Is jy gereed om dood te gaan?

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Augustus 2001 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

In die vorige briefie wat Meimaand uitgegaan het, het ek melding gemaak van twee van ons lidmate in wyksgemeente 1, Paul Els en Sonja Helberg, wat kanker gehad het. Ek het ook ’n boodskap van Paul Els in die nuusbrief ingesluit. Albei hierdie persone is Donderdagdagoggend, 26 Julie, oorlede. Frieda Els het my in die nag gebel, net na haar man Paul oorlede is. Ons het daar in hulle sitkamer gesit en wag dat die begrafnisondernemer, Paul se liggaam moet kom haal. In sulke oomblikke sien mens die lewe in ’n nuwe lig. Jy word herinner aan die dinge wat regtig belangrik is in die lewe. Ek wil ’n paar van hierdie dinge waaraan ek gedink het noem:

1. Jou verhouding met God

Daar is van ons lidmate wat skynbaar nie respek vir die Here en sy Woord het nie. Sondae is hulle miskien in die kerk, maar hulle lei ’n dubbele lewe. Hulle bedrieg hulle lewensmaats en lei ’n lewe wat die Naam van Christus tot oneer is. Hulle dink die mense weet dit nie. Ergste van alles is, hulle dink skynbaar dat God dit nie weet nie. Weet hulle dan nie dat die Here ’n heilige God is nie? Weet hulle nie dat daar ’n dag kom dat hulle voor God sal moet rekenskap gee van hulle lewe nie? As jy so iemand is, wil ek jou aanraai om jou sonde voor God te bely en jou van jou sonde te bekeer. Kry jou verhouding met God in orde dat jy in vrede kan sterf en jy gereed sal wees om jou God te ontmoet.

2. Jou verhouding met jou medemens

Daar by iemand se sterfbed besef jy hoe sinloos dit is om in onvrede met jou medemens te lewe. Bitterheid wat jy koester, oor voorvalle uit die verlede is skielik nie meer belangrik nie. Moenie dat die dood jou betrap met onopgeloste rusies in jou lewe nie. Lewe in vrede met alle mense sover dit van jou kant af moontlik is (Romeine 12:18). As daar gebroke verhoudings in jou lewe is moet jy dit probeer regmaak. Gaan op jou knieë en vra die Here om wonde van die verlede te genees. Tel vandag nog die telefoon op en maak ’n afspraak met mense wat vir jou om een of ander rede kwaad is.

3. Jou familie

Jou vrou en kinders is die belangrikste geskenk wat die Here vir jou gee in die lewe. Die waarde van jou prestasies, geleerdheid en geld vervaag by jou sterfbed. ’n Mens word in daardie oomblikke getroos deur die liefde van jou vrou en kinders wat by jou teenwoordig is. Dit word gegee vir die wat ’n leeftyd lank sy huis eerste gestel het en saam met sy mense die Here gedien het. Moenie die geluk en welsyn van jou huismense opoffer vir persoonlike ambisies nie.

Paul Els was in alle opsigte gereed om te sterwe en om voor God te verskyn. Laat ons sulke mense as voorbeelde neem in ons lewens. Hy het gestrewe na die dinge daarbo waar Christus is (Kolossense 3:1).

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui