Gemeenskaplike ontwerper, nie gemeenskaplike voorvader

Heel moontlik die beste argument vir evolusie is die feit dat daar soveel ooreenkomste is tussen lewende organismes: feitlik alle diere het bv een of ander vorm van 5 vingers en 5 tone, 2 oë, ’n neus in die middel, ens (kyk egter Simmetrie in diere bewys téén ewekansige evolusie). Hierdie ooreenkomste is egter nie noodwendig ’n bewys van ’n gemeenskaplike voorouer nie – dit kan ook gesien word as bewys vir ’n gemeenskaplike ontwerper:

  • ’n Mens kan dikwels uit ’n gebou se ontwerp sien wie die argitek was omdat sekere geboue ’n gemeenskaplike argitek het.
  • ’n Mens kan ’n Claerhout skildery van ’n myl af herken omdat Claerhout se skilderye ’n baie prominente styl het. Alle Claerhout skilderye het ’n gemeenskaplike skilder.
  • Daar is baie ooreenkomste tussen ’n Porsche en Volkswagen Kewer: Beide het lugverkoelde, plat, horisontale, 4 silinder enjins wat agter sit, onafhanklike suspensie, twee deure, ’n kattebak aan die voorkant en ander ooreenkomste. Beteken dit dat hulle ’n gemeenskaplike voorvader gehad het waaruit hulle geëvolueer het? Nee, hulle het ’n gemeenskaplike ontwerper gehad.

Nog ’n argument deur evolusioniste is die groot persentasie (~96%) ooreenkomste in ape en mense se DNS. Ook dit kan verklaar word vanuit ’n skeppingsoogpunt:

  • Ape en mense lyk baie dieselfde. As hulle nie baie ooreenkomste in hulle DNS gehad het nie, sou ’n mens wonder of DNS werklik jou genetiese inligting bevat.
  • As mense biochemies totaal anders as diere was, sou mense nie diere kon eet nie.
  • 4% verskil is glad nie klein nie. Daar is ongeveer drie miljard (3e+9) genetiese letters in die mens se DNS. 4% daarvan is nogsteeds 120 miljoen (1.2e+8). Dit is ekwivalent aan ongeveer 40 groot boeke se inligting. Kyk ook Haldane se dilemma wat wys dat selfs al het mense en Chimpansees ’n gemeenskaplike voorouer gehad, sou daar heeltemal te min tyd wees om te evolueer.
  • Baie ooreenkomste beteken ook nie noodwendig dat dit dieselfde funksie het nie. Neem die volgende twee sinne as voorbeeld wat 117/125 = 93.6% dieselfde is, maar wat totaal verskillende betekenisse het:
    • Daar is vandag baie wetenskaplikes wat die evolusie paradigma met sy ateïstiese filosofiese implikasies bevraagteken.
    • Daar is nie vandag baie wetenskaplikes wat die evolusie paradigma met sy ateïstiese filosofiese implikasies bevraagteken nie.
  • Interessant dat daar gevind is dat die DNS van ’n vlermuis en ’n perd nader aan mekaar is as die DNS van ’n perd en ’n bees, wat glad nie sin maak nie. Dus kan DNS snaakse toertjies op jou trek (kyk Saddle up the horse, it’s off to the bat cave). En mense en piesangs se DNS stem 50% ooreen, maar dit maak mense nie halwe piesangs nie (kyk Skippy surprises scientists)
 

Kyk ook:

 

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

In ’n onderhoud tussen Piers Morgan met Richard Branson op CNN (kyk Asked about belief in God, Richard Branson says he believes in evolution op youtube) is dit duidelik wat die rol van evolusie in Richard Branson se opinie oor God speel. Op die vraag of hy in God glo, is sy antwoord dat hy in evolusie glo. Dus vervang Richard geloof in God met evolusie.

Later sê Richard egter: “I would love to believe. I think it is very comforting to believe… If somebody could convince me that there is a god, then it would be wonderful, BUT I do believe evolution is likely to be the truth. Anybody who questions evolution, I find completely and utterly bizar… Evolution is magnificent. That is all I can say.”

Is dit dan nie ’n logiese afleiding om te maak dat indien ’n mens Richard kan oortuig dat evolusie nie kon plaasvind nie, dat dit sy verskoning sal wegneem om in God te glo? Die vraag is net of hy die bewyse teen evolusie sal glo en/of hy sal besluit om aan God gehoorsaam te wees…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui