moordenaar aan die kruis moontlik was om op die laaste nog tot bekering te kom, is dit dalk vir mense wat ’n nuwe evangelie probeer verkondig, ook nog moontlik.]

Spangenberg:

Kreasioniste is korrek wanneer hulle daarop wys die evolusieleer hou groot gevolge vir die tradisionele Christelike teologie in.

As Christene egter maar net wil snap dáárdie teologie is die skepping van teoloë uit die vierde en vyfde eeu, kan ’n nuwe teologie wat anders na die mens en die aarde kyk, wortel skiet.

Tot dan sal daar altyd spanning tussen die evolusieleer en die tradisionele Christelike geloof bly bestaan en sal Christene steeds die standpunt huldig dat die mens die spil is waaromheen alles op aarde draai.

[Mouton: Dis eintlik tragies dat ongelowiges en/of “nuwe hervormers” insien dat die evolusieleer groot gevolge vir die Christelike teologie inhou, maar heelwat Christelike leiers en leraars mis die feit. As prof. Spangenberg en sy humanistiese vriende maar net wil snap dat die Bybel deur God geïnspireer is, lank voor die vierde en vyfde eeue na Christus klaar geskryf was, en dus nie die gevolg van opvolgende Christelike teologiese denke was nie, maar die oorsprong daarvan, sal hulle dalk ook by ’n geloof in Jesus Christus as enigste Verlosser kan uitkom deur God se genade.]

Spangenberg:

‘n Verantwoordelike groen teologie is moeilik met só ’n siening te rym.

[Mouton: ‘n Sogenaamde groen teologie is waarskynlik net so goeie verskoning as enigiets anders om ’n nuwe humanistiese geloof te definieer. So ’n geloof kan egter geensins gerym word met die Christelike geloof nie —prof. Spangenberg se opmerkings wys dit duidelik alhoewel hy dit nogtans probeer doen. Hoekom begin Spangenberg maar nie net sy eie nuwe kerk sonder enige verwysing na die Bybel en die Christelike geloof nie? Ek kan maar net aan een rede dink — getallegewys behoort dit vir hom baie beter te wees om ’n bestaande groep te probeer oorneem en indoktrineer as om van voor af te begin.]

Prof. Sakkie Spangenberg is verbonde aan die departement Ou Testament en Ou Nabye Oosterse Studie aan Unisa.

[Mouton: Dis skrikwekkend om te dink wat van die Christelike kerk gaan word as toekomstige predikante onder prof. Spangenberg “opgelei” moet word. Die tragiese is dat heelwat ander dosente, soos byvoorbeeld aan UP se kweekskool, grotendeels met hom saamstem. Maar gelukkig sal God Self sy ware Kerk in stand hou. Ek weet net nie of dit die toekomstige NG kerk gaan insluit nie, tensy die wederkoms baie gou is, of die NG leierskap gaan besef wat op die spel is.]

{Bronne:

Bryson, B. 2005. A short history of nearly everything. London: Transworld Publishers.

Primavesi, A. 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science. London: Routledge.

Ryke, P.A.J. 1987. Evolusie. Potchefstroom: Departement Sentrale Publikasies, PU vir CHO.

Weinert, F. 2009. Copernicus, Darwin, & Freud: Revolutions in the history and philosophy of science. Chichester: Wiley-Blackwell.}

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui