Dood op brandstapel toe nie Calvyn se skuld nie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Dood op brandstapel toe nie Calvyn se skuld nie | Netwerk24

Ds. Koos Mouton, Gereformeerde Kerk, Ventersdorp

Rapport, 21 Januarie 2024

Ek stem saam met Anton van Niekerk in sy rubriek (16.01) oor sy oproep dat die Christelike geloof “die vredestigtende krag in die wêreld behoort te wees”.

Wat wel aandag verdien, is die sydelingse verwysing na Calvyn, wat die ketter Servetus se teregstelling goedpraat.

Die probleem is dat Anton die geskiedenis wil “terug lees” na vandag. Ons kan nie wat vir ons in 2024 totaal onaanvaarbaar is, gebruik om die teoloë en gelowiges van 1553 by te kom nie. Dit was totaal ander tye en ander maniere van optrede.

Die doodstraf is destyds opgelê weens afwyking van die leer van die kerk. So het Servetus onder meer die Drie-Eenheid ontken. Daarom is hy op 27 Oktober 1553 lewend op die brandstapel in Genève verbrand. Die bevel het van Genève se stadsraad (regering) uitgegaan en nie van Calvyn nie. Dis natuurlik verskriklik – vir ons denke van vandag. Maar dis hoe dit in 1553 gedoen is. Calvyn en die ander predikante het gepleit om ’n “genadiger” teregstelling, soos die valbyl. (Vergelyk: T.H.L. Parker, John Calvin: A Biography, p. 122, 123). Farel, Calvyn se kollega-predikant in Genève, het Servetus bygestaan in sy laaste ure.

Ek noem dit omdat veral in sekere groeperings altyd, myns insiens onregverdig, die beskuldiging teen Calvyn ingebring is dat hy vir Servetus se teregstelling verantwoordelik was.

Maar ek wil Johan Degenaar hartlik ondersteun: Dat ons moet ophou om van mense Christene te probeer maak, eerder van Christene mense moet probeer maak.

Kommentaar

Daniel Louw

Baie goeie punt. Kyk ook Presentisme.

‘n Mens kan egter hoegenaamd nie saamstem met die stelling: ons moet ophou om mense Christene te maak nie, maar eerder probeer om Christene mense te maak. Dit gaan direk teen die Groot Opdrag.

 

1 thought on “Dood op brandstapel toe nie Calvyn se skuld nie”

  1. Ds Mounton ek verstaan nie. jy stem dan saam met Prof Anton se stelling oor Calvyn. Jy gee die verduideliking dat Calvyn gepleit het vir ‘n genadiger dood, maar dood is dood, hy het nie gepleit dat sy lewe gespaar word nie. Hy het dus verseker Servetus se dood goedgepraat. Jy sê ook mens kannie die geskiedenis terug lees nie, het God wat hulle en ons nou aanbid dan verander sedert 1553?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui