Gesprek oor lyding, en getuienisse, op strokiesnet/kerkbode

Onderstaande is een van die beste gesprekke wat nog op www.facebook.com/kerkbode plaasgevind het.

Die oorspronklike is op

http://www.facebook.com/kerkbode/posts/374747165887248

Stefaan de Jager

Sommer so ’n paar gedagtes oor lyding wat ek hieronder iewers geantwoord het. Ek verstaan ook nie die lyding wat ek om my sien en ook in my eie lewe ervaar nie. My jongste broertjie is op drie jaar aan bloedkanker oorlede na hy amper twee jaar siek was. Ek was twaalf jaar oud. Die laaste maande van sy lewe was hy blind. Ek het in hierdie onverstaanbaarheid die goedheid van die Here gesien toe hierdie broertjie net voor sy dood gesê het: “As ek by Jesus kom, gaan ek Hom vra om my ogies weer gesond te maak.” Toe hy sterf het pa vir ons gesê: “Marius kan nou weer sien.” Op sy grafsteen staan Miga 7:9 “Hy sal my uitlei in die lig.” Die Here se liefde is baie groter as die grootste leed wat my kan tref. In Potchefstroom was `n tannie wat verwronge was van Rumatoide (spelling?) artritus, altyd vol blydskap tsv baie pyn en tsv die feit dat haar seun na `n jare lange lyding dood is. Sy het die geheim van haar blydskap met my gedeel. Sy kyk by die venster uit en sê: “Ek sal in hierdie lewe baie dinge nie verstaan nie, maar een ding weet ek, en dit is dat die Here my oneindig liefhet en my altyd sal liefhê.” In my eie lewe was ek vir jare lank beproef deur `n onbeskryflike emosionele swaarkry. Deur al hier die jare het ek geleer wat dit beteken om soos `n drenkeling van die Here afhanklik te wees. Ek kyk terug op hierdie pad en vra die Here dat ek hierdie kosbaarheid van afhanklikheid nooit weer sal verloor nie. Al gebeur wat ook al in `n gelowige se lewe, is daar `n vaste hoop wat nooit van jou weggeneem kan word nie: “en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom 5:5)”.

Kommentare:

Grys Meerkatmeisie

Stefaan, ek is baie jammer oor jou verlies en die seer wat jy al in die lewe gehad het. Baie mense gaan deur baie moeilike dinge en op een of ander manier ‘survive’ hulle. Jy leun op jou god. As dit werk vir jou, is dit goed.

My probleem kom egter in daarby dat mens nie goed of sleg aan ’n god kan of behoort toe te skryf nie. Hy kan nie albei kante van die net speel en geloofwaardig wees nie. Ek kan nog sien dat mense kan glo daar is ’n energie of ’n mag wat alles geskep het, maar wat onbetrokke is sover dit lewe en dood aangaan. Soos Abel Pienaar dit dalk benader.

En net soos daar goeie en slegte dinge met gelowiges gebeur, gebeur dit met ander gelowiges en ook ongelowiges. Dit is plein die lewe. Mense word siek, mense word deur ongeluk of teenspeod getref sonder dat dit ’n bonatuurlike wese se toedoen is. Dit is waarom dit so belangrik is dat mense begin om meer op mekaar aangewese te wees, meer humanisties op te tree en mekaar in ag te neem. Dis waar die eintlike krag lê.

Hannes Cloete

Dink nie ek kon dit juis veel beter stel nie

Willie Smith

Stefaan, dit laat my dink aan ’n vriend van my wie se seuntjie in die rivier gaan swem het. Hy het verstrengel in ’n boom se tak geraak wat in die rivier hang. Sy gesig het net hoog genoeg bo die water uitgesteek om asem te kon haal – terwyl die mense gespook het om hom teen die rivier se vloei uit te kry.

Toe hy uiteindelik uitkom was hy die heel kalmste van almal. Hy vertel toe dat Jesus sy kop bo die water gehou het. Sy getuienis spreek van ondervinding wat vêr bo enige ‘kritici’ se argumente staan.

Ten spyte van die gevaarlike situasie waarin hy verkeer het, was hy in Jesus se hande. So weerklink die Heidelbergse Kategismus vraag 1 – wat is ons enigste troos in lewe en sterwe? Antwoord: dat ek met liggaam en siel aan Jesus Christus behoort. Natuurlik gaan dit nie altyd voor die wind met gelowiges nie. Ons leef immers op aarde. Dit is aan wie ek behoort wat die verskil maak.

Seën vir jou!

Kobus van der Walt

n Kennis van my en sy vrou het verlede jaar in ’n vol hysbak in die VSA gery en een van die mense in die hysbak was Joni Eareckson Tada (Gelowige – wat as kind van nek af in ’n trampolien-ongeluk verlam is) – sy het die hele tyd wat die hysbak na die grondvloer beweeg het, met die mense gesels en getuig van die Here se goedheid, ens. Toe “Kennis” uitklim, se hy vir sy vrou: “Die enigste heel persoon in daardie hysbak vandag, was Joni” (Kry haar jongste boek en LEES dit – dit is lewensveranderend: “WHEN GOD WEEPS” – bestel dit o.a. van Augustine Bookshop in Pretoria – 012-993-4606)

Stefaan de Jager

Meerkatmeisie, dis soos jy sê,goeie en slegte dinge gebeur met gelowiges en ongelowiges. Die manier van kyk daarna word bepaal deur wat jy glo. Ek het `n oom geken wat 10 jaar lank sy invalide vrou opgepas en versorg het. Hoeveel maal nie in die nag wakker gewees om haar te help nie. Na haar dood het hy een aand opgemerk: ” Ek is die Here so dankbaar dat ek nog nooit regtig in die lewe swaargekry het nie.” My vraag was: ” Ekskuus oom Hannes, was die afgelope 10 jaar dan nie moeilik nie?” Hy antwoord toe: “Hang seker af hoe mens daarna kyk.”

Grys Meerkatmeisie

Ek het ’n vriendin wie se kind op die rivier in ’n binneband afgery het. Die kind wou eers nie, maar die ma het haar aangemoedig – die rivier was rof en het afgekom na reen. Die kind se voet het ook aan ’n tak vasgehak, maar vir een of ander rede het haar kop dit nie bo die water uit gemaak nie. Sy het verdrink. Dit was die vrou se enigste dogter. Hulle was diep gelowig.

‘n Skoolvriend se seun het in ’n dreineringspyp vasgehak, die broer het ingespring om sy boetie te red, wat hy wel reggekry het, maar het toe self verdrink. Hulle was ook diep gelowig.

Sien, dit kom dan eintlik op die ou einde neer dat ’n god witbroodjies het binne sy geloofsvolk. Maar ek verstaan hoe gelowige mense rasionaliseer en dit aanvaar as hulle god se wil. Ek weer aanvaar sulke goed as deel van die lewe, wat dit makliker maak, omdat ek niemand blameer wat eintlik genadig en goed behoort te wees, en vir wie ek dan moet verskonings maak vir sy teenstrydige optrede nie.

Ons kan nie redes of verklarings gee wat god verantwoordelik maak vir dinge wat in die lewe gebeur nie (soos reeds genoem). Ek dink dit is onregverdig teenoor enige god. Maar nou ja, die verskil is maar seker hoe mens na die lewe kyk – realisties of gelowig.

Dit bring mens mos maar by wonderwerke, wat maar eintlik toevalligheid is, waaraan gelowiges graag ’n groter mag aan wil toeskryf. In al hierdie gevalle is daar ’n logiese, natuurlike verklaring vir wat in die lewe gebeur. Ek volstaan.

Stefaan de Jager

Grysie, my broer het al twee van sy vier kinders aan die dood afgestaan. Hy is ook diep gelowig. Kom ek deel sy getuienis met jou. Hy`t vir my gesê: ” Die dood van my kinders is maar die smartvolle dinge langs die weg, maar gelukkig is Christus die Weg “.

Jan Tik

Ja die wonderwerke… om een of ander rede laat dit my altyd dink aan daai ou liedjie, “Is you is, or is you ain’t my baby?”

So is alle wonderwerke net toeval, of kan daar ander verduidelikings ook wees?

Ons hou ons van reëls, veral daai soort wat soos die natuurwette voorspelbare resultate lewer. Maar daar is natuurlik ook baie voorbeelde van onvoorspelbare gebeure. Wie kan byvoorbeeld met 100% sekerheid verklaar hoekom mense wat mekaar op een tyd lief gehad het, mekaar later nie kan verdra nie?

Soos ek die Bybel verstaan, kom alle wonderwerke van God af. Hulle hang af van Sy wil. Maar Sy wil vir ons lewe hang ook af van ons verhouding met Hom. (Ek praat nou nie van werke nie, maar van ’n intieme persoonlike verhouding soos dit in Johannes, hoofstukke 14-16, beskryf word). Dit maak dit natuurlik moeilik vir ons as gelowiges om te verduidelik wat aangaan in ons lewe, want so dikwels is ons eie verhouding met die Here nie na wense nie. En insig neem natuurlik tyd. Ook vind die innerlike werking van die Heilige Gees plaas op so ’n manier dat dit nie uiterlik meetbaar is nie.

Die enigste ding wat wel meetbaar is, is hoe mense se lewens verander. Maar niemand anders kan sê hoe so iets gebeur nie, behalwe die persoon self. En al sou daardie persoon ook hoe hard probeer, die verhaal sal altyd iets kortkom, want dis so moeilik om die lesse wat ons leer los te maak van ons eie oortuigings en die gebrekkige manier waarop ons dink.

Grysmeerkatmeisie, kom ek vertel nog ’n storie. Dis sekerlik nie die volle verhaal nie, maar my hoop is dat dit jou wel sal laat insien hoe sommige van ons dink — self al kan jy nie met die gevolgtrekkings saamstem nie.

Nadat ek as ’n jong man vir die eerste keer volle geloofsekerheid gekry het (party noem dit “weergebore is”) was ek natuurlik op “cloud nine” vir ’n geruime tyd. Ongeveer ’n jaar later pak ek alles op en ry toe weg uit die Kaap om by Tukkies te gaan studeer. Gedurende daardie 1,300 km optog het ek toe die snaakste gevoel, dat ek een van my ou skoolvriende (wat ek 2 jaar laas gesien het) moes opsoek en van my nuwe geloofsekerheid moes vertel.

Maar dit was nie net ’n vlietige idee nie; hoe langer ek op pad is, hoe dringender word die gedagte. Dit was amper soos ’n lied wat in my kop bly vashaak — met die verskil dat die wonderlikste gevoel van vreugde die gedagte vergesel het. Êrens naby Bloemfontein trek ek toe die motor van die pad af en beloof ek toe vir die Here dat ek dit sou doen, en vra Hom toe om my pad gelyk te maak.

Ek het skaars in Pretoria aangekom, toe vind ek sy nommer uit en los toe vir hom ’n boodskap. Twee dae later, ek was net op pad uit na ’n Christelike koffiehuis toe, toe bel hy. Ons kom toe ooreen om daar te ontmoet. En ’n paar uur later toe daag hy op met sy 650cc BSA motorfiets, vergesel van ’n hele trop manne van die motorfietsbende waarby hy intussen aangesluit het — kettings, leerbaadjies, en al.

Ek was natuurlik ’n bietjie uit die veld geslaan — so ’n brullende optog was nou nie eintlik wat ek verwag het nie. Maar binne die koffiehuis sing hulle Christelike liedjies, wat party van die manne op die bikes blykbaar snaaks vind, en ek weet toe ek moet praat of dis alles verby.

Tot vandag toe dink ek dis seker die swakste toespraak (as mens dit so kon noem) wat ek ooit gemaak het. Miskien was ek verbouereerd of iets, maar die saak kom toe heel skeef uit. En toe my laaste woorde so toeknyp tussen die hallelujas en die knalorkes van die motorfiets enjins, toe dag ek nou het ek alles verbrou. Maar toe vra my vriend my, “Hoe neem mens die Here aan?”

En daar en dan, voor al sy motorfiets buddies kniel hy toe op die sypaadjie en aanvaar die Here as sy persoonlike Saligmaker. En ’n oomblik later, toe kom twee van sy pêlle en doen dieselfde. Dit was te veel vir die res, wat toe maar raserig die aftog blaas.

Nou vervolg die verhaal so twee jaar later. My vriend is af see toe om met stranddienste te help, en ek werk oor die vakansie om my studies te help betaal, toe ek weereens die eienaardigste drang kry om met hom te praat. Eers probeer ek dit afskud, maar dit was asof ek nie kon ophou dink aan hom nie. Uiteindelik bel ek toe sy nooi, om te probeer uitvind hoe om met hom in verbinding te tree. Tot my groot verbasing sê sy toe dat hy op pad terug is, maar sodra hy aankom sou sy vir hom die boodskap gee.

’n Paar uur later toe bel hy, en ek probeer toe verduidelik dat ek hierdie snaakse aandrang gehad het om met hom te praat, maar nie wis waarom nie. Ons besluit toe om te ontmoet vir koffie om die saak te probeer uitpluis, en so gedaan. Maar die gesprek wou nie eintlik iets oplewer nie, behalwe dat hy my vertel dat alle paaie vorentoe vir hom besig is om dood te loop; alles wat hy probeer misluk, en dis asof hy nie rigting kon kry nie. Ek was natuurlik besorg, maar wis nie wat om te doen nie, so ons kniel toe maar en bid dat die Here vir hom die regte pad sou oopmaak. En op daardie noot is ek toe daar weg skuins na middernag, en reguit bed toe.

Die volgende oggend om 5 uur wek my broer my en sê my daar is telefoon vir my. En die eerste woorde wat ek hoor was dat my vriend verongeluk het.

En toe gebeur die tweede wonderwerk. Sy ouers, wat tot dusver nie te opgewonde was oor sy skielike lewensverandering nie, kom toe ook en gee hulself oor aan die Here. Sover my kennis strek is hulle vandag almal saam by die Here.

Nou droom ek, of wat het hier gebeur? Al die mense wat ek hier genoem het se lewens het drasties verander. En so het menige ander wat gesien het wat gebeur het. Maar hoe skryf mens so iets in ’n koerant?

Henrietta Klaasing

Baie dankie Jan. Het self al deur “diep riviere” gegaan. Hierdie eenvoudige woorde “Vader, ons verstaan nie, maar ons vertrou U” het veel vir my beteken.

De Waal Lubbe

Hoe kan mens vertrou op iets wat jy nie verstaan nie, hoe kan mens glo in iets wat so totaal onbetroubaar is, soos blyk uit voormelde tragedies..??

Willie Smith

Jan, dankie vir jou skrywe. So bemoedig ons mekaar ook. Seen vir jou!

Jan Tik

Hoe kan mens glo jou lewensmaat is regtig vir jou lief?

Daar is ’n hele aantal dinge op die spel om so iets te glo, maar seker die belangrikste is dat ons die persoon van die ander vertrou. Natuurlik kan daardie vertroue misplaas wees, maar ons het ’n soort van ingeboude kompas wat ons gebruik om hierdie tipe besluite te neem. Op een of ander manier besit ons almal hierdie kompas – ons inherente vermoë om persone te leer ken en op te weeg. Op die ou end bly dit egter ’n keuse wat ons maak. Daarna hoop ons vir die beste.

Nou God is ook ’n persoon – in daardie opsig is ons geskape na Sy beeld. Ons besit dieselfde inherente kompas om Hom te herken. Net soos ’n blinde kan onderskei of ’n stem aan ’n persoon behoort of ’n rekenaar, net so kan ons ook weet of dit God is wat met ons praat en nie net ons verbeelding nie.

Maar daardie ondervinding hang van ’n werklike ontmoeting met Hom af – wat weer afhang aan ons ingesteldheid. Dis hoekom die Bybel sê dat ons soos kinders moet word. Dit kos ’n gewilligheid om ons totaal oor te gee aan Iemand wat ons nie werklik ken nie, behalwe vir Sy Woord. En soos die gesprekke hierbo (en die Bybel) aandui, sommige van ons kan dit net nie regkry nie. Ons is hopeloos te agterdogtig om so ’n kans te vat. Die prys is te hoog.

So meeste van ons verkies om eerder op ons eie rede en verstaan te vertrou. Dit kos ’n direkte aksie van God om ons van daai traagsaamheid te genees, en baie kere ontsaglike pyn om tot so ’n besluit te kom. En dan, wanneer ons totaal opgee om ooit ons eie saligheid te kan bewerk, en ons uitroep tot Sy hulp, dan is Hy daar om ons te vang.

Dis ’n tweerigting straat. En die prys is ons lewe.

Hennie Mouton

Dankie vir hierdie hele bespreking — dis een van die bestes nog ooit op strokiesnet/kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui