Geloof in postmoderne tyd

*******

Geloof in postmoderne tyd | Beeld

Geloof in postmoderne tyd

Beeld, 11 Junie 2001

  • Bybel se status bevraagteken
  • Konsep ‘duiwel’ weer bekyk

If reading the Bible does not raise profound problems for you as a modern reader, then check with your doctor and enquire about the symptoms of brain-death. – Robert Garrol.

James Kirkpatrick

Ben du Toit het probeer om ‘n boek te skryf vir mense wat probleme het met die verstaan van die Bybel. Mense wat soms ’n ongemak ervaar “om te glo en te vertrou”. Hy bied dit aan as sy eie storie van glo, maar wil tog met kritiese en vraende mense in gesprek tree in die hoop dat dit hulle sal help om insig te kry in hul eie storie van twyfel en glo.

Teen dié tyd is dit reeds duidelik dat die boek nie oral ewe entoesiasties ontvang word nie. In die briewekolomme van Die Kerkbode sê ’n dominee dat die publikasie “pynlik” is.

Die Kerkbode self voel “Du Toit skryf soms op ’n argelose wyse oor sommige sake wat vir baie gelowiges — en teoloë — baie naby aan die Kernwaarheid lê.” (Die Kerkbode, 4 Mei 2001, p. 4)

Intussen is die boek ook bekroon met die Andrew Murray-prys vir godsdienstige en teologiese boeke.

Dat hierdie gehalte publikasie plek-plek pynlik ervaar sal word, is verstaanbaar. Du Toit, direkteur: kommunikasie van die NG Kerk by die Sentrum vir Kommunikasie in Kaapstad, skryf immers reguit oor die aard en status van die Bybel as voorwetenskaplike boek. Hy huiwer nie om die Bybel ’n premoderne boek te noem nie.

Meer nog, hy wys op die implikasies hiervan vir die geloofsinhoude. Dit beteken byvoorbeeld die konsep “duiwel” is iets wat tot ‘n premoderne denksisteem behoort. Die naaste wat ons aan die duiwel kan kom, is om in die spieël te kyk, sê hy! Hy maak ’n sterk saak daarvoor uit dat geloof in Jesus nie berus “op die maagdelike geboorte” nie, maar op die kruisdood en opstanding.

Wat die gesag van die Bybel betref, bevraagteken hy die ou Gereformeerde argument van die sogenaamde selfgetuienis van die Skrif. Hiervolgens sou die Bybel gesag hê omdat die Bybel-so sê. Du Toit vra: Hoe kan jy vir Mercedes-Benz vra of Mercedes-Benz die beste motor is?

Tog is dit vreemd om te sien hoe Du Toit, wat pleit vir ’n postmoderne verstaan van die Bybel, se eie modernistiese onderrok ook op plekke uithang.

Wanneer hy die opstanding behandel, klink dit asof hy van voor af probeer bewys dat dit regtig gebeur het. Hy gebruik die wetenskaplike teorie oor die behoud van energie om te verduidelik waarom ons aan die werklikheid van die opstanding van Jesus kan vashou. Is dit nie tipies modernisties nie? Of is dit dalk Du Toit se poging om die premoderne uitspraak oor Jesus se opstanding in postmoderne taal aan te bied?

Daar sal diegene wees wat voel dat Du Toit net moedswillig is om ou waarhede te bevraagteken. Mense wat met absolute sekerhede werk, voel ongemaklik en ervaar dit selfs as ontstellend om met standpunte soos dié gekonfronteer te word. Mense wat gemakliker is “om nie presies te weet nie” sal baie van Du Toit se formulerings vars en bevrydend beleef.

God? Geloof in ’n postmoderne tyd maak ons bewus van die uitdaging om die goeie nuus van God se liefde vir mense in die taal van ons eie tyd te vertaal. As die kerk dit nie doen nie, gaan hy soos ’n ou tikmasjien word. Deel van die geskiedenis. Nogal bruikbaar en relevant op sy dag. Nou geskik vir die museum.

Die publikasie verdien sy status as bekroonde.

jdkirk@mweb.co.za

  • Dr. James Kirkpatrick is predikant in die NG gemeente Suidoos-Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui